Afrikaner­geskiedenis­boeke aan Erfenisstigting geskenk

Marieka Visagé met die boeke wat sy aan die Erfenisstigting se biblioteek geskenk het. (Foto: Verskaf)

ʼn Oudonderwyseres het vier boeke wat sy oor die Afrikanergeskiedenis geskryf het aan die Erfenisstigting se biblioteek by die Voortrekkermonument geskenk.

Marieka Visagé (75), was meer as 20 jaar lank ʼn wiskunde-onderwyseres tot sy afgetree het. Sy het nog altyd ʼn liefde vir die geskiedenis gehad.

Toe die Christelik-Volkseie Onderwys-skole (CVO) haar genader het om te help skryf aan ʼn Afrikanergeskiedenis-leerplan kon sy nie die geleentheid laat verbygaan nie.

“My ouma het altyd vir ons voor die kaggel geskiedenisverhale vertel en reeds as kind was ek mal daaroor. Die CVO het my in 2012 gevra om die leerplan saam te stel en ek was bitter opgewonde,” vertel Visagé.

“Ek het ses boeke geskryf, een vir elke graad van 4 tot 9. In 2019 besluit ek toe om die boeke as storieboeke oor te skryf. Ek het net gevoel ek moet iets vir my mense doen. Ek wou die geskiedenis weer by mense uitkry. Kinders weet nie meer van ons Afrikanergeskiedenis nie omdat dit nie op skoolvlak in diepte behandel word nie.”

Die eerste boek handel oor die Khoi-San-kultuur en Jan van Riebeeck. Die tweede boek kyk na die gebeure rondom die Groot Trek. Die derde handel oor die Anglo-Boereoorlog en die Vrede van Vereeniging en die laaste boek in die reeks handel oor die tydperk tot 1994.

Die boeke wat deur Marieka Visagé aan die Erfenisstigting se biblioteek geskenk is. (Foto: Verskaf)

“Die boeke kort ʼn plek waar mense dit kan lees, sien en daarvan weet, en daarom glo ek ʼn Afrikaanse organisasie soos die Erfenisstigting is die beste plek om dit te bewaar.”

Marianne Hennig, biblioteekassistent by die Erfenisstigting, sê die boeke vertel die geskiedenis op ʼn maklike, leesbare manier.

“Dit word visueel baie goed uitgebeeld en is maklik om te lees. Dit is baie goed vir kinders en sal hulle beslis help om die geskiedenis beter te verstaan. Wat dit ook uniek maak, is dat Visagé liedjies, gedigte en foto’s van daardie tydperke bygevoeg het,” sê Hennig.

Die biblioteek is weeksdae van van 08:00 tot 16:00 oop en mense kan by die biblioteek hulle navorsing doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Ons kort ‘n onafhanklike tuisstaat waar almal se geskiedenis gelyk is en ons kinders in hulle skole dit kan leer in plek van die propaganda wat hulle nou in ANC skole moet leer.

Niklaas ·

Ek glo dat die nuwe uitgawes van die geskiedenis boeke , ingrypend gaan verander. Daar sal dalks nie eers melding wees van ‘n groot trek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.