Inderdaad tevergeefs sonder die Here

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof AfriForum (Foto: Reint Dykema)

Roets het hierdie artikel geskryf in antwoord op dr. Gerhard Kok se leserbrief “Sonder die Here – alles tevergeefs!”:

Beste dr. Kok

Ek is dankbaar dat jy aan my geskryf het oor my Geloftedagtoespraak van 16 Desember 2018. Dit lyk of jy die brief aan my in my persoonlike hoedanigheid geskryf het. Ek sal graag ook wil antwoord deur AfriForum se posisie te verduidelik, aangesien ek in my hoedanigheid as adjunk-uitvoerende hoof by AfriForum genooi is om die toespraak te lewer. Ek is ten volle gemaklik met jou skrywe, maar wil graag die geleentheid gebruik om bietjie breër te antwoord as slegs dit wat jy vra.

Jou skrywe bied aan my die geleentheid om sekere kwessies rakende AfriForum se benadering ten opsigte van geloof te verduidelik. Maar voor ek dit doen, laat ek begin by my persoonlike siening – wat ook die rede is waarom ek ten volle met AfriForum se benadering gemaklik is.

Ek is ’n belydende Christen. Ek lees saam met my gesin Bybel en ek bid saam met hulle. Ons gesin gaan ook Sondae kerk toe en ons is aktief betrokke by die kerk se bedrywighede. Ek is ook ’n afstammeling van Sarel Cilliers (ek is sy agterkleinkind se agterkleinkind). Ek beskou myself dus as gebind aan die Gelofte van 1838 – nie bloot omdat ek dit afgelê het nie, maar omdat my voorouers dit afgelê het voor die Groot Slag. My oudste kind is nou ses. Hy het op 16 Desember vir my gesê hy wens hy kan ook eendag so dapper wees soos wat sy pa se oupagrootjie se oupagrootjie was.

Ek was ’n spreker by die Viljoenskroon-Geloftefees, naby Potchefstroom. Die konteks van my toespraak was dat ek ná die predikant gepraat het en dat ek spesifiek gevra is om te praat oor die uitdagings wat Afrikaners vandag in die gesig staar, te bespreek. Die geestelike boodskap was dus reeds voor my toespraak oorgedra – ook in gewyde sang en deur ’n spreker wat die geskiedenis en die verhaal van Sarel Cilliers vertel het.

Persoonlik is ek skepties oor Christene wat met groot selfversekering praat asof hulle alles verstaan. Daar is baie dinge wat ek nie verstaan nie. Ek glo dat geloof die kombinasie van kennis en vertroue is. Ek probeer my kennis verbreed, maar ek het ook besef dat kennis alleen nie genoeg is nie. Daarom moet ons vertrou. 1 Korintiërs 12:13 sê immers: “Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”

Ons glo dat elke mens geroep is om een of ander taak te verrig. Ek is in die bevoorregte posisie om my roeping, soos ek dit verstaan, te kan uitleef in my werk. Hoewel enige iemand by AfriForum kan aansluit, is AfriForum ’n organisasie wat op Christelike waardes geskoei is. Ons open ons kongresse en slypskole met skriflesing en gebed. Ons spreek ook gereeld onder mekaar ons dank uit oor die genade en leiding wat ons ontvang het om te kon groei tot die organisasie wat ons vandag is.

Ons het egter gesien dat organisasies (veral Afrikanerorganisasies) in die verlede al groot skade aangerig het wanneer hulle nie die lyn tussen geloof en politiek respekteer nie. Natuurlik is alles onderworpe aan geloof.

Die probleem skop in wanneer ons toegee tot die versoeking om ons aardse standpunte tot godsdienstige beginsels te verhef deur onderlinge meningsverskille of politieke standpunte aan die hand Bybeltekste te motiveer.

Ek noem dit ’n probleem omdat ons mense is en omdat ons soms verkeerd is, hoewel ons glo dat ons reg is. As ons dan ons politieke standpunte in geloofstandpunte omskep, posisioneer ons onsself as verhewe bo enige kritiek en plaas ons onsself in ’n ernstige versoeking om selektief na die Bybel te kyk in ’n soektog om ons politieke standpunte telkens teologies te motiveer.

Ons is bewus van organisasies waar dit so erg geraak het dat skriflesing en gebed ’n instrument geword het om persoonlike veldtogte te voer. Hulle haal uit die Bybel aan om politieke gevegte te veg asof hulle die antwoorde het, terwyl daar in die Bybel staan dat ons slegs ten dele ken. Dit is ’n destruktiewe siklus en kort voor lank begin mense vertroue verloor, nie net in die organisasie nie, maar sommer in die kerk, die breër geloofsgemeenskap en soms selfs hul geloof.

Ons benadering by AfriForum is dus om ons aksies en standpunte op Christelike beginsels te skoei, maar om nie die rol van die kerk te betree deur ons in ons openbare verskynings met teksinterpretasies te bemoei, of deur politieke standpunte aan die hand van Bybeltekste te motiveer nie. Ons streef daarna om ons Christelike beginsels uit te leef in die besluite wat ons neem en die aksies wat ons uitvoer en om in ons persoonlike hoedanighede betrokke te wees waar ons kan.

Omdat ons nie teoloë is nie, wil ons onsself nie in ’n posisie plaas waar ons ons openbare platform misbruik om teksverse aan te haal en te vertolk aan die hand van ons politieke uitdagings nie. Ons loop só ʼn risiko om groot skade aan te rig. Ons streef daarna om ons Christelike waardes uit te dra in dit wat ons doen.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

17 Kommentare

JWC ·

Baie goed saam gevat…. en ek kan myself ten volle hiermee vereenselwig! Dankie!!

