Man dink dis 1993 ná hy uit koma ontwaak

Andrew en Kristy Mackenzie het weer hul troubeloftes voor hul kinders en kleinkinders op die strand afgelê. (Foto: Kristy Mackenzie/Facebook)

Toe Andrew Mackenzie van Virginia in die VSA drie dae na ʼn byna noodlottige motorongeluk in die hospitaal ontwaak het, kon hy die afgelope 29 jaar van sy lewe nie onthou nie.

Andrew en sy vrou, Kristy, was op pad huis toe na ʼn gesinskuier by sy dogter se huis vir Vadersdag in Junie vanjaar toe ’n motor met sy motorfiets gebots het.

Andrew en Kristy het albei ernstige beserings opgedoen, onder meer inwendige bloeding, longskade en gebreekte bene.

Andrew is bewusteloos gelaat en moes lewensreddende chirurgie ondergaan en was vir drie dae in ʼn koma.

Toe die 58-jarige na dié traumatiese gebeurtenis in ’n hospitaalbed wakker word, het sy vrou besef hulle beleef nóg ’n nagmerrie; hy het gedink dit was 1993.

Kristy het aan People vertel dat hy nie eens sy eie dogters, Lorelai Mentzer en Amanda Mackenzie, herken het nie.

“Hy het net dadelik gevra: ’Waar is my vrou? Waar’s my vrou?’ Ek dink hy het gedink ek werk by die hospitaal,” het Lorelai gesê.

Dokters kon nie dadelik bevestig of Andrew se geheue ooit volkome sal terugkeer nie, maar Kristy het hospitaalpersoneel oortuig om haar man na haar kamer te skuif om sy geheue aan te help.

Kristy en Andrew in hul jonger dae. Foto: (Kristy Mackenzie/Facebook)

Ná 11 dae in die hospitaal en intensiewe rehabilitasie kon die egpaar stelselmatig weer hul voete vind en Andrew se geheue het stelselmatig teruggekeer.

“Ek het aanhoudend vir hulle gesê dat dinge beter sal wees solank ons ​​saam is. Toe beleef ons ʼn wonderwerk,” het Kristy vertel.

Hulle kon selfs in Augustus ’n gesinsvakansie neem, waar Andrew sy vrou van 37 jaar wéér die jawoord gevra het. “Gelukkig het sy ja gesê,” het Andrew in ʼn onderhoud met ABC 7 News geskerts.

Vir Kristy was dit ʼn verwesenliking van ʼn droom wat sy in die hospitaal gehad het. “Ek het in my hospitaalbed gelê na die ongeluk en net gedink ek wil weer met hierdie man trou.”

Op 29 Augustus het die egpaar weer hul troubeloftes voor hul kinders en kleinkinders op die strand afgelê.

“Ek hoop ons ervaring wys vir ander dat mens nooit moet opgee nie. As jou liefde sterk genoeg is, kan jy enigiets trotseer.”

Bronne: NDTV, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Antie Sarie ·

Ek wens ook dit is 1993. Alles na 1994 is n nagmerrie.

Nommer 7 ·

Dit moet erg wees as jy die oggend wakker word, en jou vrou is 29 jaar ouer!

Tredoux ·

Wag n bietjie…Hoe lank het dit hierdie ou gevat om weer te leer loop?

Gert ·

Gaan lees weer die eerste sin. Hy was net drie dae in ‘n koma!

Lillian ·

Ek sou weer kon teruggaan na 1993 en van daar alles oordoen in my lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.