Gemeenskapskrag kan gemeenskapsfederalisme ontsluit

“ʼn Gedesentraliseerde kragvoorsieningsnetwerk, waar plaaslike instellings ʼn rol speel, is nie ʼn vreemde verskynsel hier aan die suidpunt van Afrika nie. Die ontstaansgeskiedenis van elektrisiteitsvoorsiening was juis gekenmerk deur ʼn gedesentraliseerde benadering.”

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Gemeenskapsfederalisme vorm die basis waarop AfriForum en die Solidariteit Beweging se federale toekomsplanne gebou is. Dit beteken dat dié planne nie in die eerste plek afhanklik is van die instemming van die ANC-regering om magte na gemeenskappe af te wentel nie, maar eerder gebou word rondom die vermoë van gemeenskappe om self deur die vestiging van gemeenskapsinstellings beheer oor hulle eie toekoms te kan neem. Federalisme veronderstel verskillende vlakke van besluitneming, terwyl gemeenskapsfederalisme spesifiek besluitnemingsmag vir gemeenskappe toe-eien deur ʼn selfdoenbenadering.

Die ANC-regering, wat ideologies sterk tot die huidige mislukkende sentralistiese bedeling verbind is, sal natuurlik nie wil instem tot desentralisering nie, maar gelukkig hoef ons hulle nie te vra nie. Ons gemeenskappe kan vreedsaam doodeenvoudig begin om op vele terreine deur gemeenskapsinstellings hulle toekoms in eie hande te neem. Soos wat die staat verder verswak, sal verder geleenthede voordoen vir gemeenskappe om self in te tree, soos wat reeds op vele terreine gebeur.

(Foto: Verskaf)

Die meegaande spotprent illustreer goed dat gemeenskappe hulle rug op onwerkbare sentralisme kan keer en liewers die pad van gemeenskapsfederalisme kan stap. Ook wat kragvoorsiening betref sal gemeenskappe toenemend uit nood die pad van gemeenskapsfederalisme en desentralisering bo sentralisme begin kies.

Die beginjare: Gedesentraliseerde kragvoorsiening

ʼn Gedesentraliseerde kragvoorsieningsnetwerk, waar plaaslike instellings ʼn rol speel, is nie ʼn vreemde verskynsel hier aan die suidpunt van Afrika nie. Die ontstaansgeskiedenis van elektrisiteitsvoorsiening was juis gekenmerk deur ʼn gedesentraliseerde benadering.

Elektrisiteit is byvoorbeeld vanaf 1860 op ʼn klein skaal opgewek om spesifiek een projek, die elektriese telegraafsisteem tussen Kaapstad en Simonstad, te laat werk. In 1881 is elektrisiteit opgewek om die Kaapse stasie te belig en in 1882 om die Kaapse parlement van elektriese ligte te voorsien. Ook in 1882 het Kimberley die eerste dorp in die land geword wat elektrisiteit opgewek het om straatligte te laat brand. Daarna het al hoe meer dorpe en myne regoor die land begin om hulle eie elektrisiteit op te wek.

Die sentralisering van kragvoorsiening

Die Kragwet van 28 Mei 1910 in die Transvaal-kolonie het egter begin om privaat kragopwekking te beperk en die rol toenemend vir die staat op te eis. Ná Uniewording het die neiging tot sentralisering en staatsbeheer bykomende momentum gekry met die stigting van die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Evkom) kragtens die Elektrisiteitswet van 1922. Die Elektrisiteitsbeheerraad, wat ook uit dié wet voortgevloei het, het elektrisiteitsvoorsiening beheer, gelisensieer en tariewe vasgestel.

Die bekwaamheid waarmee die gesentraliseerde kragvoorsieningstelsel ingestel en bestuur is, het die positiewe gevolg gehad dat elektrisiteit goedkoop en op groot skaal verskaf kon word. Dit het die basis gevorm waarop Suid-Afrika met sukses geïndustrialiseer is.

Die onbedoelde gevolg van die gesentraliseerde en hoogs gespesialiseerde Evkom-suksesverhaal, is dat dit plaaslike gemeenskappe en besighede uiters kwesbaar sou laat sou Eskom (die nuwe naam vir Evkom sedert 1987) om welke rede nie doeltreffend aan die elektrisiteitsbehoeftes kon voorsien nie.

