Ope brief: ’n Oproep tot aksie teen plaasmoorde

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

Beste Vriende

Ek is Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging en van AfriForum se direksie. Ek wil vandag met julle praat oor die plaag van verskriklike plaasaanvalle en wil julle vra om saam met ons daarteen te kom staan.

Daar is groeiende vervreemding en woede onder Afrikaners oor die gruwelike plaasmoorde in die land. Dit word vererger deur die regering se jare lange ontkenning van die krisis en sy onderspeling daarvan as deel van gewone misdaad in Suid-Afrika. Maar die toenemende wreedheid daarvan wys dat dit in werklikheid naakte terreur en ʼn onverklaarde misdaadoorlog teen onskuldige boere is. Om dit as gewone misdaad af te maak, is om aandadig te wees aan die bloedvergieting. Die regering skreeu kliphard as boere verkeerd optree, maar fluister saggies as dit by die veroordeling van plaasmoorde kom.

Kom ons praat reguit: Daar bestaan ʼn wydverspreide gevoel dat ANC- en EFF-politici oor ʼn lang tyd die klimaat vir geweld teenoor ons boere geskep het. Dis onder meer gedoen deur haatliedjies soos “Kill the Boer”, aantygings dat boere die grond gesteel het, en die regering se beleid van onteiening sonder vergoeding, wat alles ʼn openlike aanval op ons boere is.

Ons bly op ʼn kontinent waar hongersnood gereeld voorkom, maar hier word ons kosprodusente verguis en verskreeu en vervreem. Én vermoor. Voedselsekerheid behoort ʼn nasionale prioriteit te wees en nie net lippediens nie. Maar boerelewens gaan oor veel meer as net die voedselketting. Boereplase tower vir my beelde op van gasvryheid, boekevat, kampvuurkuiers, familiebyeenkomste en ʼn Afrikaanse lewe. Die grond en die gras en die geskiedenis is in plaasname ingeskryf. Boerdery is ʼn leefwyse; nie net ʼn onderneming nie. Boere se swaarkry is ons almal se swaarkry. Daarom raak ons stedelinge ook bitter oor hierdie onreg.

Kettingreaksie

As ʼn boer sterf, breek die eerste skakel in die voedselketting morsaf. ʼn Duisend borde word leeg. Tientalle werkers gaan in sinkhuise rondom dorpe sit. ʼn Kleinkind word sonder Ouma en Oupa groot. ʼn Afrikaanse woord raak stil. ʼn Plaashuis staan leeg – sonder lag, kuier en boeregasvryheid. Daar is nóg ʼn leë stoel by die boerevereniging, ʼn oop sitplek in die kerk, een stem minder wat Psalm 23 saamsing, ʼn Bybel wat toegeslaan en stowwerig bly lê, kleinkinders wat nou oorsee Engels praat, ʼn leefwyse wat uitsterf, en ʼn traan wat eensaam in die ouetehuis val.

As ons vra dat ons boere beskerm word, vra ons nie ʼn guns nie. Boere is net soos enige ander mense ook geregtig op beskerming. Die regering het die kommando’s afgeskaf, maar nooit soos belowe ʼn ander, doeltreffende veiligheidstelsel in die plek daarvan ingestel nie. Die owerhede se optrede teen boere het al talle kere gewys dat hulle nie vir ons boere omgee nie. Ons wil optrede sien, nie net uitsprake hoor nie.

Senekal-saamtrek

AfriForum het besluit om eerskomende Vrydag 16 Oktober digby Senekal ʼn vreedsame, veilige en ordelike saamtrek teen plaasmoorde en geweld te hou. Daar sal streng dissipline wees, en almal se veiligheid sal verseker word. Die Solidariteit Beweging ondersteun hierdie protesoptrede, en nooi ons lede uit om hul steun te kom toon. Ons moet saam sterk openbare standpunt inneem om aan die rowerbendes, die regering en die wêreld te wys dat ons by ons boere staan.

Hierdie saamtrek moet verseker dat die stem van die gematigde middelgrond gehoor word. Ons mag nie dat die vreedsame meerderheid se sterk maar tog redelike stem stilgemaak word deur ʼn klein groepie oproeriges en die uitlokkende optrede van radikale rooies nie. Ons mag nie toelaat dat ons regverdige eis vir sterk optrede teen moordenaars uitgedoof word deur mense met politieke en rasse-agendas nie. Ons mag nie dat die aandag afgetrek word van die lot van wetsgehoorsame boere – die werklike slagoffers – nie. Ons veg vir veilige plase, nie teen ander rasse nie. Dis in niemand se belang dat die gesonde persoonlike verhoudinge wat daar tussen mense van verskillende rasse bestaan, vergiftig word deur swak politieke verhoudinge nie.

