Gevaartekens in Amerikaanse verkiesingstryd

vsa-vlag-amerika-amerikaans

Foto: Samuel Branch/Unsplash.com

Twee weke ná die middeltermynverkiesing in die Verenigde State van Amerika is al die stemme in sommige state en kiesdistrikte steeds nie getel nie. Sedert die verkiesing op 6 November plaasgevind het, het ’n regstryd in talle dele van die VSA ontstaan soos wat omstredenheid oor die hele stemproses, en veral die tel van stemme, deur ongelukkige kandidate en aktiviste na vore gebring is.

In die Amerikaanse staat met die derde grootste bevolking, Florida, is die uitslag van die verkiesing van ’n goewerneur en senator eers oor die naweek – byna twee weke ná die verkiesing – bekendgemaak. Sedert kiesers in Florida gaan stem het, is die stemtelproses gekenmerk deur bewerings van bedrog, masjiene wat die stembriewe tel wat oorverhit het en uiteindelik ’n reeds hofsake tussen die verskillende kandidate, partye en hul regspanne. Beide die Republikeinse Party en die Demokrate het hul beste regspanne na Tallahassee gestuur om aan verskeie regsaksies deel te neem.

Voordat die uitslag in Florida uiteindelik oor die naweek bekendgemaak is, het sommige hoofkiesbeamptes in stemdistrikte onder nasionale politieke druk geswig en bedank. Tydens een van die talle hofsake wat die afgelope twee weke oor die stemtelproses plaasgevind het, het regter Mark Walker opgemerk dat die hele wêreld met elke verkiesing vir Florida lag en dat die staat steeds nie ’n besluit kan neem om sy prosesse reg te maak nie.

Dit herinner ’n mens nogal aan die presidentsverkiesing agtien jaar gelede, op 7 November 2000, toe Amerikaners tussen Al Gore en George W. Bush moes kies. Bush het uiteindelik, nadat meer as ses miljoen kiesers in Florida gestem het, met slegs 537 stemme gewen. Die stemtelproses is tóé ook in groot omstredenheid gehul, veral weens die ontwerp van die stembriewe. Dit het uiteindelik in die hooggeregshof gaan draai waar ’n 4 teen 3-beslissing bepaal het dat die stemme nie weer oorgetel kon word nie. Bush is verkies as Amerikaanse president, maar dit was sonder ’n duidelike mandaat van die kiesers.

Amerika is ’n diep verdeelde land. In verskeie gevalle, met Florida as goeie voorbeeld, is die verdeling binne die staat gesetel. ’n Federale Amerika maak voorsiening vir die verskil tussen byvoorbeeld ’n konserwatiewe Wyoming en ’n liberale Vermont. Maar wat gemaak wanneer die uiterstes van die politiek binne een staat afspeel?

Amerikaanse verkiesings word toenemend gekenmerk deur konflik wat hofsake oor, onder meer, die stemtelproses insluit. Die konflik raak egter ook duideliker in groot betogings en die woede van ontevrede kiesers.

Die probleem in Amerika is dat die land as ’n sterk federale staat gestruktureer is, maar dat verkiesings toenemend genasionaliseer word. Vanjaar se verkiesing was grootliks ’n referendum oor Donald Trump se presidentskap. ’n Paar dekades gelede sou die president in so ’n middeltermynverkiesing byna geen rol gespeel het nie en sou kiesers in verskillende state oor plaaslike sake vir verteenwoordigers gestem het.

Die groot nasionale verdeeldheid in die VSA kan deur plaaslike politiek teengewerk word, maar die toenemende nasionale aard van alle verkiesings lei tot grootskaalse ontevredenheid by verloorders wat weer tot konflik en woede aanleiding gee. Indien Amerikaners nie na politieke federalisme gaan terugkeer nie, gaan die pruttende pot die een of ander tyd oorkook en kan geweld deel van die politieke toneel raak.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

En ons dog dan as jy jou voet anderkant die muur kry is jy ‘n gelukkige vry mens… vir ewig dankbaar dat jy op die Amerikaanse bodem kan staan. Maar skynbaar is dit dan net die begin van die ongelukkigheid met meer en nog eise en woede en onvervulde regte. Soos die ou in Afrika se: My voorvaders is teen hulle sin as slawe weggevoer na die VSA. Ek sal alles in my vermoe doen om ook daar te kom. Hierdie inherente jammergat van baie Amerikaners is net wat die liberale poltici soek; deel snesies uit en por die ongeluk aan en siedaar ek verteewoordig hulle en wie weet… Kyk hoe ver het Hillary en Billy gevorder.

