Robert Mugabe: Verkeerd teenoor verkeerd

Robert Mugabe (Foto: Wikimedia Commons)

Die dood van oudpres. Robert Mugabe illustreer opnuut in welke mate die geskiedenis in mindere of meerdere mate ’n greep op die hede het. Want die wortel van baie van wat ná Mugabe se magsoorname in 1980 gebeur het, kan gevind word in die geskiedenis van Mugabe en sy party – die Zimbabwe African National Union (Zanu) – in die jare sestig en sewentig.

Iets soortgelyks geld vir ons eie ANC, maar meer daaroor later.

Die mees gesaghebbende studie van die Rhodesiese rebellebewegings ná Ian Smith se eensydige onafhanklikheidsverklaring in 1965 is Stuart Doran se Kingdom, Power, Glory: Mugabe, Zanu and the Quest for Supremacy 1960-1987. Daarin gaan hy diep in op Zanu se opstand teen die Smith-bewind, maar, belangriker, op die stryd om die mag onder die swart opstandelinge self.

Die beweging wat al in 1961 teen die koloniale bewind begin agiteer het, was die Zimbabwe African People’s Union (Zapu) van Joshua Nkomo. Zapu is egter in 1962 tot verbode organisasie verklaar, en het ná 1965 ’n gewapende stryd teen die Smith-regering begin voer.

Deels omdat dit aanvanklik ’n klaaglike mislukking was, maar ook weens die leiers se botsende persoonlike ambisies, het Zapu in 1963 geskeur met die afskeiding van Zanu. Zapu het sy hoofkwartier mettertyd in Zambië gevestig en Zanu syne in die onafhanklike Mosambiek.

Teen hierdie tyd het ’n nuwe faktor sy opwagting gemaak: Robert Gabriel Mugabe, uiters intelligent, maar terselfdertyd buitengewoon kil en meedoënloos.

Mugabe is in 1924 gebore en het, onder meer, aan Fort Hare in Suid-Afrika gestudeer voordat hy weens sy revolusionêre aktiwiteite in hegtenis geneem is en tien jaar agter tralies in Rhodesië deurgebring het.

In 1975 is hy vrygelaat, waarna hy onmiddellik na Mosambiek uitgewyk en sy skouers en elmboë begin gebruik het om die leiding van Zanu oor te neem. Zanu was destyds in ’n effense leiervakuum, wat dit vir hom makliker gemaak het.

In dié tyd het Mugabe sy ware kleure getoon. Op grond van die historiese bronne kom Doran tot die gevolgtrekking dat Mugabe “ ’n geweldskultuur ingedrink het, maar nie self ’n regstreekse deelnemer was nie”. En: Geweld was vir Mugabe “die mees effektiewe en bevredigende manier om met mededingers van welke aard dan ook om te gaan. Dit was geen afwyking nadat Zanu in die regering beland het nie.” Reeds in die jare sestig, wys dokumente – volgens Doran – dat Mugabe se verbintenis tot geweld “absoluut” was.

Met ander woorde, Mugabe was eintlik reg van die begin af ’n stoomroller wat geen teenstand of mededinging van enige aard geduld het nie. Dit, saam met Joshua Nkomo se weifelagtigheid, was die belangrikste rede waarom hý in 1980 die nuwe Zimbabwe se eerste minister (en later president) geword het.

Sy kil manier om potensiële teenstanders, sonder om ’n oog te knip, uit die weg te ruim is ná 1980 voortgesit. Terwyl hy – takties besonder slim – voorgegee het dat hy die hand van vriendskap na die wit mense uitsteek, het hy Zapu met ongebreidelde geweld platgeslaan.

In ’n dik, gedetailleerde verslag van 440 gedrukte bladsye het die Zimbabwiese Katolieke Kommissie vir Geregtigheid en Vrede en die “Legal Resources Foundation” in Harare die massamoord op maklik 20 000 mense in die jare tagtig geboekstaaf. Op bevel van Mugabe het die leër se berugte Vyfde Brigade, wat deur Noord-Koreaanse instrukteurs opgelei is, in Matabeleland (waar Zapu sy steun gekry het) ingevaar en mense in hul hordes afgeslag.

In ’n voorwoord tot die 2007-uitgawe van die verslag skryf Elinor Sisulu, skoondogter van die ANC-leiers Walter en Albertina Sisulu en self afkomstig uit Zimbabwe, hoe sy haar skaam wanneer sy die verslag lees:

At the time many of us were too enamoured of our own great liberation hero to allow ourselves to confront all the evidence of his direct complicity. Zimbabweans were not prepared to see the fly in the ointment of their newly found peace.

