Grondonteiening: Is dit herwaarts of derwaarts?

land-lugfoto-grond-landbou

Foto: Magda Ehlers/Pexels.com

Dit is die jaar 1913, en die sogenaamde “Natives Land Act” is pas deur die Suid-Afrikaanse parlement aanvaar. Dit was ’n wet wat hoofsaaklik daarop gemik was om aan die een kant swart besit van grond te beperk. Let wel, dis lank voor apartheid op die wetboek geplaas is en lank voor ’n demokratiese regering in Suid-Afrika verkies is, maar dit het die grondslag gelê vir wat ons vandag as die verskillende tuislande ken.

Op ’n stuk grond in Limpopo, aan Suid-Afrika se noordergrens, word ’n swart boer in die middel van die nag wakker gemaak. Dis die polisie, en hy word hardhandig van sy grond verwyder. Hy weet nie waarheen nie en hoor eers later dat ’n wit boer nou daar gevestig is. Dieselfde wit boer se seun is egter later dood toe hy ’n landmyn op hul plaaspad afgetrap het. Dis die ANC, sê die Suid-Afrikaanse regering.

Vandag, sê hulle, gaan die familie hul grond verloor. Sonder vergoeding, want hulle het die grond gesteel. Die “hulle” is die ANC en veral Julius Malema, ook ’n boorling van Limpopo. En hy sê: ons kom om jou keel af te sny. Omdat jy wit is.

Dis vandag die werklikheid in Suid-Afrika. Gaan die boer een van die statistieke van plaasmoorde word, of gaan daar vir hom ’n ander uitweg wees, soos om in Australië te gaan boer? Hy is selfs bereid om sy plaas weg te gee, solank hy net aan die lewe kan bly. Dis die dilemma waarin duisende boere vandag sit. Is dit herwaarts of derwaarts, of na die naaste stukke begrafnisgrond wat nog oor is?

Die ANC het op sy onlangse kongres “grondhervorming” een van die hoekstene van sy verkiesingsveldtog vir volgende jaar se algemene verkiesing gemaak. Die rede is dat hy, net soos Robert Mugabe, baie steun in veral stedelike gebiede verloor het en gevaar loop om nog munisipaliteite aan opposisiepartye af te staan.

Nou kom Cyril Ramaphosa op die toneel, met die goeie bedoelings, maar met ’n gedugte, indien nie geslepe nie, teenstander in die persoon van Jacob Zuma. Al waarin laasgenoemde belangstel, is om sy hande so lank as moontlik in die geldlaai te hou. Sy hande en sy meelopers s’n. By die kongres maak Zuma grondvergrype een van die hoekstene van sy veldtog om dr. Dlamini-Zuma sy opvolger te maak. Ramaphosa word in ’n blik gedruk om dit te aanvaar, maar kry dit darem reg om ʼn caveat, of voorwaarde daar te stel: solank voedselsekerheid nie daaronder ly nie.

Hy hou egter nie rekening met die nar van Suid-Afrikaanse politiek, Julius Malema nie. Ja, ’n mens kon vir hom lag as hy nie so gevaarlik was nie. Malema het sy vyand, Jacob Zuma, verloor en in ’n poging om nog politiek relevant te bly, meer militant as selfs Mao Zedong in die destydse China geword. Ons kom vat julle grond, sê hy, of dit nou plaasgrond of stedelike grond is. Julle het dit gesteel, sê hy vir wit Suid-Afrikaners. En ja, ons kom vir julle, ons kom om julle kele af te sny. Omdat julle wit is. Nie ver van die wit boer se plaas in Limpopo nie gebeur juis dit: ’n wit boer en sy vrou word oorval. Hulle word vasgebind en die vrou word verkrag. Dan word albei met strykysters onder hul voetsole gemartel voor hulle keelaf gesny word. ’n Gewone rooftog? Nouliks, waarom dan al die wreedheid?

Intussen sit Ramaphosa met ’n krisis: hy het twee moontlikhede: laat Malema vervolg of kry hom weer terug in die kraal. Is hy weer lid van die ANC, kan hy in toom gehou word. Bly hy buite, hol hy sonder ’n toom rond. Malema, slinks soos hy is, weet dit, en hy probeer so radikaal moontlik wees. Vergete is nasiebou, vergete is doodgewone menslikheid. Om sy punt tuis te bring, word lede van die EFF aangemoedig om oral wanorde te saai en EFF-leiers kan die pers letterlik aan die keel gryp.

Hoe die stryd tussen die EFF en die ANC uiteindelik gaan uitkristalliseer is iets waarop die hele Suid-Afrika met ingehoue asem wag. Die groter vraag is egter wat is beter: om in die middel van die nag jou grond te moet ontruim, of om in die middel van die nag gemartel te word. Kyk, nie een van die twee is goed nie en nie en van die twee is beter nie. Maar kan ons ’n boer kwalik neem wat met sy gesin na Australië of een van Suid-Afrika se buurlande wil verhuis?

Lindiwe Sisulu, minister van buitelandse sake, dink blykbaar so. Sy eis ’n verskoning van Australië omdat die betrokke minister nie eers met die Suid-Afrikaanse regering oorleg gepleeg het om te hoor presies hoe dit met grondhervorming staan nie. Natuurlik het sy egter nie vertel hoeveel plaasmoorde daar in Suid-Afrika gepleeg word nie. Of van die wreedhede nie. Of dat dit amper net so sleg in sommige stedelike gebiede gaan nie.

