Vrou speel viool terwyl dokters opereer

Dagmar Turner speel haar viool tydens die operasie (Foto: King’s College-hospitaal/Facebook)

Chirurge by King’s College-hospitaal in Londen het ʼn breingewas verwyder van ʼn vrou wat deur die hele operasie ʼn viool gespeel het.

Violis Dagmar Turner (53) se dokters het ʼn breinkaart voor die chirurgie opgestel om presies te sien watter dele aktief is wanneer sy die instrument bespeel en dié dele wat verantwoordelik is vir spraak en beweging.

Hulle het haar in die middel van die prosedure wakker gemaak sodat sy haar viool kon speel “om seker te maak dat die chirurg nie enige noodsaaklike dele van die brein beskadig wat Dagmar se delikate handbewegings raak nie”, het die hospitaal in ʼn verklaring gesê.

“Ons het geweet hoe belangrik dit vir Dagmar is om haar viool te kan bespeel, so dit was noodsaaklik dat ons daardie funksie in die delikate dele van haar brein beskerm wat haar toelaat om te kan speel,” het prof. Keyoumars Ashkan, haar neurochirurg, gesê. “Ons kon meer as 90% van die gewas verwyder, insluitend alle dele waar vermoedelike aggressiewe aktiwiteit is, terwyl sy volle funksie in haar linkerhand behou het.”

Turner speel in die Isle of Wight-simfonieorkes en verskeie koorverenigings. Sy is drie dae later uit die hospitaal ontslaan en hoop om binnekort weer op die verhoog te wees.

Sy was vol lof vir Ashkan. “Net die gedagte dat ek moontlik my vermoë sou verloor om te kan speel, was baie hartseer. Prof. Ashkan is self ʼn musikant en het dus begrip gehad vir my kommer,” het sy gesê. “Hy en die span by King’s het baie moeite gedoen om die operasie te beplan – van die breinkaart tot die posisie waarin ek moet wees om die viool te kan bespeel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Dit is al amper standaard praktyk om sulke delikate operasies uit te voer.
Nog ‘n interessante feit is dat jou brein nie pyn kan voel nie.

Leon ·

standaard prosedure gedurende sekere brein operasies. Jy si wakker en hulle praat met jou, laat jou skryf, sing en dinge doen sodat hulle weet of hulle nie die verkeerde plekke aanraak nie.

Katrina ·

Ek sien nie in die berig wanneer is hierdie operasie uitgevoer nie. Ek het baie jare gelede al gelees van ‘n soortgelyke operasie, waar die dame viool gespeel het gedurende so operasie. Nog steeds baie interessant, die mediese wetenskap kan al wonderlike dinge doen wat mens 30 jaar gelede oor sou gelag het as dit as ‘n moontlikheid genoem was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.