AfriForum en Solidariteit bepleit sterk maar verantwoordelike optrede. Dis nie nou die tyd om die reg in eie hande te neem of om onwettig op te tree nie. Dan kan ons nie kla oor ander se onwettige optrede nie en benadeel ons die boere se saak en hul veiligheid. AfriForum sal op ʼn geskikte en veilige perseel besluit en behoorlike maatreëls tref dat almal wat die veiligheid van ons boere op die hart dra, dit Vrydag gedissiplineerd kan kom wys.

By die geleentheid sal ons AfriForum se plan vir veilige plase bekendstel, en ook ʼn stel billike eise bekendmaak wat ons aan die president gaan voorlê om te verseker dat ons nie tweedeklas-burgers is wat derderangs regeer word nie.

Ons is moeg vir die straffelose korrupsie, die wydverspreide verval en die grootskaalse wanbestuur wat die land teister. Ons is moeg vir die dubbelstandaarde wat in Suid-Afrika heers. Ons weier om tweedeklasburgers te wees. Ons is niemand se onderdane nie. Die land is in ʼn krisis en vertroue is op ʼn laagtepunt. Die regering moet die verantwoordelikheid neem om met alle rolspelers te praat om oplossings vir knellende vraagstukke te vind. Afrikaners is bereid om te help, maar dan moet die regering ophou om ons uit te sluit. Dit is tyd om te praat. Dit is tyd om te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Fritz ·

Nog n vreedsame optog.
Nog n petisie.
Nog n memorandum.
Nog moorde.
Vir hoe lank nog?
Ek begin stadig maar seker moeg raak vir Afriforum en Solidariteit se optrede (ek is n lid van beide). Baie stadig, maar baie seker.

Herpiet ·

Ek stem, maar onthou ons sal baie emosionele intelligensie en taktiek moet gebruik om ons doelwit te bereik. Die voetsodafe van die Anc wag vir enige wit voetfout sodat ons as die aggressors afgemaak word. Hulle soek ons almal in die tronk of dood. Onthou dubbel standaarde. Die gereg is aan hulle kant.

Jessica ·

Ek dink alle Afrikaners voel nou al in n blik gedruk, want ons sien nie resultate nie. Ons stemme word nie gehoor nie en die uitvoer van ons regstelsel is pateties. Al die briewe, , petisies,moorde en vreedsame optogte beteken niks . Ons is in die minderheid en word boonop uitgemoor. Wit mense is n berdreigde spesie. NIEMAND gee om wat van ons word nie. Dit is n hopelose saak.

Werner ·

Hulle is net besig om ons aan die slaap te sus sodat ons nie uit die pot spring nie

Meneer ·

Ons almal is kwaad. Maar dink voor jy praat. Ja, daar is baie probleme.
Maar ek persoonlik voel dat ons as Afrikaner Boere het uiteindelik ons tande gewys by Senekal 1.
Ons het uiteindelik begin saamstaan, maar daar is nog baie van ons Afrikaner Boere wat moet begin saamstaan, en ek voel dit is besig om te gebeur.
Ek weet nie of jy op die grens was nie, maar enige een kan jou se, om nie die baklei op die vyhand se terme nie.
Dit is nie nou die tyd om geweldadig op te tree nie.
Almal gaan op Senekal 2 teen ons wees, die pers, internasionale pers, EFF, ANC, Polisie, Weermag, jy is mal om te dink ons gaan niks kan oorkom nie, ons is nie “untouchable” nie.
Ons moet eers as ‘n Afrikaner Boere nasie weer bymekaar kom in groot getalle. Weer ons trots terugkry. Weer saam tot God bid en vra om ons te reinig en ons te vergewe vir al ons sonde.
Gaan lees gerus JOËL 1,2,3 en vergelyk met wat hier by ons aan die gang is. Dit wat nou gebeur is ‘n strafgereg van God af.