Twakkie ·

Die verdeeldheid in die VSA is op die spits gedryf deur Obama wat die land te ooglopend na sosialisme wou dryf. Oop grense, globalisme en herverdeling van rykdom het die groot middel van Amerika gebankroetier en die “inner cities” laat verval in armoede en misdaad. Trump se verkiesing was gewone Amerikaners se opstand dáárteen. Die Demokrate en hul ondersteuners in die hoofstroommedia voel moreel superieur weens hulle “liberalisme”, wat nou uiters onliberaal geword het. Hulle het hulle tradisionele basis van Amerikaanse werkers deur hul eie toedoen verloor en is gereduseer tot aanhitsing van vroue en swart en “Hispanic” mense, drie groepe wat nou reeds die laagste werkloosheidsyfers ooit ervaar weens Trump se slim ekonomiese beleid. Demokrate is dus verder gereduseer tot ondersteuning deur ideoloë soos vermaaklikheidsmense, akademici en die media, wat los staan van die realiteite, plus onwettige immigrante. Demokrate se woedende oortuiging dat hulle die morele hoë grond beset, plus hulle vrees om hulle gevestigde belange en mag te verloor, gee aanleiding tot grootskaalse verkiesingsbedrog en media-retoriek wat weinig meer is as persoonlike aanvalle en “name-calling” van konserwatiewes. Die Demokratiese Party self word verskeur deur radikale sosialiste enersyds en meer gematigdes andersyds. En die strominge in die VSA is net ‘n mikrokosmos van strominge wêreldwyd, geïnisieer deur dekades se goedbedoelende globalisme en humanitêre hulp wat direk gelei het tot die migrantekrisis. Die gaping tussen die kulture van die Eerste en Derde Wêreld is en bly onoorbrugbaar.

Boer-in-die-wind ·

Goeie artikel Jaco.
Twakkies jy praat nie twak nie – puik opsomming van politieke situasie in VSA.
Die Honduran onwettiges kan dalk net die vonk by kruitvat wees.

Charles ·

Baie dankie Jaco, ‘n baie, baie goeie stuk.

Twakkie, jou kommentaar is uitstekend man!

Thinus Erasmus ·

Die probleem met rou demokrasie is: die wenner vat alles.
Sou die regering en alle vlakke ondertoe verteenwoordigend van die stemme van die burgers wees, dan sou die verloordes tog ook erens beduiende mag gehad het, of ten minste beskerming teen die meerderheid.
Dan moes elke verteenwoordiger of verkose lid, ook afsonderlik kon stem volgens sy oortuiging of die van sy ondersteuners – nie almal kop in een mus benadering nie.
En as jy dan nerens inpas of verteenwoordiging geniet nie, moet jy ook die reg he om op jou eie te gaan, sonder om iemand anders te benadeel of dat jy benadeel word.
Outonomie en groepsregte op grondvlak, sinvolle samewerking op nasionale vlak.
VSA het ‘n goeie begin gehad met federalisme, maar begin nou uitmekaar val weens Nasionale oorheersing.

Hendrik ·

Thinus, proporsionele verteenwoordiging is ‘n goeie idee, maar in SA help dit ons nie juis nie. Dit werk net waar daar ‘n redelike balans tussen partye is.

Ronnie ·

Die Amerikaners is nou minder gepolariseerd as voor die 2016 verkiesing. Danksy Trump. Michigan, Wisconsin en Pennsylvania, wat gesorg het dat Trump wen, het nou oorwegend vir die Dems gestem. Die grootste verrassing is dat die landelike gebiede ook vir die Demokrate gestem het.
Dit was eintlik ‘n vloek skoot dat Trump in 2016 gewen het. Tussen hom en Clinton, was hy die minder gewilde kandidaat. Hy het 3 miljoen minder stemme op hom verenig as wat sy gehad het.
Die Dems het nou hulle rekord van 1974, (na die Watergate skandaal), oortref. Vir die HVV het Dems met 53.1% gewen teenoor die 45.1% vir die GOP. ‘n Rekord 31 – 35% jongmense tussen die ouderdomme 18 tot 26 jaar het gaan stem en ook oorwegend vir die Dems.
Trump is besig om sy greep te verloor op die werkersklas en meer vroue as voorheen is teen hom gekant. Die kiesers sien nou sy ware kleure en dit is goeie nuus vir Amerika en vir die res van die wereld.
Die “gerrymandering” het vrugte afgewerp vir die GOP en hulle behou nou die meerderheid in die Senaat. Vir nou. Die gebruik om kiesafdelings tot uitsluitlike voordeel van een party te verdeel en te manupileer, sal binnekort onwettig gemaak word.
Nog hofsake gaan volg in State soos Georgia waar sekere kiesers op baie onregverdige wyse heeltemal uitgesluit was of waar dit vir hulle moeilik, soms onmoontlik gemaak was om te stem.
Maar soos ons as kinders gese het, kierantjies sal braai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.