Desentralisering van kragvoorsiening nou weer noodsaaklik

Die huidige Suid-Afrikaanse regering en staat het in ʼn korruptokrasie en kakistokrasie (regering deur die slegstes) ontaard, wat vererger word deur die feit dat hulle in beheer staan van ʼn sterk sentralistiese bedeling. Dit het tot gevolg dat die staat se mislukking tot op die laagste moontlike vlak ʼn impak het. Die verval van Eskom onder die sentralistiese nuwe bedeling word deur mense tot in hulle eie sitkamers beleef wanneer daar beurtkrag is.

Die leemtes wat die verval van Eskom laat, sal onafwendbaar daartoe lei dat gemeenskappe self begin toetree om oplossings te vind, of die owerheid daarvan hou of nie. Die desentralisering van kragvoorsiening is dus onafwendbaar.

Gemeenskapsfederalisme

Die toetrede van gemeenskappe en die sakesektor om die kragkrisis te probeer beredder, sal onafwendbaar as stimulus dien om gemeenskapsfederalisme te ontsluit en uit te bou. Wanneer gemeenskappe uit nood suksesvol in hulle eie elekrisiteitsbehoeftes kan voorsien, sal die noodwendige gevolg wees dat hulle op ʼn nog groter skaal begin toetree om self dienste in gemeenskappe te lewer soos wat AfriForum se takke en buurtwagte reeds landwyd doen.

ʼn Model vir gemeenskapskrag

AfriForum en ander rolspelers het reeds begin om werkbare planne te ontwikkel sodat gemeenskappe self beheer oor hulle elektrisiteitsvoorsiening kan neem. ʼn Driefaseplan word verfyn om aan gemeenskappe geleenthede te bied om letterlik en figuurlik gesproke gemeenskapskrag te ontsluit. Die fases is soos volg:

Fase 1: Korttermyn – individue wek self krag op

Verskeie individue en besighede het reeds stappe gedoen om meer staatsbestand te word wat elektrisiteitsvoorsiening betref deur sonpanele en batterystelsels te installeer. AfriForum het reeds ʼn riglyndokument oor sonkrag in leketaal gepubliseer om mense by te staan wat ook beplan om dit te doen. Aangesien die installering van sonkrag nie goedkoop is nie, werk AfriForum ook tans aan bekostigbare finansieringsmodelle en ʼn databasis van betroubare installeerders.

Sonkrag by huise is weens die kostes nie almal beskore nie en daarom is AfriForum reeds besig met verskeie regstappe om seker te maak dat die kragvoorsieningsnetwerk reeds op die korttermyn oopgemaak word om individue en privaat instansies met surpluskrag te help om teen billike vergoeding by te dra om aan die kragbehoeftes van ander huishoudings te voorsien. Nersa se huidige tarief van minder as R1 per kW/h maak dit nie lonend vir die privaat sektor om meer krag op hulle persele op te wek as wat hulle self nodig het nie. Ook ander regulatoriese hindernisse moet in die howe beveg word.

Fase 2: Medium-termyn – Gemeenskappe neem beheer van plaaslike kragnetwerke

Gegewe die feit dat meer as 80% van munisipaliteite nie skoon oudits kan kry nie en hulle Eskom meer as R50 miljard skuld, is hierdie munisipaliteite om verstaanbare redes nie aantreklike plekke vir privaat beleggers om toe te tree nie. In die goed funksionerende munisipaliteite, waar die ANC nie binnekort beheer sal neem nie, sal privaat beleggers in ʼn ry staan om toe te tree. In die Wes-Kaap en veral die Kaapstadse metro is tenderprosesse reeds geopen. Uiteindelik kan voorsien word dat die dorpe in die Wes-Kaap, wat nie deur die ANC of onstabiele koalisies bestuur word nie, saam met Orania van die eerste plekke in die land sal wees wat beurtkragvry word.

Wat gemaak met die res van die land? Gemeenskappe sal beheer van hulle plaaslike kragnetwerke moet neem en dit bestuur. Dit gaan nie maklik wees nie, want korrupte munisipaliteite sal hulle hand op die beursie wil hou, terwyl die regerende party sterk ideologiese voorbehoud vir privatisering het. Die druk op die regerende party vanuit sy eie ondersteunersbasis sal wat kragvoorsiening betref, uiteindelik meebring dat die ANC-regering sal moet swig.

Die Frankfort-model waar ʼn privaat maatskappy, Rural Free State, ʼn 25-jaar kontrak met die Mafube-munisipaliteit aangegaan het om die elektrisiteitsnetwerk te bestuur, invordering van geld te behartig en Eskom te betaal, wys watter sukses moontlik is. In hierdie munisipaliteit is krag nou goedkoper as in die res van die munisipaliteit deurdat vermorsing en korrupsie uitgesny is en invorderings verbeter het. Eskom word ook betaal, anders as in die omliggende munisipale gebiede.

