Om te staak of nie te staak nie

Argieffoto (Foto: Bluesnap, Pixabay)

Solidariteit se lede by die lugredery Mango het onlangs op ʼn vier dag lange staking gegaan nadat salarisonderhandelinge met Mango se bestuur skipbreuk gely het. Behalwe dat Solidariteit se lede bitter min staak, was die staking uniek omdat dit deur hoogs geskoolde vlieëniers onderneem is. In Europa is dit normaal – die Spaanse lugredery, Iberia, se vlieëniers staak tans en Lufthansa se vlieëniers het in November 2016 gestaak. Hier voel iets egter nie reg as vlieëniers staak nie.

Dit is normaal om plakkaatswaaiende en dansende blouboortjiewerkers te sien wat staak, maar professionele werknemers wat staak, word verkeerdelik as onprofessioneel geag. Die Mango-staking was egter deel van ʼn nuwe verwikkeling in arbeidsverhoudinge waar professionele mense soos vlieëniers, universiteitsdosente, mikrobioloë, plantkundiges, matrones, skoolhoofde, mediese dokters, aptekers, regsadviseurs, rekenmeesters en andere toenemend by Solidariteit aansluit en nie huiwer om vir hul regte op te staan nie.

In die aanloop tot die Mango-staking moes lede eers aan ʼn vertroulike stakingstemming deelneem om te bepaal of die oorgrote meerderheid lede vrywillig tot ʼn staking verbind was. Ná bevestiging van die stakingsmandaat het die volgende stap behels dat die vakbondamptenare, in opdrag van die lede, regsdokumentasie in orde kry om ʼn beskermde staking te laat materialiseer.

ʼn Suksesvolle staking is, soos in die Mango-geval, kort van duur, waar die werkgewer en werknemer nie eintlik aptyt vir ʼn uitgerekte proses het nie, maar waar albei kante steeds ʼn punt wil bewys ten spyte van die finansiële verliese wat ʼn staking vir albei meebring. Die werkgewer wil wys dat sy “nee néé is” en die gegriefde werknemers wil hul grondwetlike reg om te staak uitoefen om so te wys hoe sterk hulle oor hul eise voel.

Deelname aan ʼn staking is inderdaad ʼn grondwetlike reg, maar sekere vakbonde se onrealistiese eise en die algemene wetteloosheid wat met die meeste stakings gepaardgaan, veroorsaak dat alle vakbonde se beeld geskaad word. Boonop is die publiek gewoonlik ook nie bewus van wat die onderliggende redes vir ʼn staking is nie.

Die neiging is ook dat beriggewing oor salarisonderhandelinge hoofsaaklik op ʼn vakbond se eis vergeleke met die verbruikersprysindeks (VPI) fokus, hoewel die VPI bloot ʼn aanwyser is en geen enkele persoon of groep werkers se lewenskoste presies met dieselfde persentasie as die VPI styg nie. Die lys van ander belangrike substantiewe eise waaroor onderhandel word, word ook verswyg.

In die geval van die Mango-staking het dit gegaan oor die vlieëniers wat beduidend minder as hul eweknieë in die geïdentifiseerde mark verdien soos wat ʼn onafhanklike ondersoek bewys het. Voorts bestaan daar nie by Mango ʼn ooreenkoms of beleid waarvolgens vlieëniers se vlugrooster en aftyd gereguleer word nie. Solidariteit se mandaat van ons lede was om te beding dat hul salarisse mettertyd in ooreenstemming met die mark gebring word – vandaar ons eis van ʼn 8,5%-salarisverhoging en, ewe belangrik, dat die genoemde vlugroosterooreenkoms ingestel moet word. Dié eise, wat ons as redelike eise geag het, is met minagting deur Mango se bestuur van die hand gewys en dit het die staking, wat die laaste uitweg was, tot gevolg gehad.

In die lig van die jare lange stryd oor onderbetaling het Solidariteit sy lede se besluit om tot ʼn staking oor te gaan, ten volle ondersteun. Wat openbare betrekkinge betref, was dit egter soms ʼn moeilike balanseertoertjie om te verduidelik waarom hoogs geskoolde werknemers wat, ten spyte van die salarisongelykhede, steeds ʼn redelike salaris ontvang en ʼn kritieke rol vervul om toeriste en sakelui oor die land heen te vervoer, se staking geregverdig is.

Die grootste fout wat buitestanders gewoonlik maak, is om na ʼn staking vanuit ʼn mens se eie belewenis en verwysingsraamwerk te kyk, en jou nie in die vlieëniers se posisie in te dink wat ʼn stresvolle werk het, geweldige lang en ongereelde ure werk, heelwat minder as hul eweknieë verdien en wie se dienstye nie geformaliseer is nie.

Een van die mense wat my hieroor gekonfronteer het, het aangevoer dat as die Mango-vlieëniers minder as ander vlieëniers betaal word, hulle mos kan bedank en by die opposisie kan gaan werk. As dit so maklik was, het almal wat ontevrede met sy salaris is, vir Google, Visa, Facebook, SAP, LinkedIn, Microsoft en Amazon, wat bekend is as die grootste salarisbetalers in die Westerse wêreld, gewerk.

