Beleggers bang vir praatjies wat goud en grond bedreig

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Buitelandse beleggers hou onderhandelinge en prosesse oor die Mynbouhandves en grondonteiening fyn dop. Dit is bevestig toe Solidariteit verlede week met ʼn senior afvaardiging van die Amerikaanse ambassade vergader het oor hul regering se besluit om hoë invoertariewe op SA staaluitvoere na Amerika te hef – ʼn besluit wat ons plaaslike staalbedryf ernstig benadeel. Die gesprek met die diplomate het uiteindelik ook gelei na ʼn bespreking van die kontroversiële Mynbouhandves en die grondonteieningsdebat. Die diplomate het dit onomwonde gestel dat die blote retoriek oor die twee kwessies en die gepaardgaande onsekerheid oor eiendomsreg hulle ʼn geruime tyd reeds noop om Amerikaanse beleggers in ʼn maandelikse Suid-Afrikaanse beleggingsomgewingsverslag te waarsku teen die ongunstige beleggingsklimaat.

Die diplomate verduidelik tereg dat eiendomsreg die hoeksteen van die markekonomie is en as hulle politieke uitsprake ontleed, veral uitsprake deur president Cyril Ramaphosa wat hul sterkste aanwyser van die regerende party se beleid is, hulle diep bekommerd is oor die status van eiendomsreg en vrye handel in Suid-Afrika. Hulle verduidelik dat dit in die geval van ʼn mynboubelegging soms so lank as 20 jaar duur voordat ʼn belegger substantiewe finansiële voordele uit ʼn belegging kan put. Weens dié onsekerhede raai hulle Amerikaanse beleggers aan om eerder elders in die wêreld, byvoorbeeld in Chili en Brasilië, langtermynbeleggings aan te gaan en om dus elders werk te gaan skep.

Internasionale regsfirmas en bankiers het onlangs dieselfde boodskap aan die Mynbouhandves-onderhandelaars oorgedra toe hulle genooi was om te verduidelik wat internasionale kliënte ontmoedig om in Suid-Afrika te belê en waarom hul Suid-Afrikaanse kliënte eerder hul mynbedrywighede in die buiteland uitbrei. Die aanbieders was dit eens dat die onsekere, deurlopend veranderende en komplekse regulatoriese raamwerk vir mynbou hul buitelandse en plaaslike kliënte afsit.

ʼn Kanadese regsfirma het in hul aanbieding aangetoon hoe buitelandse beleggings in die Suid-Afrikaanse mynbedryf sedert 2005 ʼn afwaartse neiging begin toon het. Dit is ʼn jaar nadat die omstrede Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne en die eerste Mynbouhandves gepromulgeer is. Die firma het bygevoeg dat ʼn internasionale belegger swart ekonomiese bemagtigingstransaksies deur dividende wil befonds en solank die handves en die wet al meer nuwe vorme van “belastings” hef en myne só minder winsgewend maak, sal daar nie verder in Suid-Afrikaanse mynbou belê kan word nie.

Hierdie nuwe belastings is ook ʼn sensitiwiteit onder plaaslike mynhuise nadat die regering hulle mislei het oor die instelling van tantième-wetgewing wat in 2010 in werking getree het. Die belastinginkomste wat so gegeneer word, sou kwansuis in mynbougebiede aangewend word, maar dit het reguit in die staatskas beland. Solidariteit het die departement van minerale hulpbronne in 2014 daaroor aangevat toe die destydse minister, Ngoako Ramatlhodi, eenvoudig aangedui het dat die ANC se Vryheidsmanifes bepaal dat die land se minerale rykdom aan die mense van die land behoort, as riglyn dien. Daarom moet alle burgers voordeel trek uit die vorm van belasting op mynhuise.

Die regering se konsepmynbouhandves bevat juis ʼn klousule wat mynhuise en internasionale diensverskaffers dwing om ʼn bedrag gelykstaande aan 1% van hul omset (nie wins nie) aan ʼn gemeenskapsontwikkelingfonds te betaal. Mynhuise het sterk standpunt ingeneem teen die klousule omrede nagenoeg 50% van mynmaatskappye nie winsgewend is nie en die bykomende “belasting” rampspoedig vir die bedryf sal wees.

Solidariteit se argument was dat werkers weens die bykomende koste aan maatskappykant, uiteindelik die prys gaan betaal deur óf ʼn kleiner verhoging te kry óf eenvoudig by marginale myne afgelê gaan word. Dit lyk darem of die regering se onderhandelaars gesnap het dat blouboortjiewerkers, wat deel van hul ondersteunersbasis is, die prys vir die gierigheid sou betaal en daarom die klousule gaan skrap.

