Israel: 50ste herdenking van die Sesdaagse Oorlog

israel-sesdaagse-oorlog-Soldiers_Western_Wall_1967

Soldate by die Klaagmuur in 1967. Foto: En.wikipedia.org

Die Sesdaagse Oorlog is ʼn handboekvoorbeeld van ʼn uiters suksesvolle “verdedigende aanval” en is vergelykbaar met die Duitse Ryk se “Blitzkrieg”. Die aanvalsplanne was inderdaad geskoei op die lesse van Hitler se “Blitzkrieg” en toon die aanpasbaarheid van die Israeli’s, naamlik dat hulle selfs van hul grootste vyand iets geleer het.

Die oorlog moet gesien word in die konteks van die Koue Oorlog en die ontluikende Derde Wêreld. In die 1950’s en 1960’s het die meeste voormalige kolonies onafhanklik geraak en ʼn nominaal onverbonde, maar in praktyk sosialistiese en anti-Westerse bondgenootskap gesluit met die Beweging van die Onverbonde Lande.

Veral Egipte met sy charismatiese en nasionalistiese leier, Gamal Abd-el Nasser, het grootmond die leiding geneem met Arabiese en Derde Wêreld-solidariteit. Israel was al sedert sy stigting in 1948 vir die Arabiere ʼn steurnis, en die Arabiere wou nou vol selfvertroue vir Israel ‘n nekslag toedien. Die Sowjet-Unie, aanvanklik positief gesind teenoor Israel, en later neutraal, het die kant van die Arabiere gekies omdat hulle internasionaal veel meer gewig gehad het as Israel. Israel se Westerse bondgenote, by name die VSA, Brittanje en Frankryk, het Israel nie in die aanloop tot die Sesdaagse Oorlog ondersteun nie.

Onder die indruk dat Israel alleen staan en die Arabiere die steun van die wêreld het, het Nasser en sy bondgenote Israel bedreig en luidkeels sy vernietiging aangekondig, ondersteun deur opgesweepte skares. Siriese paramilitêre magte het probeer om Israel binne te val en is afgeweer. Daar is ook valse bewerings gemaak dat Israel troepe teen die Egiptiese grens saamtrek. Israel is uitgelok deur die massiewe opmars van Egiptiese troepe op die Sinai op sy suidelike grens. Dié gebied is volgens ʼn internasionale ooreenkoms gedemilitariseer en deur VN-vredestroepe bewaak, maar hulle het geswig vir Nasser se dreigemente en onttrek. Ook die Seestraat van Tiran, Israel se toegang van sy suidelike hawe Eilat na die Rooi See, is deur Nasser gesluit. Israel, skaars 20 jaar oud, het alreeds twee oorloë teen sy Arabiese bure geveg en het gevrees dat hy uitgewis kan word. Die land en sy mense was egter dié keer gereed om hul bestaansreg te verdedig. Om ʼn aanval te verhoed moes Israel eerste optree.

Die oorlog het op 5 Junie 1967 begin met feitlik die hele Israelse lugmag wat Egiptiese lugmagbasisse aangeval het. Drie aanvalle is kort op mekaar geloods en die hele Egiptiese lugmag is vernietig, meesal op die grond. Ook vliegtuie van Sirië en Jordanië is op groot skaal afgeskiet. Israel het 19 vliegtuie verloor, Egipte en ander Arabiese lande meer as 400.

Kort ná die lugaanvalle het die landoffensief begin, veral teen die Sinai-skiereiland van Egipte. Egipte het meer troepe en militêre gereedskap gehad, maar sy troepe was swak opgelei en nie gemotiveerd nie, terwyl Israel uitstekende generaals (soos Moshe Dajan, Ariel Sharon, Yitzak Rabin en Avraham Yoffe) en goed opgeleide en hoogs gemotiveerde troepe gehad het. Verder het Israel die voordeel van lugmagondersteuning gehad, wat Egipte nie meer gehad het nie. Ná die eerste merkwaardige suksesse van Israel het die Egiptiese weermag verkrummel en die Egiptiese soldate tot aan die ander kant van die Suezkanaal gevlug.

