Die ‘ja, maar’-perspektief

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Dis nie maklik om ʼn artikel te skryf wat aan almal se verwagtinge voldoen nie, veral nie in ʼn tyd van hoogspanning nie. Daar is altyd die “ja, maar”-perspektief. Dit beteken nie dat sake nie beredeneer kan en moet word nie. Inteendeel. Tog het dié onskuldige uitdrukking soms dodelike potensiaal.

Ek wil graag een voorbeeld uit die Bybel neem en daarmee die vernietigende potensiaal van “ja, maar” belig, voor ons na die meerderheid- en minderheidsverslag in Suid-Afrika kyk.

Ons is almal bekend met Israel se geskiedenis sedert hulle vir ongeveer 430 jaar slawe was in Egipte. Op die bestemde tyd roep die Here vir Moses om die volk na die beloofde land te begelei. Wat enkele dae moes neem, word ʼn uitputtende en moordende veertig jaar.

Op die vooraand van die inbesitname van die beloofde land besluit Moses om twaalf verspieders oor die Jordaan te stuur om die land te verken. Na ʼn paar dae is die spioene terug. Almal is dit eens dat die land alles is wat God gesê het dit sal wees. “Melk en heuning”, metafoor vir oorvloed en merkwaardige potensiaal.

Die aanvanklike euforie en opgewondenheid word egter deur “ja, maar” gesmoor. Interessant dat nie minder nie as tien van die spioene hulle daardeur laat manipuleer. Dit trek die belofte van God só skeef, beroof dit só van krag dat niks betekenisvol oorbly nie.

Die meerderheidverslag is verdoemend en negatief. “Daar is reuse”, onoorwinlik en dodelik.

Josua en Kaleb se verslag word in die wind geslaan. Hulle argument dat God groter is as die reuse maak geen hond haar af nie.

Dit neem nie lank vir die hele volk om die meerderheidsverslag te omarm vir die waarheid nie.

Die mense praat daaroor, langs die sportveld, by die braaivliesvuur, in die haarsalon, vanaf die kansel. Die koerant se voorblaaie skryf daaroor in vet letters, dis hoofnuus op aand-TV.

“Die land is onvriendelik en onherbergsaam, boonop is daar reuse.”

Die minderheidsverslag word as ʼn terloopse gedagte genoem.

“Ja, maar” oorheers die gesprek.

Dit sluk almal in. Dit het almal in die sak. Geloof duik in die hek. Die ryke verlossingsgeskiedenis van die Godsvolk word gerieflikheidshalwe vergeet. Die verlange word groter en groter. Die hunkering oorweldigend.

“Terug Egipte toe”, slawerny is beter as hierdie onsekerheid.

“Ja, maar” spreek die laaste woord.

Sou God, toe Hy Moses opdrag gegee het om die volk na ʼn nuwe toekoms te begelei, nie geweet het dat daar reuse is in Kanaän nie? Sou Hy nie die feit dat die reuse ʼn bedreiging inhou verdiskonteer het nie? Sou Hy nie in aanmerking geneem het dat Sy volk onlangs nog slawe was nie, van oorlogvoering nie veel weet nie, nog nie opgewasse is teen die vestingstede en militêre slaankrag van die volke wat hulle in die beloofde land gaan raakloop nie?

Het God dalk gedink “ons sal maar sien as ons daar kom”? Sou God Sy volk die meerderheidsverslag toegee?

“Ja, Ek het nóóit gedink aan die reuse nie. Verskoning aangeteken. Draai terug. Die verlede is beter. Die toekoms is bleek. Slawerny is al uitweg.”

Dis egter nie hoe die Here reageer nie.

Sy teleurstelling is duidelik.

Wie het die Rietsee gekloof?

Wie het water uit ʼn rots gegee?

Wie het manna en kwartels gestuur?

Wat van Sinai, die Godsopenbaring wat daar plaasgevind het?

Wat van die ervaringe wat die volk reeds gehad het van hoe God ongeloof beoordeel?