ʼn Plaaslike regsfirma, wat heelwat buitelandse beleggers as kliënte het, het in hul aanbieding aan die Mynbouhandves-onderhandelaars aangedui dat hul kliënte in lande belê waar hulle die land se wetgewing met die eerste oogopslag verstaan, dit aansporings vir beleggers bied en daar ʼn professionele en effektiewe staatsdiens is.

Dit is dan ironies dat die nuwe minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, verlede week tydens sy begrotingsrede aangedui het dat dit sy doel is om beleggers na Suid-Afrika terug te lok. Hy het genoem dat direkte buitelandse beleggings van R76 miljard in 2008 na R17,6 miljard in 2017 afgeneem het. (Hierdie afname in buitelandse beleggings beteken eenvoudig dat daar nie genoeg besparings en kapitaal in die land is om nuwe mynskagte te sink nie.) Mantashe het ook aangedui dat hy bewus is van grootskaalse korrupsie en onbekwaamheid in sy departement veral rakende ongerymdhede met die toestaan van mynlisensies en onbevoegdheid rakende die verwerking van mynlisensie-aansoeke. Minister Mantashe moet begin besef dat die Mynbouhandves in sy huidige vorm en die Wysigingswet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne wat ná sewe jaar steeds nie deur die parlement goedgekeur is nie, mynboubeleggings verder gaan laat daal en die onbekwame staatsdiens wat beleggers verder ontmoedig, alles voor sy eie deur lê.

Dan het president Ramaphosa ook verlede week aangedui hy sal kan doen met R1,2 triljoen! Dit was met verwysing na die tipe beleggingsinvestering wat die regering na Suid-Afrika wil lok, maar hy en Julius Malema is juis kop aan kop met hul populistiese uitsprake wat beleggers en die wêreld se grootste moondheid die VSA, negatief stem oor die land.

Ten spyte van sku internasionale beleggers, is plaaslike mynhuise ook besig om drasties te krimp namate mynbedrywighede afgeskaal word: Anglo American is ʼn skadu van wat hy was, Rio Tinto en BHP Billiton is basies reeds landuit en AngloGold Ashanti wat sewe jaar gelede vyftien operasionele skagte gehad het, gaan ná vandeesweek se nuutste afleggingsaankondiging slegs een myn in Suid-Afrika oorhê. Dit terwyl die maatskappy besig is om sy mynbedrywighede in Ghana uit te brei.

ʼn Mens wil nie die regering bloot kritiseer nie. Al steur hulle hulself waarskynlik nie regtig aan ons kritiek nie, wil ʼn mens hoop dat hulle spoedig sal besef dat namate beleggers in reaksie op omstrede beleidskwessies hul rug op die land keer, werksgeleenthede vernietig gaan word en die massa werkloses wat die ergste daardeur geraak gaan word, hul tradisionele ondersteunersbasis vorm.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

christa ·

mooi so CR en Malema. Julle slaag 90% daarin dat ander lande SA die rug toekeer .

humor ·

Maar hulle verstaan steeds nie en ploeter voort en die brood wat ons koop word al duurder. Kersvader se hand raak al minder inskiklik

Casper Labuschagne ·

Na afloop van die ANC se beraad oor onteiening die afgelope naweek, het die regerende party ‘n verklaring uitgereik dat daar eers ‘n toetssaak sal volg, sonder om die grondwet nou al te verander. Daar is moontlik meer as een werkswyse van hoe onteiening binne die huidige grondwet toegepas kan word.

Alhoewel niemand so ‘n aanname gemaak het nie, moet ek wonder of die fundamentele skuif van die ANC nie gemaak is as gevolg van die skade wat aan hul buitelandse beeld gedoen word nie, en juis sodat hulle sodoende vir beleggers kan sê, ons werk totaal binne die grondwet.

Die krisis vir die wit minderheid is dat OSV ‘n gegewe werklikheid is sover as wat dit die ANC aangaan. Alhoewel daar wel gespreksvoering plaasvind, is dit egter ‘n voldonge feit dat onteiening sal plaasvind. Dit beteken dat die toepassing van internasionale druk op die regerende party dalk die enigste vreedsame manier sal wees om OSV te stuit.

Judge Dredd ·

As hulle eers gaan wag vir toetssaak voordat hulle grondwet verander dan gaan dit kiesers moontlik ‘n laaste kans gee by die stembus 2019 om die ANC en EFF se gesamentlike steun onder tweederdes te kry, waarop hulle buitendien nie grondwet sal kan verander nie.

