Die droom van onafhanklike regters

grondwethof

(Foto: Gnatj.com)

“As die EFF by die volgende verkiesing aan die bewind kom, hoe beskerm jy my as lid van ʼn minderheid in hierdie land teen boelie-optrede deur so ʼn EFF-meerderheid?”

Dit is die geldige vraag van ʼn persoon by ʼn onlangse gesprek wat ek gelei het oor volgende jaar se verkiesing. Hy verduidelik verder:

“Die Nasionale Party het voor 1994, met afsonderlike ontwikkeling as oplossing, die land verdeel met ʼn tuisland en ʼn eie regering vir elke volk en groep. Dit sou voorkom dat die een oor die ander regeer. In 1994 is besluit om Suid-Afrika ʼn regstaat te maak en van hierdie oplossing af te sien. Hoe keer ons nou onregverdige anti-Afrikaner en anti-wit Malema-wette oor ons as die EFF die verkiesing wen?”

Ek verduidelik aan hom dat dit uiters onwaarskynlik is dat die EFF die verkiesing sal wen.

Wat die regstaat betref het die NP-onderhandelaars in 1994 verduidelik dat in so ʼn regstaat ʼn groep soos die Afrikaners deur bepalings van die Grondwet asook die grondwethof beskerm gaan word.

Tydens die onderhandelinge was ons kern beswaar en vraag met so ʼn oplossing: “Wie die regters gaan wees wat so ʼn minderheid moet beskerm en wie hulle gaan aanstel?”.

In artikel 174 van die Grondwet word die Regterlike Dienskommissie (RDK) geskep wat hierdie regters moet aanstel. Hierdie kommissie is die “goue sleutel tot ʼn suksesvolle regstaat”, het die NP-leiers in 1994 met entoesiastiese idealisme geargumenteer. Die kommissie kan ook onbevoegde regters onthef. Die kommissie voer verder onderhoude met moontlike nuwe regters en maak dan aanbevelings aan die president.

“Hulle moet die beste van die bestes as regters aanstel,” was Marinus Wiechers, staatsreg-professor en grondwet-adviseur by die onderhandelinge se standpunt. As die kwaliteit van die regbank verswak, sal mense hulle respek vir die regbank verloor. Dit sal fataal vir die regstaat wees, is geargumenteer.

Daarom word die RDK op ʼn ingewikkelde manier saamgestel uit regters, advokate, prokureurs, regsdosente en politici (Grondwet artikel 178). Die doelwit en droom was om te eindig met ʼn kommissie wat saamgestel word uit wyse ringkoppe wat objektief elke aanstelling sal oorweeg.

In die praktyk lyk die droom egter baie anders. Vandag is elf van die huidige 23 RDK-lede politici. Nog vier word deur die president aangewys. Die gevolg is dat die meerderheid lede simpatiek teenoor die ANC staan.

Julius Malema, EFF-leier, dien sedert 2014 op die RDK en tot onlangs Dali Mpofu van die EFF ook. Sopas het die RDK besluit om nie vir adv. David Unterhalter SC as appèlregter aan te stel nie. Dit was nadat Malema Unterhalter met irrasionale en oningeligte politieke vrae in sy onderhoud by die RDK bestook het. Politieke vrae wat niks met sy moontlike werk as regter te doen het nie. Unterhalter is een van die leidende regsgeleerdes in die land en hanteer gereeld van die mees prominente hofsake. Hy was professor in regte aan Wits en Ikeys en beskik oor uitsonderlike en toepaslike regskwalifikasies asook ervaring in die hof.

Die grondwet stel in artikel 174 twee riglyne waaraan ʼn nuwe regter moet voldoen. ʼn Kandidaat moet 1) oor die toepaslike kwalifikasies beskik en 2) die regbank moet die rasse en geslagsamestelling van Suid-Afrika weerspieël. Tans wen die tweede riglyn elke keer die eerste.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het dit erken toe hy gesê het dat die riglyn van ras en geslag somtyds swaarder weeg. Nog voorbeelde hiervan:

Adv. Geoff Budlender SC is ʼn prominente en bekwame senior advokaat. Hy beveg die NP-regering sedert 1970 in hofsake oor apartheid. Sy ANC-simpatie blyk uit die feit dat die ANC hom in 1994 as direkteur-generaal van grondsake aanstel. Nieteenstaande sy regservaring en duidelike ANC-simpatie, is hy steeds verskeie kere afgekeur as regter.