Hendrik ·

As jy op reg vra om jou sondes te vergewe, is jou sondes van 10 jaar gelede ook vergewe. Die owerhede doen mens dinge en wat hulle doen is nie die Here se straf op ons nie.
Senekal 1 was belangrik met die samekoms van die Boere en om by Senekal 2 reg op te tree is nog belangriker. Wat saamstaan bestaan is daar al gemeenskappe wat al saam groepeer/ saamstaan en ons moet nog die ander (wat se ons moet saamstaan) in dieselfde kraal te kry. Die ander klomp sal waarskynlik nooit wil saamstaan want die die lewe is dan te gemaklik. Die mense sal eerder emigreer (dis maklik) as wat hulle sal groepeer en nuwe gemeenskappe bou in Suid-Afrika (dis moeilik)

twaalfboor ·

@Meeneer
Nog ń bietjie sluimer, nog ń bietjie slaap.
Teen die tyd wat jy bymekaar wil kom Meneer is daar nie meer boere om bymekaar te kom nie.
En ja ek was op die grens…. Meer as eenmaal. Dit gaan nie oor die vyand se terme nie maar die wil om jou belange te beskerm.

Hendrik ·

Enig ander plan van jou af Fritz. Hoe anders wil jy dit doen?

Ratel ·

Ek weet van geen beweging is Suid-Afrika wat meer DOEN as Afriforum en Solidariteit nie Fritz. Miskien kan jy meer spesifiek wees en jou oplossing aan die hand doen?

Vrijburger ·

Sorg vir genoeg kameras en media dekking. (Verkieslik internasionale media.) Maar ook as moontlike bewyse van polisie en EFF optredes.

PieterP ·

“en wil julle vra om saam met ons daarteen te kom staan.”

Sjoe nou al??? (Ja sarkasties)
Ek lees net yadda yadfa yadda

annie ·

Beloftes van die minister van polisie nou skielik is bloot daarop gerig om aandag te skenk aan die klagtes van swart boere oor moeilikheidmakers wat die afgelope twee weke opklink. Dis al. Ons boere se toekoms en die res van die Afrikaners is vervleg. Stedelinge en dorpenaars se voorbestaan kan nie in afsondering beredeneer word nie. Sommiges wil Kaaptoe vir ‘n volkstaat. Klink dit realisties? En die res van die volk… verlate en vergeet?

groenboer ·

Daar is al ‘n dekade of meer petitsies en optogte en protesbriewe. Tot dusver het dit geen verskil gemaak nie. Wat laat enigiemand dink dit sal nou ‘n verskil maak?

Magda ·

Die Regering en EFF Moet aangekla word vir die Plaas Moorde want dit is Terruer aanvalle en kom op dieselfde as Oorlog Misdade. Hulle moet hiervoor aangkla word.

Herpiet ·

Direk na Swart Vrydag was daar aanvalle op Boere na die vreedsame optog. Hier kom dit weer. Boere wees paraat vanaf Vrydag nag.

Therese ·

Puik artikel!
Protes moet altyd ordelik verloop, maar dis ook noodsaaklik dat die Afrikaner-gemeenskap hul skaar agter André Pienaar en sorg dat hy dadelik die bes moontlike regshulp kry.
As dit nié gebeur nie, en hy vir die wolwe gegooi word soos die “Doodskis Twee”, is dit nóg ‘n skreiende onreg.
Die grusame Horner-moord het buitengewoon heftige gevoelens opgejaag en Pienaar is duidelik die slagoffer van sy redelik dwase heethoofdigheid. Hy word nou misbruik deur ‘n verdagte regstelsel om boere te intimideer (dit slaag alrééds) en dringende optrede is noodsaaklik.
Hy is allermins ‘n ekstremistiese randfiguur. Hy is ‘n Afrikaner. Help hom asseblief.

Vernon ·

Dit gaan nie help om voedselsekerheid keer op keer te opper nie. Dit gaan nie daaroor nie,hulle die ANC en kie gee nie om oor dit nie. Dit gaan oor grond om op te bly en bloot te vat van die witman,om te ontneem van dit wat die witman bereik het. Solank ons doekies bly omdraai oor die werklike rede vir plaasmoorde gaan dit voort duur soos van 1994 af. Hoe lank gaan ons nog praat en smeek ? Afrika verstaan nie dit nie. Ek dink nie sommige mense verstaan mooi die wese van hierdie mense nie. Solank ons onkundig bly en dit op n Westerse manier wil bestry,gaan hulle ons bly uitmoor. Dit is ongelukkig die waarheid.

Rose ·

Die hele land moet bid vir beskerming vir Vrydag se saamtrek.

