‘Los die strooihalms, Afrikaners, as die saak reg is’

Nairobi met dagbreek. Foto: Wikipedia.

Dit was ʼn warm dag in Nairobi. Ten spyte van die stories oor Kenia wat ek voor my besoek gehoor het, was ek stomgeslaan deur die land se skoonheid en die mense se gasvryheid. My besoek aan die Verenigde Nasies se werkswinkel oor die “prohibition of the incitement of national, racial and religious hatred” was die moeite werd – gedeeltelik oor die geleentheid om te gesels oor wat in Suid-Afrika aan die gang is, maar merendeels oor dit wat die besoek my oor Afrikanerskap geleer het.

Oorkant die restauranttafel het ʼn afgevaardigde, wie se naam ek liefs nie sal noem nie, gesit. Sy is ʼn gesiene persoon by die VN in haar hoedanigheid as raadgewer vir die VN se Special Rapporteurs oor die beskerming van minderhede en die voorkoming van volksmoord. Ek het gevlei gevoel dat sy die een was wat die afspraak versoek het. “Ons weet van AfriForum en ons weet van julle hofsaak,” het sy my verseker voordat sy weggespring het met ʼn reeks vrae oor plaasmoorde, haatspraak, minderheidskwessies en Afrikanerskap. Ek was verbaas dat daar mense in die buiteland is wat werklik belangstel in wat in Suid-Afrika gebeur. Sy het ʼn idee gehad van wat aangaan, maar haar prentjie het meestal uit buitelyne bestaan en het inkleurwerk benodig.

Ons het lekker gesels, maar die gesprek het vasgehaak toe ek die Solidariteit Beweging vir haar verduidelik – dis nou Solidariteit, AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en ander organisasies wat by Solidariteit geaffilieer is. “Het die Solidariteit Beweging meer lede as die AWB?” wou sy weet, waarop ek gelag het. Sy het gefrons. Ek het verduidelik dat daar baie nuanses onder Afrikaners bestaan en dat daar uiteenlopende benaderings is. Ek het verder verduidelik daar is ongelukkig ʼn paar groepies wat daarin spesialiseer om ‘warmwind-vergaderings’ te hou (die vergaderings waar iemand vir ʼn uur lank oor ʼn mikrofoon bulder, waarna die aanwesiges huis toe gaan onder die illusie dat hulle teenwoordigheid by die vergadering bygedra het tot die volk se toekoms), maar wat nie oor die vermoë beskik om steun te werf of konstruktief op te tree nie.

Uit die gesprek het ek egter geleer dat daar in die buiteland steeds ʼn negatiewe persepsie oor Afrikaners bestaan. Daar is ʼn valse persepsie dat as jy wit is en Afrikaans praat, jy waarskynlik ʼn lid van die AWB is en ʼn behoefte het om ander te onderdruk. Die ANC werk hard daaraan om sy internasionale geloofwaardigheid te vernietig deur te argumenteer dat sy hele erfenis daarom wentel om te sê dat wit mense honde is wat geskiet moet word. Die afname in die ANC se geloofwaardigheid beteken egter nie dat Afrikaners se geloofwaardigheid in die proses outomaties opgehef word nie. Vir daardie opheffing sal ons self moet werk.

“Ons kry gereeld e-posse van mense wat vir ons sê dat hulle ons namens Afrikaners kontak,” het sy vertel. Die probleem met die e-posse is dat dit só deurspek is met goedkoop propaganda dat dit van alle geloofwaardigheid gestroop is. Dit sluit gefabriseerde feite, foto’s van gemartelde lyke (wat sonder die goedkeuring van die oorledene se naasbestaandes gebruik word), rassistiese kommentaar en soms selfs rasgebaseerde geloofsoortuigings in. “Ons kan mos nie sulke goed ernstig opneem nie,” het sy vir my gesê. Al wat dit doen is om Afrikaners se geloofwaardigheid af te breek en ʼn valse persepsie te skep dat Afrikaners geen behoefte het om in vreedsame naasbestaan met ander saam te leef nie.

