Lesersbrief: Sonder die Here – alles tevergeefs!

Sonstraal op die senotaaf in die Voortrekkermonument. Foto: Commons.wikimedia.org

Dr. Gerhard Kok van Montana skryf:

Maroela Media van 17 Desember 2018 publiseer jou toespraak op Geloftedag 2018 onder die opskrif: “Geloftedag: ‘Ons toekoms is in ons eie hande’.

Op jou sosialemediaprofiel op Facebook publiseer jy ook op 17 Desember 2018 ’n skakel na bogenoemde artikel met die volgende uitnodiging: “My toespraak op ‘Geloftedag: Ons toekoms is in ons eie hande’. Laat weet asb. wat jy van die boodskap dink.”

In die lig van bogenoemde, gun my asb. die geleentheid tot enkele opmerkings in verband met jou toespraak en die boodskap daarvan. Aangesien ek weet dat jy nie net ’n Afrikaner is nie, maar ook ’n belydende Christen, sal ek ruimskoots verwys na die Skrif wat ons ware riglyn moet wees, nie net as individue en gesinne nie, maar ook kollektief as Afrikaners. Vir hierdie doel kies ek om teenoor jou opskrif Ons toekoms is in ons eie hande’, my eie opskrif te ontleen aan die opskrif wat die vertalers by Psalm 127 ingevoeg het: “Sonder die Here – alles tevergeefs!”

Ek het waardering vir baie van die werk wat AfriForum doen en stem saam met baie van die oplossings wat jy in jou toespraak aanbied. Dienooreenkomstig steun ek ook baie van jul inisiatiewe. Hoewel ek dus grotendeels met die inhoud van jou toespraak geen fout vind nie, het ek wel beswaar oor dit wat nié daar staan nie.

In jou inleiding skryf jy die volgende: “In die stryd waarmee ons vandag gekonfronteer word, is dit nodig om ’n oomblik te neem om terug te kyk na die Gelofte van 1838, om daaruit die nodige lesse te leer wat vir ons nodig is om ons eie stryd aan te durf.”

Met dié betrokke inleiding skep jy die verwagting dat jou toespraak in dieselfde lig as die Voortrekkers se gelofte van 1838 staan. Soveel te meer as jy direk daarná verwys na Jan van Riebeeck se Gelofte van 1654. Wat is hierdie lig of ingesteldheid waarna ek verwys? Dit blyk duidelik uit Pretorius se vermaning aan die manskappe voor die Slag van Bloedrivier om hulle te verootmoedig voor God. Dieselfde gesindheid vind ons in die gebed van Jan van Riebeeck (1652) wanneer hy die volgende bid: “Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie wilde en onbeskaafde mense u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van dié wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat.”

Let op die sentrale tema in die volgende teksgedeeltes (my beklemtoning):

Jak. 4:13-16: “Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak – julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.”

Rigters 7:2,7: “Toe sê die HERE vir Gideon: Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos… Toe sê die HERE vir Gideon: Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan elkeen na sy woonplek gaan.”

Psalm 127:1-2: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!

Psalm 16:5-6: “Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.”

Sag. 4:6: “Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”

Sedert die 5de eeu ná Christus word ons Christelike werketiek dan ook mooi opgesom in die Latynse frase “ora et labora” – bid en werk. Ons kan dit ook opsom deur te sê ons werk (of voer stryd) in biddende afhanklikheid van God as die beskikker van ons deel en lot (verw. Psalm 16:5).

Die inhoud van jou toespraak skiet egter in hierdie opsig ver te kort. Nie een keer noem jy dat ons in volle afhanklikheid van ons Hemelse Vader moet beplan, leef en werk nie. Ja, jy stel baie goeie praktiese strategieë en oplossings voor, maar jy kom nie by die kruks van die saak uit nie: Al ons menslike planne en strategieë is van weinig nut as ons dit nie doen in afhanklikheid van, gehoorsaamheid aan én tot roem en eer van ons Skepper nie!

Dít is die werklike boodskap wat ons ons kinders moet leer oor die Gelofte wat ons voorsate in 1838 afgelê het – Psalm 78:3-4 “Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.”