En daar is ’n skare liberales wat nou swyg soos die graf. En nie gewillig is om ’n week of wat gratis en alleen op ’n naburige plaas in dieselfde Limpopo te gaan bly nie. Dat die grondkwessie opgelos moet word, is seker, maar as die ANC nou die Grondwet verander, kan hy dit weer doen. Malema het in Port Elizabeth bewys dat hy hom by geen ooreenkoms hou as hy wittes kan bykom nie.

Was diegene wat in 1994 gewaarsku het dat jy nooit die ANC kan vertrou nie, dan reg? Wat van Ramaphosa, hy was dan daar? Kan jy ooit die ANC vertrou?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Andreas Meyer ·

Maar nie 100%. Die “Native Land Act” van 1913 was nie daarop gemik nie om Swartes van grond te ontneem. Dis egter ‘n verspreide leuen. Daardie wet het wel grond transaksies tussen Blankes en Swartes beperk. Sulke transaksies het toestemming van die owerhede vereis. Dit was veral daarop gemik om Swartes teen verdere verlies van grond deur verkope aan soms uitgeslape Blankes te beskerm. Die bestaand “grondvraagstuk” wys vir my weereens dat die konsep van partisie soos voorgestel deur die KP (Konserwatiewe Party) en ander behoudende groepe soos die Oranjewerkers die beste oplossing was (en eintlik nog is).

Tom ·

Tienie, die “rant” is sekerlik alles op waarheid gebaseer, maar wat se oplossings doen jy aan die hand?

Eish ·

Ek is beïndruk met dié artikel asook die vorige twee wat die waarheid onverdun neerpen sonder die politieke fieterjasies en kleinserigheid.
Die skrif is aan die muur…

Koos ·

Tienie, wat jou laaste sin betref, wil ek verder gaan: Kan jy hoegenaamd enige politikus vertrou? Hulle almal span hulle seile na die wind (stemme lok?), want sien as hulle dit nie doen nie, is hulle werkloos.
Dis die vieslikheid van ons land se politiek. Ek sien dit so: Ons parlament is soos ‘n klub waarvan sowat 5 miljoen mense lede geld betaal (belasting betalers), maar 50 miljoen mense kan besluit wat met daardie ledegeld moet gebeur.

Reguit ·

Die skrif is lankal teen die muur. Die vraag is: Kan iemand dit lees? Besef die wittes in SA dat hulle gaan bloei? Of sit hulle maar nes ‘n trop dom skape en wag daarvoor?

Hendrik ·

Hoe om hierdie situasie te oorleef en dan anderkant (na 2019 – verkiesing) uit te kom sterker is ‘n hele slim stategieplan nodig van ons leierskap. Wie is hierdie leierskap? Tans is dit die Solidariteits Beweging met 450 000 lede die leierskap volgens my. Dit voel vir my asof die ANC alliansies ons al vir jare en jare uitoorle. Eers by Kodesa en daarna met die geleidelike paddakook (AA, BEE ens) van die Afrikaner. Hoe kan ons die skaakspel beter speel? Is ons konferensies net te oop en moet ons nie meer agter geslote deure konfereer?

Jerry ·

Reguit jy is reg dat die wittes soos n trop skape sit en wag. Die rede is tog voor die hand liggend, hulle wag en hoop hulle leiers kom tot hul sinne en beding n uitkoms, inteendeel enige uitkoms. Hulle hoop egter verniet, want dit is vir n geruime tyd duidellik dat die Afrikaner leiers nie daarin belangstel om n hand van vriendskap uit te reik na CR en om te versoen nie.

Jerry ·

Party mense se gee CR n kans, ander se weer nee, hy verdien nie n kans nie, want nie hy of die ANC kan vertrou word nie. Ek se, tref onderskeid tussen die gematigdes en die anargiste en kies dan aan wie se kant jy wil wees. In SA kies ek om my besigheid te doen met die gematigdes soos CR al is dit so dat ek hom nie vertrou nie, vertrou ek die ander nog minder. Ten minste maak CR nie populistiese en opswepende uitsprake teenoor blankes nie. Ten minste wys hy ook goeie intensies en sover het hy gedoen wat hy gese het hy gaan doen. Met CR hoef ons nie die wa voor die perde in te span nie, ons kan gerus hom n kans gee en terwyl ons hom n kans gee kan ons versoenend optree en saam met hom om die tafel gaan sit en vra vir staatshulp vir plaasbeveiliging. Inteendeel ons kan vir alles gaan vra wat ons wil he en ons sal vir eens en vir altyd presies weet waar ons staan. Ons probleem le egter by ons leiers se onwilligheid om te versoen. Vir al wat ons weet mislei ons eie leiers ons en is hulle die wat nie vertrou kan word nie. Hulle ry darem ook maar lekker op die rug van ledegetalle en het tot nou toe met niks lewensvatbaar en gewaarborg vorendag gekom nie. Hulle is ook gekant daarteen dat lede emigreer en dit laat my wonder!

Fanie Kemp ·

Dankie vir insiggewende artikels wat baie mense aan die dink behoort te sit.

Net terwille van konteks: Tydens vorige bedeling is grond in swart besit en blanke besit onteien ( met vergoeding ) met groter doel die konsolidering van grond besit patrone.
Die beleid van Afsonderlike Ontwikkeling se ideaal was Onafhanklike State volgens die Volkere verskeidenheid in die land.
Dr. Verwoerd se visie was ‘n Suider Afrika Gemenebes van Nasies.

kobia ·

En Cyril…..hy het dan baie baie groot grond waarop sy paar buffels en gekleurde bokke loop….. gaan hy van dit ook afstaan aan sy landsmense wat grond wil vat….of is sy velkleur verkeerd?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.