Geweld en witskape: Ramaphosa is ’n flou makou

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

President Cyril Ramaphosa is konstant etlike treë agter elke gebeurtenis in die land en selfs in sy eie party. Oudpres. Jacob Zuma is ’n misdadige kleptokraat, maar ten minste was hy ’n taktikus van formaat wat sy opponente telkens uitoorlê het. Hy doen dit trouens steeds.

In een week het die sweer van vreemdelingehaat en geweld jeens vroue en kinders oopgebars. Hierdie haat en geweld is deurgaans aanwesig, maar omdat dit hierdie keer met opsetlike plundering en brandstigting gepaardgegaan het, het dit veel meer aandag getrek. Hoewel sterftes altyd betreur moet word, het die sensasie van die plundering die relatief skrale dodetal van 12 mense heeltemal oorskadu.

Ramaphosa was oudergewoonte traag om te reageer. Nes met skadelike uitsprake deur ANC-mense – soos Ace Magashule oor die nasionalisering van die Reserwebank – is die president maar skrikkerig om sy stem gou dik te maak. In ware Thabo Mbeki-styl stort hy ook nooit ’n traan of word kwaad nie, en toon hy geen emosie nie. Hy uiter telkens (te laat) reaktiewe gemeenplase (soos kommissies van ondersoek) wat dan buitendien nooit werklik in werking gestel word nie. Hy bly ook weg van enige forsheid en groot stappe.

Die stille waters van die status quo is waar Ramaphosa reeds as adjunkpresident gemaklik gevoel het en nou ook as president wegkruip.

Sagte afkeur

In sy TV-rede oor geweld teen buitelanders en vroue het dit net weer gewys hoe uit voeling hy met die res van die land is. Sy stelling dat “genoeg nou genoeg is”, is uiters holluidend en sy optrede in hierdie geval – soos in meeste gevalle – betekenisloos.

Ramaphosa is die leier van ’n land waarin bykans 20 000 moorde jaarliks gepleeg word. Geweld teen vroue, kinders en buitelanders is beslis niks nuuts nie, nes geweld teen mans, bejaardes, boere, minderhede en almal anders niks nuuts is nie. Suid-Afrika se “normale” omstandighede is dat 54 mense (meestal Suid-Afrikaners) per dag vermoor word, maar Ramaphosa verkies om eers daaroor op TV te praat as mense brande stig.

Die land kort ’n teenmisdaadstrategie wat veel wyer strek as om die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders openbaar te maak of die staat wat borgtog teenstaan vir verdagtes in sake wat met geweld teen vroue en kinders verband hou. Dit verdien meer as simboliese gebare en sagte afkeur.

Die register skrik nie mense af wat in elk geval niks het om te verloor as hulle vermoor en verkrag nie. Werklike lewenslange tronkstraf beteken niks vir sulke oortreders nie omdat die lewe hulle ewe veel buite én binne die tronk bied. Hulle heg geen waarde aan hul eie of ander se lewens nie.

Die onmiddellike oplossing is dat polisiëring en vervolging opgeskerp word, terwyl die land se sosio-ekonomiese omstandighede moet verbeter sodat meer mense kan werk en hul waardigheid sodoende kan terugkry. Die erbarmlike onderwysstelsel – nóg ’n ANC-produk – moet ingrypend gewysig word.

Ramaphosa se stelling in sy TV-rede dat die vervolgingsowerhede gereed staan om oortreders te vervolg, is niks anders as lagwekkend nie en bied net ’n gedeeltelike oplossing. ’n Instelling wat jare lank verpolitiseer en uitgehol is, kan nie oornag optimaal funksioneer nie. Dit lyk nie eens of die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nou aan die gang kom nie. Die polisie is oral onderbeman en het dikwels nie die toerusting, wil, óf kundigheid om geweldsmisdade tot by die vervolgingsproses te laat vorder nie. Totdat meriete die opperste waarde in die polisie word en korrupsie behoorlik getakel word, gaan die misdadigers bly wen.

Ramaphosa se reaktiwiteit versterk nie net die hande van misdadigers op die strate nie, maar ook die misdadige elemente in sy party. Die president wil weliswaar ook enige regstreekse konfrontasie met sy eie party vermy – selfs al word daar openlik pogings aangewend om hom te ondermyn. Trouens, hy kan nie eens opposisiefigure kritiseer wat haat opsweep nie.

Witskape

Magashule maak straffelose uitsprake wat die land se beeld aantas en sosiale kohesie in ’n wederstrewige tyd aan bande lê. Ditto Julius Malema, leier van die EFF. Eerder as oplossings vind, beveel hulle aan dat die geweld bloot tot onskuldige wit mense gewend moet word. Eerder as die spreekwoordelike swartskape, is ons dan outomatiese witskape.

Magashule het swart studente by die Universiteit van die Vrystaat (en onregstreeks ’n klomp ander mense deur die mediadekking van sy woorde) afgeraai om mense met dieselfde velkleur as hulle te verag. Dit is dus billik om enigeen te haat wat nie etnies swart is nie. Hierdie kru rassisme kan van mense soos Magashule en Malema verwag word, maar daar is reeds ’n ondersteunende omgewing daarvoor geskep.

Ramaphosa se stilte is problematies en om vir Magashule privaat en later aan te spreek (wat waarskynlik nie gebeur nie), is hopeloos onvoldoende.

Hy is ’n flou makou totdat die teendeel bewys word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

schaun ·

Ramaposa het my nog nooit beïndruk nie as jy gaan jy na sy geskiedenis na kodesa sal jy vind hy is eintlik net n BEE oportunis en geen sprake van besigheids kennis of leierskap nie.