As gevolg van die ontwikkeling van tegnologie en, in besonder, die sosiale media is die nuwe tendens regoor die wêreld dat mense nie meer primêr geëvalueer word op wát hulle sê nie, maar hóé hulle iets sê. Hierdie beginsel geld veral vir mense wat oor politieke kwessies kommunikeer. Dit maak nie saak hoe goed jou feite is nie, as jy dit op die verkeerde manier oordra, sal jy nie ʼn impak maak nie. Die opkoms van politici soos Barack Obama, Tony Blair en David Cameron is bewys hiervan – die meeste navorsing oor hulle verkiesingsveldtogte dui daarop dat hulle sukses behaal het omdat mense aangetrokke gevoel het tot die beeld wat hulle van hulself gevestig het, voordat daar na hul beleide of standpunte gekyk is.

Met Afrikaners is die uitdaging groter. Die negatiewe persepsies moet gebreek word deur te let op die manier hoe daar oor ons behoeftes gekommunikeer word. Afgesien van die “hoe” is daar ook die probleem van “wat” gesê word. Dit is nie nodig om feite te fabriseer of argumente op ras te baseer nie. Dit help byvoorbeeld nie om samesweringsteorieë as die waarheid te verkondig as jy geen bewyse daarvoor kan lewer nie. Net so help dit nie om die ou landsvlag op jou briefhoof te sit as jy weet die persoon aan wie jou brief gerig is dit met die eerste oogopslag in die vullismandjie sal gooi nie. Of om vir die beskerming van jou kultuur te baklei, maar terselfdertyd weier om respek aan ander se kulture te betoon.

As jou saak reg is, is dit nie nodig om aan strooihalms vas te klou nie. Regoor die wêreld word erkenning gegee aan die diversiteit van kulturele groepe en die belang van die beskerming van minderheidsgroepe. Al wat nodig is, is om goed beredeneerde argumente wat op feite gebaseer is, te gebruik en dit op ʼn dinamiese manier te kommunikeer. Die era van warmwind-vergaderings, waar die trefkrag van jou boodskap aan die volume van jou stem gemeet word, is verby. Die era van sosiale media en persoonlike kommunikasie, waar die trefkrag van jou boodskap aan die akkuraatheid en verpakking daarvan gemeet word, het aangebreek. Mense evalueer jou boodskap aan hoe dit hulle laat voel en aan die geloofwaardigheid daarvan. As jou boodskap nie geloofwaardig is nie, verloor jy. As jou boodskap nie reg verpak is nie, verloor jy ook.

Die beskerming van minderheidsgroepe is op die internasionale agenda. Die tafel is dus reeds gedek vir diegene wat internasionale steun wil werf. As Afrikaners is ons groot uitdaging om dit wat ons sê, te sê op ʼn manier wat nie die valse persepsies bevestig nie, maar afbreek. Die wonderlike nuus is dat hierdie uitdaging redelik eenvoudig is. Met gewone feite en eerlike argumente is die stryd so te sê reeds gewonne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Anoniem ·

Henry Kissinger het as minister van buitelandse sake van die VSA (Secretary of State) die berugte vraag gevra: “Who do I call if I want to speak to Europe?”

Afrikaners sit vandag met dieselfde probleem.  As sodanig ondermyn enige gek wat na buite kommunikeer ons boodskap.

Wanneer buitelandse waarnemers bewus is van ‘n gesaghebbende organisasie wat Afrikaners se belange verteenwoordig (soos wat die ANC voor 1994 erken is as die verteenwoordiger van swart-Suid-Afrika), is dit vir hulle eenvoudig om bewerings by daardie organisasie te bevestig.

Dit mag miskien vir Afriforum taktiese voordeel binne Suid-Afrika inhou om sy steun vir Afrikaners agter ‘n rookskerm van steun vir minderheidsgroepe en die Grondwet te verdoesel, maar dit ondermyn sy vermoë om buite Suid-Afrika daarop aanspraak te maak dat hy Afrikaners verteenwoordig.

Die VF+ se onvermoë om Afrikanersteun by die stembus te werf, ondermyn ook daardie organisasie se vermoë om as formele verteenwoordiger van Afrikanerbelange in die buiteland aansien te wen.  Hoewel die UNPO wel aan die VF+ lidmaatskap namens Afrikaners gegee het, blyk dit egter nie asof die VF+ oor die vermoë beskik om Afrikaners se saak in die buiteland te voer nie.

