Hofmeyr sluit Sluiper-reeks af

Steve Hofmeyr (Foto: Joanne Olivier Photography)

Steve Hofmeyr se jongste spanningsroman, Die kwesbares, die derde boek in sy Sluiper-reeks, is onlangs bekendgestel. In 2017 het Die onaantasbares verskyn waarna Die Lucky Strike in 2018 gevolg het.

Hofmeyr het aan Maroela Media vertel dat hy glad nie beplan het om ʼn reeks te skryf nie.

“Dit sou slegs Die onaantasbares wees,” sê Hofmeyr. Hy verduidelik dat die verhaal egter te lank geword het om in een boek te vertel en dus in drie verdeel is.

“Dit was baie moeilik om die gebeure en verhaal af te sluit. Ek het Die kwesbares se einde twee keer geskryf. Die redaksie was aan Tes se kant. Maar die Sluiper is aan sy eie kant en wou haar afmaai. Ek dink die uitgewers was reg,” sê Hofmeyr.

Die kwesbares speel grootliks in Johannesburg en Pretoria af. Die roetes en plekke is welbekend aan die meeste Gautengers, maar word in situasies gebruik wat die leser uitdaag om anders daaraan te dink. Dit is juis in een van Pretoria se die bekendste teaters waar gebeure ʼn spanningsvolle punt bereik.

“Dit gee my kans om die Sluiper se afkeur aan die kunste te demonstreer. Hy sien dit as die skepping van oorbodige realiteite, terwyl die realiteit wat ons het reeds so ingewikkeld is,” deel Hofmeyr. “Ek lag sommer as ek daaraan dink dat ek die eienaar laat weet het ek brand sy teater af in my volgende boek.”

Tydens die navorsingsproses rig Hofmeyr vir hom ʼn bepaalde ruimte in waar hy sy stories in stilte kan beplan. Hy vertel ook dat sy behoefte om te skryf in ongereelde fases opduik.

“Die drang om te wil skryf kom baie ongereeld, maar skielik,” verklap Hofmeyr. “Ek glip in ʼn frekwensie in. Soos ʼn nessie van stilte wat met bronmateriaal uitgeveer is.”

In Hofmeyr se Sluiper-reeks staan die aksie op die voorgrond. Sy hoofkarakter word telkens in ʼn posisie geplaas waar hy moet veg om oorlewing.

“Dit is nie Vier briewe vir Jan Ellis of Laaste dans, Drienie nie,” sê Hofmeyr. “Die spanningsfiksiegenre beweeg teen die tempo van ʼn aksiefliek. Ek sou sê die reeks is meer in die styl van Gregg Hurwitz, Matthew Richardson en Ernest Hemingway.”

Om in sy doel te slaag gebruik Hofmeyr kort, bondige sinne en dialoog, leestekens word noukeurig aangewend en beskrywings is op die man af. Dit is dus geen verrassing dat die taalgebruik ook in ʼn bepaalde styl geskryf is nie.

Hofmeyr sê dat ʼn oormaat krutaal die leeservaring kan benadeel, maar hy erken dat dit onvermydelik in ʼn spanningsverhaal is.

“Dit is ondenkbaar dat mense op dié woelige vlak van konflik en wanorde nie vloek nie. Mens kan ‘deksels’ ook net soveel keer gebruik,” verduidelik hy.

Steve Hofmeyr (Foto: Joanne Olivier Photography)

Hofmeyr vertel dat Etienne van Heerden, Ingrid Winterbach en Deon Meyer sy skryfwerk beïnvloed – al is dit nie in dieselfde styl as syne nie. En wanneer die geleentheid homself voordoen sal hy selfs een of twee skrywers nooi vir ete.

“As ek net één persoon kan nooi sal dit beslis pres. Cyril Ramaphosa se toespraakskrywer wees. Wie dít ook al is,” skerts hy. “Maar dit sal tog lekker wees as Lukas, die dokter in die Nuwe Testament, Shakespeare, Saul Bellow, Karel Schoeman, Philip Roth en Sheila Cussons ook kom. Ek is seker hulle sal opdaag as ek Hello Tomato se pizza bestel en ʼn veilige afstand handhaaf.”

Oor die boek

Daar’s altyd daardie een persoon van wie jy nie weg kan stap nie. Al weet jy dat jy moet. In die derde aflewering van die reeks speel die Sluiper klaar met homself. Hy lê sy wapens neer en kies die liefde. Die dodelikste ding wat hy ooit kon doen. Nie net laat dit hom uiters kwesbaar nie, maar dit bring hom lynreg te staan teen die boosaardigste figuur met wie hy nog ooit te make gehad het: Jesús Fidencio Hernández, beter bekend as die Veearts van Baia Farta. So ook met die spoke uit sy verlede.

En dié konfrontasie gaan bloedig wees. Brutaal en allesverwoestend. Want dit dwing die Sluiper terug na ou vergete gedragspatrone. Na ingeoefende rituele van vernietiging, want rituele maak die ontasbare tasbaar; gee die onwerklike ʼn mate van stoflikheid. Dit plaas die grootsheid van die onvoorsienbare in jou palm. Dit wals in op plekke waar woorde nie kan bykom nie. Soms heel dit selfs wonde. En dit is seker beter as niks. ʼn Titseltjie genesing vir die kwesbares.

Oor die skrywer

Steve Hofmeyr is een van die gewildste vermaakkunstenaars in Suid-Afrika. Benewens sy loopbaan as sanger, liedjieskrywer en akteur is hy ook bekend daarvoor dat hy op uitgesproke wyse sy mening oor politieke en kulturele kwessies lug.

As akteur het hy bekendheid verwerf vir sy rolle in TV-reekse soos Agter elke man en verskeie rolprente en sepies, insluitende Egoli. Hy het reeds ’n menigte toekennings ontvang, onder meer Geselsprogram-aanbieder van die jaar, platinumstatus vir CD-verkope wat die tweemiljoen-merk oorskry het (EMI), en ’n Sama-toekenning vir grootste verkoper van musiek in Suid-Afrika oor alle genres heen. Sy outobiografie, Mense van my asem, was ’n top-verkoper in 2008, en sy vier romans is gunstig deur kritici ontvang.

Genre: Spanningsfiksie
Prys: R210,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Penguin Random House

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Twopence ·

Die Sluiper-reeks is beslis op my Kersfeeslysie vir my liewe ou man.

Bre ·

Ongelooflike goeie skrywer, akteur en sanger. n Man met vele talente. Ek het twee van sy boeke gelees en gaan beslis die derde een koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.