Sy skryf van:

Physical and psychological torture, rape and other forms of sexual abuse, starvation of the population, burning of homes and granaries, disappearances, bodies thrown down mineshafts and murders …

Sisulu is eerlik genoeg om te raak aan ’n verskynsel wat ook op Suid-Afrika en die ANC van toepassing is.

As historikus kan ek rasioneel verklaar waarom die Smith-bewind aan die mag probeer vasklou en waarom Afrikaners apartheid in Suid-Afrika toegepas het. Synde self ’n Afrikaner, gaan dié rasionele verklaring selfs met ’n tikkie geneentheid gepaard.

Tog, as méns wat vryheid, demokrasie en Christelike naasteliefde aanhang, moet ek erken dat Smith-hulle se baasskap en apartheid moreel verkeerd was.

Mugabe se geskiedenis dwing ’n mens egter om dieper te grawe. Beteken die feit dat die Smith-baasskap en -apartheid moreel verkeerd was dat elkeen wat daarteen in opstand gekom het, moreel suiwer was?

Mugabe se kille voorkeur vir geweld en sy ongebreidelde aanwending daarvan wys dat die antwoord negatief moet wees. Ook in Suid-Afrika se eie geskiedenis van dieselfde tyd blyk dit.

My navorsing – dit moet mettertyd in ’n boek, geskryf saam met my vrou, neerslag vind – wys duidelik dat die leiding van die ANC, in ooreenstemming met die wense van die Kremlin oorgeneem is deur lede van die intens Moskou-getroue SA Kommunistiese Party. Teen die jare tagtig was die leiding van die twee groepe grotendeels saamgesmelt.

In dié tyd het die ANC/SAKP beslis nie vir die soort liberaal-demokratiese veelparty-demokrasie wat in ons Grondwet vervat is, geveg nie, maar vir ’n Leninistiese eenparty-diktatuur. Dit het bowendien gepaard gegaan met ’n terreurveldtog wat steeds erger geword het en ten slotte, ten opsigte van sy praktiese uitvoering, skaars van dié van die Taliban, Islamitiese Staat en Al-Kaïda onderskei kan word.

Dit maak Smith se baasskap, apartheid en die onbetwisbare onreg wat daarmee gepaard gegaan het, nie rég nie. Maar dit beteken bloot dat onreg met onreg beveg is, pleks van dat die kwaad deur die goeie oorwin is.

Dat Smith ʼn fout was, beteken nie dat Mugabe reg was nie. Sy ongebreidelde geweld, wat tot aan die einde van sy bewind voortgegaan het, was bloot ’n voortsetting van sy meedoënlose uitskakeling van mededingers al in die sewentigerjare.

Dat die vorige regering se beleid moreel verkeerd was, beteken nie dat die ANC/SAKP/UDF reg was nie. Die wortels van baie van wat in die jare ná 1994 verkeerd geloop het, kan teruggevoer word tot die geskiedenis van die struggletyd.

Reg staan nie altyd teenoor verkeerd nie. Soms staan verkeerd teenoor verkeerd.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Rubber ·

Ek woon eerder onder ‘n diktators met ‘n gesonde infrastruktuur, as een een wat se handpalms vol ghries is. Om te sê Smith was verkeerd is soos om te sê Mugabe het sy land in ‘n paradys omskep.

John ·

His-story en geskiedenis is twee verskillende dinge. Geskiedskrywers behoort nooit die ‘ek’-verwysing te benut wanneer hy die intelligensie van sy lesers respekteer nie. Laasgenoemde kan tussen die lyne lees… maar natuurlik is Afrikaners op eie bodem sonder Europese-belugting redelik onnosel,

Db ·

Waar val hierdie man uit? Smit-regering verkeerd. Hy het geskiedenisboeke gelees wat seker nog nie eers gedruk is nie. Hoekom sien hy nie wat ons sien dat Zimbabwe nog net moet verdwyn want daar is in elk geval niks oor na Mogabe nie

Sanna ·

Die Shona waarmee ek al te doene gekry het verwys na Zimbabwe as “Bobland”.

Piet ·

Die skrywer van hierdie artikel moet die skille van sy oe afhaal. Smith was een van die beste Afrika leiers ooit!

