Boekresensie: Nêrens veilig – Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe

Nêrens veilig – Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe deur Chris Schoeman word deur Protea Boekhuis uitgegee.

In Nêrens veilig – Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe gedenk Chris Schoeman twee eeue van die grootste en opspraakwekkendste Suid-Afrikaanse rampe, waaronder natuurrampe soos aardbewings en oorstromings, rampe weens meganiese en menslike oordeelsfoute soos lugrampe, skeepsrampe, busrampe, treinrampe en mynrampe sowel as pandemies soos die Spaanse Griep van 1918, en ongewone gebeurtenisse soos die sogenaamde Xhosaselfmoord in 1856-1857 en die dinamietontploffing in 1896 by Braamfontein-stasie.

Weetgierige lesers wat ’n lewendige belangstelling het in die effens meer makabere sy van ons Suid-Afrikaanse geskiedenis, sal in Nêrens veilig – Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe baie interessante leesstof vind. Schoeman sorg, danksy ’n boeiende vertelstyl en deeglike navorsing, dat die geskiedkundige gebeure en geweldige tragedie rondom rampe wat ons voorsate getref het, herleef én voortleef in ons kollektiewe geheue. Diegene wat nog van die meer onlangse rampe kan onthou, soos dié by Coalbrook, Tulbagh en Westdene sowel as die neerstort van die Helderberg, sal hierdie boek in besonder van waarde vind. Talle swart-en-wit foto’s en vertellings deur ooggetuies en oorlewendes roep die afgryslike gebeurtenisse helder voor oë.

Schoeman deel nie net die feite rondom die oorsake en omvang van die rampe nie. Hy lig ook die menslike aspek uit – die rampe het dikwels met groot lewensverlies en ook verlies van eiendom en infrastruktuur en gevolglike trauma gepaard gegaan. Sensitiewe lesers moet in gedagte hou dat hy nie huiwer om skokkende tonele te beskryf rakende slagoffers se dikwels grusame beserings nie. Ek het hierdie beskrywings nie in swak smaak of die soeke na sensasie ervaar nie. Dit het eerder by my die afgryslike werklikheid van die rampe tuisgebring. Hierdie is nié fiksie nie. Dit vertel van werklike tragedies wat geweldige gevolge ingehou het, soos byvoorbeeld ná die Braamfonteinse dinamietontploffing toe ’n rangeertrein teen stilstaande dinamiettrokke gebots het en bo en behalwe die skade en lewensverlies ook baie kinders ouerloos gelaat is. Wesies het “lank na die ontploffing nog verwese by die hospitaal en verpleeginrigtings rondgedwaal; ander is deur familie versorg en enkelinge was maar op die genade van vreemdes aangewese” (53).

Hierdie sagtebandboek beslaan 200 bladsye en beskryf 14 rampe, naamlik die wrak van die Grosvenor (1782), die stranding van die Birkenhead (1852), die Xhosaselfmoord (1856-1857), die Braamfonteinse dinamietontploffing (1896), die verdwyning van die Waratah (1909), die Groot Griep (1918), die mynwerkers-treinramp, Waterval-Boven (1949), die Coalbrook-mynramp (1960), die Windhoekse lugramp (1968), die Bolandse aardbewing (1969), die Laingsburg-vloed (1981), die Westdene-busramp (1985), die Natalse vloede (1987), en die Helderberg-lugramp (1987). Daar is ook ’n ekstra bylaag oor die lotgevalle van die passasiers en bemanning van die Grosvenor.

Wat die geweldige impak van die natuur op die mens en ook die mens op die natuur aanbetref, vra Willie Esterhuyse tereg in die Voorwoord: “Hoe kan ‘natuur’ en ‘kultuur’ in vennootskap tussen mekaar, tot volhoubare vrede tussen mens en natuur lei? En is dit dalk ook moontlik dat ‘die natuur’ in opstand kan kom teen die menslike natuur? Dié vraag begelei Schoeman se boek soos ’n Karooskerpioen!” Schoeman, wat Nêrens veilig – Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe gepen het terwyl die mediese korps van Suid-Afrika en elders ter wêreld nog ’n moeilike en moedige stryd teen die koronavirus stry, verwys in die Inleding na die verskrikking van die 1918-griep en merk op: “Dit laat ’n mens besef hoe uitgelewer die mens is, selfs in die moderne tyd, waar niks en niemand ontsien word wat epidemies en ander rampe betref nie – dat rampe toeslaan waar en wanneer hulle wil en nie onderskeid tref op grond van ouderdom, ras, geloof of geslag nie.”

Meer oor die skrywer: Chris Schoeman het al verskeie geskiedkundige boeke in beide Engels en Afrikaans die lig laat sien. Protea Boekhuis het ook onlangs sy Rebel, die lewe van kommandant Hans Lötter gepubliseer.

Skaf jou kopie van Nêrens veilig – Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Erich ·

Ek het nog nie die boek gelees nie maar dink hy het een uitgelos: Die ANC

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.