Held van ʼn rot kan uiteindelik aftree

Magawa ontvang sy goue medalje van PDSA (25 September 2020) (Foto: Handout/PDSA/AFP)

ʼn Rot genaamd Magawa wat jare lank landmyne in Kambodja uitgesnuffel het, het afgetree en sal nou net kan rus en piesangs en grondboontjies geniet, het sy werkgewers aan AFP gesê.

Magawa, oorspronklik van Tanzanië, is deur die Belgiese liefdadigheidsorganisasie Apopo opgelei en sê hy het landmyne op 225 000 m² grond uitgesnuffel tydens sy vyf jaar lange loopbaan. Dit is gelykstaande aan 30 rugbyvelde.

Ná hy 71 landmyne en 38 artillerievoorwerpe, wat nie ontplof het nie, uitgesnuffel het, “is hy nou al bietjie moeg”, het Michael Heiman, bestuurder van die program in Kamboda, Saterdag aan AFP gesê. “Die beste ding is om hom te laat aftree.”

Miljoene landmyne is tussen 1975 en 1998 in Kambodja geplant en het tien duisende sterftes en beserings veroorsaak.

Apopo het Magawa in Tanzanië opgelei om die chemiese samestelling in springstof uit te snuffel deur hom met happies te beloon – sy gunsteling is piesangs en grondboontjies.

Hy laat weet daar is ʼn landmyn deur die grond te krap.

Magawa kan binne 30 sekondes oor ʼn gebied, so groot soos ʼn tennisbaan, hardloop – iets wat sowat vier dae sal duur met ʼn gewone metaalverklikker.

Hy is groot genoeg om aan ʼn leiband vasgemaak te word wanneer hy na die landmyne soek, maar hy is lig genoeg om dit nie te laat ontplof nie.

Magawa het in September verlede jaar die diere-ekwivalent van Brittanje se hoogste burgerlike verering vir dapperheid te ontvang vir sy talent om landmyne en artillerie uit te snuffel. Hy was die eerste rot om ʼn PDSA-medalje te ontvang in die 77 jaar wat die toekennings uitgedeel word. Hy sluit aan by talle katte en honde en selfs ʼn duif wat al op só manier vereer is.

Die groep sê 20 nuut opgeleide rotte het onlangs in Kambodja aangekom en akkreditasie ontvang van owerhede om landmyne uit te snuffel. Dit gaan egter moeilik wees om in Magawa se spoor te volg.

“Magawa is ʼn besonderse rot,” het Heiman bygevoeg. “Ons gaan hom baie mis in ons bedrywighede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Snowball ·

So dis ‘n opgeleide afgetrede rot. Tanzanië se eie rot trots.

Lynette ·

Ek het as kind rotte aangehou en geleer hoe intelligent hulle is. Drie jaar gelede is ek verbied om my leeshond verder skool toe te bring. Dit het my nie lank gevat om n alternatiewe terapiedier te vind nie. April was n pienk kaalrot. Haar vel was soos perskefluf. Sy was nie mooi nie en aan die begin was my kinders baie grillerig vir haar. Dis eers toe ek vir hulle wys hoe April se familielede gebruik word om nuwe ore te kweek vir soldate wat hul s’n verloor het. Ek het ook vir hulle gewys hoe Apopo rotte gebruik om landmyne uit te snuffel. Ek verstaan rotte Kan ook TB uitsnuffel en wonder as honde Kan leer Om Covid uit te ruik, Kan rotte ook? Knap gedaan Magawa. Ons rotmammas is trots op jou. April is vanjaar 2 Februarie slaapgemaak nadat haar niere ingegee het. Sy word gemis deur almal wat gereeld vir haar gelees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.