Adv. Jeremy Gauntlett KC SC is een van die mees gerespekteerde regsgeleerdes in Suid-Afrika. In verskeie hoë profiel-sake het hy homself as briljant bewys. Hy is al meer as vier keer deur die RDK oor die hoof gesien.

Die enigste verduideliking vir die drie gevalle is dat hulle wit is en dat die ANC nie onafhanklike denkers, wat dit ongemaklik vir die regering mag maak, as regters wil hê nie. As die liberale Engelse advokate soos Unterhalter en Gauntlett nie as regters aangestel word nie, is die kanse dat Afrikaanse advokate aangestel sal word, baie skraal. Daarom laat die meeste senior Afrikaner advokate hulle nie eers meer nomineer vir ʼn regter-aanstelling nie. Die RDK het dus ontaard in ʼn politieke instrument wat vir kaderontplooiing misbruik word en nie die “beste van die bestes” aanstel nie.

Freedom under law (FUL) oorweeg tans om die RDK hof toe te neem na die Unterhalter-geval oor die onlogiese wyse waarop mense oor die hoof gesien word.

In sy tweede taak, naamlik om as toesighouer oor die gedrag en bevoegdheid van regters op te tree, is die RDK net so swak.

In Maart 2008 het grondwetlike regters Bess Nkabinde en Chris Jafta beweer dat die Wes-Kaapse regter-president, regter John Hlophe, hulle probeer beïnvloed het om in sake waarin oud-president Zuma betrokke was, in sy guns te beslis. Die Regterlike Dienskommissie het hierdie baie ernstige klagte teen regter Hlopke ondersoek. Dit neem hulle egter 13 jaar om Hlophe skuldig te bevind. Sopas, na 15 jaar het die Parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste aanbeveel dat regter John Hlophe weens growwe wangedrag as regter verwyder moet word.

Regter Nkola Motata het in 2007 dronk teen ʼn muur vasgery. Hy het daarna allerlei rassistiese opmerkings op die toneel gemaak. Die RDK het ook sy saak ondersoek. In sy geval het dit 16 jaar geneem vir die RDK en die parlement om by die punt te kom waar die parlement binnekort oor die aanbeveling dat hy as regter onthef moet word, moet stem. Geen kommissie, wat onderskeidelik 15 en 16 jaar neem om twee gevalle af te handel, kan as effektief beskryf word nie.

Prof. Marinus Wiechers was reg dat soos die kwaliteit van die regbank verswak, mense hulle respek en vertroue in die regbank en die regstaat verloor. Gebeure soos hierbo help beslis nie om vertroue in die regbank te bou nie. Geen wonder dat in politieke debatte daar al meer kritiek op die Grondwet en die onderhandelinge is nie terwyl begrippe soos federasie, meer magte aan provinsies, selfbeskikking en regeringsverandering al meer gehoor word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kosie ·

Vertel ons eerder van die Afrikaner Akkoord en Artikel 135 van die grondwet, wat die skrywer en sy party nou al vir soveel jare hard werk om te onderdruk. Verder wil ek ook soos vele ander kommentators weet, wat presies het die VF+ nou eintlik bereik die afgelope 30 jaar daar bo in die blou kussing, behalwe om vreeslik goed vir hulself te sorg op die rug van ons gewone burgers? Dit is nie ‘n prestasie om 30 jaar al in die parlement te sit nie; dit is eintlik ‘n helse skande.

Hendrik ·

Wat het jy in jou gemeenskap bereik die afgelope 30 jaar? Het jy regtig geglo dat die RSA anders sal wees as Zimbabwe? Kosie ons het die afgelope 30 jaar ‘n gemeenskap ontwikkel met al die dienste soos dorpe in die vorige bedeling. Dit is jammer dat baie mense die aanspraak van selfbeskikking oorgelaat het aan die VF+ en lui lekker rondgelê het en gewag het vir hierdie selfbeskikking wat belowe is deur politici.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.