Kampus-struggle: Só maak jy sin daarvan

uk-betogings2

Brande is tydens die betogings by die Universiteit Kaapstad gestig (Februarie 2016) Foto: Verskaf

Ek lees die naweek ’n artikel in City Press van ’n student aan die Universiteit van Kaapstad (UK), ene Wanelisa Albert, wat verduidelik waarom swart studente aan dié universiteit hul toevlug tot geweld geneem het in reaksie op wat hulle as “koloniale wit verdrukking” sien.

Sy skryf onder meer: “Dit lyk of geweld onvermydelik is wanneer ’n instelling soos die UK, wat daarop uit is om die koloniale erfenis en wit heerskappy in stand te hou deur die verontmensliking van swart liggame, teen ’n radikale krag soos RMF [#RhodesMustFall] bots. Dekolonisering vra geen toestemming nie. Dit mors met die koloniale orde wat swart liggame as onderdanige wesens handhaaf bo-oor ’n gewelddadige wit heerssugtige bobou. Dekolonisering is slegs gewelddadig omdat die bekendstelling van kolonialisme gewelddadig was en die handhawing van kolonialisme deur instellings soos die UK gewelddadig is.”

Met ander woorde, die geweldpleging van die swart studente op dié kampus (en elders op Stellenbosch, Potchefstroom en Pretoria) is gewelddadig omdat die koloniale (lees: wit) kultuur daar “met geweld” aan die swartes opgedwing word.

Dis seker maklik om in woede te ontsteek en sulke uitsprake as dom, agterlik en oningelig af te maak. Dalk moet ’n mens maar meewarig jou kop skud en terugdink aan jou eie jeug, toe jy nog self gedink het jy het die wêreld se wysheid in pag. (Dis nou voor my hare wit geword en begin uitval het.)

Dis meer produktief om diep asem te haal, tot tien te tel en te verstaan waar dié soort woede vandaan kom. Al is dit bloot om dit beter te kan beveg.

Ons eie geskiedenis bied ’n bietjie verheldering. Ná die verskrikkings van die Anglo-Boereoorlog was dit nie soseer die eerste geslag, dié wat die oorlog aan eie lyf ondervind het, wat militant geword het nie.

Dit was die tweede geslag, dié wat in die oorlog kinders was of net ná die oorlog gebore is, wat verantwoordelik was vir die ontwikkeling van die aggressiewe Afrikanernasionalisme in die jare dertig en veertig. Dit was dié radikalisering wat regstreeks verantwoordelik was vir die ontwikkeling van die apartheidsbeleid. Wat daarvoor gesorg het dat die geografiese verdeling van die land tussen wit en swart, in ’n onverdraagsame en rassistiese permanente baasskapbeleid ontaard het.

Wesenlik gebeur dieselfde vandag. Dis die tweede geslag swartes wat radikaliseer. Dis dié geslag wat ontwikkel tot swart fasciste.

Weliswaar was die eerste geslag tydens die struggle self nie juis ’n toonbeeld van demokrasie en verdraagsaamheid nie.

In 1986 het die Ierse joernalis en akademikus Conor Cruise O’Brien, ’n bekende anti-apartheidsaktivis, Suid-Afrika besoek. Dit het gebeur in weerwil van die ANC se akademiese boikot, deel van sy beleid dat Suid-Afrika op alle denkbare terreine geïsoleer moet word.

Swart ANC-gesinde studente aan die UK het sy lesings ontwrig en hom basies die land uitgejaag. Met die seën, moet bygesê word, van talle wit ANC-simpatiseerders.

Só erg was dit dat die liberale Cape Times, geen ondersteuner van die apartheidsbeleid nie, ’n hoofartikel geplaas het onder die titel “Intellectual terrorism”. Daarin is die retoriese vraag gestel of sulke mense hoegenaamd op ’n universiteit tuishoort, of eerder by ’n instelling wat verbind is tot die bevordering van ’n totalitêre ideologie.

Dit nadat lesings van mense soos Helen Suzman en Mangosuthu Buthelezi ook deur radikale studente op verskeie kampusse ontwrig is, bloot omdat hul teenkanting teen apartheid nie met steun aan die ANC en SAKP gepaardgegaan het nie.

Destyds kon ’n mens, as jy baie moeite wou doen, nog iets in die studente se houding vind wat vir versagtende omstandighede pleit. Hul onverdraagsaamheid het, ironies genoeg, in diens gestaan van die nierassigheid wat die ANC/SAKP destyds gekenmerk het.

Vir deesdae se onverdraagsaamheid geld soortgelyke versagtende omstandighede nie. Hulle predik openlik haat teenoor alles wat wit, Afrikaans en Westers (“kolonialisties”) is.

Daarom verbrand hulle kunswerke en plaas die fotobeelde op Facebook of Twitter met die teks dat dit “whiteness” is wat verbrand word. Daarom kan ’n student, Simon Rakei, in ’n onderhoud met die Sunday Times sê die verbranding van kunswerke is “intrinsiek” deel van hul “dekoloniseringsproses” en dat boeke van wit historici “nie in dié stadium” ook verbrand word nie.

