Waar laat Unisa-uitspraak Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak?

Die Unisa-kampus in Pretoria. (Foto: Gauteng-toerisme)

Waar laat die uitspraak van regter Steven Majiedt van die Konstitusionele Hof die saak van Afrikaans as onderrigtaal op tersiêre vlak? Amper belangriker, waar laat dit die taalkwessie by die Universiteite Stellenbosch (US), Johannesburg (UJ) en die Vrystaat (UV)?

Regter Majiedt het sy uitspraak – dat die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by Unisa ongrondwetlik is – veral op artikel 29(2) van die Grondwet gegrond. Dit kan die moeite werd wees om daarna te kyk.

Die subartikel lui: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van –

  • billikheid;
  • doenlikheid; en
  • die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.”

Die Grondwet bevat nóg ’n artikel wat oor taalsake gaan. Artikel 6(1) noem Afrikaans as een van 11 amptelike tale, waarvan die nasionale en provinsiale regerings minstens twee moet gebruik. Al 11 tale moet volgens artikel 6(4) “gelykheid van aansien geniet en billik behandel word”.

Wat beteken dit? As woorde iéts beteken, is dit dat Afrikaans nie teenoor ander amptelike tale agtergestel mag word nie. En op onderwysgebied word selfs “enkelmediuminstellings” as ’n “redelike alternatief” beskou.

Met ander woorde, die Universiteit Stellenbosch – om maar een voorbeeld te noem – mag kragtens die Grondwet ’n Afrikaanstalige instelling wees wat net (of hoofsaaklik) Afrikaans in die lesinglokaal gebruik. Die betrokke subartikels is uiters helder en duidelik gestel, en daar kan geen misverstand wees oor wat daarin staan nie.

Nou na Majiedt se uitspraak … Hy het Unisa se afskaffing van Afrikaans op grond van artikel 29(2) as ongrondwetlik verklaar. Terselfdertyd het hy, al het sy uitspraak nie spesifiek oor die US, UJ of UV gehandel nie, tog besluit dat hy húl diskriminasie teen Afrikaans nie gaan aanpak nie. Die rede, het hy verklaar, is dat húlle residensiële universiteite is wat klasse aanbied, terwyl Unisa ’n “afstandgegronde leerprogram” het.

Laat ek dit duidelik stel dat ek bewondering het vir Majiedt se moed. In die omgewing van die ANC – en dit sluit die leiers van die US, UJ en UV in – is die politieke gedienstigheid teenoor die regering só groot dat enige diskriminasie teenoor Afrikaans blykbaar vir hulle in orde is.

Wat Stellenbosch betref … Dié universiteit is amptelik nog tweetalig. Met die drie laaste rektors – Chris Brink, wyle Russel Botman en tans Wim de Villiers – het die inrigting egter soos ’n stadige stoomroller onkeerbaar in die rigting van steeds meer Engels en steeds minder Afrikaans gerol. Ek het min twyfel dat De Villiers voornemens is om die US mettertyd in ’n eentalig-Engelse universiteit te omskep.

Hy het ongetwyfeld ’n sug van verligting geslaak toe Majiedt Stellenbosch uit sy grondwetlike visier verwyder het.

Nou lui die vraag: Maak die feit dat Unisa afstandsonderrig aanbied en die US, UJ en UV die studente in klaslokale laat saamkom dan in die oë van die reg soveel verskil? Waar is die vernaamste verskil?

In die geval van die UV sou jy kon aanvoer dat dit die enigste universiteit in ’n omtrek van honderde kilometers is, en dat studente wat Engelse klasse verkies, geen ander billike keuse het nie. Johannesburg het egter twee universiteite (die ander een is Wits, skaars ’n kilometer van die UJ), en die Wes-Kaap het eweneens twee (die ander een is Ikeys, volledig binne bereik van dié wat ’n voorkeur vir Engels het).

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Bowendien het Stellenbosch ’n lang geskiedenis, ook toe hy nog Afrikaans was, van tegemoetkoming teenoor Engelstalige studente. Hulle mog in die klas Engelse vrae stel en hul toetse, eksamens en studiestukke in Engels skryf.

