Gewilde boekstories kry lewe op NATi-feesverhoë

Brendon Daniels speel die rol van Bernard in ‘Opdrifsel’ en teenoor hom is Tinarie van Wyk Loots in die rol van Mara. (Foto: Verskaf)

Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens, Opdrifsel deur Phillip Rademeyer, en Plesierengel uit die pen van Leon van Nierop is enkele van die gewilde Afrikaanse boekstories wat vanjaar by die 20ste Suidoosterfees op die planke is.

Die fees vind van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad plaas en benewens dié verhoogverwerkings is daar ook opwindende verhoogstukke deur opkomende jong skrywers op vanjaar se Suidoosterfeesprogram.

In Opdrifsel word ʼn egpaar se lewens uitmekaar geskeur wanneer hul enigste kind sterf. Tinarie van Wyk Loots speel die rol van Mara en teenoor haar is Brendon Daniels in die rol van Bernard. Die produksie het in 2021 die Opwip-Aardklop-prys vir beste aanbieding gewen en dit het ʼn kykNET Fiësta-benoeming ontvang vir beste feesproduksie.

Rademeyer is ook verantwoordelik vir die verhoogverwerking van Ek wens, ek wens, wat onder meer met twee kykNET-Rapport-boekpryse bekroon is. In die verhoogweergawe speel Frank Opperman die rol van Seb, ʼn lykbesorger wie se lewe skielik minder saai word wanneer ʼn sterwende seuntjie en sy ma by die ondernemers instap.

Die digter Jolyn Phillips is saam met Charlton George, Deniel Barry en Frazer Barry te sien in Bientang: bloedspoor/!nau, gegrond op Phillips se bekroonde bundel. Dit ondersoek die legende van ʼn vrou, Bientang, wat in Hermanus in ʼn grot gewoon het en met diere kon praat. Verskillende elemente van storievertel en musiek word in dié produksie ontgin om die geskiedenis van “die laaste strandloper” tot lewe te bring.

Mutton Hour, met De Klerk Oelofse en Cintaine Schutte, maak sy debuut by die Suidoosterfees. Albei akteurs het in 2021 Sinjatuur-toekennings by die kykNET Fiëstas gewen.

Mutton Hour is ʼn samestelling van lekker lawwe verhale oor “liefde, verlies, hansworse en katte”. Dean Balie en Jemma Kahn het saam met die akteurs aan die teks geskryf.

Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch is in die rolverdeling van Koeksusters, geskryf deur Justin Redelinghuys. Die akteurs vertolk die rolle van drie vroue van die Kaapse Vlakte: Betty, Brenda en Bieba. Al drie gaan gebuk onder geslagsgeweld en die komediedrama spreek dié euwel ondubbelsinnig aan.

Antjie Krog en Antoinette Kellermann, wat albei vanjaar 70 word, vier dié mylpaal met ʼn keur van Krog, ʼn wêreldberoemde digter, se werk. Krog se poësie, deurspek met eerlikheid, erns, ironie, genade en liefde, is nommerpas vir die legendariese Kellermann se voortreflikheid. Die oerkluts kwyt is ʼn medeproduksie van die Suidoosterfees, KKNK en Aardklop.

Die jong dramaturg Herschelle Benjamin se Agulhasvlakte handel oor Milly, ʼn bloemis, se stryd teen skade wat aan die natuur aangerig word. Wanneer haar suster Amy, ʼn sosialemediaster van die stad, by haar opdaag, word die verhouding tussen die twee op die proef gestel.

Benjamin het die afgelope paar jaar as ʼn opwindende nuwe stem gevestig geraak. Kay Smith, René Cloete en Wilhelm van der Walt is in die rolverdeling.

Die halwe huis, Ricardo Arendse se eenpersoonstuk met Marlo Minnaar, handel oor Bumper Jansen, ʼn opkomende jong skrywer wat op die punt staan om sy eie lewe te neem. Bumper probeer sin maak van dinge soos die liefde, verwerping en die wêreld se verwagtinge. Leslie Javan is vir die musiek verantwoordelik.

Ruan Wessels is te sien in Plesierengel, gegrond op Leon van Nierop se boeke oor ʼn sekswerker wat vroue laat swymel en uiteindelik een van die land se gewildste en bes betaalde gigolo’s word. Dié stuk, gegrond op ʼn ware verhaal, ondersoek die tragiese omstandighede wat die hoofkarakter tot dié beroep gedwing het.

Frank Opperman vertolk die rol van Seb in die solostuk “Ek wens, ek wens”. (Foto: Facebook)

Waldemar Schultz en Brendon Daniels speel in Dis 20:15, Ferdinand Bekker se komedie oor Pieter en Francois, doodgewone hardwerkende mense wat besluit om bankrowers te word. Dinge verloop egter nie vlot vir dié amateurs nie.

Ses kort, kragtige monoloë wat deel is van die Suidoosterfees en LitNet se Stemme-reeks, word op verskillende tye gratis vir feesgangers opgevoer. Die stukke by vanjaar se fees is geskryf deur Dana Snyman, Dean Balie, Heloïne Armstrong, Jemma Kahn, Buhle Ngaba en Mike van Graan.

Die fees gaan vanjaar oudergewoonte in Kaapstad voort, maar personeel, gehore en kunstenaars sal bewys van inenting moet kan lewer om dit by te woon, of bewys van ʼn negatiewe SARS-CoV-2-toets wat nie langer as 72 uur tevore geneem is nie. Die beleid word op die Suidoosterfees se webwerf en sosialemediaplatforms uiteengesit.

Die volledige program is op die Suidoosterfees se webwerf beskikbaar en kaartjies is by Computicket te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.