Daarom dra hulle T-hemde met tekste wat moord op wit mense bepleit. Daarom skryf ’n swart vrouestudent op die swartbord voor in ’n lesinglokaal “Afrikaans is shit”.

Daarom kan hulle ter regverdiging van hul houding beweer dat swartes nie rassisties kán wees nie, slegs wittes kan dit wees. Hulle herdefinieer rassisme as ’n houding wat saamval met die uitoefening van mag – en aangesien swartes volgens hulle geen mag in Suid-Afrika het nie, is hulle nie rassisties nie.

In werklikheid is hulle natuurlik wel deeglik rassisties. Erger nog: In hul verregaande onverdraagsaamheid vertoon hulle groot ooreenkomste met die terreur wat alle totalitêre bewegings, met inbegrip van die Duitse Nazi’s, die Italiaanse Fasciste en die Kommuniste in die Sowjetunie, die Oosblok en China, aan die dag gelê het.

Elke woord wat hier bo oor die studente gesê is, geld bowendien vir hul politieke front, die EFF, en sy leier, Julius Malema.

Wat kan daaraan gedoen word? Daar is geen towerstaffie wat ’n mens kan swaai om alles in ’n ommesientjie reg te maak nie. Dis ’n langtermyn-proses wat baie geduld, baie vasberadenheid en baie sweet en trane gaan verg.

Om mee te begin moet ons die mense nie in eie munt terugbetaal nie. Dan daal jy tot hul peil, jy vererger sake en jy doen presies wat hulle wil hê.

Terselfdertyd moet jy nie toelaat dat hulle oor ons loop nie. Die wyse waarop rektor ná rektor (onder wie SlimWim op Stellenbosch) soos jellievisse voor die studente gaan lê het, lok slegs minagting uit.

Bly beleefd maar ferm. Stáán – binne perke van die wet en van gewone ordentlikheid – op jou regte. Moenie dat mense soos Anton van Niekerk en Max du Preez jou van jou stuk laat bring nie.

En gebruik die vryheid wat die Grondwet ons toelaat tot die maksimum.

Dit gaan uiteindelik om die oorlewing van sowel die Afrikanervolk, die Afrikaanse taal en vryheid en demokrasie in ons land. Dit mág nie verlore gaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Frans ·

Die skrif was aan die muur toe onderhandellaars by Kodesa ruggraatloos begin word het en geglo het dat die onderhandellaars aan die anderkant van die tafel geen bymotiewe gekoester het nie.

Dit was duidelik toe Mandela geweier het om geweld af te sweer en tog vrygelaat is omdat daarvoor buite en binnelandse druk geswig is die destydse NP en sy leiers geweeg en te lig bevind is.

‘n Volk se vryheid en toekoms is in die hande van ‘n swart meerderheidsregering
gelos is met wigte en teenwigte wat niks beteken as jy nie finansieël instaat is om dit af te dwing nie.

chrisp ·

Mooi man baie waar.
Ons grootste probleem gaan wees om kalm te bly maar ons moet.
Maar sterk staan is nie onderhandelbaar nie.

WeesWys ·

‘n Uitstekende opsomming.

Jesus Christus sê: Moenie ‘n slegte mens weerstaan nie. Meer nog: Julle moet julle vyande liefhê. Verder: Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, maar OORWIN die kwaad deur die goeie. Nou is dit tyd om te bid vir wysheid. Dawid het God telkens geraadpleeg: Hoe sal ek veg…? My wyse pa het my geleer dat “Fools rush in where angels fear to tread.” Wie nie sterk is nie, moet slim wees. Dit help nie om te sê hierdie is politiek; hou God en godsdiens maar hieruit nie. Daardie is dwase woorde. As die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagters. Dien ons nog die Here, die God van ons Vaders? Dan moet ons maak soos Dawid. Here, ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U. Dan moet ons op Sý voorwaardes in gehoorsaamheid aan Hom in Sy wysheid beweeg. Dan sal Hy in Sy ALMAG vir ons veg. Ás ons bereid is om ons te onderwerp aan Sy wil.

Marius ·

Dis waar wat jy sê. Ons moet op God vertrou, maar ons moet God vertrou vir die regte redes, nie vir politieke ideologieë se bevordering nie. Ons las moet wees om die verlorenheid in alle mense van alle rasse te erken. Alle mense wat aan Hom behoort is Sy verbondsvolk, ongeag ras of kleur. Oorloë in die naam van geloof is sedert die vroegste tye die gebruik om mag te behou. Jesus het dit alles kom verbrokkel, en al was daar baie volke wat sedertdien geloof gebruik het on hul ideologieë te bevorder is dit net glad nie die essensie van ware Christendom nie. Ons las moet wees dat daar ware herlewing in alle bevolkingsgroepe moet gebeur. Dis net Hy wat ware hartsversoening tussen mense kan bring. Ware versoening gaan nie daaroor om te kruip by die ander party nie, dit gaan om God se eer.

