Bou aan ons land se jeug, hulle is ons toekoms

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Deur Merlyn van der Rheede

Volgens die president, gaan sy nuutverkose kabinet sterk fokus op sewe prioriteite soos uiteengesit in sy staatsrede. Hierdie prioriteite sluit, onder meer, ekonomiese transformasie en onderwys in. President Cyril Ramaphosa gaan poog om ’n massiewe leesveldtog onder alle landsburgers te mobiliseer en wil graag sien dat elke 10-jarige in die nabye toekoms nie net sal kan lees nie, maar wel met begrip sal kan lees.

Ramaphosa het ook in sy staatsrede genoem dat vroeë lees die basis vorm wat ‘n kind se opvoedkundige vordering bepaal. As deel van hierdie veldtog sal alle grondslag- en intermediêre fase-onderwysers opgelei word om lees te onderrig – in Engels asook in ander Afrikatale. Hierdie beloftes en vooruitsigte van die president het my uitermate bly gestem. Bly in die sin dat hy bewus is van die huidige toedrag van sake, veral ten opsigte van die gebrek aan leesvaardighede en die hoë uitvalkoers onder leerders. Hierdie leesmobilisering is uiters noodsaaklik. Ek hoop en vertrou egter terselfdertyd dat daar ook aan moedertaalonderrig aandag gegee sal word. Die aanmoediging van lees en leesvaardighede gaan immers met moedertaal gepaard!

Daar was die afgelope tyd heelwat bespiegelinge in die nuus oor die regering se bereidwilligheid om gehoor te gee aan die pleidooie van akademici vir moedertaalonderrig in ons skole. Dis vanselfsprekend dat as ons die leerders se uitslae in veral wiskunde en wetenskap wil verbeter, daar toegesien moet word dat hierdie vakke in huistaal aangebied word. Ouers en leerders moet bewus gemaak word van die beperkinge wat ontstaan as kinders nie in hul huistaal onderrig word nie en dat hulle nie tot hul volle potensiaal sal ontwikkel indien hulle in ’n tweede of derde taal onderrig word nie.

Ons sien dat Afrikaanse skole besig is om te kwyn en dat Engelse skole soos paddastoele verrys omdat ouers verkies dat hul kinders Engelsmediumonderrig ontvang. Hulle besef nie die skade wat hulle hul kinders berokken nie. Ek wil dus ’n pleidooi lewer dat Engels nie as die alfa en omega of die sleutel tot ’n beter toekoms voorgestel word nie, maar meertaligheid wel. Indien die moedertaal goed vasgelê is, sal ’n tweede en derde taal makliker volg.

Merlyn van der Rheede van die ATR. Foto: Verskaf.

Ons faal die jeug in ons poging om almal te verengels omdat ons dink dat dit ons land ekonomies vorentoe sal neem. In der waarheid word ’n groot groep in hierdie proses gemarginaliseer en benadeel.

Wat beteken dit om gemarginaliseer te word ten opsigte van die taal wat jy praat? Volgens die woordeboek is dit die proses waardeur iemand verstoot word, minder belangrik geag word en hul begeertes en behoeftes geïgnoreer word. Om vir ons jeug hoop vir die toekoms te gee, moet die waarde van moedertaalonderrig beklemtoon word en een taal nie meer belangrik as ’n ander geag word nie.

Ons moet meer kreatief wees om die ekonomiese waarde van al ons inheemse tale te ontsluit en daarmee meer werksgeleenthede en rykdom in die proses te skep. Laat ons almal saamwerk in die beste belang van ons jeug. Kom ons moedig almal aan om trots te wees op hul erfenis en om hul moedertaal te omhels. Dit is eenheid in diversiteit in die praktyk. Om die landswapen en die leuse (!ke e: /xarra //ke) daarvan te omhels, is ‘n grondwetlike verpligting wat alle Suid-Afrikaners, insluitende ons regering, moet nakom. Ons is dit immers verskuldig aan ons jeug – ʼn kosbare segment van ons land.

  • Merlyn van der Rheede is die Afrikaanse Taalraad (ATR) se noordelike projekbestuurder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jerry ·

Merlyn, die ANC ondersteun moedertaal onderrig in al die tale, behalwe Afrikaans, want so se die ANC, “Afrikaans is die taal van die onderdrukker”! Jy kan dus vir Afrikaans stry met die strategie oor moedertaal, maar dit gaan nie lewensvatbaar wees sonder dat jy daardie denke van die ANC bestry, verkeerd bewys en verander!

Anoniem ·

Verstaan nou nie lekker nie hulle jaag dan die jeug en almal uit hierdie land uit. Tyd dat hulle wakker skrik.