Casper Labuschagne ·

@Judge Dredd, hulle het reeds op 28 Februarie met die nodige 66.6% meerderheid gestem om die grondwet te wysig en ‘n proses is daarna begin wat dalk onstuitbaar sal wees. Maar ek het self gewonder oor die tydsduur wat ‘n toetssaak kan neem. Myns insiens sien ek twee maniere om onteiening te bewerkstellig sonder die wysiging van die grondwet. Dit is of deur alle grond tot ‘n nasionale bate te verklaar, presies soos met water en minerale gebeur het, of andersins om dieselfde klousule wat tans onteiening moontlik maak vir bv paaie asook infrastruktuur, te gebruik maar om aan te voer dat sulke onteiening gebiedend noodsaaklik is in landsbelang om geweldadige opstande te verhoed. Miskien is daar nog ander skuiwergate ook.

Selfbeskikking ·

Ek belowe julle, die regering stel niks in ekonomiese groei belang nie, dinge gaan net erger raak en ins enigste opsie vir oorleeing en om weer die ekonomie te sien groei is as ons ons eie land opbou na selfbeskikkingsgesprekke met ons land en die buiteland, dis of dit, of vlug, of brandarmoede en ellende. Ek waarsku julle, dinge gaan nie werk met die ANC ooit aan stuur nie.

Casper Labuschagne ·

@Selfbeskikking ek stem absoluut saam. Dit blyk egter gedane sake te wees buiten dat die henne genooi is om met die vos te kom gesels oor Sondagmiddag se spyskaart, met die doel om legitimiteit aan hierdie nasionale diefstal te verleen. Dus, onteiening sal plaasvind en die ergste sal gebeur want effektief sal onteiening dan alle eiendomsreg uitkanselleer waarna 40 miljoen aanspraak sal maak op 30,000 plase en 700,000 huise. Daarom het die wit minderheid nou reeds net drie opsies: Veg, vlug of verdwyn (Fight, Flight or Fail in Engels.) Verdwyn sal beteken dat die nuut verarmde wittes sonder grond ter wille van oorlewing by die swart meerderheid sal moet assimileer sonder die spanning wat ‘n eie kultuur, taal en identiteit sal veroorsaak.

Kaufman ·

Casper jy voorspel die toekoms, en ons moet baie mooi daaroor dink.

Jerry ·

Of dit die ANC of wie ookal is, met die verkeerde leiers sal niks ooit in die guns van die mense werk nie. Die teenoorgestelde is ook waar dat met die regte leier kan dit werk. SA se probleem is dat nou dat die ANC n goeie leier het, die leiers van ander partye en organisasies CR se versoeningsintensies om elke hoek en draai probeer ondermyn. Hulle is dus nie die goeie leiers nie en dit is waar SA se probleem vir versoening en vooruitgang le. Ten spyte van al die ondermynende pogings sal CR bo dit alles uitstyg. Die skade van die ondermyning sal egter nie verdwyn nie en behoort ten volle gevoel te word wanneer die volgende verkeerde leier die bewind oorneem. Dan gaan die mynbouhandves en alle handveste weer negatief toegepas word. Daarom is dit belangrik dat die mense mekaar moet vind en hulle leiers dwing tot samewerking

Chris Ws ·

Goeie leier??Cyril het homself nog gladnie bewys nie.Hy praat net baie,nes almal voor hom.
Die buiteland is nie stupid nie!Hy sal BAIE dinge MOET verander om enigsins beleggers te lok.Hier is net ‘n paar belangrikstes:
1.Die vakbonde se tande sal getrek MOET word.
2.Die Mynbou Handves sal geskrap MOET word.
3.Die staatsdiens sal reg geruk MOET word.
4.Grond onteining sonder vergoeding sal geskrap MOET word.
5.Maatskappy belasting op buitelandse maatskappye sal MOET verminder word.

So ene Cyril sal die pot RAAK moet sit anders slaan hy net sy naam met ‘n plank soos al die ander voor hom!Hy is al reeds op daai pad!

Eish ·

Die minderhede in die land het presies dit, minderheidsinvloed op die politieke landskap se ontwikkeling.
Die meerderheidsparty se gespartel in sy eie bloedige skepping, sal beoordeel word deur invloei of staking van buitelandse beleggings.
Nie deur die ou vlag, die Stem, boere of apartheid se nalatenskap nie. Die groterwordende, verarmde blanke bevolking bewys dit. Die skote klap net harder hoe meer rykdom betrokke is.
” Samewerking” in die SA milieu beteken eenvoudig n bloedlose toegee aan die meerderheidsregering, se beleid hetsy reg of verkeerd.
Om te verskil daarmee, impliseer etiketering.
Die paddastew bereik eenvoudig nou kookpunt.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.