John ·

Dit is wanneer die goeie Samaritaan se hulp so skeef getrek word, dat die opdragte van die Bybel so liederlik aangepas word om subjektiewe standpunte te kleur. Daarna word enige bydrae tot eie sake en kultuur by die venster uitgegooi. Waar eie kulture en die Christelike godsdiens hoogty vier ontwikkel lande, maar wanneer die eie terugstaan vir diens aan ander se drome, hul afgodediens selfs verduur word om welsyn te verrig, ‘n volk ten gronde gaan. Wat is ons erns?

Leonard van der Dussen ·

Sien by dr Kok se artikel iemand wat opmerk daar moet gepraat word oor hierdie dinge: kom ons besin oor “christelike waardes” teenoor “belydenis” – dit voel of daar te veel klem bloot op die “waardes” gelê word, pleks daarvan dat ons God bely as enigste God, Skepper en Onderhouer van alles wat bestaan en Christus as enigste verlosser. Dit lei in die onderwys bv tot skole wat “christelike waardes” nastreef, maar nie tot by die “belydenis” kom dat daar net een God, een waarheid, een Verlosser wat daartoe lei dat godsdienste gelykgestel word en die belydenis daardeur verwater word.

Piet ·

Stem saam. Ongelukkig word organisasies en die media gedwing om politiek korrek op te tree. Indien hulle dit van verhoë en dmv nuusblaaie gaan bely, gaan die ander gelowe hulle speelgoed uit die kot uitgooi.

apie ·

Goed gestel en die omstandigheid om die toespraak daardie dag daar mooi verduidelik.

Jerry ·

As jy my vra moet ons alles en ek bedoel alles heel eerste in geloof, met passie en met gesonde verstand doen. Christelike waardes asook mensgemaakte waardes moet daarna kom. Dit is geloof en ons verhouding met ons Skepper wat ons in ons donkerste ure deurdra, dit is nie ons roeping, waardes of politiek of wat ookal nie. Jy kan altyd n antwoord reghe en regverdiging vind in jou optredes, maar wanneer jy alleen staan sonder jou pelle, dit is dan wat jy sal besef dat die antwoord nie meer reg klink nie en daar nie regverdiging bestaan vir jou optrede nie. Dit gese en dit daar gelaat, sterkte met die taak op hande.

WJ Oosthuizen ·

Bid vir julle – want dink dit is moeilik om baie keer regte besluite te neem.
Die Here Seën julle!

Jongboer ·

Verhoudinge, gemeenskap en liefde daar is God. Ek is lief vir my nasie, sukkel om ander nasie te verstaan, ek het hul lief, maar dit voel of hul my haat.. kan ek n verskil maak? My God help my en my mense in die mooi land. Ernst Roets is n yster…. wees lig, en maak n verskil in al die nasies. God is met jou

Fanie Kemp ·

Baie dankie Ernst vir kinderlik Gelowige belydenis. Ons is Die Here dankbaar in hierdie tyd vir Organisasies soos Solidariteit en Afri Forum wat, so glo ek, as Instrumente deur Die Here gebruik word in Sy Raadsplan.
Iemand het eenkeer gese: “Dit is net mense wat niks doen wat nooit foute maak”.
Ek bid elke dag vir julle as leiers.
Sterkte.

Andreas ·

Uitstekend gestel, mag Afriforum net van krag tot krag groei. Jou denke verstom my Ernst, jy het altyd goeie sinvolle opinies, julle hou ons nugter en gee hoop.

Rasper ·

Sulke temas is altyd moeilik. Dink maar aan Gideon. Hy het weggekruip, en sy daaglikse aktiwiteite skelm gedoen, net dat die “regering” van die dag hom asb. net moet uitlos. Daar gaan haal die Here hom uit sy “comfort zone” en sê vir hom DOEN. Dan kry ‘n mens vir Hiskia, waar sy probleme, en die “vyand” sommer verdwyn het, sonder dat hy iets moes geDOEN het. Ek dink die probleem kom as Hiskia vir Gideon probeer raad gee, oor hoe om te doen, of Gideon vir Noag, en Noag vir Elia, ens. Hiskia sou verkeerd gewees het as hy in Gideon se skoene was, en Gideon verkeerd as hy in Hiskia se skoene was. Ek dink alles, om te doen of nie te doen nie, moet getoets word teen LIEFDE. Want dat sal jy doen, as jy eintlik nie wil nie, of stil sit en wag, as jou gat jeuk om iets te doen.

Therese ·

Rasper!
Hierdie kommentaar van jou is sowaar ‘n juweel! Gaan dit iewers bêre.

NeelsSmit ·

Is daar dalk iemand wat weet wat die skrifgedeeltes was wat Sarel Cilliers voorgelees het met die aandgodsdiens op 15 Desember 1838 en wat die gesingde psalms of gesange was. Ek soek al jare na dit maar kan dit nie opspoor nie. My voorouers was ook in die laer en ons en ons kinders leef in die gelofte.

Koos ·

Elke ware gelowige moet ook in sy beroep die Here se naam bely. Ook n Dr by sy patiente, n juffrou by die skool en ook Ernest Roets by n geloftefees. Soos die Gelofte dit stel ons sal aan Hom die eer gee.

Koos ·

Hi Karlien. Verseker! Dade trek! Maar hoe moet ander weet dit is die Here as jy nie getuig wie Hy is nie, dit kan dan net sowel Boeda wees. En dan bedoel ek nie dat jy heeltyd bybelversie moet gebruik nie. Leef (Dade) en Bely moet ons altwee doen. Ek sien hierdie uit die perspektief oor wanneer hierdie toespraak gelewer is. Dit is op die dag wat ons as nageslag die bewaring en dade van die Here gedenk en aan Hom die ere gee. Op so dag noem die spreker nie eenkeer die Here se naam nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.