Terugvat-houding oor grond tel stoom op

Die langverwagte groenskrif wat ʼn nuwe koers en implementeringstrategie vir grondhervorming moet aandui, is eindelaas in die openbare domein. Die Kabinet het dit vir bespreking goedgekeur. Dit is broodnodig, want die verloop van grondhervorming oor die afgelope dekade was rampspoedig. Ten spyte van meer as R43 miljard wat daaraan spandeer is, en wat reeds meer as 30% van alle landbougrond moes kon koop, is skaars 7% oorgedra, en die suksessyfer vir die vestiging van swart kommersiële boere daarop neig na nul.

Die grootste rede vir die mislukkings is swak staatsadministrasie, gebrek aan beplanning en koördinasie, korrupsie, nepotisme en sommer net rou onvermoë. Vir 10 jaar het onervare, oud-aktiviste in die grondsakedepartement (wat, vanweë hulle weergawe van regstellende aksie, geen landboukundiges, landbou-ekonome of eiendomswaardeerders in hulle geledere wou aanstel nie) geweier om raad of hulp van gevestigde boere te aanvaar. Alles waarteen hulle gewaarsku is, het gerealiseer, dikwels in die oortreffende trap.

In die groenskrif word daar vir die eerste keer sedert 1994 daaraan erkenning gegee, in paragraaf 8 onder die opskrif “Challenges and constrains”:

“(c) the main constraint is the poor capacity of organs of state to implement.”

Ander struktuurgebreke waaraan georganiseerde landbou al vir ʼn dekade torring, en wat ook nou in paragraaf 4 van die groenskrif erken en aangespreek word, is:

  •  die totale gebrek aan seleksiekriteria vir begunstigdes van grondhervorming;
  • die silo-mentaliteit in die staatsdiens wat samewerking en koördinasie kniehalter;
  • swak administrasie en bestuur van grondhervorming;
  • gebrekkige ondersteuning aan nuutgevestigde grondeienaars;
  • die impak wat dit op die dalende bydrae van landbou tot die BNP het;
  • die styging wat dit in landelike werkloosheid veroorsaak het; en
  • die irrasionele stappe wat geneem is om ʼn onbereikbare teiken van 30% grondoordrag teen 2014 te bereik.

Die grootste enkele fiasko in die grondhervormingsproses is grondeise. Dit is gewoonlik gemeenskappe wat daaruit voordeel trek, met onbestuurbare verwagtinge en min toerusting om dit uit te voer. Dan is daar nog die interne konflikte wat elkeen van daardie eisergroepe teister. Dit is moeilik genoeg vir ʼn pa en seun om saam te boer, wat nog te sê vir ʼn hele gemeenskap! Minder as ʼn vyfde van plase wat sedert 2001 onder grondeise in die staatskoerant gelys is, is tot dusver oorgedra, en die res lê en vergaan in die vrieskas van onsekerheid en verlammende beperkinge op verdere ontwikkeling.

Gugile Nkwinti, minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming

Tydens ʼn tiental streekvergaderings wat minister Gugile Nkwinti voor die afhandeling van die groenskrif met hoofsaaklik begunstigdes van grondhervorming en aspirant-boere gehou het, het hy sterk onder druk gekom om die grondeiseproses weer oop te gooi. Dit is trouens in sy vergadering met verteenwoordigers van georganiseerde landbou op 29 Junie so aangekondig, waarop beide Agri SA en die TLU hewig beswaar gemaak, en ʼn lang lys negatiewe gevolge uitgewys het.

Niks daarvan kom in die groenskrif voor nie, inteendeel, daar word na die grondeisemodel as “problematies” verwys. Wys jou net – dit help soms om eers te praat voordat daar na ʼn bakleirat oorgeskakel word.

