Klimaatsverandering-aktivisme gaan jou dood beteken

Greta Thunberg, die Sweedse omgewingsaktivis, by die klimaat-aksieberaad by die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York. (Foto: Jason DeCrow, AP)

Die pas afgelope spesiale klimaatsveranderingberaad wat by die VN gehou is, het die totale histerie van die klimaatsverandering-aktivisme op die wêreldverhoog geplaas. Die idee het in die laaste paar jaar begin posvat dat die aarde binne ʼn dekade of wat tot ʼn einde gaan kom as regerings nie onmiddellik drastiese stappe doen tot ʼn laekoolstof-ekonomie nie.

Die klimaatsverandering-aktiviste, wat toenemend ook politici en besigheidslui insluit, is besig om ʼn groter bedreiging vir die toekoms van Westerlinge te word as die besoedeling waarmee ons hedendaags gekonfronteer word.

Trouens, die kanse dat ons ʼn wêreldwye (ekonomiese) ineenstorting gaan kry, is sterker as dat die wêreld tot niet sal gaan.

Greta word die kultusleier

Die klimaatsverandering-aktiviste en instemmende politici het intussen in ʼn kultus ontaard en hul simboliese leiersfiguur is die 16-jarige meisie van Swede, Greta Thunberg.

Dié meisie het in 2018 ʼn skoolstaking gereël oor klimaatsverandering en is sedertdien die hooffiguur in die klimaatspolitiek.

Thunberg se linksgesinde ouers, ʼn operasanger en ʼn akteur, het van kleins af ʼn vrees-psigose by haar ingeprent van ʼn wêreld wat vergaan. Sy het toe reeds ʼn vrees-psigose oor klimaatstoestande ontwikkel en later ophou eet en drink. Ten spyte daarvan dat sy ly aan Asperger-sindroom en obsessiewe kompulsiewe gedrag, het dit nie haar ouers of klimaatsveranderingaktiviste gekeer om haar in hul veldtog in te span nie.

Om haar “groen” status te beklemtoon, is sy in ʼn seiljag van Swede na New York “ingeskeep” om die klimaatsveranderingberaad toe te spreek.

Die meisie se toespraak was dan ook die fokuspunt van die beraad oor klimaatsverandering. In ʼn emosionele toespraak blameer sy regerings wat ekonomiese groei nastreef, terwyl massa-uitsterwing die aarde in die gesig staar. Politici het tou gestaan vir ʼn foto saam met die jong dame.

In die proses is die slagordes opgestel. Klimaatsverandering-aktivisme, wat al reeds deur verskeie internasionale berade die laaste 20 jaar ʼn debatspunt geword het, is duidelik nou die fokuspunt van ʼn bende van geregtigheidstryders en linksgesinde politici.

Dié aktivisme het nou die vorm van histerie begin aanneem en gaan wêreldpolitiek dalk vir dekades oorheers.

Die einde van die wêreld

Laas week het miljoene skoolkinders wêreldwyd aan betogings deelgeneem wat die VN-klimaatsveranderingberaad vooruitgegaan het. Hulle eis wêreldwye aksie en die onmiddellike instelling van laekoolstof-ekonomieë. Sommige betogers eis selfs dat “ons” binne 10 jaar totaal sonder enige koolstofspoor moet leef.

Die sentrale tema was dat die wêreld besig is om te vergaan. Volwassenes het reeds die kinders so geïndoktrineer dat die meeste glo dat hulle binne 10-20 jaar van suurstofnood sal sterf, en dat ʼn warmer aarde die pole gaan laat smelt en veroorsaak dat die hele wêreld oorstroom gaan word.

Hulle voorsien ʼn tipe apokalips.

Die histerie is nie op wetenskaplike bewyse gegrond nie, maar pseudo-wetenskaplike aannames van bevoorregte Westerlinge, wat gemaklike lewens lei ten spyte van hul aandrang op ʼn laekoolstof-lewenstyl vir bevolkings. Wat presies ons kan verwag in hierdie lae- of geen koolstof ekonomieë is nie duidelik nie, behalwe dat dit ʼn terugkeer is na ʼn pre-industriële rewolusie natuurstaat.

In die klimaatkultus se Utopie sal mense goggas eet vir proteïene, in klein wooneenhede saambondel, huwelike vermy en veral nie kinders kry nie, en natuurlik: om op te hou om te vlieg en rond te ry. Wie en wat die massas van voedsel sal voorsien, is nie duidelik nie.