Nog nege verlore jare wat voorlê ·

Flou Makou die ís hy. Jansalie sonder rugraat.

Wim ·

Ramaphosa is tans niks meer as ‘n seremoniele President nie. As gevolg van sy onvermoë on harde besluite te neem het hy die respek vd publiek asook wêreldleiers verloor en sy “new dawn” lankal reeds net ‘n fantasie droom. SA is besig on te brand en dit is tyd dat Ramaphosa wys hy het wel ‘n ruggraat !!?

JohanR ·

Kry ‘n rug-Graat my President! Gaan kyk na die woorde in die volkslied. Dit se “ons vir jou Suid Afrika”, en nie “ons vir jou ANC!”

John ·

Geen jammerte en simpatie vir die dead Dodo nie. Die probleme wat al jarrrre in Johannesburg se swart woonbuurtes en plakker-annexe heers is bloot net geìgnoreer deur die ANC maar toe die verkiesing kom word Alexandra se probleme aan die burgemeester se swak bestuur toegeskryf veral deur Cyril. Sy landsburgers is erg getraumatiseer, maar hy stel meer in die geluk belang van hopelose lande waarin die ANC-terroriste 30 jaar gelede geskuil het. Dit is werklik kommerwekkend dat die prez so in Lalaland verkeer.

Cornelia ·

Stem saam met Johanr. Wie het regtig enig ruggrate. Ons vir jou, “net SA”

Japie ·

As die SA regering nie so vrot en planloos was nie, het hulle privaat ondersoekfirmas aangestel en betaal om misdaad te ondersoek en vervolg. Probleem is die polisie en aanklawers gee nie n duit om oor misdaadsyfers en sukses nie. Hulle kry hulle pay elke maand, getrou betaal deur die korps wie geteiken word en ly onder misdaad. Privaat instansies wat betaal word vir suksesvolle vervolgings sal 1000% meer sukses behaal teen misdaad, veral omdat dit ervare oud-speurders sal lok

KrokodilBotha ·

Die artikel is nie deur enige flou makou geskryf nie. Skerp.

hercu ·

die AnC kon in 25 jaar niks regdoen of enigiets bou nie – hulle het die land in kompos status! hulle is ruggraatloos en blammeer almal behalwe hulself :-(

Jordaan ·

Regstelling – dit is nie “bykans 20000 mense per jaar” wat vermoor word nie, dit was laasjaar meer as 20000.

Jerry ·

Die dag wanneer Ramaphosa die land genasionaliseer en gedekoloniseer het en in n kapitalistiese sosialistiese staat omskep het en die rand opgetel het vir die ANC en vir China as hoofbelegger, dan sal Afriforum vir Ramaphosa steeds beskou as n flou makou. Dit was maar nog altyd die regses se eie “down fall” om hulself op te hemel en te oorskat en hulle opponente te beledig en te onderskat! Glo my dat met hierdie ingesteldheid en benadering wat Afriforum openbaar gaan hierdie storie uit n westerse oogpunt, geen gelukkige einde he nie! Uit n pan afrikanistiese oogpunt gesien gaan die flou makou alles behalwe flou wees, inteendeel en indien die flou makou SA “LIBERATE” dan gaan hy in Afrika en in China, ses keer erger opgehemel word as mugabe!

KrokodilBotha ·

Afriforum is nie n regse organisasie nie. Noem hulle liewers flink en slim. Dis n organisasie wat werk , wat ookal hulle aanraak . Terug drawing table toe Jerry.

Db ·

Die land van die “jelly babies”. Alle kleure behalwe wit is toelaatbaar

Dirk ·

@KrokodilBotha. Dit lyk my Jerry het jou n bietjie raak getrap. Niemand betwyfel wat jy oor Afriforum se nie. Daar is ongelukkig ook van tyd tot tyd bymotiewe te bespeur wat poog om wit en swart teen mekaar af te speel, om te verdeel om te veralgemeen en te beledig, om uitgesluit te word, geisoleer te word. Dit is maar net n paar van die bymotiewe wat gewoonlik ideologies by regse nasionaliste aanwesig is. So ja, ek kan nie anders as om jou gelyk te gee, maar so ook moet ek vir Jerry gelyk gee. Om uit n westerse perspektief jouself te oorskat en jou afrikanistiese opponente te onderskat en dan ook nog te beledig, synde die opponent as n flou makou te beskou, kan n lelike nadraai he vir jou, jou organisasie en vir onskuldige toeskouers. Dit is normaalweg iemand met n linkse of regse ingesteldheid wat n veer voel vir die gevolge wat ander moet verduur vir sy doelbewuste goed deurdenkte en blatante beledigings en gepaardgaande uitlokkende skoorsoek benadering. In hierdie geval stem ek saam met Jerry dat daar te gereeld tye is wat Afriforum die gesegde van “slim vang sy baas” aan gestand doen. Afriforum plaasbeveiliging dien ook as goeie voorbeeld van goeie “just business as usual” terwyl boere steeds aangeval en vermoor word en die moorde dan steeds dien vir propaganda doeleindes. So ja, daar is goeie dinge en dan is daar te veel vingers wat begin terugwys agv sekere snaakse of duistere, bymotiewe!

DJ ·

Jerry is konsekwent.Hy het altyd dieselfde mening oor afriforum maak nie saak waaroor die artikel gaan nie.Is ‘Jerry’ dalk ons eie afrikaner ‘third force’ wat elke poging om op te staan teen ń moegoe regering wil destabiliseer?
Ek wonder….?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.