Tjortspatrollie: Honde gaan vir DNS-toetse moet gaan

(Foto: Gabi / Pixabay)

Honde-eienaars in ʼn dorp in die suide van Frankryk sal hul troeteldiere vir DNS-toetse moet stuur onder nuwe reëls om die probleem van sponsdorings op sypaadjies op te los.

Die burgemeester van Beziers het die verpligte toetse aangekondig en dit beteken dat straatveërs monsters van ontlasting in die dorp sal kan neem om die eienaars te identifiseer.

Diegene wat versuim om hul honde se uitskot op te tel, sal ʼn skoonmaakfooi van €120 (sowat R2 400) moet betaal.

“Ek is verontwaardig dat sommige mense nooit hul diere se gemors optel nie,” het burgemeester Menard aan die plaaslike radiostasie France Bleu gesê. “Ons het ʼn opname gedoen: die dorp het in die sakesentrum 1 000 [hondekuttels] opgetel. Dis nie reg nie.

“Ons het gedink as ons polisiebeamptes ontplooi sal dit ʼn impak hê, maar wanneer daar ʼn polisiebeampte is, dan maak mense skoon. Dis wanneer daar niemand is nie, dat hulle nie buk en hul burgerlike plig nakom nie.”

Menard poog al sedert 2016 om DNS-toetse vir honde in te stel, maar vorige pogings is deur die staat op regsgronde van die hand gewys. Die nuwe reëls word op ʼn eksperimentele basis vir die volgende twee jaar geïmplementeer.

Honde-eienaars in Beziers, ʼn dorp bekend vir sy stiergevegte, sal moet bewys dat hulle ʼn DNS-toets gedoen het. Die polisie het magtiging om boetes van €38 (sowat R760) uit te reik vir enigiemand wat versuim om ʼn bewys van identiteit te lewer.

Die skoonmaakfooi van €120 sal vir drie maande nie toegepas word nie, en Menard het onderneem om die wetstoepassing geleidelik in te stel.

“Mense wat nie hul honde se gemors skoonmaak nie, gee nie ʼn flenter om vir enigiemand nie,” het Menard bygevoeg. “Soms hoor ek mense sê dis munisipale werkers se werk om hul honde se gemors skoon te maak. Maar hulle sal nou sien. Dit gaan hulle €120 kos.”

DNS-toetse vir honde, wat gewoonlik by veeartse met ʼn speekselmonster gedoen word, is al in ʼn rits stede ingestel, insluitend Tel Aviv in Israel, Valencia in Spanje en sommige dele van Londen.

Verhuurders in sommige privaat residensiële komplekse in Florida en elders het ook al reëls ingestel wat van inwoners vereis om DNS-monsters van hul diere in te dien om te bepaal wie die sponsdorings op die sypaadjies los.

Die burgemeester se kantoor in Beziers het gesê skoonmaakoperasies van honde-ontlasting kos die munisipaliteit met sy 75 000 inwoners sowat €80 000 per jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nommer 7 ·

Nee hulle het nie. Frankryk is ‘n eerste wereld land waar (meeste) landsburgers wetsgehoorsaam is, en vir niks is daar ‘n plan B nodig nie.

Jean ·

Duidelik weet jy nie wat die laaste 2 maande in Frankryk angegaan het nie.

trotsNAMSA ·

Net in Europese stede ! DNA ? My dag is gemaak. Diere word in dié stad in woonstelle en huise met geen grond “aangehou”. Buite bekend “toilet” toe.
Honde doen voort in daardie stede wat ons Suid-Afrikaners besoek / gaan bly omrede SA so woes is. Haha!

Pretorianer ·

So, dis heelwat goedkoper om die boete te betaal vir jou hond wat nie n DNS toets ondergaan het nie as om een te betaal vir n landmyn. Anonomiteit is koning.

Chris ·

Ai tog waarom al die moeite en geld om te mors. Kry net een goeie snuffelhond om die oortreders uit te snuif en geen sponsdoring weer oppie sypaadjie nie. Wagter en Snippie se eienaars moet maar met plastieksakkie saamloop en op tel. Ek weerhou my met moeite om verder enige kommentaar te lewr ;-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.