Boodskap raak maklik verlore by openbare verhore

twitter-mynbouhandves-01

’n Skermskoot van ‘n tweet tydens onlangse mynbouhandvesberaad. Foto: Verskaf.

Openbare verhore is deel van ons demokratiese wetgewende prosesse en by die openbare verhore wat tans oor grondonteiening en die mynbouhandves plaasvind, word die stelling uit die politieke wetenskap, “democracy becomes a mobocracy, so duidelik geïllustreer.

Die misbruik van die vryheid van spraak is die wortel van die kwaad by openbare verhore waar elke Jan Rap en sy maat die mikrofoon kan vat en net kan sê wat in sy of haar kop opkom. Selfs pres. Donald Trump van die VSA misbruik die eerste amendement van die Amerikaanse grondwet wat oor vryheid van spraak handel om al wat ʼn wêreldleier is met sy ondeurdagte uitsprake om te krap.

Dan gebeur dit selfs op kerkraadsvergaderings dat ʼn persoon wat vroeër in sy lewe iets of iemand was, maar wat nou net die kerk as platform oor het, homself daar laat geld en sonder die wag voor sy mond by vergaderings opdaag.

Min dinge kan jou egter voorberei op die grond- en mynbouhandvesverhore waar ras die onderbou is en debatte en uitlatings geken word aan haatdraende en growwe rassistiese uitsprake. Andersins word daar bloot ʼn string populistiese uitsprake gemaak en “feite” voorgehou wat totaal vals is.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy openingstoespraak by die onlangse beraad van die Kgalema Motlanthe-stigting oor “inklusiewe groei” aangedui dat populisme ʼn groot gevaar vir ons demokratiese bestel inhou en dat ons, om “die land vorentoe te neem, die gewoonte moet aankweek om debatte te voer en argumente aan te voer wat op geloofwaardige inligting of navorsing geskoei is.” (Ek stem volkome saam met die president, maar dan moet hy tog net die voorbeeld stel.) In aansluiting hierby, sal biskop Tutu se raad dat ʼn mens eerder jou argument moet verhoog as wat jy jou stem verhef, ook die ideale riglyn wees wat by openbare vorhore behoort te geld.

Die onlangse mynbouhandvesberaad wat Solidariteit bygewoon het, was op die formaat van ʼn openbare forum geskoei en benewens die teenwoordigheid van die regering, mynhuise en vakbonde, was verteenwoordigers van mynbougemeenskappe van heinde en verre aangery om hul insette te kom lewer.

Aan die einde van die tweedaagse beraad het Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne, lof uitgespreek oor die verrigtinge en die beraad as “ ʼn oorwinning vir sosiale dialoog” bestempel. Dit is so dat baie tyd ingeruim was vir ʼn groot aantal van die nagenoeg 700 deelnemers om hul sê te sê. Hoewel die beraad op ʼn goeie noot geëindig het, het die aanvangsproses en talle debatte egter in totale chaos ontaard en moes die polisie gereeld ingryp om die orde te herstel.

Hierdie tonele was nie uniek nie en vorm gewoonlik deel van verhore waar ras, klas of toegang tot rykdom die kern van die debat vorm.

So was dit ook by die genoemde beraad tydens die “eienaarskapsgesprek” waar rasverwante opmerkings later alle perke van redelikheid totaal oorskry het. In ʼn stadium het Bridgette Radebe, die vrou van minister Jeff Radebe en pres. Ramaphosa se skoonsuster, die mikrofoon geneem en inleidend aangedui dat sy “balans in die debat wil bring.”

Radebe het toe probeer verduidelik dat sy nou ʼn suksesvolle swart sakevrou is en dat dit aan wit mense te danke is wat haar gehelp het om haar eerste besigheid op die been te bring. Die volgende oomblik het chaos losgebreek en die polisie moes weer ingryp nadat woedende deelnemers onophoudelik op haar geskree en haar gedreig het.

Op my vraag oor wat hier aan die gebeur was, het mense wat naby ons gesit het, verduidelik dat Radebe en haar broer, Patrice Motsepe, as “sell-outs” beskou word wat toegelaat het dat wit mense hulle ryk maak en dat dit boonop nie vanweë hul eie toedoen was nie. Daar is ook bygevoeg dat dié groep swart mense nou deel van die “haves” geword het en nie meer, soos die meeste in die gehoor, “have nots” is nie.

Die Radebe-voorval dui nie net op klassespanning nie, maar ook op die frustrasievlakke van diegene wat heel moontlik in haglike omstandighede leef en nie altyd weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie.

Die negatiewe gevolge van verbrokkelde huishoudings en ʼn lae opvoedingsvlak kan ook ʼn invloed hê. Prof. Karl von Holdt, ʼn sosioloog verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, is van mening dat die tipe optrede nie ʼn as “gedrag” bestempel moet word nie, maar as ʼn “taal” waarna geluister moet word.

Ek kan nie regtig met die professor saamstem nie, want wanorde en wetteloosheid kan nie goedgepraat word nie. Ek hoor wel wat hy sê oor die uiting van frustrasie.

Daar moet egter ook uit ʼn ander hoek na die gedrag gekyk word en daar moet in gedagte gehou word dat die geskree en gedreig soms blote magsvertoon is om die uitkoms van ’n proses te beïnvloed. Die probleem is net dat ons nie hier van ʼn diensleweringsprotes praat nie, maar van openbare verhore waaruit wette, wetswysigings en regulasies moet voortspruit.

Die indrukke wat jy ná afloop van so ʼn openbare forum of beraad met jou saamneem, bepaal ook jou gemoedstoestand oor die daaropvolgende paar dae. Die mynbouberaad was rof en ʼn groot geloofstoets. Mantashe het by die afsluiting gereageer op die naweek se beledigings en kon wel ʼn mens se gemoedtoestand met die volgende opmerkings verander:

“Mense is kwaad weens onkunde.”

