Dit is wat SA kan leer by Amerikaanse politiek

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Die Amerikaanse politiek word tans oorheers deur ’n vurige rusie tussen die Republikeine en die Demokrate oor die aanstelling van ’n konserwatiewe juris, Brett Kavanaugh, as regter in die hooggeregshof. Minstens twee vroue beweer dat Kavanaugh hulle in die jare tagtig seksueel geteister het.

Dié rubriek handel nie oor die meriete van die saak nie. Dit gaan nie om die vraag of Kavanaugh skuldig is en of die senaat hom as regter behoort te bevestig nie.

Die vraag is eerder wat die kwessie vir Suid-Afrika te sê het.

Om antwoord daarop te gee, moet ’n mens iets van die Amerikaanse politieke stelsel – en van die demokrasie oor die algemeen – begryp.

Die skrywers van die Amerikaanse grondwet (1787) het die politieke struktuur só ontwerp dat dit samewerking tussen politieke opponente nie alleen aangemoedig het nie, maar as ’t ware verplig het. Dis hoekom daar ’n streng skeiding is tussen die drie pilare van die regering, die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag – die sogenaamde trias politica.

Al drie fungeer onafhanklik en word nie deur die ander oorheers nie. Die president is weliswaar die staatshoof, maar hy kan nie buite die wet optree sonder om deur die howe tot orde geroep te word nie.

En die streng koukusdissipline wat ander Westerse demokrasieë kenmerk, bestaan nie in Amerika nie. Dit gebeur nogal dat – sê maar – Republikeinse lede van die senaat of die huis van verteenwoordigers skerp kritiek op ’n Republikeinse president uitoefen, of weier om ’n wetsontwerp van só iemand te steun.

Die Amerikaanse demokrasie werk die beste wanneer daar (kom ek formuleer dit presies) ’n minimum vertroue en samewerking tussen die twee groot partye en tussen die drie pilare van die regering is. Dit beteken nie dat hulle nooit skerp kan verskil nie, maar wel dat dié verskille nie in die pad van samewerking en kompromieë behoort te staan nie.

Wanneer daardie minimum nié bestaan nie, knars die ratte en suiers van die regeringsmasjien tot stilstand.

Die probleem is dat die polarisering in die Amerikaanse politiek sedert die jare sestig stadig maar seker gegroei het totdat die partye mekaar die laaste dekade of wat byna uit beginsel om elke draai probeer bevark.

Pres. Barack Obama het in die laaste maande van sy bewindstermyn ’n gematigde juris, Merrick Garland, as regter in die hooggeregshof voorgestel. Maar die Republikeine, wat oorwinning in 2016 se kongresverkiesings geruik het, het geweier om dit selfs in behandeling te neem.

Die wyse waarop die Demokrate tans Kavanaugh se aanstelling probeer voorkom, is pure wraak vir die blokkering van Garland in 2016. Dit beklemtoon die feit dat die stelsel vasdraai wanneer die partye nie ’n minimum bereidheid tot samewerking en kompromis aan die dag lê nie.

Bowendien het die polarisering deur pres. Donald Trump se onnodig kwetsende politieke styl verder toegeneem.

Wat sê dit vir Suid-Afrika?

Wel, ons stelsel is natuurlik nie identies met dié van Amerika nie. Die trias politica is in Suid-Afrika nie so skerp soos daar geskei nie; ministers is byvoorbeeld ook parlementslede.

Tog, in ’n mindere mate as in Amerika, werk die demokrasie by ons die beste as daar ’n minimum aan vertroue en samewerking tussen die partye is.

’n Mens moet nie naïef hieroor wees nie. Die praktyk – in sowel Amerika as in Suid-Afrika – is dat die politiek ’n klipharde geveg om die mag is, en idealistiese sienings oor hoe almal oor partygrense in belang van die land saamwerk, is pragtig, maar onrealisties. Dis nie soos dinge werk nie.

Maar die stelsel werk ook by ons minder goed as die partye mekaar op elke denkbare terrein probeer dwarsboom. Alles dui daarop dat dit ná aanstaande jaar se algemene verkiesing des te meer die geval gaan wees.

’n Peiling wat die SA Instituut vir Rasseverhoudinge saam met Rapport en City Press uitgevoer het, wys interessante tendense.

As daar nóú gestem moet word, aldus die peiling, kan die ANC se steun van 62,15% tot 52% daal, terwyl die DA s’n verrassenderwys (ondanks die interne struweling) marginaal van 22,23% tot 23% kan styg. Die syfer wat ’n mens bekommerd maak, is die EFF se steun, wat van 6,35% tot 13% – meer as ’n verdubbeling – kan toeneem.

Met ’n foutmarge van 3,1 persentasiepunte is dit nie ondenkbaar nie dat die ANC selfs minder as die helfte van die stemme kan trek. En dít gaan swanger aan implikasies.

Indien – let wel, indién – dit gebeur, sal dit die ANC basies met verskeie keuses laat:

  • Hy kan ’n minderheidsregering vorm en ad hoc-steun vir wetgewing en ander maatreëls by opposisiepartye soek;
  • Hy kan ’n koalisie aangaan met kleiner partye soos Cope of die UDM;
  • ’n Koalisie met die EFF; of
  • ’n Koalisie met die DA.

