Vryheid vir die musikus, maar ook vir die orkes

Dr. Ernst Roets (Foto: Twitter)

Die gesprek oor wat dit nou eintlik beteken om vry te wees – en hoe ons daar gaan uitkom – is nog lank nie verby nie. Die afgelope maand was daar skielik weer ʼn hewige debat oor die betekenis van vryheid na aanleiding van ʼn artikel wat ek in Engels op Politicsweb en in Afrikaans op Maroela Media gepubliseer het.

Ek het my kommer uitgespreek oor die waarneming dat liberaaldemokratiese regerings geneig is om sosialisties te word. Ek het ook gewaarsku dat individualisme ʼn donker kant het, veral wanneer dit ʼn ideologie word wat voorgee dat die somtotaal van vryheid die vryheid van die mens as individu is om sy eie keuses te maak.

Ek het die Poolse filosoof Ryszard Legutko aangehaal, wat tot die gevolgtrekking gekom het dat liberalisme en sosialisme veel nader aan mekaar is as wat ons graag wil glo, omdat beide hierdie ideologieë ʼn belangrike element in gemeen het: Albei dring daarop aan dat die boublokkke van die Westerse beskawing vervang word met ʼn nuwe teorie waarvolgens die samelewing ingerig moet word.

Om hierdie punt te staaf het ek verwys na Paulus, wat ons vermaan om in die vrug van die gees te leef en waarsku dat mense wat hul in hulle sondige begeertes verlustig allermins vry is en veel eerder as slawe beskryf kan word. Ek het ook verwys na Aristoteles wat vryheid beskryf het as die beweging van potensialiteit na aktualiteit (anders gestel, vryheid is nie om te doen wat ook al ons begeertes en drange vereis nie, maar om die regte dinge te doen om ons roeping hier op aarde te vervul), en die Romeinse orator Cicero wat gesê het dat vryheid behels dat ons die goeie dinge wat ons van ons voorouers geërf het vir ons nageslag moet bewaar. Hierdie soort idees, wat oor die eeue heen belangrike boublokke van die Westerse beskawing was, word deur die nuwe ideologieë van ons tyd as oudmodies en selfs onderdrukkend voorgehou.

Die artikel het hewige reaksie ontlok, veral onder skrywers wat hulself as kampvegters vir liberalisme voorhou. In die reaksies word daar beweer dat ek ʼn aanval op individuele vryheid loods. Dit is allermins waar. My argument is nie dat individuele vryheid ʼn probleem is nie, maar eerder dat individuele vryheid een komponent van vryheid is en nie as die somtotaal daarvan voorgehou moet word nie.

Ivo Vegter, rubriekskrywer vir The Daily Friend het vier artikels gepubliseer (hier, hier, hier en hier) en seker ʼn honderd twiets getwiet waarin hy my meningstuk aanval; maar meer as dit, waarin hy sy mond uitspoel oor die boosheid van die Christendom. “My objection is not only to the depravity, hypocrisy and doctrinal bigotry of Christians, but on the evil of their God, too,” het hy selfs getwiet.

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Martin van Staden, beleidshoof by die Vryemarkstigting, het ook gereageer in ʼn veel meer genuanseerde artikel wat ook op Maroela Media gepubliseer is. Ek het op The Daily Friend ʼn reaksie op Vegter en Van Staden gepubliseer, waarin ek die argument verder verduidelik. Jacques Rousseau, ʼn dosent in kritieke denke aan die Universiteit van Kaapstad, het ook ingespring en aangevoer dat albei kante van die argument ʼn punt beet het. Sonder om die argumente wat reeds gemaak is hier saam te vat, wil ek oorhoofs kommentaar lewer op die debat wat tot op hede gevoer is, maar veral op van die menings wat op sosiale media en kommentaarkolomme gelug is.

Een opmerking wat deur die loop van die debat ʼn paar keer op die voorgrond geplaas is, is dat ʼn konserwatiewe persoon wat gemeenskappe wil beskerm eintlik nader aan die sosialis is as die liberale persoon wat individue wil beskerm, omdat sowel die konserwatiewe persoon as die sosialis in terme van groepe dink en by implikasie die individu aan die wil van die groep wil onderwerp. Daar is egter ʼn belangrike verskil waaroor ek hieronder meer sal sê: Die gemeenskapsdenker dink meestal aan die groep as die kultuurgemeenskap of die volk; en die sosialis dink aan die groep as ʼn ekonomiese klas of die onderdane van die staat.