Daar is egter ook heelwat goggas in die groenskrif, wat óf daar uitgepraat, óf uitbaklei moet word. Die grootste is waarskynlik die voorgestelde plafonne vir private grondbesit, wat naas die uitverhuring van staatsgrond, beperkinge en voorwaardes aan buitelandse grondbesit, en gebruiksregsekerheid by kommunale gronde, as die weg vorentoe voorgestel word. Dit behels dat elke individu hetsy in sy persoonlike hoedanigheid, of as ʼn lid van ʼn BK, aandeelhouer in ʼn maatskappy, of as begunstigde of trustee in ʼn trust, net by ʼn sekere maksimum aantal hektare ʼn belang mag hê.

By elke geleentheid oor die afgelope jaar of meer, het beide Agri SA en die TLU die probleme en waarskynlike onbedoelde gevolge van grondplafonne uitgewys. Sowat 70 superboere (meestal korporatiewe boerderye) soos ZZ2, Westfalia, Du Toits, Wilde Klawer en Charl Senekal, produseer verreweg die grootste deel van Suid Afrika se kos. Dit is hulle wat die ergste deur grondplafonne geraak sal word, en hulle het nog geen geleentheid gehad om met die minister daaroor in gesprek te tree nie.

Van ons land se grootste grondeienaars is daarbenewens swart, want in grondeise soos dié in Magoebaskloof, Hoedspruit, Levubu en verskeie in KwaZulu-Natal, het begunstigdes reuse stukke grond van die staat ontvang. Gaan hulle nou gedwing word om dit weer terug te gee?

Dit is in elk geval ʼn onwerkbare model. As ʼn boer in Tzaneen, waar die grondplafon dalk 1 000ha is, 600ha het, en in Griekwastad, waar die plafon dalk 10 000ha is, ook 6 000ha het, het hy te veel grond? Hoe sal dit bepaal word? Of as hy 1 100ha in ʼn distrik het waar die plafon 1 000ha is, sal hy mos sy swakste 100ha opoffer, en so sal begunstigdes oral net die heel swakste dele van plase kry. Hulle sal uit die staanspoor aan mislukking uitgelewer wees!

Dit gaan in elk geval nie oor hoe groot ʼn plaas is nie, maar wat daarop gedoen kan word. In Kakamas is ʼn 100ha skaapplaas bitterklein, maar 100ha onder wingerd is baie groot. Onder twee naasliggende plase wat presies ewe groot is, kan die een tien maal meer werd wees as die ander vanweë topografie, grondtipe, water, ontwikkeling en vele ander oorwegings. Die gebrek aan begrip in die regering vir hierdie beginsel, is presies ook die rede waarom grondhervorming op alle vlakke tot dusver misluk; daar is geen praktiese ervaring of kundigheid wat beleidsbesluite onderlê nie.

Aan die basis van die groenskrif lê ʼn onuitgesproke politieke motief; hulle wil nie markwaarde in grondhervorming betaal nie. Die ANC glo dat die grond in Suid-Afrika onregmatig van inheemse Afrikane ontneem is, en hulle wil dit terugvat. Om markwaarde daarvoor te betaal, ondermyn daardie terugvat-gevoel. Vandaar die voorgestelde waardeerder-generaal, wat oor waardes en kompensasie moet besluit.

Ek wil voorspel dat toekomstige spanning tussen kommersiële boere die staat oor grondhervorming minder te doen sal hê met hoeveel en watter plase vir grondherverdeling geteiken sal word, en meer met dit wat die staat daarvoor sal betaal.

Die hef aan lê voor – die spanningslyn in die storie oor grond begin nou eers!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Theo de Jager

Meer oor die skrywer: Theo de Jager

Theo de Jager is Adjunkpresident van Agri-SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Anoniem ·

Dit is ‘n goeie blik wat op ‘n steeds vloeiende situasie gegee word.

Deel enigiemand my waarneming dat die ANC en veral sy meer radikale ondersteuners voel dat hulle in 1994 ‘n seker oorwinning oor die Boere ontsê is, en nou die geleentheid soek om wel daardie duidelik sigbare en verkondigbare oorwinning te behaal?

Wat sal ‘n gepaste stragie vir in so ‘n situasie wees?  Druk jy hom wat jou as vyand beskou styf teen jou vas en dans ‘n dodedans, of is daar ‘n opsie om strategies terug te val?