John ·

… onthou wit jeug is non-existent en onwelkome intruders… Vandaar die grooooot droom vir die jeug wat eeeeedag wanneer die kaders die een na die ander in hul sitplekke in die parlement sterf… daardie ere-plekke kan inneem… natuurlik eers nadat hul standbeelde onthul is en die odes en oooohs en aaahs ensovoorts afgehandel is. Intussen sal hulle in belastinggeld dryf en optogte hou en eise stel en in wit private maatskappy leer hoe om die baas van die plaas te wees en waar om blouligte vir hul Maserati’s te bekom… gratis natuurlik…

Andreas ·

Ons moet nie vergeet nie, ons president is geneig om baie populistiese uitsprake te maak, dit wat sy aanhangers en eie mens graag wil hoor, maar soos Zuma los hy die padkaart en praktiese vir ander wat dit meeste van die tyd nie kan uitwerk nie, of dit verkeerd kry. En as ek reg het wil hy dit in Engels doen. Dit lyk my as hy nie superstede wil bou nie, belowe hy die sterre vir mense.

Hy sal skole moet begin bou dat die biesies bewe, dit nie vir mense soos Lesufi en die minister los nie, dit moes hy lankal besef het, hulle sal onderwysers en personeel van gehalte moet oplei, en genoeg, om klas te kan gee, hulle sal moet tegnologie aankoop, meubelment, maar ek glo as jy die president sou vra wat als gaan kos, ook hoeveel skole, sal hy beduie hulle moet dit nog uitwerk.

En dan het hulle mos toentertyd weggedoen met onderwyskolleges.

Dankie vir die skrywes soos hier bo wat ons in die tye dikwels hier op Maroela lees, al die mense wat groot dink en dit veil vir Afrikaans het, Akademia wat reeds tot stand gekom het maar as ons kinders oor vyf en tien jaar, dalk oor 20 jaar terug kyk, hierdie artikels oor Afrikaans en die planne met skole lees, maar hulle vra: “Wat het dan met die uitvoer daarvan verkeerd geloop, die planne het dan toe nooit van die grond af gekom nie?”

Merie Perd ·

Dream on Rampie. Jy praat seker uit desperaatheid van die balhorige jeug wat soos hul ouers niks verstaan nie. Onthou die Isrealite het nie verniet 40 jaar deur die woestyn geswerf nie. Daar moet eers geslagte suiwerings plaasvind voordat mense werklik vryheid sal verstaan. Sterkte ou grote, ongelukkig sal dit nie in ons tyd gebeur nie.

jAN ·

wie se skuld is dit dat Afrikaanse skole kwyn , beslis nie die Afrikaans sprekende ouers sin nie. die ANC druk dan op dat swart kinders ook in Afrikaanse skole moet kom….. lagwekkend ….

Anthony Wilson ·

Merlyn ek het destyds, toe my oudste kleinkind met skool begin, juis dieselfde argument opgebring maar my dogter het besluit dat sy haar seun vir die Nuwe Suid Afrika moet groot maak en het besluit dat sy voertaal Engels sal wees. Hy het begin van dié jaar by Tukkies gegradueer en is Engels. Hy praat wel met my Afrikaans en ek moet my dogter gelyk gee. SY het die besluit vir HAAR kinders geneem en Shaydon was by van die beste skole! Ek persoonlik het HIER die teendeel sien werk – so ek dink ons moet vir mense soos my dogter gelyk gee. Dalk het HULLE ‘n punt beet! Dit gaan oor opleiding nie nie juis oor taal nie. Ons wat die taal koester is aan die uitsterf … nee nie uitserf nie – ons word die minderheid! Dankie vir die artikel!

Merlyn van der Rheede ·

Anthony, die artikel is spesifiek gemik op die werkersklas wie nie noodwendig oor die hulpbronne beskik om hul kinders te help om in ‘n tweede of derde taal te leer nie. Ons moet hul juis aanmoedig om aan te dring om in hul Moedertaal onderrig te onvang. Ek verwys in die artikel na diè wie nie ‘n keuse het nie en wie gedwing word in Engelse klasse. Die middelklas het seker ‘n keuse.

Andreas ·

Merlyn, julle, elkeen van julle en julle weet wie julle is wat dit doen omdat dit jul missie is, alle organisasies wat dit veil vir Afrikaans het, julle ‘werk’ nie daar nie, julle is geroepe, julle het in jul kop ‘n eed afgelê.

As die ander kulture ook maar net die passie, een of ander tyd kan ontwilkkel dat hul taal nie oor klomp jaar uitsterf nie.

‘n Taal het mos nie verniet ontstaan nie, dis soos ‘n kleinoot vir jou om te koester dit vertel jou waar jy vandaan kom en mee te handel, ook vir die nageslag.

“Dankie ma, dankie pa.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.