Vir die oomblik bly die vraag dus nog onopgelos: “Wie moet die VN of die buiteland skakel indien hulle met Afrikaners wil skakel?”

Louis du Plessis ·

Ernst ~

1  Jy pleit vir die bevordering van Afrikanerskap, binne én  buite Suid-Afrika.

2  Soos ek jou opstel vertolk, waarsku jy onder andere teen diegene wat meen hulle kan dié doel bereik met “goedkoop propaganda” en “sameweringsteorieë” en wat dan eerder Afrikaners se “geloofwaardigheid afbreek”.

3  Jy meen dit is wel moontlik om die regte van die Afrikaner internasionaal te bevorder aangesien daar tans wêreldwyd erkenning gegee word aan kulturele diversiteit en aan minderheidsgroepe.  So ‘n veldtog verg egter “goed beredeneerde argumente wat op feite gebaseer is” en wat teikensensitief verpak word.

4   My kommentaar 

4.1  Die norm wat soveel emosioneel opgesweeptes nie verstaan nie, snap jy glashelder:  Dis nie nodig om ander te beledig, om jou saak te bevorder nie.  Trouens, wat jy tereg noem “goedkoop propaganda”, wat hier en daar heelaas selfs in enkele bydraes tot die Groot Debat opgeduik het, ondermyn die geloofwaardigheid van die aanbieder self, en besoedel die saak – ook Afrikaners s’n.  

4.2  Voorts, die “goed beredeneerde argumente wat op feite gebaseer is” waarvoor jy pleit, wek juis nie weerstand nie, maar inteendeel, beweeg soos ‘n kompakte gemeganiseerde veggroep wat die onwetende vyand in die nag met ‘n aanval omsingel:  geruisloos en onstuitbaar.  Nes Kallie Kriel se antwoord op die kritiek in By op AfriForum, boei jou ewewigtige opstel die aandag en slaan die spyker van oorreding – presies – op sy kop. 