Tweedens is dit nodig om enkele opmerkings tot die gesprek oor liberale demokrasie te voeg. Dit wil voorkom of enigiemand wat kritiek op liberale demokrasie uitspreek as ʼn soort ketter voorgehou word wat ʼn brandende begeerte het om mense te onderdruk. In ons tydsgees word liberale demokrasie (met die klem op liberaal eerder as op demokrasie) as die enigste moreel aanvaarbare regeringsvorm voorgehou, asof enige ander vorm uit die staanspoor boos is.

Elemente van waarheid

Roger Scruton het tereg uitgewys dat elke ideologie oor ʼn element van die waarheid beskik, en dat dit juis die rede is waarom ideologieë so aanloklik is. Die waarheid van sosialisme is dat daar inderdaad verskillende inkomstegroepe is, dat die arbeidsklas inderdaad dikwels onbillik behandel of selfs onderdruk word, en dat dit inderdaad bitter moeilik is vir lede van die arbeidsklas, wat nie dieselfde “voorregte” as meer welvarende mense het nie, om hulself uit armoede op te hef. Die waarheid in liberalisme is dat elke mens inderdaad ʼn unieke individu met ʼn unieke persoonlikheid en unieke behoeftes is, en dat individue inderdaad soms ervaar dat hulle onderdruk word as die groep waaraan hulle behoort aan hulle “voorskryf” wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is.

ʼn Probleem wat albei hierdie ideologieë egter in gemeen het, is dat dit oor identiteit as ʼn abstrakte konsep dink, wat dikwels nie met die kompleksiteit van die werklikheid tred hou nie. Die mens is nie slegs ʼn lid van een of ander inkomstegroep nie, net soos wat die mens nie slegs ʼn individu is nie. Ons is baie ander dinge ook – veral wanneer ons gemeenskapsidentiteit(e) in ag geneem word. Ons het meervoudige identiteite, want ons is inderdaad individue met unieke persoonlikhede, maar ons is ook lede van bepaalde geloofs-, kultuur- en taalgemeenskappe, om nie te praat van die identiteit wat ons families aan ons gee nie.

Om jou identiteit tot ʼn enkele faktor te reduseer en ander faktore wat op jou identiteit inspeel as onbelangrik af te maak, is om van identiteit ʼn abstraksie te maak wat nie met die werklikheid tred hou nie.

Die musikus en die orkes

Dit kan eenvoudig verduidelik word deur die metafoor van die musikus en die orkes. Ons kan die mens as individu vergelyk met ʼn musikus wat deel van ʼn orkes is. Wanneer ons vanuit ʼn liberaal-individualistiese bril na ʼn orkes kyk, is ons geneig om slegs die individuele musici raak te sien, asof die groter geheel nie bestaan nie of, ten beste, van mindere belang is. Wanneer ons vanuit ʼn sosialistiese bril na ʼn orkes kyk, is ons geneig om slegs die orkes te sien, asof die individuele musici wat die geheel uitmaak van mindere belang is.

Roger Scruton (Foto: rogerscruton.com/ Pete Helme)

Die gebalanseerde uitkyk is om die musici vir hul individuele bydrae te waardeer, maar terselfdertyd ook om die groter geheel te waardeer wat deur die samevoeging van individue gevorm word. Die musici wat eenvoudig speel wat hulle wil en wanneer hulle wil bederf die hele orkes.

Anders gestel, om aan te sluit by die metafoor wat Flip Buys in sy boek Die pad na selfbestuur gebruik: Wanneer die liberale individualis in ʼn woud stap, sien hy slegs die bome, asof die woud nie belangrik is nie. Wanneer ʼn sosialis in ʼn woud stap, sien hy slegs die woud, asof die afsonderlike bome nie belangrik is nie. Die werklikheid is dat albei belangrik is en dat die samehang tussen die geheel en die dele wat die geheel vorm gewaardeer, gerespekteer en beskerm moet word.

Wat die gemeenskapsdenker en die sosialis inderdaad in gemeen het, is dat albei die geheel sien en dat albei aanvoer dat die groep sekere dinge van die individu verwag. Die twee verskil egter drasties in twee belangrike opsigte. Eerstens beskou die sosialis nie individuele vryheid as ʼn komponent van vryheid nie. Tweedens verskil die soort groep wat die sosialis in gedagte het beduidend van die soort groep wat ʼn konserwatiewe persoon in gedagte het.

