Die ANC se beproefde resep om dorpe te laat ontplof

noordwes-coligny-en-schweizer-reneke

Coligny en Schweizer-Reneke, albei plattelandse dorpe in Noordwes. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media/Mamusa.gov.za

Die afgelope jare se politieke ontploffings op dorpe soos Coligny, Schweizer-Reneke en talle ander, het nie vanself gebeur nie. Dit het dekade lange toegewyde wanbestuur en harde nikswerk gekos om die klimaat te skep om eens vreedsame dorpe te laat ontplof.

Dit is asof die ANC-regering alles in die stryd werp om dorpe vir ’n krisis ryp te maak. Wanneer die onafwendbare dan gebeur, word die Afrikanerminderheid vir die owerhede se selfgemaakte krisis blameer. ʼn Klein groepie selfaangestelde Afrikaanse kommentators, aanvaar dan “bly” die blaam en skuld, en verf Afrikaners lustig met pikswart media-teerkwaste in ʼn poging om hulself spierwit te laat lyk.

Die politieke klimaat vir hierdie ontploffings het oor meer as ’n dekade soos ’n drukkoker opgebou, en lei ¬uiteindelik tot ʼn uitbarsting as die geringste vonkie aangeblaas word. Hierdie gifbrousels wat só aangemaak en gekook word om krisisse as uitkoms te hê, kan soos ’n resep beskryf word, kompleet met bestanddele, metode en al.

Dit is belangrik dat hierdie resep ontleed word om te kyk of daar nie nog Colignys en Schweizer-Renekes is wat net vir ’n vonkie wag nie.

Die resep kan só saamgevat word:

Bestanddele:

1. Enige arm landelike gebied:

1.1 Stel so ’n swak moontlike munisipale owerheid aan sodat hulle by tye onder administrasie geplaas moet word. Sorg dat daar nie bestuursbestendigheid in die senior bestuur is nie. Wissel gereeld die topleiers en vervang hulle met ʼn nuwe span ewe onbekwame mense.

1.2 Roer die brousel gereeld met politici se ondeurdagte uitsprake teen boere, sakelui en wit mense.

1.3 Voeg by na smaak:

● Maak seker dat die aankopestelsel, tenderprosesse en finansiële bestuur gebrekkig is en dat daar jaarliks miljoene rande se (straflose) ongemagtigde en vrugtelose besteding en korrupsieskandale is.

● Sorg dat die ouditeur-generaal keer op keer móét weier om ’n bevinding oor die munisipale finansies te maak omdat totale chaos daar geskep word om geld spoorloos te kan verduister.

● Steek selfs sommige munisipale kantore aan die brand om moontlike bewysstukke te vernietig.

● Vestig só ’n vrot regering dat selfs die ouditeur-generaal die swak politieke toesig moet uitwys – dit alles sal verseker dat die munisipaliteite van een krisis tot die ander struikel.

● Lewer besonder power dienste deur nie genoeg bekwame bestuurders en kundige personeellede aan te stel nie.

● Moenie ag slaan op enige waarskuwings van goedbedoelde kenners en organisasies nie.

2. Woede

2.1 Blaas die mense se woede aan deur voor elke verkiesing onhaalbare beloftes te maak en verbreek dit dan herhaaldelik nadat jou party verkies is.

2.2 Verwaarloos die belange van die sakelui en boere wat verskeie dorpe in die munisipaliteit se dienste in almal se belang aan die gang hou, en hul bes doen om jou beloftes van werkskepping na te kom.

2.3 Moet niks doen om beleggersvertroue te verbeter of sakelui na die gebied te lok nie, sodat die jeugwerkloosheid in dele van die munisipaliteite tot 80% kan styg – dit sal die jong bevolking van die gebied nog meer wanhopig maak.

2.4 Maak die pad oop vir misdadigers deur die polisiediens te verwaarloos.

2.5 Verhit noukeurig die politieke temperatuur met politici wat populistiese rasse-uitsprake maak. As die klimaat só warm word dat dit byna aanbrand, moet jy weet die oorkookpunt is naby.

2.6 Verander dan nog ʼn paar straatname sodat dit lyk of die dorpsraad steeds struggle.

3. Rassisme

3.1 Trek jou ontevrede kiesers se aandag verder van die ANC se swak regering af, deur sonder bewyse “rassistiese” witmense te skors of met belastinggeld hofsake teen hulle te maak.

3.2 Sluit die hekke van Afrikaanse skole oop vir politieke rampokkers wat dit wil kom ontwrig.

3.3 Sorg dat die polisie die wetteloses beskerm in plaas van die wetsgehoorsames.

3.4 Hou aan met ʼn rassistiese veldtog onder die vaandel van antirassisme, deur bekende rassiste soos Panyaza Lesufi te betrek wat ook heeltyd publisiteit soek.

3.5 Sonder wit mense uit as sondebokke vir alles wat fout is. Verswyg die aanry van betogers en hul tasse vol eie agendas van buite en moenie dat politici hulself uitspreek teen die geweld en vandalisme nie.

3.6 Kla dan verergd vir nagereg as Afrikaanse gemeenskapsorganisasies die Afrikaanse inwoners kom help deur te sê dat hulle nie “politiek moet insleep” nie – dis mos net die ANC se voorreg.

3.7 Skets die oortreders as die slagoffers, en die ware slagoffers as die bose oortreders.

Metode

1. Meng al hierdie bestanddele in ’n groot pot en kook vir meer as tien jaar op ’n warm politieke stoof.

2. Roer die brousel gereeld met politici se ondeurdagte uitsprake teen boere, sakelui en wit mense.

3. Gooi kort-kort ’n groot knyp swak dienslewering by.

4. Wag nou ongeduldig dat die pot oorkook. (Weerstaan die versoeking om iets aan jou kiesers se probleme te doen wanneer hulle begin protesteer, en vra die voorvaders vir ’n weerligafleier of sondebok wat jy kan blameer.)