Gemeenskappe kan die Frankfort-model ietwat wysig om self toe te tree. Hiervoor is gemeenskapsvoertuie sonder winsbejag nodig. AfriForum is tans betrokke by ʼn loodsprojek om ʼn gemeenskapsforum in ʼn deel van Centurion tot stand te bring, waarop ʼn wye reeks gemeenskapsinstellings wat skole en kerke insluit, dien. ʼn Voertuig soos hierdie kan dan druk op die munisipale owerheid begin plaas om per 99-jaar kontrak self elektrisiteitsvoorsiening in die gebied te bestuur, met dien verstande dat die tarief wat gemeenskapslede sal moet betaal altyd laer sal wees as wat die munisipaliteit self vra.

Die gemeenskap kan dan hulle eie belange bestuur deur in hulle eie belang die privaat sektor te betrek om vermorsing te beperk, elektrisiteit by besighede en huishoudings aan te koop en kragverskaffers te kontrakteer wat in staat is om ʼn basiskrag van 40% te voorsien, waar sonkrag dit nie kan doen nie. Privaat opwekking deur gas, batterystelsels en dit wat Eskom wel kan voorsien, kan benut word. Deur byvoorbeeld die elektrisiteitsuitdaging in Pretoria in baie kleiner dele op te deel, sal dit die weg baan vir die onderskeie gemeenskappe om ʼn verskeidenheid rolspelers en kenners in hulle gemeenskappe te betrek om oplossings te vind.

Fase 3: Langtermyn

Die desentralisering van die kragnetwerk gaan vereis dat daar ook ʼn gedesentraliseerde vermoë moet wees om ʼn 40%-basislading te verskaf wat tans grootliks deur Eskom se steenkoolkragstasies verskaf word. In die langtermyn is veilige kernkragopwekking die oplossing. Daar is reeds talle maatskappye wat in die buiteland werk aan kleiner modulêre kernkrageenhede. Suid-Afrika was op ʼn tyd aan die voorpunt van korrelbedkerntegnologie, maar nadat die regering die program in 2010 gestaak het, het baie van ons eie kundiges by buitelandse maatskappye aangesluit.

China het tans reeds twee modulêre korrelbedkernreaktors wat funksioneer. In die VSA het die kernreguleerder onlangs ook sy goedkeuring vir die ontwerp van die modulêre kernkragopwekker van ʼn maatskappy met die naam NuScale gegee, terwyl ander sterk in dieselfde rigting werk. Daar is ook groot vordering deur maatskappye soos Westinghouse wat op ander kerntegnologie as korrelbedtegnologie steun.

Tans is kernkrag te duur en is daar groot regulatoriese hindernisse vir die implementering daarvan. Tog moet ons nou reeds voorbereidings begin tref en planne maak vir wanneer dit goedkoper raak soos wat dit meer algemeen vervaardig word. Uiteindelik sal klein modulêre kernkragopwekkers ideaal wees om energiestandvastigheid te bring in gemeenskappe wat op kleiner skaal aan hulle eie kragbehoeftes voorsien.

Ten slotte

Daar is lig aan die einde van die tonnel. Dit is nie ʼn trein wat aankom of Eskom se lig nie, maar dit is die helder lig van gemeenskapskrag. Letterlik en figuurlik!

Hierdie is ‘n verwerking van die aanbieding gelewer by Akademia se ‘Konferensie oor die uitwerking van nuwe energiebelange op die desentralisering en sentralisering van politieke mag in Suid-Afrika’ op 29 Maart 2023. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

De Bok ·

Ek is pro-desentralisasie van alles, so ek ondersteun Afriforum graag in hulle beweging om krag te desentraliseer.

Ons moet ook geld desentraliseer, so koop Bitcoin terwyl dit nog goedkoop is.

Benn ·

Wat nie in die artikel genoem word nie is dat Eskom Frankfort hof toe neem ivm hierdie kwessie.

De Bok ·

As 5 meer munisipaliteite doen wat Frankfort doen, gaan Eskom almal hof toe vat? Wat as 10 dit doen, of 50?

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Hoogeregshof se besluit is seker bindend vir ander soortgelyke sake(?)

Republikein in die Wes Kaap ·

In die Wes Kaap is kragplanne al vêr gevorderd op provinsiale en plaaslike vlakke. Die binneland is egter agter en beskik nie oor die wil en vermoë om oplossings te vind nie. Fase 24/7 is jul voorland. PBMR is ‘n werkbare alternatief, maar sal ook streng beheer word deur die VN se atoom energie agentskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.