Hoewel sowel die konserwatiewe gemeenskapsdenker as die sosialis die groep raaksien, is daar ʼn kardinaal belangrike verskil tussen die twee sienings oor die groep. Die gemeenskapsdenker sien die groep as ʼn natuurlike gemeenskap wat beskerm moet word. Met natuurlike gemeenskap verwys ek hoofsaaklik na die kultuurgemeenskap. Daarteenoor is die sosialis se missie om die natuurlike gemeenskap met ʼn kunsmatige gemeenskap te vervang.

Die kunsmatige gemeenskap waarna ek hier verwys, kan verskillende vorme aanneem, maar in vandag se terme is dit meestal die staatlike gemeenskap. Die konserwatiewe gemeenskapsdenker wil sy kultuurgemeenskap bewaar, terwyl die sosialis (en, in belangrike opsigte, ook die liberalis) dié kultuurgemeenskap as ʼn bedreiging sien. Vir die sosialis is die kultuurgemeenskap ʼn bedreiging omdat dit die ou manier van dink is en die sosialis die wêreld uitsluitlik wil sien as verskillende arbeidsklasse wat met mekaar in stryd is (ʼn kultuurgemeenskap sluit verskillende arbeidsklasse in).

Vir die liberalis is die kultuurgemeenskap ʼn bedreiging omdat die liberalis die wêreld hoofsaaklik as individue wil sien en omdat die gemeenskap inderdaad soms aan sy lede “voorskryf” wat aanvaarbare gedrag is en wat nie.

Die sosialis (en ironies genoeg ook die liberalis) wil hul voorskrifte afdwing deur die staat te gebruik. Die kultuurgemeenskap wil nie noodwendig die staat gebruik nie (soms wel), en beroep hom eerder op die gesag van die gemeenskap. Met gesag van die gemeenskap verwys ek na tradisie, norme, waardes en kulturele praktyke wat in die konteks van die gemeenskap bepaalde gesag het, maar wat van gemeenskap tot gemeenskap mag verskil. Dit is die soort verskynsels wat eerder met groepsdruk as met wetgewing afgedwing word en wat inderdaad soms tot sosiale uitsluiting lei as mense nie die norme van die groep respekteer nie.

Dit getuig dus van oppervlakkige insig om die konserwatiewe denker en die sosialis as voëls van eenderse vere voor te hou omdat beide in terme van groepsidentiteit dink.

Ernst Roet en Flip Buys bespreek die boek ‘Die pad na selfbestuur: Anderkant die mislukking van staatsbestuur’. (Foto: ‘n Skermgreep uit die video.)

Die tekortkominge van liberale demokrasie

Dit is belangrik om uit te wys dat liberalisme, demokrasie en liberale demokrasie drie afsonderlike konsepte is. Oor die definisies van hierdie konsepte kan ons sekerlik argumenteer, maar in wese kom dit op die volgende neer. Liberalisme is ʼn politieke ideologie wat die wil en belang van die mens as individu sentraal plaas. Demokrasie is ʼn regeringsvorm wat die hoofklem daarop plaas dat die burgers van ʼn samelewing hulself moet regeer. Liberale demokrasie is die samevoeging van die twee; met ander woorde ʼn regeringsvorm waar die burgers hulself regeer, maar waar die burgers hoofsaaklik (ons kan selfs sê uitsluitlik) as individue beskou word en waar groepsidentiteit soos kultuur en geloof agterweë gelaat word.

Daar word vandag algemeen aanvaar dat liberale demokrasie goed is en dat dit noodwendig tot ʼn regering van hoër gehalte lei. Tog is die bewyse daarvoor nie baie sterk nie. Daar kan nie ʼn regstreekse verband gelê word tussen state waarin mense oor die algemeen floreer en state wat op die beginsels van liberale demokrasie ingerig word nie. Daar is baie voorbeelde van suksesvolle liberaal-demokratiese samelewings. Noord-Amerika, Europa (veral Wes-Europa en die Skandinawiese lande), Australië en Nieu-Seeland is gewoonlik bo-aan die lys wanneer hierdie soort rangordes opgestel word.