5. Probeer heeltyd om die goeie persoonlike rasseverhoudinge in die provinsie met swak politieke verhoudinge te versuur.

6. Die klimaat is nou kookpunt, en die pot gaan oorkook as enige vonkie naby kom.

7. Tydsberekening! Gebruik nou enige voorval, blaas dit hemelhoog op, en besmeer die Afrikaner-minderheid kwistig met die teerkwas van rassisme – ’n wenresep wat invloedryke joernaliste met gevestigde vooroordele teen witmense wat kos produseer of in landelike dorpies bly, aan jou kant sal kry. (Bevooroordeelde joernaliste sal sorg dat die weerlig van die politici afgekaats word deur snertstories dat die dorp propvol rassisme en apartheid is. Dieselfde mense sal ook verseker dat die konflik ’n swart-wit-rassismeverhaal word deur talle voorbeelde van hartlike samewerking te verswyg.

8. Wag dan op ’n wonderwerk as almal vir almal kwaad is, en bykans niemand meer ’n toekoms vir een van die munisipaliteite in die provinsie sien nie.

9. Hoop dan dat wanneer hierdie heksebrousel ontplof, jou party by die stembus sal wen met jouself hoog op die kieslys.

Herhaal hierdie resep op soveel moontlik plekke voor die verkiesing. Dit behoort genoeg te wees vir ʼn politieke veldbrand op stemdag. Ná stemdag kan die politici wat so hard gebreek het dan weer gaan rus, en eers weer kantoor toe gaan as dit tendertyd is.

Daarna is dit weer heeltyd speeltyd.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan ·

Ek is 47 Jaar oud en het baie in my lewe gelees.Hierdie is seker een van die beste geskrewe artikels wat ek ooit gelees her.Die inhoud is 100% waar en skokend om in te neem.Welgedaan aan die skrywer.

christa ·

dis so raak beskryf. Hoekom het die boere iets en het iewers in die lewe gekom????? deur hard te werk en nie tyd gemors op beuselagtigheid nie. Hulle het gebou om te hou en op gebou en nie afgebreek nie. Hulle het die Vader geken in hul daaglikse bestaan want sonder Hom is ons niks

CG ·

Hierdie geld nie net vir die platteland nie. Dit geld presies net so vir die hele land. Die ergste is dat ons geen teenfoeter hierteen het nie, want hierdie proses is buite ons verwysingsraamwerk. Die realiteit is die hele land is ‘n kookpot wat naby ontplof is. Ons moet hier uit- of emigreer of ‘n volkstaat. Daar is geen ander alternatiewe nie.

Anoniem ·

‘n Goeie artikel. In die ANC se strewe om oor alles ‘n “rassisme” kombers te trek, tas hulle selfs klein kindertjies se menseregte op ‘n veilige onderrigomgewing aan.

Andre Stander ·

Ons wéét klaar al hierdie dinge… Wat is ons “een front” plan om hierdie te bestry…?

Ons is verby die punt waar ons met teen-argument en redelikheids dialoog die situasie teenstaan. Daar moet nou opgetree word en resultate behaal word soos Afriforum teen dieEFF – want waar daar geld verloor word neem die oposisie eerder kennis..

Deel met ons n plan wat ons elkeen kan begin toepas om hierdie te kan [begin] bestry….

Andre ·

Uitstekend!

Ons is moeg on jammer te sê, ons is moeg om DA te stem, ons is moeg om boemelaars ons hard verdiende geld te gee, ons is moeg dat ons kinder se onderwys beinvloed word.

Ons is moeg om rassiste genoem te word!

Johan ·

Daar is net een party wat onbeskaamd opkom vir minderhede. Dis die party om voor te stem… Almal weet watter party dit is….

P ·

Ek gaan nie meer jammer sê omdat ek blank is nie. Die duiwel se dissipels is aan die werk. Genade vir ons almal in die land.

Barend ·

Die regte begin vir ons is om ons kragte te konsolideer deur soos eenman vir die VF+ te stem – daar is op hierdie tydstip nie ‘n ander manier nie

Linda ·

Dankie Flip. Jy het briljant geskryf en die probleme goed raakgevat.

Zirk ·

Alles is die waarheid. Niks is ook oordryf nie.
Sover my kennis strek, is daar ‘n Kollege waar ANC kaders opleiding in politieke manupilasie en onderduimshede aanleer. Dis blykbaar tussen die plotte by Randfontein of die onmiddelike omgewing geleë.

Jerry ·

Goeie ontleding en goed raak gevat oor presies hoe die DNA van die ANC in mekaar pas en funksioneer. AfriForum/Solidariteit is goed gerat en slaan mooi terug terwyl die wetstoepassers, wetstoepassing en regbank nog onafhanklik is. Ek hoop van harte dat AfriForum/Solidariteit gerat sal wees om steeds terug te kan slaan indien die “worst case scenario” ooit sou gebeur waar die verval so erg toeneem dat wetstoepassers, wetstoepassing en die regbank afhanklik van die staat sou begin optree. Gegewe die feite waarmee die skrywer die ANC se DNA so goed uiteensit dui dit daarop dat dit n aaneenlopende en herhalende proses is wat aan die einde van die kringloop totale verval ten doel kan he en wat beslis n “worst case scenario” tot gevolg kan he met geen speeltyd meer oor nie. Hoe dit ookal sy, dit is my beskeie mening dat die skip besig is om te sink en dat dit te laat gaan raak vir diegene wat teen hierdie tyd nog nie gerat is om enduit te kan swem nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.