5  Kyk noord en veg voort!

Quintin Diederichs ·

Ernst maak ‘n paar goeie punte en dis goed om te sien dat hy ‘n hooggeplaaste amptenaar kon inlig oor wat Afrikanerskap behels en die uitdagings wat ons in die gesig staar. Enige behoudende Afrikaner wat al in die buiteland gewoon het, sal weet dat mens vinnig leer hoe om jou eie mense se situasie suksesvol te verduidelik en in die proses steun te werf vir o.a. die Afrikaner se vryheidsideaal. Soos mens met meer kulture in die buiteland in aanraking kom, so groei jou vermoë ook om meer mense te oortuig van die waarheid en as mens hard genoeg probeer kan mens selfs hul tale ook aanleer wat dinge nog makliker maak. Omstandighede in Zimbabwe help om parallelle te trek met die ANC se beleid en ons moet nooit ophou om daardie drom te slaan nie – dus moet ons net oordeelkundig kies wie en wat ons ‘beledig’ eerder as om terug te deins om ’n pak slae uit te deel waar dit nodig is.
Ebert, dis nog heeltemal te vroeg om die Vryheidsfront Plus af te skryf as ’n organisasie wat nie oor die vermoë beskik om die Afrikaner se belange in die buiteland (of selfs in SA se kabinet) te bevorder nie. Indien jy reg is dan verstaan ek eerlikwaar nie hoe dr. Mulder dit reggekry het om d.m.v. ’n demokratiese proses op die dagbestuur van ’n internasionale organisasie vir minderheidsregte en selfbeskikking (UNPO) verkies te word nie. Soos ek verstaan maak UNPO baie deure oop vir die internasionalisering van ’n bedreigde minderheidsgroep se saak – een van daardie deure is immers ’n direkte kanaal na die VN.
Duidelik beskik dr. Mulder oor die vermoë om die Afrikaner te verteenwoordig in die oë van die buitelanders self anders sou hulle hom nie ingestem het op hul dagbestuur nie of enigsins die Vryheidsfront Plus se aansoek om die Afrikaner daar te verteenwoordig aanvaar het nie. Die vraag is eerder hoekom daar soveel Afrikaners is wat dit nie kan/wil insien nie. Die Vryheidsfront Plus se onvermoë om Afrikanersteun by die stembus te werf is ook nie waar nie, want as mens na die algemene verkiesings se uitslae sedert 1994 kyk dan sien mens ’n groot dip en dan weer ’n opwaartse kurwe: 1994 = 424 555 / 1999 = 127 217 / 2004 =  139 465 / 2009 = 146 796.
Baie nuwe bloed raak nou betrokke by die Vryheidsfront Plus – jong idealiste vir wie dit net ’n plesier is om die harde werk in te sit wat aktivisme en mobilisering op voetsoolvlak aanbetref. Jong idealiste wat openlik verkondig hoe trots hulle op die suksesse van bv. Orania is omrede hulle daadwerklik betrokke is met ontwikkeling van hierdie Afrikanergemeenskap en self nog dergelike gemeenskappe wil ontwikkel tesame met organisasies soos die Orania Beweging. Ek het selfs al foto’s gesien van talle Vryheidsfront Jeugtakke wat onlangs gestig is met Orania se pragtige vlag op die voorgrond. Dit lyk nie vir my soos ’n Afrikanerorganisasie wat besig is om te sink nie – eerder een wat doelbewus nader beweeg aan sy stigtingsgrondslag. As die Vryheidsfront nie in 2014 weer groei toon a.g.v. hiervan nie dan sal dit my verbaas. Kan AfriForum nie dalk help in hierdie verband nie?
Dit laat my egter dink aan ’n ding wat ek nie lekker onder die knie kan kry nie. Sommige leiersfigure in AfriForum het aan my erken dat meeste van hul lede vir die DA stem tog spoor AfriForum nie hul lede openlik aan om hul steun agter ’n politieke party soos die Vryheidsfront Plus te plaas nie – ’n party wat al vir 17 jaar diep spore getrap het om vir die Afrikaner se burgerregte op te staan en al heelwat vermag het m.b.t. kwessies soos selfbeskikking, haatspraak teen die Afrikaner, moedertaal onderrig ens. Ek verstaan dat AfriForum erken dat hulle ’n nie-politiese organisasie is en dat dié organisasie dus nie aan ’n enkele politieke party gekoppel kan wees nie. Vreemd dat die nie-politiese AfriForum se jeug dan teen politieke partye soos die Vryheidsfront Plus aan kampus verkiesings deelneem en AfriForum al sovêr gegaan het om talle politici uit politieke partye soos die Vryheidsfront Plus aangestel het. Trouens, meeste van die bestaande Solidariteit-beweging leierskap, dis nou AfriForum inkluis, was vir jare aktief betrokke met die politiek by die VF Plus. Nou is almal skielik nie-polities ingerig… dis soos om te sê jy is nie ’n Blou Bul nie maar jou vriende sien jou elke Saterdag op Loftus, getooi met horings, trui, neusring, vlag en al!
Terug na die punt – hoe kan AfriForum sê dat hulle vir Afrikaners se burgerregte opstaan en dan in dieselfde asem erken dat hulle bewus is van die feit dat die meeste van hul lede vir ’n politieke party stem wat alles behalwe die beste belange van die Afrikanervolk op hul harte dra en dan verder gaan deur nie eens ’n openlik poging aan te wend om hierdie einste lede te oortuig om juis by die stembus ook vir hul regte op te staan deur vir die VF Plus te stem nie? As mens vir die Afrikaner se regte opstaan dan is dit mos nie net in die hof of in die koerante nie maar in die parlement ook, of het ek die kat aan die stert beet? Deur te erken dat die meeste van jou lede vir bv. die DA stem word mens mos gekoppel aan ’n politieke party. Dit sal wonderlik wees as die Afrikaner daarbuite meer duidelikheid hieroor kan kry.
Luister, hierdie dinge is alles baie interessant en ons gaan nog vir ure met mekaar en Afrikaners daarbuite hieroor praat. Laat ons almal vir eers na binne kyk en begin dink aan maniere hoe openlike samehorigheid bewerkstellig kan word. Deur oor hierdie vraagstukke met mekaar te gesels is reeds ’n goeie begin en miskien kan ons dit op ’n dag nog in die openbaar ook doen.
Ek is net bly dat Ernst een persoon daarbuite oortuig het dat alle trotse Afrikaners nie noodwendig aan warmwind-sprekers se lippe hang nie en dat ons ’n eerlike en regverdige saak het wanneer ons sê dat ons oorlewing as volk bedreig word deur die nasiebou-ten-alle-koste-politiek wat deur die DA en ANC gevolg word. Die stryd wat ons wel moet wen kom immers neer op die vreedsame herstel van ons vryheid binne ’n eie demokratiese Republiek wat ingerig word op grond van Christelike waardes en wat deur volkseie arbeid van die grond af opgebou word. Daardie stryd gaan beslis nie deur net gewone feite en eerlike argumente gewen word nie… burgerlike regte organisasies wat hul lede in die openbaar aktief aanspoor om ook betrokke te raak by organisasies soos die Orania Beweging en die Vryheidsfront Plus sal wel ’n deurslaggewende impak op die stryd maak.  