Hoeveel waarde het die argument vir die behoud van voedselsekerheid vir 3,000 Afrikanerboere as verweer indien die regering weet dat hy slegs 70 superboere aan die boer hoef te hou om voedselsekerhed grootliks te bewaar?

Louis du Plessis ·

1  Theo ~ Wat ‘n deeglik beredeneerde beoordeling van die grondhervorminggroenskrif, waarin jy ook krities die oneindige tekortkomings in die proses uitspel.

2  Gemsbok vra:  “Wat sal ‘n gepaste strategie vir so ‘n situasie wees?  Druk jy hom wat jou as vyand beskou styf teen jou vas en dans ‘n dodedans, of is daar ‘n opsie om strategies terug te val?”  Dis ‘n uitmuntende toekomsvraag!  Hoekom?  Want Gemsbok veronderstel dat kompromislose weerstand dalk in ‘n dodedans kan ontaard terwyl ‘n oorwoë terugwaartse operasie langtermyn strategiese voordele kan inhou. 

3  Theo ~ My indruk is: Agri SA is oor jare reeds skerpsinnig besig om te laat gaan wat nie behou kan word nie en te behou wat wel behou kán word, en om sodoende dus reeds besonder strategies te handel.  Omdat so ‘n groot persentasie van boere ons volksgenote is, handel julle, teenoor ‘n oorweldigende politieke oormag, ook namens ons.  Saam met Von Manstein, bewonder ons sulke strategiese vaardigheid! 

Anoniem ·

Ek dink dat ons hier ‘n onderwerp aanraak wat ons besef ons iets mee sal moet doen, maar amper soos ‘n blinde kan ons slegs aanvoel dat die struikelblok iets baie groot is, en die weg daaroor nog duister en onseker.

Dalk kan prof. du Plessis my reghelp, maar die belangrikste wins wat te maak is in ‘n terugwaartse operasie, is om tyd te wen.  Tyd wat die belofte inhou om die uitslag uiteindelik in jou guns te draai, dalk nie met oorwinning nie maar wel met oorlewing.

Die vraag is hoe daardie tyd aangewend behoort te word?

Dikwels is dit nodig om daardie tyd aan te wend om ‘n politieke skikking te beding, eerder as om te hoop op ‘n gunstige militêre uitslag.

Indien daardie tyd egter nie planmatig aangewend word nie, kan die resultate katastrofies wees.

So byvoorbeeld het die voortreflike Duitse Wehrmacht voortdurend taktiese oorwinnings behaal op die Oosgrens met dikwels briljante terugwaartse operasies, maar omdat die tyd wat hulle so gekoop het nie beter aangewend is nie, is Berlyn uiteindelik geplunder, haar inwoners verkrag en is sy in twee gedeel.

Het dit nie dalk nodig geword vir ons om uit alle sektore saam te begin werk oor die grondvraag nie? 

Of gaan ons net later poog om die stukke op te tel vir daardie 2,930 boere en hul gesinne wat “oorbodig” geraak het? 

Hoe goed het ons tot dusver die tyd aangewend wat ons so duur in 1994 gekoop het?

Louis du Plessis ·

Ebert ~ 
 
1  In aansluiting by die omvattende en kritiese groenskrifbeoordeling deur Theo en die antwoorde oor ‘n strategiese proses deur Gemsbok en my, suggereer jy enkele kardinale oorwegings.   
 
2  Jy sê resultate van ‘n terugval kan “katastrofies” wees.  Dis korrek.  Uiteraard kan ook die resultate van ‘n aanval katastrofies wees. 
 
3  Dis ‘n korrekte voorbeeld wat jy noem:  ‘n leër kan terugval soos die Duitsers na Berlyn toe in 1944 en 1945 en dan oorgee.  ‘n Teenvoorbeeld is: ‘n Leër kan terugval soos die Russe na Stalingrad toe in 1942 en 1943 en die vyand hierna begin terugdryf en verslaan.  ‘n Middelvoorbeeld is:  Twee weermagte kan beide beurtelings aanval sowel as terugval, soos die kommunistiese bondgenote van Noord-Korea en die geallieerde bondgenote van Suid-Korea aan die begin van die 1950s, tot hulle ‘n skikking bereik.  Dié bewegings – onsuksesol of suksesvol of ewewigtig – kan uiteraard ook oorgedra word na ander gebiede toe soos die politiek, landbou en menseverhoudings. 
 