Dit beïndruk Hom hoegenaamd nie.

“Terug woestyn toe.” ʼn Hele geslag sterf uit en ʼn nuwe generasie moet opgroei wat bereid is om God op sy woord te neem. Hulle neem die belofte ernstig op. Hulle kry wat aan hul vaders en moeders beloof is.

Die meerderheidsverslag vandag:

Suid Afrika is ʼn wonderlike land met uitnemende moontlikhede vir almal wat daarin bly. “Maar” daar is uitdagings veel groter as wat hanteer kan word.

“Daar is die Afrika-perspektief, kyk hoe het dit daar gegaan. Daar is die politieke perspektief, 2019 lê voor. Daar is die Malema-perspektief en die jillende jeugdiges wat nie vir hulself kan dink nie. Daar is die ekonomiese perspektief, alles word duurder. Daar is die grondkwessie, ons gaan alles verloor…”

Dit vind bykans oral byval. Ons moet eerder omdraai, maar waarheen?

Dan is daar die minderheidverslag:

God het ons tot hier gebring, het Hy nie?

Sal Hy ons nou in die steek laat?

Is Sy Woord en beloftes betroubaar, of nie?

Is Hy ʼn Waarmaker van Sy Woord, of nie?

Is Hy die Wonderwerker, of nie?

Gaan ons dit (weer) misloop … die belofte van God?

Die belofte wat ons voorouers die onstuimige see laat aandurf het opsoek na ʼn beter toekoms. Die belofte wat hulle oor berge laat trek het. Die belofte dat daar aan die suidpunt van Afrika ʼn toekoms is vir hulle en ander mense se kinders.

Daar ís reuse, niemand kan daaroor stry nie.

Met God se hulp sal ons oorwin, moontlikhede ontdek, weë verken, oplossings vind, proaktief optree, voorbeeld stel, bid en bly glo.

Maar …?

Num. 13: Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte. Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.”

Num. 14: Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies ‘n leier en gaan terug Egipte toe!”…  Nie een van die manne wat my mag en die wonders wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, gesien het, sal die land sien nie. Nie een van hulle wat My geminag het, sal die land sien nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Von ·

Here U genade is vir ons genoeg . Ek bid vir n onwrikbare geloof in U Almag. U is en bly die Waarmaker van U woord. Amen

Nic ·

Ds Jannie, hierdie is ‘n PUIK perspektief, ek wens en bid dat ons volk in 2018 ook weer Josua en Kaleb se uitkyk kan kry

Jerry ·

Dat God ons na hierdie land toe gebring het is waar. Dat ons eie ongehoorsaamheid ons ingehaal het en ons straf, dit is ook waar. Dat daar reuse in hierdie land is, is nie te betwyfel nie. Dat die reuse ons egter haat en besig is om wraak te neem, anders as die reuse van die beloofde land en dat ons dit self veroorsaak het, is ook nie te betwyfel nie. Dat God sommiges van sy volk na n nuwe beloofde land (emigreer) reeds gelei het en nog steeds lei, is ook waar. Dat die wat nie na die profeet Jeremia geluister het om vir hulle straf, al hulle grond en besittings te verkoop en hulself na verre lande regoor die wereld te versprei, deur die reuse wie hulle en hulle God gehaat het, se boosheid verswelg was, dit is ook waar. Inaggenome die situasie waarin die Afrikaner homself bevind, vergelykend met n soortgelyke situasie waarin God se volk was, is bogenoemde die boodskap wat ek uit die Woord kry en kan ek myself dus nie met u boodskap vereenselwig nie en ek glo u ook nie met my boodskap nie. Die wat wil bly in SA sal met u boodskap vereenselwig en die wat wil emigreer sal met my boodskap vereenselwig. Verdeeldheid van n volk is daar met n rede. Dit verhoed dat God se volk uitgewis kan word en dwing die mens om terug te keer tot gehoorsaamheid aan God se wette en opdragte.