Tog is daar ʼn magdom state met liberaal-demokratiese grondwette, maar waarin mense allermins floreer. Suid-Afrika is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Dit blyk te wees dat die gemene deler tussen suksesvolle en onsuksesvolle state nie bloot die betrokke regeringsvorm is nie, maar dat groepdinamika ʼn baie groter rol speel as wat ons in die polities korrekte moderne wêreld graag wil erken. Dit sluit veral dinge soos kultuur en werksetiek in.

Dit blyk dat liberale demokrasie geneig is om suksesvol te wees in state wat oor die algemeen homogeen is, waar mense oor die algemeen reeds welvarend is, waar onderwys deur die gemeenskap(pe) as ʼn hoë prioriteit beskou word en waar daar ʼn bepaalde vlak van werksetiek is. Daarteenoor blyk dit dat liberale demokrasie oor die algemeen tot toenemende spanning lei in heterogene state wat uit uiteenlopende kultuurgroepe bestaan – veral wanneer daar nie eenstemmigheid oor hierdie punte is nie.

Dit blyk ook dat spanning in liberaal-demokratiese samelewings toeneem namate dit meer kultureel uiteenlopend word. Die VSA is waarskynlik die beste voorbeeld hiervan. Dit blyk ook dat liberale demokrasie veral in arm lande geneig is om tot sosialisme te lei – en daar is geen rede om verbaas te wees oor hierdie verskynsel nie. Dis tog vanselfsprekend dat iemand wat nie kos op die tafel kan sit nie veel eerder sal stem vir ʼn sosialistiese party wat beloof om maatskaplike toelae te betaal, as vir ʼn party wat die klem op eie arbeid plaas. Suid-Afrika is ʼn goeie voorbeeld hiervan.

(Foto: GERARD MALIE/AFP)

Die einde van die einde van die geskiedenis

In die 1990’s, ná die val van die Berlynse Muur, was die Westerse politieke elite in rep en roer oor die “einde van die geskiedenis” wat aangebreek het, soos Francis Fukuyama dit verwoord het. Op daardie stadium was die gevolgtrekking dat kommunisme met die val van die muur verslaan is – of ten minste ernstig gediskrediteer – en dat liberale demokrasie die nuwe wêreldnorm sou wees.

Die Amerikaanse president George HW Bush het selfs gesê dat die nuwe wêreldorde hiermee aangebreek het. “A hundred generations have searched for this elusive path to peace, while a thousand wars raged across the span of human endeavor,” het hy gesê. “Today that new world is struggling to be born, a world quite different from the one we’ve known.” Die aanname was dat die wêreld op liberale demokrasie en individuele regte sou standaardiseer en dat liberale demokrasie dus die “eindpunt van menslike ontwikkeling” sou daarstel.

Dit is ook in hierdie tyd en gees wat Suid-Afrika se Grondwet opgestel is, en ook waarom dit as gevolg van die individualistiese aard daarvan (met eerste-, tweede- en derdegenerasiemenseregte) as die “mees moderne” en “beste” grondwet in die wêreld voorgehou is. Vir ʼn dekade of twee het dit inderdaad gelyk asof hierdie voorspelling waar sou word. Hierdie golf van (liberale) demokratisering, soos Samuel Huntington dit genoem het, het egter in die vroeë 2000’s spoed verloor. Ervaring het gewys dat liberale demokrasie toe nie so goed gewerk het as wat verwag is nie en dat hierdie stuk politieke teorie nie so maklik op verskillende beskawings en kulture toegepas kan word nie.

Samuel P. Huntington (1927-2008), skrywer van Clash of Civilizations

Buite die Westerse wêreld het baie volke gevoel dat hierdie Westerse idee nie met hul eie kulture strook nie. In soverre daar gepoog is om die wêreld liberaal-demokraties te maak, het Westerse leiers gereken, kan dit soms nodig wees om nie-Westerlinge met geweld te dwing om hierdie oplossing te aanvaar. Hierdie houding word goed saamgevat in die tong-in-die-kies-meme van Amerikaanse soldate wat ʼn deur iewers in die Midde-Ooste afskop en met die byskrif: “Knock knock. Who’s there? Democracy!”. Tog was Westerse leiers geskok om te besef dat hul plan misluk het om liberaal-demokratiese beginsels op die wêreld af te dwing.