Klimaat-apokalipsvoorspellings is besig om ʼn geslag van doodbang mense te kweek wat wonder of die wêreld enige oomblik gaan vergaan en in ʼn toestand van permanente vrees leef. Dit volg op vorige apokalips-scenario’s wat erg oordrewe was.

Só is in die 1970’s voorspel dat die wêreld ʼn Ystydperk betree, in die 1980’s dat die osoonlaag die pole gaan laat smelt (kweekhuiseffek) en verskeie aardverwarming-scenario’s is in die vroeë 2000’s aangehang waar seevlakke teen 2020 met twee meter gaan styg. Nadat die woord aardverwarming in onbruik verval het, word nou eenvoudig na klimaatsverandering verwys.

Enige natuurverskynsel soos droogtes, te veel reën, orkane, sneeustorms ensovoorts, word nou as mensgemaak beskryf.

Besoedeling is ʼn ernstige probleem

Uiteraard is daar rede om bekommerd te wees oor die grootskaalse besoedeling van lug, grond en water en die mens se invloed op die klimaat. Sommige stede in China en Indië, en ook in Suid-Afrika se luggehalte is so sleg dat mense verskeie siektes opdoen. Terselfdertyd is die oormatige gebruik van plastiekprodukte wêreldwyd ʼn ernstige probleem. Besoedeling en die gebruik van plastiek is besig om riviere, grond, oseane en selfs ons voedsel te vergiftig.

Terwyl Westerse regerings hul bes doen om laekoolstof-ekonomieë te skep, is die spreekwoordelike “olifant in die vertrek” en dat ontwikkelende lande soos China, Indië, Indonesië en Nigerië die grootste toekomstige sondaars gaan wees in die stryd teen besoedeling. Dié lande se bevolkings benodig enorme hoeveelhede energie om uit hul armoede te ontsnap.

Die fokus van die Westerse klimaatsverandering-aktivisme is egter eerder op die stabiele en selfs verkleinende bevolkings van Europa en Noord-Amerika wat reeds miljarde dollars spandeer op alternatiewe energiebronne, terwyl lande soos China rustig voortgaan om steenkoolkragsentrales te bou. Terloops, China beplan tans 226 GW se nuwe steenkoolkragsentrales. Dit is gelykstaande aan 45 Medupi-steenkoolkragsentrales, wat tans in Suid-Afrika gebou word (Medupi gaan 4,8 GW lewer).

Bevolkingsontploffings in die Derde Wêreld gaan hierdie aandrang op energie vererger. Die kritiek van klimaatsverandering-aktiviste is egter nie op China en Indië gerig nie, maar hoofsaaklik op die Amerikaanse President, Donald Trump wat die Parys-klimaatsveranderingverdrag vaarwel toegeroep het weens sy fokus op ekonomiese groei.

Dus, wat is die alternatief?

Alternatiewe energiebronne soos son- en windkrag het beperkings en daar is ook nie duidelikheid oor hul volhoubaarheid nie. Dis tans steeds erg duur (gaan probeer maar jou huis met sonkrag aandryf) en die komponente moet gedurig vervang word teen groot koste en het self ʼn negatiewe invloed op die omgewing.

Die wet van Transvaal

Dit bring besigheidslui en politici se belang in alternatiewe energiebronne deur staatsubsidies onder die vergrootglas. Regerings dwing hul burgers om toenemend alternatiewe energie te gebruik, en regerings moet maatskappye wat alternatiewe energiekomponente produseer of installeer, subsidieer. Dit het uiteraard vir baie ʼn maklike manier van kitsrykdom geword, terwyl die verbruiker die gelag in die vorm van belastings moet betaal.

In ʼn onlangse artikel in die Duitse tydskrif Der Spiegel, word verwys na die koste van Energeiwende, oftewel Duitsland se pogings om oor te slaan na alternatiewe energiebronne. Net in die laaste vyf jaar het Energeiwende die Duitsers $36 miljard gekos (sowat R540 miljard), maar net 34% van Duitsland se energiebehoeftes word deur Energeiwende aangedryf en daar is geweldige teenstand teen die uitbreiding van die skema. Dit word bereken dat dit nog $3,8 triljoen (sowat R57 triljoen [12 nulle]) gaan kos voor Energeiwende uiteindelik die grootste energiebron gaan word.

Klimaatsverandering kan nie ontken word nie. Daar is wetenskaplike bewys dat die aarde se temperatuur wel ʼn styging toon. Wat egter nog nie duidelik is nie, is in watter mate die mens daarvoor verantwoordelik is en hoe dit die mens in die toekoms gaan raak. Aannames wat ons in die pers sien, is meestal maar net dit: aannames. Uiteraard is daar baie mense, regerings en maatskappye wat meedoen aan die besoedeling van water, grond en lug en aktivisme hierteen moet verwelkom word.