In teorie sou ’n koalisie met die VF+ ook moontlik wees, maar in die praktyk kan dit uitgesluit word.

Die belangrikste vraag is natuurlik wat die rede vir die EFF se groei is. Uit dieselfde peiling blyk in elk geval dat dit nie die party se standpunt oor onteiening van grond sonder vergoeding is nie; slegs 6% van die ondervraagdes het grondhervorming as een van die twee belangrikste kwessies in hul oë gekies. Sake soos werkloosheid, misdaad en korrupsie was baie hoër op die lys.

Waarskynlik stroom baie kiesers van die ANC na die EFF weens eersgenoemde se interne verdeeldheid en onderlinge rugstekery, maar die party se pure onbekwaamheid en korrupsie speel ongetwyfeld ook ’n groot rol.

As die ANC-leiers die peiling, wat trouens breedweg met ander peilings ooreenstem, korrek lees, sal hulle die verleiding weerstaan om in die aanloop tot aanstaande jaar se verkiesing skerp na links te swaai. En dít beteken op sy beurt dat sowel die ANC as die DA versigtig moet wees om nie ’n – toegegee, moeilik bepaalbare – grens in hul wedersydse retoriek te oorskry nie.

Feit is dat die twee mekaar ná stemdag nodig kan kry. As albei hulself vantevore in ’n hoek toegeverf het, kan dit uiters moeilik word om mekaar in landsbelang te vind sonder ’n massiewe verlies aan geloofwaardigheid.

Laat die Amerikaanse ervaring ’n les vir Suid-Afrikaners wees. Beveg mekaar, ja. Maar moenie jou eie brûe agter jou verbrand nie; en hou altyd ’n agterdeur oop.

Dit het niks met beginselloosheid te make nie; wel alles met politieke vernuf.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

JAN ·

Niks is vergelykbaar met die politieke vernuf van Die Vorster broers nie. Hulle het alles reg gedoen met die grootste vaardigheid in magsmisbruik. Gesteun deur die mees gesofistikeerde media misleiding. Fake info /news

JAN ·

Ja ons kan beslis leer waarmee Trump die ganse beskawing probeer red.
Hy probeer bedrog van vals politieke mag / wanbestuur vervang met die die wetenskap van sake beginsels. — deur te onderskei wat is vir almal profyt versus verlies / oorhoofse kostes.
Alles het ‘n prys en die politieke model van globalisasie Marxisme is ‘n volkome katastrofe.

nico k ·

Ek dink die verskil tussen partye in die VSA is baie minder en die kwessies waaroor verskil word nie so ernstig as in SA nie. Dit maak natuurlik ‘n groot verskil of demokrasie kan werk.

Dawie ·

My grootste les is om die liberale groepe te begin ignoreer en hulle ware motiewe te bevraagteken.

Conrad ·

@ Dawie:
Volgens jou wil jy liberale groepe ignoreer maar tog hulle ware motiewe bevraagteken. As dit vir jou werk, mooi so.

Wat is konserwatiewe groepe se ware motiewe en dink jy dit behoort geïgnoreer te word?

Essie ·

Die liberales se motiewe is om die nuwe wereldorde af te dwing waar almal Engels praat en die sekulere geloof aanhang, en jy geen besluite vir jouself mag neem nie.

Essie ·

en die konserwatiewe groepe se motiewe is om te keer dat die nuwe wereldorde hulle lewens oorvat.

Hendrik ·

Ek glo nie die regering wil enige iets leer vanaf enige iemand nie, veral nie as hulle die land wil regeer met die Vryheidsmanfes nie. Ons kan niks doen nie want die meerderheid is aan bewind.

Marthinus Willemse ·

Een van vreemdhede van die Amerikaners, is dat hulle “demokrasie” en `n “een-mens-een-stem”-verkiesing as evangelie regoor die wêreld verkondig, en dit selfs met geweld in sekere lande se kele afdwing. Maar in Amerika self, werk dit nie so nie, wat beteken dat Donald Trump vandag in die Withuis sit en nie Hillary Clinton nie. Sy het meer stemme verwerf, maar omdat die stelsel “rigged” is in The Donald se woorde, het hy gewen.
En gedurende Maart 2014 het hoofregter John Roberts bepaal dat daar geen limiete meer is op geldelike bydraes tot politici nie. (Voorheen, het die Federal Election Campaign Act bepaal dat enige indiwidu nie meer as $123,200 in enige verkiesingssiklus mag bydra nie.) Jy kan dus nou politici koop as jy bereid is om baie geld te spandeer.

Volgens Thom Hartmann, het `n groep invloedryke Republikeine op 20 Januarie 2009 in die Caucus Room (restaurant, prime steaks, fresh seafood) in Washington DC vergader, en `n plan opgestel om Barack Obama se presidensie te saboteer op elke moontlike hoek en draai. Die persone was onder andere Paul Ryan, Kevin McCarthy, John Kyle, John Ensign, Tom Colbert, en `n paar ander. Op 15 November 2016 het die Demokrate `n geheime vergadering gehou om Donald Trump se presidensie te kelder. Twee belangrike persone hier was Hillary Clinton en George Soros.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.