Die afgelope twee dekades word veel eerder gekenmerk deur ʼn teenreaksie teen liberale demokrasie as die aanvaarding daarvan. Dit bring ons terug by die punt wat ek in my aanvanklike artikel uitgewys het, naamlik dat organisasies soos Freedom House toenemend hul kommer uitspreek dat die wêreld oor die afgelope paar jaar met elke jaar ʼn bietjie minder vry word. Die rede waarom die wêreld vandag as minder vry bestempel word, is omdat die Westerse wêreld saam met liberale demokrasie op ʼn liberaal-individualistiese idee van vryheid gestandaardiseer het. Daar is inderdaad baie probleme in die wêreld en baie om oor bekommerd te wees. Die probleem is egter effens meer kompleks as om dit bloot in terme van liberale demokrasie te benader, want as ons dit doen, slaan ons nie die nodige ag op die groepsdinamika wat agter die spanning sit nie.

Ons moenie toelaat dat ons beskouing van vryheid tot ʼn eendimensionele konsep vervlak word nie. Vryheid is veel meer as dit. Dit is die vryheid van musici om te kies watter instrument hulle wil speel en waarin hulle wil spesialiseer, maar dit is ook die vryheid van die orkes wat noodwendig meebring dat die onderskeie musici in gemeenskap met mekaar groot dinge bereik deur as ʼn groep saam te werk, onderhewig aan die reëls waarop hulle, as gemeenskap, met mekaar ooreengekom het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Fluisterwind ·

Die onderwerp van vryheid sal sekerlik tot by die wederkoms nooit vervelig raak nie. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” Ideologieë en al die “isme’s” saam kan nie ware vryheid vasvat nie!

skurweberg ·

Die metafoor van die orkes werk uitstekend om ‘n samehorige regering te wees. Dit bly egter ‘n menslike poging wat die volhoubaarheid daarvan Kan bevraagteken. Die kompleksiteit van die samelewing in Suid is so groot dat enige kunsmatige samevoeging van mense in ‘n nuwe regeringsvorm gedoen is. Afsonderlike ontwikkeling, met eie grondgebied en ‘n gees van buurskap en die beginsel van hulp vir mekaar om te floreer met die doel om van Suid Afrika ‘n nuwe-orkes te maak

gatgogga ·

Ernst, moet jou tog nie steur aan Vegter nie. Ignoreer hom, hy maak venynige aanmerkings oor alles en almal wat nie met hom saamstem nie. Jy kan nie ‘n beskaafde debat met hom voer nie.

annie ·

Vryheid is ‘n wonderlike ding, ja nee! Kyk bv na die Franse Hugenote. Eers vlug hul vir godsdiensvryheid hierheen en dan maak die Ingelse en inboorlinge hul kwaad en dan pak hul hul waens. En dan moor die Engelse hul bo in SA en vat hul vryheid weg, maar dan word die Afrikaners weer vry maar gee dit weg aan Afrika. En dan soek hul weer hul vryheid en begin inpak na Kaapland vir ‘n republiek saam/onder dieselfde Engelse en Kaapses. Die groot trek terug begin vir laertrek en vryheid saam met diegene wat aanvanklik hul vryheid bedreig het. Viva vir vryheid! Quo vadis?

Republikein in die Wes Kaap ·

Blameer FW, Roelf, Pik en ‘n paar ander vir die toedrag van sake. Maar jy speel met die kaarte wat uitgedeel word. Om vas te kleef aan die verlede gaan nie help nie. Ons moet vorentoe. Die wêreld verander en ons moet nuwe opsies oorweeg, óf sink. Dis dalk nie perfek nie, maar al wat ons in Kaapland het. Gun ons ons vryheid.

Hans ·

Ek dink jou analogie is verward.
Van die Franse Hugenote afstammelinge het nooit getrek uit Kaap nie. Die Hugenote gesang is oud, want weinig sg Hugenote vanne bestaan bv in Frankryk.
Nou, die mengelmoes van gene waaruit die Voortrekkers bestaan het, het hul na ‘n eie republiek in Afrika, sonder westerse koloniale onderdrukking, laat strewe. Tans moet ons strewe nog steeds die voortydse republiek strewe en ideale ondervang.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wie se wyshede dra deesdae die minste by tot die wêreld, filosowe of predikante?

annie ·

Diegene wat lekker ingeburger is in die Kaapse en hoop al die waens rol weer terug vir die oordoen van die geskiedenis. Net die keer gaan dit werk.

Fluisterwind ·

Daar mag individue wees wat een groep se wyshede meer as die ander waardeer of nie waardeer nie, afhangend van hul persoonlike oortuigings en wereldbeskouing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.