ʼn Politieke speelbal

Klimaatsverandering-aktivisme het egter die vermoë om die mensdom groot skade te berokken omdat dit op histerie gegrond is. Dit gaan erger word en regeringsveranderings veroorsaak wat eenvoudig die laer- en middelklas gaan belas om by “teikens” te probeer uitkom.

Jong mense soos Greta Thunberg word nie verniet geteiken nie. Hulle gaan in die toekoms die “groen” partye (wat al hoe meer militant gaan word) ondersteun wat eenvoudig belastings op die laer- en middelklas gaan afdwing.

Gaan kyk gerus na die koolstofbelasting op brandstof wat in 2018 in Frankryk ingestel is en tot die Geelbaadjie- (gilets jaunes) protesbeweging gelei het. Die laer- en middelklas is eenvoudig verder belas ten spyte van hul swaarkry.

Wat egter die toppunt van arrogansie is, is dat heelwat Hollywood-sterre en ander lede van die elite in klimaatsveranderingaktiviste ontpop het en wêreldwyd rondrits in privaat stralers om die bevolking in te lig van hul dwase weë. Die ironie van hul eie ryk bevoorregting blyk by hulle verby te gaan.

Selfs al gaan dit slegter in die wêreld weens bevolkingsgroei en groter besoedeling van ons natuurlike omgewing, gaan die wêreld nie binne die volgende dekade van klimaatsverandering tot ʼn einde kom nie.

Die koste van klein, meestal kosmetiese pogings, gaan egter elke wêreldburger se sak raak, ook hier in Suid-Afrika. Klimaatsverandering is die histerie wat die melkkoei van belastingsinsameling gaan droogmelk en self groot ekonomiese skade aanrig.

Greta Thunberg sal nie doodgaan weens ʼn gebrek aan suurstof nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Sê-maar-net ·

Baie dankie, Maroela-media. Ek het al begin dink dat ek die enigste mens in die wêreld is wat dié klein arrogante dogtertjie ‘n (verbode) pak slae wil gee. Veral daai “How dare you!” wat sy so teen die volwassenes uitgespoeg het. Die planeet Aarde is na alles ons enigste tuiste en ons mag (skoon) voetspore laat! Dis presies wat ons by die Voortrekkerbeweging geleer het!!

Tollie Louw ·

Trump het haar met reg geïgnoreer. Aardverwarming is ‘n foefie – waar het die see al gestyg?

Kobus ·

Terloop, sy gaan die Nobel ontvang vir vrede, plus miljoene dollers se prysgeld.

Jimmy ·

Kobus, dit is wat die span agter haar wil bereik. Dink aan die boeke, rolprente, toesprake, TV programme, ens. Hulle gaan Swede se grootste vermaakliheidsgroep word sedert ABBA.

Jerry ·

Die mens sal klimaatsverandering kan bestuur, maar tesame met besoedeling gaan mense en diere nie die water kan drink nie, selfs plante gaan nie groei nie. In Afrika, suid van die Sahara, asook reeds in SA is daar talle aanduiders wat die rooi ligte laat flikker mbt die besoedeling van ondergrondse water, riviere en damme! “Failed african states”, besettings en verswelging in menslike getalle, wettige en onwettige mynbou is hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik. Indien landbou grond opgeoffer word vir mynbou en dit onbeheers voortduur kan daar n tyd kom dat die Suid Afrikaanse ekonomie geld gaan he, maar nie drinkbare water en eetbare kos nie. Die skaal waarop besoedeling tans reeds plaasvind wek kommer nie net by aktiviste en navorsers nie, maar ook by gewone mense. Dit blyk net die SA regering te wees wie nie te bekommerd daaroor is nie, want solank as wat daar belastingbetalersgeld inkom, sal more mos maar vir homself sorg. Die ongeergdheid waarmee die SA regering besoedeling bejeen, behoort gewone mense, navorsers en aktiviste, slapelose nagte te besorg!

Afrikaner in Den Haag ·

Hier in Nederland is laerskole gesluit en Den Haag centrum is geblokkeerd weens grootschalig scholieren optog “voor de klimaat”. Ik vind het allemaal schijnheilig, want elke 3jaar heeft iedereen weer een nieuwe mobiele telefoon, produceer je kilogramme plastiek, en verbruik je voedsel van verre landen. En dan maar gaan protesteren om je een goed gevoel te geven. Hypocriet als de pest.

Retha Collett ·

Uitstekende artikel!! Is dit dalk in Engels ook beskikbaar? Wil graag deel met oorsese vriende.