Wat ook in ag geneem moet word, is werkers se emosies en frustrasie van jare se stryd rondom gelyke geleenthede en bevordering, die uitstaande salarispariteitkwessie wat al lank sleur en telkemale se ingee by die jaarlikse salarisonderhandelinge bloot uit pligsbesef, hoë werksetiek en omdat “ons mense” mos nie staak nie. Vanweë al die voorgenoemde redes breek die dag uiteindelik aan waar lede ʼn mandaat aan Solidariteit gee om die wiele aan die rol te sit vir ʼn beskermde staking. Só word die werking van ʼn ledegedrewe organisasie se demokratiese prosesse weerspieël waar lede die opdraggewer is.

Tydens ʼn staking is ons en ons stakende lede bewus van en sensitief oor die ontwrigting wat ʼn staking vir die publiek kan veroorsaak en is ons bedag op die gevolge van abnormale ontwrigting, maar ten minste weet ons dat dit van korte duur gaan wees en dat daar geen geweld, intimidasie, rommelstrooiers en opruiende toesprake gaan wees nie.

Gelukkig was die Mango-staking ná vier dae opgelos en het die vlieëniers ʼn verbeterde salarisaanbod ontvang en die belangrike kwessie van ʼn beleidsraamwerk vir ʼn diensrooster moet binne ses maande gefinaliseer word.

Die Mango-staking as ʼn gevallestudie bewys dat, soos wat in Europa die geval is, professionele mense wat te na gekom word binne die raamwerk van alle toepaslike wetgewing kan staak. Die meeste stakings in Suid-Afrika vind ongelukkig nie soos die Mango-geval weens ʼn bona fide-geskil oor arbeidsverhoudinge of binne die raamwerk van wetgewing plaas nie.

Om die stakingsprentjie te voltooi, moet kennis geneem word van die drie hoofredes vir stakings, waarvan slegs die eerste rede aanvaarbaar is.

Rede 1: Magspel in arbeidsverhoudinge

ʼn Vakbond moet af en toe vir ʼn grondige rede staak want ʼn vakbond wat nooit staak nie, kan nie ʼn staking as ʼn dreigement by die onderhandelingstafel gebruik om mag te bou nie, want andersins sal so ʼn dreigement geen kredietwaardigheid hê nie en sal daar nie daarop ag geslaan word nie – werkgewers oor alle sektore heen het nou kennis geneem van ons Mango-staking.

Dan is dit ook so dat heelwat meerjarige ooreenkomste by sleutelwerkplekke beding word. Uit die aard van die saak word daar dan meer aggressief onderhandel, want in die geval van ʼn driejaarooreenkoms beteken dit byvoorbeeld dat daar eintlik drie eenjaarooreenkomste is wat gelyktydig onderhandel word wat makliker tot ʼn staking aanleiding kan gee.

Rede 2: Die rol van ideologie

As uitvloeisel van die pre-1994-vryheidstryd het protesoptrede deel geword van populistiese vakbondlede se normale wyse van geskilbeslegting en is ʼn staking ʼn natuurlike voortsetting van hierdie ideologies gedrewe suksesresep.

Waar vakbondwedywering bestaan, is ʼn staking ook ongelukkig die ideale werwingsinstrument om lede te lok: Dit is ʼn sterk punt van sosialiste om groot beloftes te maak, lede vir ʼn gewelddadige staking te mobiliseer en om die werkgewer en die opposisievakbond tot vyand te maak. Die werkgewer moet dan uiteindelik noodgedwonge ingee en abnormale verhogings toestaan. Amcu het die waarde van hierdie strategie geleer en het baie welslae daarmee behaal.

Rede 3: Hoë verwagtinge

Daar bestaan onder veral intreevlak-werknemers hoë verwagtinge tydens salarisonderhandelinge omdat van hulle omstandighede nie veel sedert 1994 verbeter het nie. Vir hierdie werknemers is ʼn salarisverhoging hul enigste kans op ʼn verbetererde lewenstandaard en is hulle bereid om die stakingprys daarvoor te betaal, sonder om die prys van “geen-werk-geen-betaling” te maak.

Soos genoem, wend Solidariteit se lede hulle min tot stakings en is ons onder meer sensitief vir die beginsel van geen werk, geen betaling. Vir die tipiese Cosatu- of Saftu-vakbondlid is die verlies aan inkomste meestal ondergeskik aan die verbintenis tot die “ekonomiese vryheidstryd,” maar die verlies aan inkomste word dalk ook nie verstaan nie.

Die teenoorgestelde – dat ʼn staking ná die tyd baie lonend kan wees as langer ure gewerk moet word en die verlies aan inkomste vinnig ingehaal en soms oortref word danksy verhoogde oortydbetaling en bykomende produksiebonusse – is ook waar.

Die besluit om te staak of nie te staak nie, sal altyd vir Solidariteit en sy lede ʼn uitvloeisel van ʼn weldeurdagte besluitnemingsproses wees. Een ding is ook seker en dit is dat ʼn staking altyd die heel laaste uitweg moet wees.

Ons Mango-lede en die #SwartMaandag-protes teen plaasmoorde en -aanvalle het egter gewys dat daar ʼn tyd en plek vir openbare protes en “straat-aktivisme” is wanneer ons wil seker maak ons boodskap word gehoor wanneer ons geduld opgeraak het.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

Johanna Botha ·

Staak tot alles verlam is veral mango wat deel van saa is en ook verder deel is van die gemors !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.