4  Ons voel inderdaad soos blindes ons weg op ‘n duister pad vorentoe.  Ons tas in verskeie opsigte steeds in die duister rond.
 
5  Jou belangrikste vraag, dink ek, bedoel jy retories, asof die antwoord vanselfsprekend is: “Het dit nie dalk nodig geword vir ons om uit alle sektore saam te begin werk oor die grondvraag nie?”  My oordeel:  Die antwoord is byna vanselfsprekend positief.  Ons almal móét.  Trouens, en dan nie net oor grondsake nie, maar oor álle fasette van ons bestaan.  Juis hierin speel die Groot Debat tans ‘n belangrike rol.
 
6  ‘n Kernrede hoekom ons die beginsel van eenheid nie langer kan uitstel nie, is ons geringe getalle:  van die Suid-Afrikaanse samelewing stem maar min of meer 24 persent vir die lewenskragtigste opposisie, die DA, wat deurlopend beding vir taalregte en eiendomsregte; is maar min of meer 13 persent Afrikaanssprekendes; en is maar min of meer 6 persent Afrikaners.  Daar’s ook talle maniere waarop ons onsself kan klassifiseer, maar hoe ons onsself ook al groepeer:  om maksimum steun vir ons saak te verseker, is samewerking en eenheid onontbeerlik.  Dié voorstel van jou is onweerlegbaar. 
 
Met agting

Anoniem ·

Louis,

Dankie vir die repliek en verdere insig op taktiek.

Vir diegene wat oorsigtelik na die gesprek kyk, wil ek net ter duidelikheid noem dat die militêre verwysing metafories ingespan word.

Ek lees in Leopoldt Scholtz se onlangse rubriek in Beeld dat Europa ook ten minste kennis neem van die probleme waarmee Suid-Afrika te kampe het. http://www.beeld.com/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/n-Aks-kort-van-minagting-20110902

Maar die verantwoordelikheid vir elkeen om konstruktief betrokke te raak en ‘n rol in die openbare diskoers as Afrikaners en in samewerking met Afrikaanssprekendes en ander Suid-Afrikaners te speel, is reeds van wesenlike belang. Ek stem heelhartig met jou opsomming saam.

Hopelik sal Die Groot Debat (durf ek die cliché van DF Malan gebruik?) ‘n bydrae lewer om bymekaar te bring wat bymekaar hoort.

Propatria ·

Ek is van mening dat n paar punte tot hierdie gesprek nie op die tafel is nie, en dit laat gate in die legkaart.

Om te kan besluit of aanal of terugval n opsie is, moet die volle situasie eers ontleed word, my gevoel daarvan is dat die groenskrif en regeerings houding net deel van die prentjie vorm.

Ek het n ruk gelede getalle gesien van die veiligheid situasie wat n boer in SA twee maal meer kans het om gedood te word as deelnemende troepe tydens WWII, en tans die heel gevaarlikste beroep op die planeet is, hierdie inligting kan ek nie behoorlik verifieer nie weens gebrekkinge inligting wat beskikbaar is, nietemin is dit n baie belangrike aspek.

Plaasmoorde en plaasaanvalle het n pouse gehad tydens die wereldbeker sokker na Zuma se versoek dat misdadigers kalm moet wees tydens hierdie tydperk??? Wat moet ons daarvan wysword?

Uitstel van moeilikheid is alleenlik wys indien jy n defnatiewe plan het waarvolgens jy werk, in alle ander gevalle is dit dwaas.

Ek sien nie n oplossing op kort termyn nie, maar sou voorstel dat boere hulle werksmag moet vervang met volkseie werkers, dit beveilig die plaas en dit verlig die druk op ons eie mense, dit sal boerdery kennis ook uitbrei tussen ons eie mense en versterk ons eie voedsel sekerheid.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.