Die eer van God is ook die enigste beweegrede vir ons bestaan op hierdie aarde. Die Voortrekkers het nie bloot geveg vir die behoud van ’n aardse koninkrykie nie. Hulle stryd was ten diepste ’n stryd vir die behoud van die enigste ware geloof in die Drie-enige God, die HERE van die leërskare. Dit is immers ook Hy wat die lot van volkere bepaal (Hand. 17:26, Rom. 13).

Juis in die huidige tydgees waar die enigste ware God in hierdie mooi land van ons bespot word en sy Wet vertrap word (nie net deur lede van ander volkere nie, maar dikwels ook deur lede van ons eie volk), moet ons des te meer hierdie boodskap duideliker verkondig en ook ons lewens só inrig. Wat baat dit ons as ons as volk hier op aarde selfbeskikking en sukses behaal, maar ten koste van ons geloof in God en die uitbreiding van die koninkryk van Jesus Christus? Laat ons waak en bid dat die volgende woorde van ons Here Jesus Christus nie oor ons waar sal word nie:

Markus 8:36-38: “Want wat sal dit ’n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel? Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.” Matt. 10:32-33: “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.”.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Disselboom ·

Dis goed dat hierdie gesprek gevoer word. Mnr Roets se verduideliking in sy antwoord op hierdie skrywe van dr Kok wys dat daar hier ‘n slag besin word oor kerk en staat asook geloof en politiek. Disselboom gaan nie op die draad sit nie, en sê dat dr Kok se skrywe ernstig opgeneem moet word, en watter verskoning ook al, mnr Roets se toespraak goeie punte gemaak het, maar armoedig en maer was vanweë die gebrek om ten minste net te verwys na geloof en die eer van God.

Johan Neuteman ·

Wil met @Disselboom saamstem, maar wonder tog of daar nie wysheid in is om nou maar nie geloofsake so heeltyd in te span in toesprake nie? Aan die ander kant moet mens tog die ware geloof altyd bely in alles wat jy doen?

Jerry ·

Politiek is n roeping, maar ook n spel wat gespeel moet word, soms speel hulle mooi, soms speel hulle vuil, soms praat hulle wat hulle wil he jy moet hoor, soms praat hulle nie oor dit wat jy nie wil hoor nie. Mense wat staan in diens van politiek en van mense, staan daar omrede hulle beinvloed is en gelei word deur een van die menslik geskepte -isme. Politikiste gebruik, misbruik en mislei mense in hulle strewe na die politieke ideaal. Geloof daarteenoor is nie n spel wat gespeel word nie, dit is n onderdanige, eerbare en dankbare leefwyse teenoor jou Skepper en jou verdraagsaamheid, respek en optrede teenoor jou medemens, is n weerspieeling daarvan. Diegene wat rotsvas staan in geloof en waarheid help mekaar en help mense om ons Skepper se ideale vir ons, na te strewe! Al beoefen jy dus politiek en geloof saam, bly die kruks die besef dat jy steeds net een God mag dien. Omdat ons as politikiste en as gelowiges, almal maar net mense met voete van klei is en op soek is na sin in ons lewens moet ons sonder ophou ons oe gerig hou op God, daar vanwaar ons weet ons hulp vandaan kom! Kom ons gee die eer aan ons God in alles wat ons doen, selfs al het die predikant dit reeds gedoen!

Cornelia ·

U druk op die “wond” van baie bloeiende christene Dr. Kok. Politiek het aan God ‘n “plek” toegewys. Hy is slegs die flou afskynsel van my gebedsvertroue en geloof in die binnekamer van my hart. (wat met tye dreig om te wankel) Dit is God wat deur u waarsku. Ons Afrikaner volk hèt ‘n tragiese toekoms op aarde soos elke ander volk. Maar as ons God wéér verheerlik sondér Vrees vir verdoemenis van mense, dán sal ons God waarlik die Eer gee wat Hom toekom. Want ons lewe nie net vir hierdie uur nie, maar om MEER te verkondig as ons stryd teen vlees en bloed. Want ons Toekoms en die weg daarheen is in GOD se Hande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.