Vryspraak: Sommige Afrikaners se ‘Nuwe Seisoen van Berou’

FW de Klerk. Foto: FW de Klerk-stigting/Facebook

Oudpresident FW de Klerk het vriend en vyand verras toe hy apartheid as misdaad teen die mensdom onlangs bevraagteken het.

Nou wel nie vir lank nie, toe trek hy dit terug en vra opnuut om verskoning. Maar hy spreek tog ‘n begryplike sentiment uit, naamlik dat apartheid in Suid-Afrika nie na regte met wandade soos volksmoord vergelyk kan word nie. En watse skerp reaksie het hy nie ontlok nie!

Dat die agbare leier van die EFF, Julius Malema, dit tot die uiterste sou benut om die onlangse parlementsopening mee te ontwrig, was sekerlik nie onverwags nie, maar dat De Klerk verreweg die slegste daarvan sou afkom, was wel. Meteens word die EFF se optrede soos blote kwajongstreke deur die vingers gesien terwyl dit bo alles onaanvaarbaar is dat ‘n bejaarde De Klerk sulke verbode gedagtes wil dink. En daarvoor word hy veral uit eie geledere gesensureer – na verneem word deur sy eie Stigting se raad en donateurs, om van die meestal afgetrede Afrikaner-elite nie eens te praat nie. Hy moes nederig om verskoning vra… en dis nie te sê dat hy dit kry nie!

Om die EFF se oorwinning van die spreekwoordelike veldslag te verstaan, moet ‘n grondliggende onderskeid gemaak word, een wat mens help om ontoepaslike oordele te vermy. Carl Schmidt, ‘n Duitse politieke filosoof van die vorige eeu, skryf op konseptuele vlak dat, soos skoonheid die maatstaf vir die estetiese oordeel en goedheid die maatstaf vir die etiese oordeel is, so is vyandskap die maatstaf vir die politieke oordeel. Wat hy bedoel, is dat die politiek – met die bemiddeling tussen teenoorgestelde belange en standpunte – dus gemoeid is met vriendskap en vyandskap. Politiek is dan afgestem op die beste hantering van vriendskap/vyandskap eerder as om dit soos iets onaangenaams te probeer ignoreer. Die openlike hantering daarvan lewer die beste resultate.

Schmidt se standpunt is uitdruklik bedoel om die gedagte van ‘n liberaal-demokratiese orde waar dit ten diepste oor die neutrale toepassing van ooreengekome spelreëls gaan, teen te spreek. Dit spreek eintlik vanself dat ook die spelreëls magsmiddele in die konkurrensie tussen vriend en vyand kan word. ‘n Beter voorbeeld as die EFF se vernuftige gebruik van die parlementêre reëls om die parlement self lam te lê, kan mens kwalik vind. Wat hulle gedoen het, was om die reëls onbeskaamd aan te wend. Nie vir beter debatvoering nie, maar om hul afkeer van die ou orde te demonstreer en daarmee hul voorkeur vir revolusie te regverdig.

Teenoor De Klerk het hulle die reg op vryheid van spraak gebruik om gewetensvryheid die nek in te slaan. Gewetensvryheid laat jou darem toe om, solank jy die wet nie oortree nie, te dink wat jy wil. De Klerk mag egter nie dink wat hy wil nie, hy moet dink wat die VN se resolusie hom toelaat om te dink – en daarin word die EFF entoesiasties ondersteun deur sommige Afrikaners se “Nuwe Seisoen van Berou” (mens wil dit amper afkort tot iets soos NSvB en so die onbetwisbaarheid daarvan aan te toon, want wat is meer onbetwisbaar as ‘n akroniem?).

Nou moet ons ons haas om te verklaar dat hierdie ontleding nie daarop afstuur om óf apartheid, óf De Klerk te regverdig nie. Mens kan terugskouend nie anders nie as om afwysend teenoor beide te staan en om dié geskiedenis nie te wil herhaal nie; om vir die lyding en skending van waardigheid wat die toepassing van dié anachronistiese beleid meegebring het, verskoning te vra. Die enigste probleem is: ons het dit al gedoen en om by herhaling vir dieselfde ding om verskoning te vra, maak nie net die aanvanklike verskoning verdag nie, dit ondermyn ook die geloofwaardigheid van elke verskoning daarna.

