Boekresensie: Die Familiebybel

Lux Verbi publiseer Die Familiebybel die eerste Familiebybel wat die Afrikaans 2020-vertaling bevat. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, ‘n nie-winsgewende maatskappy met verskillende kerkgenootskappe as lede, het saamgewerk om hierdie uitsonderlike publikasie die lig te laat sien.

Hierdie hardeband Familiebybel is modern, kompak en pas gemaklik in die leser se hand. Die voordeel is dat dit nie soos die vorige geslagte se ou swaar Familiebybels op die tafel hoef te bly lê nie. Nee, hierdie Bybel dra jy gerieflik met jou saam – kerk toe, kamp toe en selfs see toe. Só kan jy en jou gesin altyd toegang hê tot die Woord en kan julle jul enige tyd en plek daarin verdiep. Dit is dus ook die perfekte geskenk vir elke lid van jou gesin, want hulle kan dit weer op húl beurt vir die volgende geslag bewaar as ’n kosbare erfstuk. Daar is plek om die familiestamboom in te vul en ’n bladsy om trou- en geboortedatums aan te teken.

Bo en behalwe die vars perspektief op bekende verse en verhale, bied Die Familiebybel ook ’n afdeling met insiggewende artikels oor die gesinslewe deur die gesins- en familiekenner, dr. Johan Smith. Hy werk al vir meer as drie dekades met jongmense, ouers en gesinne, en bied graag motiverings-, inspirasie- en bemagtigingspraatjies aan vir onderwysers en geestelike leiers. Dr. Smith skryf in Die Familiebybel onder meer oor waardes in die gesin, kommunikasie in die gesin, ons identiteit in Christus en hoe om ’n geloofserfenis agter te laat. Ek het veral sy bemoedigende gedeeltes oor dood in die gesin en ook wanneer trauma aan die gesin se deur kom klop van waarde gevind.

Daar is waardevolle Bybelstudiemateriaal in die vorm van ’n Bybelleesplan wat die gesin aanmoedig en lei om die Bybel in ’n jaar se tyd deur te lees. Voorgestelde vrae tydens huisgelooftyd verseker dat die kern van elke dag se boodskap ontvang en deeglik oordink en bepraat word. Hierdie inhoud is, volgens die Voorwoord, ook glad nie voorskriftelik opgestel nie, maar kan aangepas word na goeddunke en volgens elke gesin se behoeftes.

Kaarte, woordelyste, en interessante agtergrond oor die vertaalopdrag en die geskiedenis van die splinternuwe Afrikaans 2020-vertaling verskaf addisionele leesstof. Die Kerklike Advieskomitee: Die Bybel in Afrikaans (KABA) het byvoorbeeld gelas dat ’n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste en kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik, geskep word. Die opdrag is voorts omskryf as ’n vertaling wat ’n getroue weergawe van die bronteks moet wees, terwyl die beelde, metafore, styl en struktuur daarvan so ver moontlik behou word.

Inleidings by Bybelboeke, voetnote, kruisverwysings en sosiokulturele inligting dra by tot lesers se begrip van die inhoud en help dat hulle byvoorbeeld vreemde begrippe, metafore en beelde, en mate en gewigte beter verstaan. Die eie aard van Bybelse poësie is so ver moontlik behou waar dit kom by die vorm van liedere en gedigte. ’n Nuttige duimindeks verseker vinnige en maklike naslaan van Bybelboeke en teksverse.

Bestel gerus jou kopie van Die Familiebybel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.