Marius ·

Die verskil tussen my en jou opvoeding en die wat oor standbeelde klouter is dat ons Pa’s ons tien teen een van die standbeeld af pakslae sou gegee het tot in die lesinglokaal of selfs tot by die huis want hulle sou sê ons mors hul tyd. Die meeste van hierdie vandaliste het nie pa’s nie. Dis die hartseer realiteit van ‘n gebroke samelewing. Dis waar ons gebed moet wees. Ons praat ook van ‘n kultuur waar die individu se opinie aan die groep s’n onderhewig is. Dis waarom ons moet bid vir goeie leiers met gesonde waardes, want die Malemas sal ons land se ondergang beteken. Die probleem is dat hardwerkende swart mense besig is om te doen wat ek en jy doen- Om vir hul gesinne te sorg. Enige mens wat opgevoed is met gesonde waardes bly weg van radikalisme af want hulle weet dis gevaarlik.

Marius ·

Die verskil tussen my en jou opvoeding en die wat oor standbeelde klouter is dat ons Pa’s ons tien teen een van die standbeeld af pakslae sou gegee het tot in die lesinglokaal of selfs tot by die huis want hulle sou sê ons mors hul tyd en geld. Die meeste van hierdie vandaliste het nie pa’s nie. Dis die hartseer realiteit van ‘n gebroke samelewing. Dis waar ons gebed moet wees. Ons praat ook van ‘n kultuur waar die individu se opinie aan die groep s’n onderhewig is. Dis waarom ons moet bid vir goeie leiers met gesonde waardes, want die Malemas sal ons land se ondergang beteken. Die probleem is dat hardwerkende swart mense besig is om te doen wat ek en jy doen- Om vir hul gesinne te sorg. Enige mens wat opgevoed is met gesonde waardes bly weg van radikalisme af want hulle weet dis gevaarlik, en daar is te veel om te verloor.

Adoons ·

Of swartmense in die algemeen rassisties kan wees, is ‘n teoretiese vraag. Hulle kan waarskynlik. Of Suid-Afrikaanse swartmense met hul EFF-tipe gedrag in die jaar 2016 hulle skuldig maak aan rassisme, hang seker af van wat mens verstaan onder rassisme. HAT definieer rassisme onder andere as ‘n denkrigting wat aanneem dat ‘n besondere ras meerderwaardig is en die reg het om ander rasse te oorheers. Ek is van mening dat die EFF se optrede eerder uit ‘n gevoel van minderwaardigheid en ‘n gevoel van magteloosheid spruit, eerder as uit ‘n gevoel van meerderwaardigheid teenoor witmense. En daarom sou ‘n woord soos rassehaat dalk meer akkuraat wees as rassisme. Uiteindelik is gevoelens van minderwaardigheid, gelykwaardigheid en meerderwaardigheid die groot bepaler van interpersoonlike verhoudinge.

Joh. 3:16 ·

Ek voel om net saam te stem met bognoemde kommentaar.

Die Here stuur swaar tye om Sy kinders na die oppervlak te dryf. Die ware gelowiges in Jesus Christus moet ophou om hulle self te troos met hulle geloof en begin om hulle geloof te leef…

Jaques ·

Goeie opsomming. Dit is veral verblydend om te sien dat mense soos die wat reageer, hulle tot die Bybel wend en Christus se leiding soek vir die regte optrede. Kom ons vat saam hande met christene van alle rasse om hierdie situasie te help omkeer – vir die wat glo werk alles ten goede!

JC ·

Goeie artikel, baie, baie dankie daarvoor.

Ons moet sterk staan, en nie hierdie terroriste hul sin gee nie!

Reinhardt ·

Weereens ‘n goeie artikel Leopold. Ons moet ook net besef dat hierdie mense wat die klasse so ontwrig ‘n baie klein, vokale minderheid is. Die media wys nie die goeie swart, bruin en wit mense daarbuite wat probeer om SA beter te maak nie. Hulle konsentreer op die 1000 radikales…in n land van 55miljoen.

frik ·

In my opinie is die beswaar teen Afrikaans niks anders as swart rasissme. Hulle het nou gesien die owerhede gee toe, waar gaan dit eindig. Gratis alles, as hy vir die kursus registreer wil hulle soos op skool net deurgesit word, en sy graad aan die einde van die kursus kom haal.

marius ·

Dankie vir die wonderlike kommentaar. Ons kan vorentoe gaan. Vriendelike gesigte en hulpvaardigheid teenoor ander sal maak dat die meerderheid ons sal sien as ‘n besonderse klomp mense. Ons kan aan so baie geleenthede dink waar ons saam met ander bevolkingsgroepe boosheid kon oorwin. Waar lig en waarheid is sal duisternis vlug, al is dit in die vorm van rooi oorpakke.

Egbert ·

Om te vertrou beteken ook om voor te berei vir die geveg /stryd. Die uitkoms is in die Here se hand. So het die Voortrekkers afgetrek om teen Dingaan te gaan veg. Hulle het elke dag gebid maar nie in die laer bly sit en gehoop op ‘n wonderwerk nie. Ons beleef tans hulle 1838, die donkerste jaar van hulle stryd om oorlewing.
Egbert

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.