Die feit is dat Afrikanerleiers nie net verskoning gevra het nie, maar hulle ook berus het in die regstellende stappe wat daarna geneem is en wat die omvattende transformasie van die hele Suid-Afrikaanse samelewing tot gevolg het. Daarom is dit glashelder dat die volgehoue aandrang op ‘n voortdurend herhalende verskoning nie oor die verskoning self nie, maar oor iets anders gaan. Dit gaan om die mag wat een groep oor ‘n ander kan uitoefen – en nie net oor sy dade nie, maar ook en veral oor sy denke. Dit gaan oor die morele hoë grond wat mens kan bereik as jy jou opponent se geskiedenis kan kriminaliseer en oor die voordele en restitusiegeleenthede wat dit vir jou inhou.

Om die waarheid te sê, dit is van presies dieselfde aard as die geïnternaliseerde minderwaardigheid waarvan die Swart Bewussynsbeweging swart mense wou bevry. Daarom is dit so vreemd dat ingeligte Afrikaners wat dikwels juis met die Bewussynsbeweging gesimpatiseer het, nou met soveel oorgawe aan die omgekeerde onreg meedoen. Daar is egter ‘n goeie rede voor, naamlik dat hulle met die onregte van hul eie verlede tot grepe probeer kom, maar dit met die verkeerde denkinstrumente probeer regkry. Die gevolg is dat die proses nie vorder nie en dat die magspel teen die agtergrond waarvan hulle optree, toenemend teen hulle gelaai is.

As die verontwaardigende gebrek aan wederkerigheid wat ten grondslag van apartheid lê, net omgekeer word en daar nie ‘n nuwe politiek van erkenning uit die proses gebore word nie, gaan dieselfde onregte, net met nuwe gesigte, hulle herhaal. Maar verder: om ‘n egte wederkerigheid en erkenning te laat teregkom, moet die spreekwoordelike “vriend” en “vyand” bereid en in staat wees om sy plek vol te staan. As ons Afrikaners dus deel van hierdie verhaal, van die geskiedenis, wil wees, dan kan ons eenvoudig nie toelaat dat enige ander rolspeler ons van ons eie geskiedenis en identiteit vervreem nie.

Ons ken min Afrikaners wat nie ‘n diepe spyt oor die onregte van apartheid voel nie en wat nie wens dat daardie geskiedenis baie anders verloop het nie. Daarom dat hulle nie net die opportunistiese propagandawaarde van ‘n VN-resolusie wat apartheid tot misdaad teen die mensdom verklaar het, insien nie, maar ook die element van waarheid wat daarin opgesluit lê. Tegelyk besef ons hoe vrugteloos dit is om daarby vas te haak, maar hoe kom ons uit die doodloopstraat? Deur ‘n paar eenvoudige, maar deurslaggewende onderskeide aan te lê wat voorkom dat ons geskiedenis ter wille van ander se magsbelange gekriminaliseer word.

Eerstens moet daar goeie, kritiese vakkundige werk verrig word – moet feite en data versamel word, moet dié inligting vertolk en hervertolk word, moet nuwe vertolkings met vorige vertolkings vergelyk word en moet die verhaal wat in die proses ontvou, vertel word. Afrikaners is gelukkig om geskiedkundiges te hê wat besig is om hierdie werk op ‘n hoë peil te verrig. Maar dit is nie genoeg nie.

Tweedens moet die magsdinamika agter die kriminalisering van ons geskiedenis – soos immers dié van enigiemand anders – deurgesien word. Benader dan die geskiedenis met ‘n begeerte om te verstaan, benader politieke handeling met ‘n sterk morele bewussyn en benader mag met ‘n sterk sin vir realisme. Deur dit te doen, veel eerder as om jou opponente hul geskiedenis te probeer ontsê of jou eie geskiedenis ontsê te word, kan voorkom word dat die foute van die verlede herhaal word. Die terugslag wat soos ‘n natuurwet op sulke miskenning volg, bring mee dat mens nie net jouself ‘n guns doen deur nie daarin te berus nie, maar help om die hele samelewing se ewewig te bevorder en te voorkom dat sosiale patologieë soos apartheid en transformasionisme weer oorvat.

Met so ‘n benadering en die verhale wat kritiese geskiedkundiges te vertel het, het Afrikaners net soveel rede soos enigiemand anders om beskeie trots en trots beskeie te wees. Die Voortrekkers was geen engele nie, maar hulle is ons helde omdat hulle die orde geskep het waarsonder ons vandag nie hier sou gewees het nie. Die Bittereinders was nie supermense nie, maar hulle het soveel gedoen as wat mens van ‘n sterfling kan verwag. Die moderniseerders was dikwels rassiste, maar hul ontwikkeling het die hele Suid-Afrika tot voordeel gestrek. Die burokrate was dikwels stompsinnig, maar hardwerkend en in reëel eerlik. Die politici het voor die Waarheid- en Versoeningskommissie verskyn en ten minste een gaan nou nog rond om mense se voete te was. Die agente en spioene was ook maar mense en dié wat uitgewys kon word, moes voor die regbank staan.