Adriaan ·

As Eva die slang aan sy nekvel opgetel het en hom alles gewys het wat God aan hulle gegee het dan was die uitslag dalk heel anders /dié verdraaide fokus sou sigbaar kon bly. Ons moet kyk wat ons het en met wie se hulp ons tot hier gekom het

bloues ·

Jannie, van watter God praat jy? Ek aanvaar dis die God wat Christene aanbid, maar selfs dan word daar deur moontlik jouself en jou kollegas verwysing gemaak na ‘n God met teenstrydige kenmerke.
Is dit die God wat sal verstaan as n man sy vrou verneuk?
Of is dit die God wat sonde straf?
Is dit die God wat homoseksuele verhoudings afkeer, of is dit die een wat “verstaan”
Kan dit dalk Hy wees wat sonde straf of die Een wat alles en almal sommer net vergewe.
Is dit dalk God wat die Wes Kaap straf met droogte, of dieselfde Een wat Gauteng se sonde mis kyk.
Predikers moet hulle “mind” opmaak want die Christendom hardloop agter meer as een God aan.
Dan dink ek : As jy iemand anders se val veroorsaak is dit beter om ‘n meulsteun om jou nek te hang en in die see te spring.
Miskien moet predikers en leiers eers besluit watter God ons moet aanbid.

Eish ·

Ek moet erken ek stem beslis meer met u kommentaar saam dan met die artikel se inhoud.
Dan sê hul die wet geld nie, maar dan kom hul weer met die bedelsessies vir fondse vir weke aanmekaar. Dan word Maleagi 3 vinnig belees. Met meer as 300 denominasies van die Christelike geloof in die land is dit n Babelse verwarring. Ons het die Doomspuiters, diegene wat gemeentelede aanpiekel na TB Joshua wie se kerk inmekaartuimel het, die prosperity preachers wat met miljoen rand voertuie in ongelukke kom en net sê hoe is hul gebless, die wat stry , dan ophou stry en dan weer stry oor dieselfde geslag huwelike ensovoorts. Babelse verwarring.

Jannie Pelser ·

My eerste opmerking was dat nie almal oor alles saamstem nie en dit respekteer ek.
Dankie vir elke opmerking.
God is nie n eenvoudige berekening nie. Hy is n diepe misterie. Gelukkig hoef ek nie verantwoordelikheid te neem vir wat Hy toelaat, laat gebeur of nie laat gebeur nie.
Ek verstaan Hom as die volmaakte voorbeeld van liefde. Dit beteken nie dat ek alles verstaan nie. Inteendeel. Ek het egter lankal besluit om Hom onvoorwaardelik te volg en te glo. Dis my keuse en daarby staan ek.
Elkeen moet vir Homself besluit. Sy genade is vir my genoeg. Ek glo ook dat Hy met ons op weg is in hierdie geknelde land ongeag. As mense besluit om elders te gaan bly is dit mos hul keuse en reg.
Elkeen moet besluit waarvoor die Here hom roep. Ek kan nie verantwoordelikheid aanvaar vir ander predikers nie. Ek sal eendag voor Hom staan en rekenskap gee. Paulus leer dat elkeen sy werk doen soos die Here hom dit opgedra het. Ook daarin beroep ek my op God se genade.
Ons verdien absoluut niks. Dat ek verder glo in n God wat Homself as barmhartig, genadig en lankmoedig bekendmaak is ook waar. Sy straf oor die sonde is op Golgotha uitgewoed. Nou boer Hy met genade vir wie dit wil aanvaar. Dis ook belangrik dat ons mekaar nie vaspen in waar ons gister en eergister was in ons verstaan van God nie. Die reis is dinamies en progressief. Nogmaals waardering en seen.

Gerhard ·

Dit tussen “Ja Broer” en “ja maar” en kyk net hoe ver het “Ja Broer” ons gekry ;-)

Cornelia ·

Met ontsag vir God se Heilige Woord en Sy Boodskap deur u aan ons oorgedra, dankie. U het dit onvervals afgelewer. Die Here het gespreek. Amen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.