Kolaiah Voice ·

Quinton

Dis tyd dat ons verby klein afrikaner politiek kyk en elkeen se rol erken of hy in die DA, Vryheidsfront of as Minister in die ANC regering dien…. Elkeen het ‘n rol te speel. Ons moet ook erkenning gee aan Afriforum wat as druk organisasie baanbrekerswerk doen om ons stem te laat hoor.

Quintin Diederichs ·

Kolaioh, dis fisies, teoreties en prakties onmoontlik om binne die DA ‘n rol te speel wat die beste belange van die Afrikaner bevorder mits dit jou doel is om die DA ‘n party te maak wat strewe vir ‘n meer federale bestel waarin gemeenskappe groter selfbeskikking oor hul eie belange kan geniet.

Die Afrikaner is tog beter daartoe in staat om sy beste belange te bevorder binne die raamwerk van selfbeskikking in sy eie territoriale entiteit as wat die DA of die ANC kan in Mzanzi. Hoekom moet Afrikaners tevrede wees met n 16%/20%/30% ‘sterk’ opposisie in Mzanzi as ons kan wen in ‘n volkstaat?
So ja, miskien is jy reg – elkeen het ‘n rol om te speel – sommige mense speel ‘n rol wat ‘n wenspan van die Afrikaner gaan maak, terwyl dit ander mense se rol is om onderdane van ‘n vreemde regering te bly. Elkeen kan self besluit watter rol ons gaan speel.

Sover dit Afriforum aangaan – jy mis die punt… Die definisie van baanbreker werk is as iets nog nooit gedoen was nie. AfriForum kloon basies alles wat die VF Plus al jare terug gedoen het – niks behalwe die embleem is oorspronklik nie… selfs die rolspelers in hul Jeugbeweging is ook van die VF Plus afkomstig. Die vraag is hoekom dan so teen samewerking gekant wees as beide die VF en AfriForum die beste belange van die Afrikaner wil bevorder? AfriForum het verbasend genoeg ook iets positief te se oor selfbeskikking in hul manifes so…. as AfriForum regtig die beste belange van die Afrikaner wil bevorder sal hulle mos nie ‘n probleem he om die volgende more in ‘n mediaverklaring te versprei nie:

Soos AfriForum alle Afrikaners aanmoedig om Solidariteit te steun as die enigste vakbond waar Afrikaners se arbeidsake doeltreffend beskerm word, so ook moedig ons alle Afrikaners aan om vir die Vryheidsfront Plus te stem as die enigste party wat Afrikanersake doeltreffend in die parlement en in die buiteland kan bevorder.

Kolaiah Voice ·

Ernst. 

Dis ‘n baie interressante artikel en rigtinggewend vir jong Afrikaners. Regses behoort veral baat te vind by die aanslag en benadering tot kwessies oor ons toekoms en afrkaners se rol in Suid Afrika. Ek wil egter van jou verskil oor die dinamika van leierskap en die stemgebruik. 