“Persoonlike gierigheid sit soms agter die kwaad.”

“Diegene wat die woorde ‘wit monopolie-kapitaal’ gebruik, is in der waarheid die rassiste.

“Mense wat dink die land gaan ʼn beter plek wees sonder wit mense, is onkundig.”

“In plaas van geboue afbrand moet besighede eerder gebou word”.

Mantashe het in ʼn latere nabetragtingsgesprek oor die mynbouberaad aangevoer dat die probleme van ʼn openbare forum begin as ʼn spreker kwater of meer beledigend as die vorige spreker wil wees en dat applous ʼn opgewerkte spreker “verder aanvuur” wat dan meebring dat populisme en radikale gedrag dan weens die invloed van groepsgedrag intree.

Dit bring ʼn mens by die vraag of dit enigsins van waarde is om aan openbare verhore deel te neem, veral as jy deel van ʼn minderheidsgroep is. As jy aan die stuur van ʼn lede-organisasie is en lede se belange word geraak, moet jy aan openbare verhore deelneem. In so ʼn geval kan ʼn minderheidsparty se invloed wel gewig dra. Om Mantashe weer aan te haal, hang die invloed van ʼn spreker of aanbieder op die eindproduk af van die gehalte van die inset.

Let wel: die komitee wat die forums fasiliteer, kan deurgaans gratis regsopinies insamel soos wat organisasies van substansie wat oor die nodige kapasiteit beskik, by die verhore opdaag met deurtastende regsmenings en gehaltenavorsing. Die komitee aanvaar die insette dan met dank en oorhandig dit aan die staat se regsadviseurs om daarvan kennis te neem en om dit te ontleed.

Só gee belanghebbende partye hul regsargumente aan regeringsamptenare wat dan hul eie risiko’s aan die hand daarvan bepaal en bestuur. Die navorsing is ewe voordelig vir die departement vir beplanning, monitering en evaluasie wat meestal getaak word om impakstudies te doen oor nuwe hoofstroomwette, wetswysigings en regulasies. Ook die departement ontvang dan ʼn deelnemer se duur nagevorste insette met graagte waardeur hulle hul tyd, geld en moeite spaar.

Die kuns verbonde aan deelname deur kleiner partye is om te besluit wat jou hoofboodskap gaan wees en om dan die mees effektiewe en niekonfronterende wyse te identifiseer om dié boodskap oor te dra. Om met ʼn konfronterende houding en vol bravade by so ʼn forum op te daag en jou saak met mening te stel, gaan net tot gevolg hê dat jou inset ʼn inset gaan bly en nie ʼn uitset gaan word nie – jy gaan dus net mooi niemand oortuig nie en bitter min bereik. So ʼn benadering het dan so min waarde as die waarde van ’n bydrae tot die oplossing van die land se uitdagings wat beperk is tot kwetsende kommentare op sosiale media.

Afgesien van jou hoofboodskap, moet jy dan ook die geleentheid gebruik wat ʼn forum bied om stereotipes en vooroordeel af te breek vir die volgende generasie se onthalwe, maar sonder om swakheid te toon en beginsels prys te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Basson ·

Jy is by baie sake van kritiese belang betrokke Gideon – as lid van Solidariteit wil ek die platform gebruik om vir jou baie dankie te se vir jou onmisbare bydrae. (Ook die vorige stuk oor die mynbouhandves ens baie insigggewend gevind.)

Paul ·

Beide Ramaphosa en Zuma het gister by die verhore in Kwazulu-Natal gesê grondonteiening sonder vergoeding sal Mandela se visie van ‘n vry SA vorentoe neem. As dit nou nie woorde in sy mond lê en gebruik word om te misbruik nie, weet ek nie wat dit is nie.

John ·

Niemand in die ANC, veral nie die minister van gesondheid wat behoort te weet waar kinders vandaan kom wat later grootmense word, wil erken dat demografie die crux van die armoede-vraagstuk in die land is nie. Selfs twee bure waar die ouers dieselfde vlak van opleiding het en by dieselfde maatskappy werk op dieselfde posvlak en die twee egpare het verskillende aantal kinders, sal die vlak van rykdom en voorspoed verskil. Met 2 kinders en met 6 kinders om voor te sorg, gaan die lewensgehalte beslis laer wees tov van die groter gesin en die kleiner gesin beter daaraan toe wees. Maar die regering weier volstrek om kleiner gesinne aan te moedig en nooi letterlik ook uitlanders om kos uit die borde van die plaaslike bevolking te kom gryp. En nou wil die ANC die beswaardes opstook om die verantwoordelike buurman te ruineer ipv om die sukkelende een te help om sy probleem in te sien. Al die kamma-gesprekke bind lang lonte regoor die land aanmekaar wat later met een vlammetjie geaktiveer kan word. Ongelukkig het ‘n vuur ‘n manier om vir niemand te luister nie.

Hendrik ·

Deur hierdie openbare verhore het die staat ‘n groot probleem geskep. Hy swaai nou die wildsbok voor die vasgemaakte hiënas rond terwyl die kwyl uit hulle monde drup van die lus. Om nou later vir die hiënas te probeer sê hulle moet in vrede met die bokke saamleef, sal nie werk nie. Die streep is getrek en die witmense wat nog nie weet of hulle aan die wit of swart kant staan nie, sal vinnig moet besluit. Hierdie openbare verhore wys net een ding baie duidelik – as witmense wil oorleef sal hulle moet hard werk vir selfbeskikking.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.