‘Alles sal regkom, as elkeen sy plig doen’

pres-jh-brand

Pres. JH Brand. Foto: En.wikipedia.org

Op Saterdag 14 Julie het die Ou Presidensie Historiese Vereniging in Bloemfontein saam met ander kultuurorganisasies die sterfdag van president Brand, 130 jaar gelede, herdenk. Die FAK was betrokke by die projek om president Brand se graf en familiekerkhof te beveilig in die erg verwaarloosde president Brand-begraafplaas.

Johannes Henricus Brand was die oudste seun van die Kaapse politikus sir Christoffel Brand en lady Catharina Brand. Die Vrystaatse dorp Lady Brand, is later jare na haar vernoem. Brand voltooi sy regsopleiding in Kaapstad, waarna hy sy doktorsgraad in regte aan die Universiteit van Leiden verwerf. Met sy terugkeer na Kaapstad praktiseer hy as advokaat, doseer regte aan die Universiteit van Kaapstad en word as regter aangestel. In 1854 word hy lid van die Kaapse wetgewende vergadering en tot eerste speaker van die Kaapse parlement verkies. Ná president MW Pretorius se bedanking, versoek die Vrystaatse regering Brand om hom as president beskikbaar te stel. Op 2 Februarie 1864 word JH Brand op die ouderdom van 39 in die Tweetoringkerk as vierde staatspresident van die Republiek van die Oranje Vrystaat ingehuldig. Hy sou vir ses termyne oor ’n tydperk van 25 jaar as president dien tot sy dood op 14 Julie 1888.

In sy epiese werk Bloemfontein, die ontstaan van ’n stad 1846-1946 skets Karel Schoeman ’n kleurryke prentjie van president Brand. Enersyds word hy deur die destydse inwoners beskryf as “a resolute stubborn looking man with a frank but not over-conciliatory, expression of face.” In die strate van Bloemfontein het hy geloop “as a man with a purpose, straight ahead, looking neither to one side nor the other. He looked stately and serene, as he always did; his only decoration was the orange scarf across his chest and as always he had on his black silk Bell Topper hat.” Andersyds was hy ’n gesinsman. Die Ou Presidensie met sy stewige sandsteenmure het in die tyd van die Brand-gesin met elf kinders gelewe. Vir burgers en amptenare het daar altyd koffie op die koolstoof gereed gestaan en baie musiekaande is aangebied. In die lang gange van die Presidensie het president Brand met sy kinders albaster gespeel – selfs die Saterdagaand van sy onverwagse dood, met sy seun ’n potjie skaak.

Sy dood was ’n groot verlies vir die Vrystaatse Republiek. In die 25 jaar van sy presidentskap het president Brand onder vriend en vyand bekend geword as “Vader des Volks”.

Met sy kenmerkende verdraagsaamheid en diplomatieke en administratiewe vaardighede het hy in die woorde van mevrou Leviseur “our crude little settlement transformed into the model Free State of which we are so proud now.

Sy grootste nalatenskap is inderdaad die ontwikkeling van die Vrystaat in ’n modelstaat wat, volgens sir Theophilus Shepstone, die beste in Suid-Afrika geadministreer was en gefunksioneer het. Volgens Professor Giliomee het president Brand aan die republiek “groter samehorigheid en selfvertroue gegee. Teen die vroeë tagtigs was ’n staat gevestig. Hoewel nie ryk of ontwikkel nie, tog stewig en vooruitstrewend.”

