Loop maar lig vir beoefening van eietydse geskiedenis

Winston Churchill (23 Augustus 1939) Foto: AP Photo

Ons dink so maklik ons kan eietydse ontwikkelings akkuraat vertolk. Maar dikwels – meestal eintlik – het jy ’n bepaalde tydsverloop daarvoor nodig, en dis maar die beste om altyd ʼn bietjie beskeie te wees.

In hierdie dae word teruggedink aan Operasie Dynamo (26 Mei tot 4 Junie 1940) presies 80 jaar gelede, toe byna 340 000 Britse en Franse soldate uit die Noord-Franse hawestad Duinkerken oor die Engelse kanaal na Dover ontruim is.

Dis destyds as ’n “wonderwerk” bestempel. Die destydse premier, Winston Churchill, het die narratief van heldhaftigheid en uitdagendheid teenoor die Duitse bullebak Adolf Hitler om politieke redes geskep.

Nou ja, uiteraard was daar talle staaltjies van individuele dapperheid. En die maritieme ontruiming, wat maklik op ’n katastrofe kón uitgeloop het, wás inderdaad uitstekend georganiseer en iets waarop die Britte trots kon wees.

Maar ’n oorwinning was dit nie naastenby nie. Inteendeel, dit was ’n nederlaag van ongekende omvang.

Deur hul veel beter aanwending van die beginsels van gemeganiseerde oorlogvoering, deur die slim gebruik van tenks en beweeglikheid, deur die Britte en Franse aan te val waar hulle dit nie verwag het nie, het die Duitse generaals – veral Erich von Manstein, Heinz Guderian en ander – die Britte en Franse loshande verneder.

Kleio, die muse van die geskiedenis, in ‘n wa van die geskiedenis. (Foto: Commons.wikimedia.org)

Maar Kleio, die muse van die geskiedenis, het altyd die laaste lag. Want die skitterende Duitse oorwinning het die kiem van Nazi-Duitsland se uiteindelike ondergang bevat.

Enersyds het die ontruiming van Duinkerken gehelp dat Brittanje kon oorleef. Natuurlik het die wydste tenkgrag in die wêreld – die Engelse kanaal – en die Britse oorheersing van die lug en see gehelp.

Maar die terugbring van soveel duisende opgeleide soldate het gehelp om Brittanje as geloofwaardige deelnemer in die oorlog te hou.

Terselfdertyd het juis die briljantheid van die Duitse oorwinning Hitler presies die verkeerde les laat leer. Dit het hom laat meen dat die Wehrmacht nie kón verloor nie en dat hy self volmaakte insigte gehad het.

’n Dokumentêre rolprent wat die BBC onlangs oor Operasie Dynamo uitgesaai het, het my iets geleer wat ek nie geweet het nie. Die vraag is naamlik: Waarom het Hitler sy troepe vlak voor Duinkerken laat stop, iets wat die Britte die kans gegee het om te ontsnap?

Blykbaar het die Wehrmacht se hoof van staf, kol.genl. Franz Halder, kort tevore eiehandig ’n pantserkorps van die magte verder noordwaarts na dié voor Duinkerken oorgeplaas om die verwagte aanval op die vasgekeerde Britte en Franse daar te versterk. Dit was in ooreenstemming met die tradisionele Pruisies-Duitse militêre doktrine, waarvolgens die regering die oorkoepelende strategie hanteer, maar ondergeskikte operasionele sake soos dié aan die generaals oorlaat.

Maar Hitler wou álles beheer, ook dít. En dus het hy die oorplasing van die korps verbied en die aanval op Duinkerken stopgesit, bloot om Halder en die ander generaals te wys wie is baas van die plaas.

Die gevolg was dat die Britte weggekom het.

Nietemin was die oorwinning totaal genoeg dat dit Hitler onder ’n fatale misverstand gebring het. Dit was dat hy die grootste veldheer van alle tye was.

(Trouens, in die later oorlogsjare, toe dinge teen Duitsland begin draai, het van sy generaals spottend na hom verwys as “Gröfaz”, ’n afkorting van “der grösste Feldherr aller Zeiten”, oftewel “die grootste veldheer van alle tye”.)

Daardie misverstand oor sy eie insigte was regstreeks verantwoordelik vir Hitler se grootste twee flaters, die twee wat sy ondergang bewerkstellig het. Dit was sy inval in die Sowjetunie op 22 Junie 1941, en sy oorlogsverklaring teen die VSA op 11 Desember, vier dae nadat Japan Pearl Harbor aangeval het.

Daarmee het Hitler die wêreld se twee sterkste moondhede onnodig in ’n oorlog met hom ingesuig. In sy skitterende boek Why the Allies Won toon die Britse historikus Richard Overy aan hoe die Duitse ekonomie (en dit is bo en behalwe allerlei operasionele en strategiese flaters van Hitler) uiteindelik nie kon kers vashou vir die gesamentlike Amerikaanse, Britse en Sowjet-produksie van wapens nie.

Dit was ’n kwessie van hubris, van hoogmoedigheid. En die skitterende wyse waarop die Wehrmacht Frankryk in 1940 binne ses weke platgeloop het (dit ná die uitmergelende uitputtingsoorlog van 1914-’18) het regstreeks daartoe bygedra.

Onder historici word daar al lank gedebatteer oor die kwessie van eietydse geskiedenis. Ek onthou goed hoe my professor op Stellenbosch, die gedugte prof. Piet van der Merwe, sterk gekant was teen die beoefening van eietydse geskiedenis, want, het hy gesê, jy het ’n sekere tydsafstand nodig om sake in perspektief te kan sien.

Hy was nie heeltemal verkeerd nie, maar hy het dinge oordryf. Mits jy beskeie is, kan jy wel deeglik eietydse gebeure in ’n historiese perspektief plaas.

Die Amerikaanse joernalis Alan Barth (1906-’79), in lewe hoofartikelskrywer in diens van The Washington Post, het joernalistiek beskryf as “the first rough draft of history”. Dit geld natuurlik nie slegs vir die joernalistiek nie, maar vir alle geesteswetenskaplike dissiplines wat hulle met die huidige tyd besig hou, soos die politieke wetenskap, die sosiologie en ander.

Helaas is die vermoë (en kennis) om eietydse gebeure teen ’n historiese agtergrond te beoordeel in die huidige wêreld relatief beperk. Dit geld vir die beoefenaars van dié pogings, maar sekerlik ook vir die kritici wat op internet en sosiale media so luidkeels gil en skree terwyl hulle eintlik níks weet nie.

Prof. Piet van der Merwe se verset teen eietydse geskiedskrywing het nóg ’n leemte bevat: Selfs met die voordeel van tydsverloop is uiteenlopende, selfs teenoorgestelde, vertolkings van gebeure nie alleen moontlik nie, maar legitiem. Nuwe bronne en feite kan na vore kom, vertrekpunte en aannames kan deur veranderde tye anders word, noem maar op.

Die gebeure by Duinkerken is ’n goeie voorbeeld.

Churchill het, al was dit om begryplike redes, die ontruiming van sy soldate ten onregte as groot oorwinning afgeskilder. Maar ná 70 jaar, blyk dit, was hy nie heeltemal verkeerd nie, al het dinge ook heel anders geloop as wat hy destyds verwag het.

Wat hoor ek daar in die verte? Ja, dis Kleio se gegiggel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J ·

Baie interessant artikel! Dankie!

Ek vermoed die magsdronk kakistrokasie in ZA oorskat hulle eie vermoëns ook!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.