Dit is ons geskiedenis, dit is ons volk en buiten as ons tot die laaste man, vrou en kind uitgeroei sou word, sal ons voortgaan om geskiedenis te maak en te help maak. Maar dan kan ons nie oor ons eie skaduwee spring nie. Ons behoort nie eers te probeer nie.

  • Die bydrae is deur die Vryheidstigting verskaf. Die Vryheidstigting is ‘n burgerlike inisiatief wat in 2019 van stapel gestuur is en hom toespits op navorsing en strategiese skakeling met die oog op Afrikaners se vrye uitlewing van hulle identiteit en strewes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Carel Boshoff

Carel Boshoff is hoof van die Vryheidstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Wessel ·

Hierdie artikel, is net ‘n verdere bewys van die gebrek aan praktiese insig deur liberaliste wat na meer as 2 dekades van omverskoning vra, nog steeds bly by hul geykte en uitgedateerde idees, en nie aanpassing maak t.o.v. die huidige realiteite van die dag nie.

Pieter ·

Insiggewend. Dit is duidelik dat die magshebbers boelie taktiek gebruik om die volk se gees te breek. Dit is jammer dat sekere persone weer verskoning vra vir Apartheid.

Wat van die ander kant van die munt? Wat is onder Apartheid nie alles opgebou nie? Die magshebbers loop lekker rond in Tuynhuis, Parlement, Uniegebou, Nasionale paaie (hoofsaaklik sonder tol voor 1994), lugdiens, hospitale, damme, ens. Daarby ‘n volle staatskas. Hulle bou niks op nie, breek en brand alles en plunder die staatskas tot ons pensioene. Daar is nog nooit dankie gesê vir hierdie deugde nie, hulself besit dit nie. Indien ons die land vandag terugkry is dit nie iets om op trots te wees nie.

Toe Jan van Riebeeck in die Kaap aankom kon hy nie ‘n kaart kry van die inheemse bewoners daar van paaie en stede in Suid Afrika nie. Ook nie groente nie. Tot vandag toe het Suid Afrika nie ‘n ryk kultuur aan ou besienswaardighede soos Europa nie, dit sê iets.

Therese ·

Uitstekende kommentaar oor hierdie kanniedood, holruggeryde onderwerp.
Dit is duidelik dat die verontwaardigde “Afrikaner-elite” nie huiwer om drie dekades na die oorwinning van die goedbedoelde ja-stem, ‘n éwige verdoeming oor toekomstige Afrikaner-geslagte te bring nie.
‘n Permanente apartheidsalbatros om die nek. Hoe kortsigtig kan een groep mense nie wees nie.

SomeOne ·

de klerk, ek LMGA vir jou, vra namens die afrikaner om verskoning, het jy almal se stem daarvoor gevra

Nell ·

Pleks FW Anthea Jeffery se ”People’s War” gelees het dan sou hy dalk twee keer gedink het voordat hy verskoning vra.

De Villiers ·

Ek dink nie iemand vra “om” verskoning nie, ek dink jy hoef net verskoning te vra?

Maar ek mag dalk verkeerd wees?

De Villiers ·

Ek dink nie die ANC gee om oor enige iets nie, hulle eie mense ingesluit…

Fluisterwind ·

Ek is glad nie spyt oor die verlede, want ook dit is in God se hand. Hy bestuur die ganse gang van die wêreld. ‘n Mense is ten eerste verskuldig aan God, ek vrees nie die een wat die liggaam skade kan doen nie ek vrees eerder die EEN wat die siel in die hel werp. So soek eerder die ware Vryspraak, by Christus en nie by mense nie!

Anoniem ·

@Drikus, met jou kommentaar stem ek 100% saam. God het die Blanke die vermoe en insig gegee om bo hulle omstandighede uit te styg en dit is nie ons skuld dat ‘n sekere bevolkingsgroep hulle wil vasgeketting hou in die verlede nie. ‘n Mens het ALTYD ‘n KEUSE in die lewe. Die Blanke moenie geblameer word vir hulle onvermoe om nie die verlede te kan verwerk nie.

J ·

Selektiewe moraliteit!

Daar is geen wanpraktyk wat aan Apartheid toegedig word wat nie reeds deur die ANC regime herhaal is nie.

Rasseklassifikasie, diskriminasie op grond van velkleur, demonisering van Wittes, werkreservering, aanhouding sonder verhoor, onteiening …. selfs massamoorde soos by Marikana en Esidemeni.

Die ANC het lankal die morele hoëgrond verloor …

Rampokker regering!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.