Stephan de S ·

n Uitstekende artikel vol waarheid. Ek dink…let op: dink….die rede waarom mense nogal dikwels fel teenoor jou artikels reageer, is omdat jy te min na die ontstaan geskiedenis v sake verwys….waarskynlik weens gebrek aan ruimte. Apartheid in SA was nie bloot Afrikaners se keuse nie. Dit was amper n gegewe situasie in 48. Onthou dat die Sappe nog met 48-veldtog belowe het dat hul na die verkiesing groter skeiding in bv openbare geriewe en behuising gaan nastrewe. Die Natte was net dom genoeg om dit in wetgewing vas te vat. Afsonderlikheid was n gegewe in SA gesien in die lig van totaal uiteenlopende kulture wat in 1652 bymekaar gekom het……die Afrika-kulture was in totale isolasie sonder die alfabet en die wiel. As mens die histories-noodsaaklike ontwikkeling ontken ,wanneer het aparte skole bv n “sonde” geword – was dit toe die Hollanders hul alfabet op die Khoi “afgedwing” het of was dit in 48.?…..afsonderlike onderwys was toe in elk geval reeds n gegewe in SA. In 1913 het die Britte n bedrag geld aan SA geskenk vir onderwys en Gen Smuts , wat dit in ontvangs geneem het,het onmiddelik gevra of dit vir swart of blanke onderwys bedoel is. Afrikaners en in minder mate die Smith-regering was vasgevang in n histories-bepaalde situasie wat nie vinnig veranderbaar was nie……dieselfde geld egter nie vir Mugabe en die ANC. Hulle het ingekom toe die wêreld-politiek n totaal nuwe paradigma belewe het…..maar steeds teruggeval na “boendoe” politiek.

Frans C ·

Ek is somtyds verbaas hoe mense die Bybel aanhaal om standpunte te onderskraag of te weerlê.in die Bybel lees ‘n mens.Kolossense 1:16 kry: “Want in Hom is alle dinge geskape … alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” (1953).

En die alles sluit die onstaan van volke in ,elkeen in hul eie gebied en daar is ‘n goeie rede daarvoor.Ons Skepper het geweet dat as volke eers saamstaan, dan word hul te groot vir
hul skoene en beraam planne om die Skepper van sy troon te stoot en sy plek in te neem.

Kyk maar wat plaaslik gebeur.met die Bybel feitlik uit die skool verban heers daar chaos in die land en sukkel die sosialistiese/kommunistiese regering om orde te handhaaf.
Ja daar is diegene wat ander lande as voorbeeld sal aanhaal wat nie sogenaamd Christelik is nie en daar wet en orde is,soos bv Nederland maar laat dan na dat die land stadig maar seker besig is om te verdrink in dwelms.’Netherlands becoming a narco-state, warn Dutch police “.

Afsonderlike ontwikkelling was dus in beginsel nie verkeerd nie.Wat verkeerd was,was die toepassing daarvan want dit het onder buitelandse druk en binnelandse terrorisme ontaard het in wat later beskryf sou word as ‘n ‘crime against humanity’ asof die 400 000 vermoorde mense sedert die ANC oorgeneem het nie ‘n ‘crime against humanity’ is nie.

Anoniem ·

President Mugabe is nou Geskiedenis maar die wrang vrugte van Sy tyd sal nog lank geoes word ! Wat ‘n jammerte

Alibama ·

De enige genoegdoening voor die arme mensen in Zimbabwe is dat die man vanaf 1980 het land tot de grond toe heeft afgebroken nu gevoederd word aan de haaien.

Kobus ·

moet net nie dat daardie pastoor wat die dooies wakker maak hom begrawe nie

Stephan de S ·

Uitstekende opsomming deur Herman G. Ek aanvaar hy s die bekende emeritus professor…..ek het so baie geleer deur sy artikels te lees. Dankie vir sy bydrae tot historiese balans.

humor ·

satan in mensegestalte. Ek wonder hoe gaan dit die die afgelope paar dae daar anderkant.

KrokodilBotha ·

In Zimbabwe gaan dit wonderlik. Die mense is vry, daars soms kos, brandstof. Al probleem is na Smith is dit net n gesukkel om die land weer SUPER te kry.

Herman G ·

Ek stem saam Leopold dat sleg nie noodwendig deur goed beveg word nie. Ek wens die internationale media verstaan dit. Toe die Rebelle teen Khadafie (Mugabe se pel) geveg het, het die media die Rebelle op die selfde vlak as die “French Resistance” gehys. Nou is daar 17 of meet Kadafies in Libia. Dit het my gruwelooslik geiriteer dat die Serwiers in die 1990’s uitgekryt is as die slegte ouens deur joernaliste wat bittermin van die Balkan geskiedenis verstaan het.

Net ‘n laaste woord oor Ian Smith – JRT Wood skryf in een van sy boeke dat ‘n Britse diplomaat in 1960’s geskryf het dat in die 1950’s was die blankes van Rhodesia baie gemaklik om, in die toekoms, mag met die swartes te deel, maar teen die middel 1960’s was hulle daarteen gekant. Hoekom? Die geweld in die Kongo en noord Angola, en die geweld (in townships) deur ZAPU. Die blankes was nie onskuldig nie, maar anargie was ‘n definitiewe moontlikheid.

Sien, ons kan soms saamstem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.