Francois ·

Gedeelte 1 – Ek het die afgelope ruk ook vir myself probeer uitmaak oor wat my, as Christen, te doen staan as dit by die behandeling van Afrikaners, blankes en boere on ons land kom. Dit is nie vir my nodig om voorbeelde te noem nie, ons almal se bloed kook as ons van alles lees, hoor, sien en ervaar. Ek kon totale nou nie vir myself uitmaak wat die uitweg is nie. Dit is maklik om te vol bravade praat van oorlog en geweld, maar nêrens kon niemand my nog oortuig dat ons blankes toegerus en voorbereid is om dit suksesvol te gebruik nie. As ons dit wou doen moes dit in 1994 gebeur het toe ons nog grootliks in beheer van die weermag en polisie met die wapen arsenale was. Nou is ons nie meer nie.

Omdat praatjies oor 16 Oktober 2020 op Senekal wyd loop en die voorgestelde optrede in die verskillende media moontlikhede van die een uiterste na die teenoorgestelde uiterste is, het ‘n persoon Sondag tydens ons erediens waar woorde gepraat wat vir my rustigheid, maar ook ‘n dringendheid ingehou

Francois ·

Gedeelte 2 – Die persoon sê ons moet bid. Maar waarvoor en vir wie? Ons is bid en vra vir die oplossing wat ons klaar besluit het is die regte een – daarom moet die Here dit net ïmplimenteer. Maar die Here het vir Sy dissipels die Onse Vader gebed gegee en gesê dit is hoe julle moet bid.

In die gebed, vra ons wel – ” laat U koninkryk kom… “. Wanneer? Nou? Niemand weet nie. Maar ons kan self begin dat Sy koninkryk nou reeds, heel eerste, binne elkeen moet kom en dat ons lewens dit weerspieël. Dan sal dit veroorsaak dat die koninkryk in jou gesin se lewens weerspieël sal word, dan jou vriendekring, jou huis, jou plaas, jou dorp, jou land…. Môre, 16 Oktober 2020 op Senekal – laat Sy koninkryk daar kom en ‘n voorbeeld wees vir die vyand…. En so SAL die EINTLIKE vyand (satan- nie mense nie) verslaan word….

En dit kom by op – ek is seker as môre se Senekal byeenkomste afgesluit word met sing van die “Onse Vader”, gaan baie engele saamsing – en die vyand sal sidder….

Seën vir u.

Christo ·

Francois is SO reg. Ons moet terug draai na GOD. Ons moet bid en vertrou dat GOD die oplossing op SY tyd sal bring. DIe polisie (of regering) is nie bevoeg om die boere te beskerm nie. Die regering is nie bevoeg om wet en order in die land te handhaaf nie.
Kom ons vra dan vir GOD om ons boere te beskerm en wet en orde in ons land te herstel.

Vriendelike Frikkie ·

Ons is by ‘n tweede Bloedrivier. Ons sal onsself moet verootmoedig en die Here se beskerming afsmeek. Dis tyd vir ‘n tweede Gelofte as ek die tekens reg lees.

Leonard ·

Die Gelofte het gevra vir ‘n oorwinning waarvoor daar reeds aktief voorberei is (om in die veldslag in te gaan).

Hendrik ·

Fritz wat se alternatief stel jy voor en Meneer waar bly jy en hoe betrokke is jy met saamstaan?

Pieter jacobus theron ·

Mnr Buys ek het groot respek as lid van Afriforum, vir alles wat u vir die gemeenskap doen. Ek is n adv. met 40 jaar ondervinding as staatsaanklaer, prokureur en adv. met baie kennis van die strafreg. Al wat gaan help om moord en geweld radikaal te verminder is die doodstraf. Dring aan in elke optog en aksie op n referendum daaroor. 75% van publiek ondersteun die doodstraf. As ons n ref kan wen sal druk groot op regering wees om grondwet te wysig en sal baie lewens gespaar word. Ek tree graag pers. met u in gesprek daaroor as u dit verlang.

Ratel ·

Dankie Flip. Ek ken bitter min mense in Suid-Afrika wat so nugter en pragmaties dink en hulleself so goed uitdruk soos jy. Die regering gaan boere nie beskerm nie. Hulle politieke agendas en ideologie met ‘n goeie dosis haat daarby laat dit net nie toe nie. Selfbeskerming, selfbeskikking en selfregering is ons voorland. In hierdie opsig het Afriforum en Solidariteit reeds reuse werk gedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.