Stephan de S ·

In 1970 is ek in ekonomie op universiteit geleer dat die aarde oor 50 jr nie genoeg kos sal kan produseer vir al die mense nie. Wel die 50 jr het gekom en daars nou n groter oorproduksie as destyds. So kom teorieë en gaan……een bangmaakstorie op die ander. Lande wat goed bestuur word het nooit hongersnood wat hul nie kan oorkom nie. Dis net korrupte lande waar regerings nie geld het om kos te koop nie…….die voedsel is wel beskikbaar. Wat die Skrif lank gelede reeds gesê het(as n oordeel oor dwaasheid), word nou waar: kinders lei ons. As Jerry hierbo eerlik wil wees,waar kom hy aan sy inligting: uit persoonlike waaarneming of ogv navorsing of het hy bloot andere se opinies gelees.

Petrus ·

Daar is baie goggas wat geëet kan word. Genoeg vars water bly ‘n probleem. Afval ook.

Jaco Grobler. ·

Hulle het jou nie geleer van GMO oeste nie het hulle? As die hele wereld vandag gesonde GMO en chemikaliee vrye voesel produseer het, was ons vir seker in die moeilikheid…

aj ·

Of Greta reg of verkeerd is maak nie regtig saak nie.

Doen in elk geval ‘die regte ding!”

Die ‘regte’ ding is om respek te betoon teenoor alle lewende wesens en die omgewing!

EVOS ·

In std 6, Graad 8 was ons geleer elke jaar kom die Son nader na die aarde en dat elke 50 jaar daar ‘n klimaatsverandering plaasvind. Ek is nou al meer as 30 jaar uit die skool en al die liberaliste spring nou op en af oor klimaatsveranderin waarvan ons in std6 geleer het.

So my vraag is eenvoudig, was ons verkeerd geleer gewees, of is dit net die toedrag van sake waarvoor jy en ek gemelk word agv liberalistiese dwarrel?

(Verwysing: Aardrykskunde 6 handboek)

Koos ·

Arme kind!
Van kleinsaf groot gemaak om bevrees, impulsief en obsessiewe gedrag te openbaar met boonop sindrome ook nog, wat verwag jy anders van so ‘n persoon???

Soos die Engelse sal sê: Her attitude exceeds her intelligence by far!!!

Natuurlik moet die mensdom die natuur en sy atmosfeer bewaar en koester, maar om hierdie teenoorgestelde metode van “gogga maak baba bang” – maw “baba maak gogga bang” – so blatant en domastrant te gebruik, maak nie veel haar af aan dié groot probleem nie.

Jaag mense eerder die harnas in, sou ek dink!

Marthinus Willemse ·

In evolusionêre terme is die mens maar `n paar sekondes op Aarde. Ons het fantasties ontwikkel, en leer uit ons foute, en korrigeer dit, soos ons groei en ontwikkel. Thunberg wil dat ons ophou om binnebrandmotors gebruik (haar ouers word verbied te vlieg!). Dit sal `n regressie van eeue beteken. Wat kan ons doen?

Waarom bekommerd wees oor klimaatverandering, terwyl lande triljoene dollar per jaar aan wapenvervaardiging spandeer? Kernwapens word meer gesofistikeerd en kragtiger. `n Kernoorlog sal meer skade aandoen as dit waaroor Thunberg skree. Wetenskaplikes se begrotings word jaar na jaar besnoei.

Miskien moet Thunberg en haar histeriese groep ingryp by wapenvervaardigers, en sorg dat wetenskaplikes meer geld kry. Skree minder en dink en doen meer.

Werner ·

Ek stem saam met Tollie Louw. Aardverwarming is snert. Die mens wil self Skepper speel. Tong in die kies – ek wil graag hierdie aktiviste se gesigte sien as Noag se ark oopsmelt!

D ·

Arme meisie! Die produk van haar ouers wat haar gemaak het wat sy nou is – vol vrees en sindrome! Hoe kan sy ooit n ‘normale’ lewe lei in die vrede en vreugde van Jesus Christus. Ek bid dat sy Hom sal ontmoet. Het haar ouers geen skaamte of verwyt dat hul haar so verrinneweer nie!
Die aarde sal tot niet gaan op die dag wat daarvoor bestem is, en al die natuurverskynsels neem toe tot daardie dag – dit leer ons uit die Skrif. Ook al die politieke en wêreldgebeure lei op na daardie dag. En ja, ons het n verantwoordelikheid om ons aarde op te pas.

