Pikkewyn swem al die pad na Nieu-Seeland

Foto: Harry Singh/Facebook

ʼn Pikkewyn is vandeesweek aan die kus van Nieu-Seeland opgemerk – minstens 3 000 km van sy tuiste in Antarktika.

Die adeliepikkewyn, wat nou liefderyk “Pingu” gedoop is deur plaaslike inwoners, is verlate op ʼn strand gevind.

Harry Singh, die plaaslike inwoner wat naby Birdlings Flat op Pingu afgekom het, het aanvanklik gedink dit is net ʼn sagte speelding. Eers toe die pikkewyn sy kop beweeg het, het Singh besef dit is ʼn regte pikkewyn. Hy het beeldmateriaal van die pikkewyn op Facebook gedeel.

Singh het navorsers gekontak en Thomas Stracke, wat al jare lank pikkewyne aan Nieu-Seeland se Suideiland rehabiliteer, het met die reddingspoging gehelp. Stracke was verbaas toe hy besef dit is ʼn adeliepikkewyn, omdat dié spesie uitsluitlik in Antarktika woon.

Volgens die Kaikoura Wildlife Hospital is Pingu, ʼn jong pikkewyn, nou in die sorg van die Christchurch-pikkewynrehabilitasiesentrum, wat in samewerking met die South Island Wildlife Hospital deur Stracke en en sy vrou Kristina bestuur word.

“Toetse het aangedui die pikkewyn is ondergewig en gedehidreer. Hy ontvang tans vloeistof en vis-happies deur middel van buisvoeding,” het die hospitaal in ʼn verklaring gesê. “Hy sal vrygelaat word sodra sy toestand verbeter.”

Dit is slegs die derde voorval van ʼn adeliepikkewyn wat dit al die pad tot by Nieu-Seeland gemaak het. Die oorskot van ʼn adeliepikkewyn is in Desember 1962 by Marlborough se Flaxbourne-riviermond gevind. ʼn Lewende adeliepikkewyn is in Januarie 1993 in Kaikoura gevind.

Volgens die hospitaal is dit baie seldsaam vir adeliepikkewyne om ver van die Antarktiese kus af te wyk.

Adeliepikkewyne is die kleinste pikkewyne in Antarktika (maar nie die kleinste pikkewynspesie nie). Die voël word ongeveer 46 tot 61 cm hoog en weeg ongeveer 4 tot 6 kilogram (die gewig van ‘n huiskat). In die water kan hulle ‘n snelheid van 40 km/h bereik.

This beautiful Adelie penguin came all the way from Antarctica ,he has been rescued by the penguin rescue team .New Zealand records of Adelie PenguinThe two New Zealand records were an adult corpse found north of the Flaxbourne River mouth, Marlborough (December 1962), and a live bird at Kaikoura in January 1993.& this is the third time he has been sighted in New zealand after 28 years.

Posted by Harry Singh on Wednesday, November 10, 2021

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.