Woordsoorte: Konteks is koning

Argieffoto

In ʼn inleidende blog oor woordsoorte het ek genoem hoe belangrik dit is om nie woordsoorte te probeer bepaal sonder om die woorde binne sinskonteks te sien nie.

In die week loop ʼn jong gebruiker haar in hierdie einste ding vas toe sy in ʼn werkstuk ʼn vraag moet beantwoord: Watter soort voornaamwoord is die woord albei? Sy doen die regte ding: Sy gaan kyk in die woordeboek, want die woordsoort is mos deel van die inskrywing van elke woord. Maar in hierdie geval help die HAT en WAT nie, want albei bronne dui albei as telwoord aan en nie as voornaamwoord nie. Hoe nou gemaak?

En dis presies waar my waarskuwing uit die vorige blog weerklink: As jy nie die woord binne ʼn bepaalde konteks sien nie, is dit feitlik onmoontlik om te bepaal wat die woordsoort is. Ja, ʼn mens kan raai en dalk reg wees, maar dit is moontlik om woorde in bepaalde kontekste te gebruik op ʼn manier wat hulle woordsoortfunksie verander. Woordeboeke kan nie elke moontlike toepassing van ʼn woord beskryf nie, woordeboeke beskryf die gebruiklikste toepassings van woorde. Dit is ons taak, as studente van die taal, om self te bepaal wat met woorde in ander sinskontekste gebeur.

Ek het ook in die vorige blog gesê ʼn mens gebruik ʼn woord se morfologiese en sintaktiese eienskappe (hoe die woord kan verbuig of affikse kry en hoe die woord in ʼn sin optree) om die woordsoort te bepaal. Kom ons kyk hoe albei se woordsoort kan verander na gelang van hoe dit in ʼn sin optree.

Om dit te kan doen, begin ons met ʼn maklike voorbeeldsin waarin dit betreklik maklik is om die woordsoorte te identifiseer: Die perde is moeg. So lyk dit:

  • die = bepaalde lidwoord
  • perde = selfstandige naamwoord, spesifiek soortnaamwoord (dit kan ʼn meervoud kry en dit kan ʼn lidwoord vooraf neem)
  • is = koppelwerkwoord (koppel die onderwerp [die perde] aan ʼn eienskap van die onderwerp [moeg])
  • moeg = byvoeglike naamwoord (kan predikatief gebruik word en kan trappe van vergelyking neem)

Nou wil ons albei in hierdie sin gebruik: Albei perde is moeg. Die HAT en WAT is korrek as hulle albei as telwoord aandui. Telwoorde tree gewoonlik voor selfstandige naamwoorde op en gee ʼn aanduiding van hoeveel goed deur die selfstandige naamwoord benoem word. In hierdie sin tree albei voor ʼn selfstandige naamwoord (perde) op en dit gee ʼn aanduiding van hoeveel perde benoem word (twee).

As ons egter albei in ʼn konteks soos die volgende gebruik, verander die sintaktiese omgewing heeltemal: Die perde het ver gehardloop. Albei is moeg. In die tweede sin is albei nie meer ʼn telwoord nie, want dit staan nie voor ʼn selfstandige naamwoord nie. Dit is trouens in hierdie sin die enigste woord in die onderwerpsposisie (Wie/wat is moeg?) en ons weet mos nou al die onderwerpsposisie moet deur ʼn naamwoord gevul word. As ons dié sin met ons oorspronklike sin vergelyk, lyk dit so: [Die perde = onderwerp] is moeg. X [Albei = onderwerp] is moeg. Watter woord wat nie ʼn naamwoord is nie, tree in ʼn naamwoordposisie op? ʼn Voornaamwoord. In die sin Albei is moeg is albei ʼn onbepaalde voornaamwoord.

Afhangend van die konteks, kan albei dus verskillende woordsoorte wees:
Albei opsies is moontlik. (onbepaalde telwoord)
Albei is moontlik. (onbepaalde voornaamwoord)
Albei is my gunstelingwoord. (selfstandige naamwoord)
As jy nog een keer albei, gaan ek mal word! (werkwoord)

Ja, die laaste voorbeeldsin is geforseer en min mense gaan die woord so aanwend. Maar onthou maar, taal laat vir hom nie in ʼn boks druk nie. Dit is soepel en bruikbaar, en in die hande van taalvaardige gebruikers, gebeur daar soms wonderlike goed daarmee. As dit jou werk is as ʼn onderwyser of ʼn student van die taal om dit te analiseer soos wat dit aangewend word, al is dit soms uitdagend: Hou kop binne konteks!

VivA-groete
Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Burgermeester ·

Dankie Sophia, dit is nou insiggewend. As jy tyd het, en jy is baie vervelig, kan jy dalk ‘n artikel skryf oor die woord ‘huidig’. Byvoorbeeld, is huidiglik ‘n aanvaarbare woord? Ek is eerlik, ek het ongelukkig nie baie aandag op skool geskenk nie, en nou sit ek met ‘n rooi gesig.

Sune van Heerden ·

Dagsê Burgermeester

“Huidiglik” is glad nie ‘n aanvaarbare woord nie.
Gebruik gerus “huidig” of “tans”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Burgermeester ·

Dankie Suné, duidelik moes ek meer aandag op skool geskenk het.
Veilig wees en sterkte daar duskant die vlaktes van Hebron.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.