Jy kan nie daarvan weg kom dat veral ouer Afrikaners geen slaafse volgelinge van intellektuele leierskap is nie, maar soms tot insigte gebring word deur ‘n harde lukrake reguit benadering, wat vir my al meer lyk dat daar sterker  geestelike leierskap na vore behoort te tree wat veral met ‘n geestelike inslag – Amper soos oom Angus Buchan- moet werk met die siel van ons volk. Ons kan nie dit wegredeneer dat ons geeswesens is wat die DNA van God in ons wese dra nie. Ons geskiedenis loop met een goue draad van GELOOF van 1652 tot met die aanbreek van die nuwe dispensasie 1994……grade verskil egter en kan ons amper beweer dat die lou gemeente van Laodicea ons karakter versinnebeeld het sedert die moord op Dr. Verwoerd. 

Ek het so twee dae terug ‘n droom gehad waar ek as jong polisieman navraag doen oor twee van my vriende en kollegas wat op baie jong ouderdomme die hoogste prys betaal het in die uitvoering van hulle pligte. Ek dink baie sal onthou toe Konstabel Danie Boshoff in 1987 koelbloedig deur terroriste doodgeskiet is te Ventersdorp. In my droom ontvang ek ‘n koevert met twee doodsertifikate in. Daarop word die oorsaak van die dood aangedui as: 

“seized to live” 

Die volgende oomblik bevind ek my op die dakke van huise en woonstelblokke besig om die aanvalle af te weer – amper soos wat nou in Libië  gebeur het waar rebellegroepe strate invaar en sommer net begin skiet. Uit die aard van die saak verdedig ek myself en mense wat skuiling soek teen die aanvalle. Die hele tyd is die woorde op die doodsertifikate voor my geestesoog. Ek word wakker met ‘n ontstuimigheid wat grens aan paniek…..

Dis afgelope twee dae worstel ek met die drome en vanoggend tref die Waarheid my soos ‘n klip teen die kop. 

” Ons volk het deur ‘n maalkolk van ebeure gegaan sedert die moord op Dr. Verwoerd. Na sy dood is ons land gekenmerk deur geweld en verhoogde intensiteit van terrorisme en buitlandse vyandigheid. As julle wat in die sewentigs / tagtigs laerskool kinders was kan onthou hoedat nuusberigte van geweld en onluste die nuus oorheers het en dat die al groterwordende onsekerheid van ons toekoms begin het om ons gedagtewereld te oorheers, is dit duidelik dat die finale knou gekom het toe die land in 1994 in “vyandige” besit geval het. 

Wat het gebeur? Ons het opgehou lewe en oorgeskakel na die “oorlewingsrat” We seized to live. Ons denke ons emosies ons wese het deurdrenk geraak van die negatiewe. 

Ons het letterlik oorgeskakel van ‘n volk met visie na ‘n volk met skuldgevoelens en swak “eiewaarde” 

Tog,  te midde van dit alles het ons bly vasstaan en in vele opsigte ons kinders se denke met ‘n ander positiewe beinvloed…….die van : “om te oorleef moet jy die beste wees”

Ongelukkig het dit ook oorgehel na die negatiewe daarvan en in die proses het ons in ‘n groot mate ‘n selfsugtige volk geword wat gesonde naasbestaan en buurmanskap moes offer om te oorleef. 

My boodskap vir die jong dinamiese leiers is dat ons eerder moet fokus op die lewe as op oorlewing. Dis uit die hart van ons VADER wat ons liefhet met ‘n oneindige liefde….

Verder het ek nie kritiek op jou artikel nie en wil beklemtoon dat dit toonaangewend is.

Afsaal ·

Baie goeie stuk en ek hoop talle mense lees dit. Dit kan nie genoeg beklemtoon word nie dat ons ons saak skade aandoen as ons op die ou manier kommunikeer. Ons moet die lesse uit die verlede leer. Jou saak kan hoe regverdig wees, as jy oorkom as iemand wat afskuwelik is dan sal jy geen simpatie kry nie. Dit is natuurlik belaglik en onregverdig dat mense ons nog steeds aan AWB koppel, maar juis daarom moet ons leer dat ons met die soort benadering en propaganda ons net skade aandoen. Solidariteit speel ‘n belangrike rol om Afrikaners waardig en met hedendagse taal en kommunikasiemiddele te verteenwoordig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.