Ook aan die oostelike front het Israel ná Jordanië se mortieraanvalle op Wes-Jerusalem vinnig beweeg en die Jordaniërs tot anderkant die Jordaan verdryf. Eintlik was die oorlog reeds ná twee dae vir die Arabiere verlore, maar hul trots het hulle genoop om vir nog vier dae verder te veg. Israel het 700 soldate verloor, teenoor 20 000 aan die kant van die Arabiere. Dit was ʼn klinkklare oorwinning vir Israel, en die Weste het hulle bewonder en verheerlik. Dit het die Dawid teen Goliat-narratief gevestig, maar die Arabiese haat en nyd jeens Israel net verder versterk.

Israel het sy grondgebied geweldig uitgebrei en in oppervlakte verdriedubbel. Die Gaza-strook en die Sinai-skiereiland is by Egipte afgevat, die Wes-Jordaanland en die historiese oostelike deel van Jerusalem (waar Jordanië alle moskee beskadig het) is by Jordanië afgevat en die strategiese Golanhoogtes by Sirië.

Ongelukkig kon ook die Sesdaagse Oorlog nie vrede vir Israel bewerkstellig nie, maar dit het die land wel as moondheid in die Midde-Ooste gevestig. Later, in 1978, kon Israel met Nasser se meer gematigde opvolger, Anwar el-Saddat, ʼn ooreenkoms bereik en is die Sinai-skiereiland teruggegee in ruil vir vrede. Die ander verowerde gebiede is egter behou. In 1994 kon daar ook vrede met Jordanië gesluit word en is outonomie aan die Gaza-strook en dele van die Wes-Jordaanland gegee.

Werklike vrede tussen Israel en sy Arabiese bure, insluitend die Palestyne, blyk nog ver te wees, maar Israel is vandag militêr en ekonomies sterk genoeg om op sy eie bene te staan en enige aanval af te weer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Fires ·

Hou maar eerder die Israelies se takiek wat geskoei was op Hitler se ‘Blitzkrieg’ uit die berig voordat dit as ‘Nazi verheerliking’ uitgekryt word

Bets ·

Regtig merkwaardig! Die ses dae vanaf 5 Junie tot 10 Junie 1967 is sonder gelyke in die geskiedenis van die oorloë van die wêreld. Soos die stafhoof van die IDF dit opgesom het in n telegram aan die na- oorlogse vieringe in Tel Aviv : ” This is the day that Hashem has made; we shall exult and rejoice on it”. Verder het hy die eer ontvang om die oorlog te benoem, en het die naam gekies ‘Sesdaagse oorlog’ , aangesien dit vir hom aan die ses skeppingsdae laat dink het ( uit publikasie van dr Hagi Ben Artzi 2017). Die uitbundige 50jarige vieringe vanjaar was n groot belewenis!

jaco ·

dis onmoontlik dat Jordanië, wat ‘n moslemland is. moskees in Jerusalem sou beskadig. dalk word bedoel sinagoges en kerke

Sebastiaan ·

Jy is reg Jaco, dit was inderdaad sinagoges. Jammer vir die fout.

Eish ·

Daar is besluit deur die Israelse regering om dit die ses daagse oorlog te noem, verwysend na die skepping. Die land het n Vriend in n baie hoë plek. Vandag het hul die vermoë wat as die Simson opsie bekend staan, wat impliseer dat indien hul dermate bedreig word dat totale uitwissing n werklikheid word, vat hul die hele bedreiging, van waar dit ook al kom, saam die ewigheid in. Mag dit nooit tot dit kom nie.

Gideon ·

Een van die beste krygsverhale in die geskiedenis. Ook die wil van ‘n volk om te bestaan en te oorleef. Die Jode het een pad gekies, die Afrikaners ‘n ander. Vergelyk die twee.

JC ·

Baie dankie Gideon, Nee, moenie bekommerd wees nie, daardie wigte en teenwigte gaan NOU inskop hoor, dan sal die verdienstelikheid van ons keuse bewys word ;)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.