John ·

Wat min mense weet en wat gerieflikheidswaarde stil gehou word is dat die wereld n koolstof droogte beleef. Vir optimale plantegroei benodig plante tussen 1000 & 2000 partikels per miljoen koolstof, op die oomblik is koolstof vlakke op 440. Plante absorbeer koolstof vir fotosintese en hierdie plant materiaal MOET weer op n stadium verbrand word om die vasgevangde koolstof vry te stel. Dis is die brand van steenkool uiters noodsaaklik vir lewe om op aarde te laat voort bestaan. Koolstof vorm die basis van alles en is nie ons vyand nie.
Dit is ook interesant dat hierdie sogenaamde besorgde organisasies & individue van die suinigste is as dit kom by welsyn as in ag geneem word die % per inkomste wat hulle weg gee. Hulle verwag dat ander eerder moet op offer.

Andre ·

Het dit miskien hier te maak met die verskil tussen ‘n globale gemiddeld en lokale toestande in die lug rondom plante?

Kuhgirl ·

Vermoed dit moet “Energiewende” wees en nie “Energeiwende” nie.

Dave ·

Baie geluk Maroela. Hou so aan om die waarheid te praat en nie die groot liberale media-huise gedienstig te wees nie.

Andre ·

“Aannames wat ons in die pers sien, is meestal maar net dit: aannames.” Ek wonder op hoeveel aannames is hierdie artikel gegrond? Het die outeur die relevante wetenskaplike literatuur bestudeer? Ek sou graag verwysings na die skrywer se bronne wou sien, maar ek vermoed dit bestaan meestal uit die opinie van “climate change deniers”, soos politici van die Amerikaanse regs, en die skrywer se eie gebrekkige opvoeding.

Root ·

Stem saam, puik artikel om te deel met andere, dankie Nico! Ek kom nou gereeld in argumente hieroor aangesien ek besluit het om elke staking/petisie/ apocalypse voorspelling wat aan my of aan groepies wat ek op is gestuur word te konfronteer… dit is opmerklik hoe agresief en mal die reaksies is! Dis asof hulle reg tot verontwaardiging myne ver te bowe gaan:) Hierdie nonsens moet uitgewys word!

Mari ·

Vergeet eers van aardverwarming – ek is meer bekommerd oor wat ons met al ons gemaksugtige plastiekverpakking gaan aanvang! Weg gooi? Waar is weg? Maar dis te veel moeite om te sê “nee dankie daarvoor.” Ek wonder waar kom al die “moderne” siektes, allergie epidemies en kankers vandaan. Gifstowwe op elke (GMO) gewas om die menigtes geproseseerde gemorskos te kan voer. Netjies in plastiek verpak. Herwinning is ‘n klug (meeste daarvan) net om die gewetes te sus. Dis die maatskappye en regerings, wat die miljoene maak deur jan-alleman ‘n rat voor die oë te draai, wat moet verander. Jy stem met jou beursie! Hoeveel plastiek is in jou trollie elke week? Hoeveel liggies en skerms is in jou huis aan?

Martiens ·

Die kanse is groter dat die mensdom sal vergaan deur ‘super bugs’ wat weerstandig teen antibiotika is.

Die aarde sal nog vir miljoene jare om die son aanhou draai; met of sonder mense.

Therese ·

Martiens, en ek reken diere, bome en oseane hoop dat dit sónder mense is.
Die mensdom wat so arrogant is dat hulle poog om die klimaat te manipuleer!

Merkur ·

Soos baie wetenskaplikes sê was koolsuurgas tot nou toe altyd ´n gevolg van aardverwarming en nie die oorsaak nie. Hoekom sou dit hierdie keer anders wees. (Indien ´n aardverwarming wel nou plaasvind.)

Andre ·

“…in die 1980’s dat die osoonlaag die pole gaan laat smelt.” Dit is eenvoudig nie hoe dit werk nie: dit is juis die opening in die osoonlaag wat die probleem is. Osoon absorbeer ultravioletstrale wat andersins globale verhitting sou vererger deur die kweekhuiseffek. Dit is lankal bekend dat mensgemaakte stowwe, onder andere CFCs, osoon afbreek. Die Montreal Protokol wat in 1987 in werking gestel is om die osoonlaag te beskerm deur die gebruik van sulke skadelike stowwe uit te faseer, was ‘n groot sukses en het duidelik bygedra tot die herstel van die osoonlaag. Dit is hoekom jy nie meer hoor dat mense so groot geraas maak oor die osoonlaag nie.

Daar is dit tog nou duidelik: ‘n mensgemaakte probleem met ‘n mensgemaakte oplossing. Kom ons werk nou om die lewe vir ons kinders beter te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.