Alhoewel president Brand die langsdienende staatshoof in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was, het hy teen 2018 grootliks in die vergetelheid verdwyn. Tog is daar baie redes om in eietydse konteks sy nalatenskap weer af te stof en daaruit leidrade vir vandag se vraagstukke te soek. Dink maar aan:

  • Die diplomatieke vaardighede en wysheid waarmee hy nie net die Basoetoevraagstuk opgelos het nie, maar ook die Britse grondonteiening van die diamantvelde in Kimberley in ’n wins vir die Republiek omskep het;
  • Die vestiging van ’n staatsbank met die oog op finansiële selfstandigheid van die jong Republiek;
  • Die uitwissing van korrupsie en ’n skoon staatsadministrasie;
  • Die vestiging van ’n hoëgehalte-onderwysstelsel wat tot in die verste uithoeke van die Vrystaat geleenthede vir goeie onderrig verseker het;
  • Die vestiging van ’n sterk regstelsel met die totstandkoming van die hooggeregshof in 1867 en die appèlhof in 1875. Vandag is Bloemfontein steeds die regshoofstad van Suid-Afrika;
  • Die uitbou van infrastruktuur en handelsroetes om die ekonomie te stimuleer. Ten tye van sy dood, was die planne vir ’n uitgebreide spoorwegstelsel reeds goedgekeur; en
  • Die gebruik van nuwe tegnologie om kommunikasie te vergemaklik. In 1879 is ’n moderne telegraafstelsel in Bloemfontein gevestig.

By hierdie lysie sou ’n verdraagsame regering wat nie net in noue kontak met sy burgers geleef het nie, maar diverse gemeenskappe konsekwent en met respek behandel het, ook gevoeg kon word.

Die dieper antwoord op die vraag na die betekenis van president Brand in 2018 lê miskien eerder opgesluit in een woordjie, naamlik etos.

Etos is die karakter en integriteit wat ’n gemeenskap, groep of volk kenmerk. President Brand se etos word die beste opgesom in sy bekende slagspreuk: “Alles sal regkom, as elkeen sy plig doen.” As oortuigde Christen het hy met dié etos die karakter van die Vrystaat gevorm en so lewensbeskoulike inhoud aan die republiek gegee.

Onderliggend aan sy etos is die geloofsoortuiging dat arbeid adel is; dat plig ook ’n plesier is; aanvaarding van eie verantwoordelikheid om vir jou deeltjie te sorg en dit uit te bou en die gemeenskaplike strewe na ’n taak wat groter is as eiebelang. Geen wonder sy ampstermyne getuig van eienaarskap, trots, selfsorg, selfrespek en ’n lewenshouding van diensbaarheid nie.

President Brand se standbeeld, opgerig in 1893, staan vandag steeds aan die bopunt van Maitlandstraat. Enersyds staan die beeld as ’n herinnering aan die etos van ’n suksesvolle staat, andersyds as ’n appèl op elke burger om sy plig te doen.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Eish ·

Baie leersame artikel dankie.
Dit sal gaaf wees om elke week so iets oor ons gewese leiersfigure te lees te kry.
Die Basotho vraagstuk is nooit opgelos nie. Skrywer se opmerking oor die aangeleentheid is debatteerbaar.Daar was oorloë agv die feit dat die Basuthu nie die grense erken het wat op hom afgedwing is nie.
Die oplossing vir die vraagstuk het van Mosheshwe homself gekom toe hy n beroep op England gedoen het om Basutholand te annekseer. Vandaar ook die onafhanklikheid.
Die Basotho leier was sy tydgenote ligjare voor. Synde hy oor moderne wapentuig beskik het, was die oorloë teen hom nie heeltemal suksesvol nie. Hy het sy vyande goed geklits. Vra vir Louw Wepener.

Heinrich ·

Ja wat, sal nog ‘n rukkie duur voor ons weer iemand met sulke statuur as die president sal hê.

HOF ·

EK WERK OORKANT DIE GEBOU!!!
EKT OOK NOU IETS GELEER!

BAIE DANKIE DANIE LAGNER

etos!!

Theo ·

Weereens n President wat GEHANDHAAF en GEBOU het. Wat n insegewende getuienis van sy nalatenskap.! Ons kan net Trots wees op dit wat ons vorige Leiers en Presidente(de Klerk uitgesluit) bereik het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.