Daar is inderwaarheid geen énkele rede waarom minstens die UJ en Maties nié eentalig Afrikaans kan wees nie. Dit wil sê – as jy om polities korrekte redes ’n haat vir die “Boere” en Afrikaans koester, is daar natuurlik wél ’n rede, sy dit een wat nie deur die Grondwet en die reg in die algemeen gedek word nie.

Bowendien is Afrikaans nie net die “Boere” se taal nie. Dit behoort aan elkeen wat Afrikaans praat, dink en droom, en daar is honderdduisende mense van kleur vir wie dit waar is.

Nou ja, ek is geen regsgeleerde nie, en dit kan wees dat die onderskeid wat Majiedt getref het in ooreenstemming met die reg is. Maar vir ’n eenvoudige siel soos ek is dit ’n esoteriese onderskeid waarvan ek regtig nie die sin kan insien nie.

Met my eenvoudige siening sou ek reken die teks wat die deurslag gee, is die een wat in die Grondwet se artikel 29(2) staan en basta. Daardie teks word ook verder deur 6(4) aangevul, wat die owerheid tot ’n gelyke behandeling van alle tale verplig. Dié artikel bepaal nie dat Afrikaans ’n uitsondering is en dat die owerheid maar teen dié taal mag diskrimineer nie.

Daar is nog ’n saak wat genoem moet word, al is dit nie op die terrein van die regswetenskap nie.

Daar is tientalle akademiese studies oor die hele wêreld, wat daarop neerkom dat moedertaalonderwys op alle vlakke die beste vir die student of skolier is. Dit het op aarde niks met ideologie, apartheid, rassisme of enigeen van dié sake te make nie.

Dis ’n baie praktiese kwessie: Die punte van studente en skoliere wat in hul moedertaal onderrig word, is eenvoudig beter as dié wat in ’n ander taal moet studeer. Afrikaanstalige studente – wit, bruin, swart – word die beste op die beroepswêreld daarbuite voorberei wanneer hulle in Afrikaans kan studeer.

In beginsel geld dieselfde natuurlik vir Xhosa, Venda en die swart tale ook. Daar sit ’n mens egter met die beperking dat geeneen van dié tale – in teenstelling met Afrikaans – tot akademiese tale ontwikkel het nie.

Afrikaans het dit reggekry deur die gespook en gestoei van duisende Afrikaanse politici, akademici en onderwysers wat die wíl gehad het om dit te doen. Daardie wil ontbreek klaarblyklik by die meeste swart mense, waardeur hulle verlief moet neem om in Engels te studeer.

Dis jammer, maar dis nou eenmaal ’n feit. Nietemin, laat daardie gebrek aan wil nie tot nadeel van die Afrikaanse taal en sy sprekers wees nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Heinrich ·

Afrikaans was opgebou tot akademiese taal. Maar dit blyk makliker te wees om ruggraatloos die politieke klimaat van die dag na te volg en dit eerder af te breek as die ander tale optrek en ontwikkel.

Groen Ghoen ·

Absoluut, korrek, Heinrich. Om te bou, om te ontwikkel, om te vorder verg kundigheid en vele vaardighede. Om af te breek en te vernietig verg slegs vernielsug. Dalk is dit die ANC se doel: Om alles te vernietig, en om ons almal in die ellende af te trek saam met hulle.

Nici ·

Ek was onder die indruk dat die grondwet die gedwonge vermindering van die gebruik van ‘n erkende SA taal verbied. Indien wel, mag US nie doen wat hul doen nie. Hoe regverdig mens in elk geval drie Engelse universiteite in ‘n provinsie waar die meerderheid Afrikaans praat?

Alana ·

Ongelukkig is daar niks in die Grondwet wat die vermindering van aanbod in ‘n taal op enige vlak of in enige instelling verbied nie – alles is onderhewig aan die “billikheid” en “doenbaarheid” waarna die Gorndwet verwys en wat Leopold bo aanhaal. Howe se interpretasies van wat billik en doenbaar is, is helaas bitter uiteenlopend.

Die verbod op afskaling was deel van ‘n aanvaklike konsep grondwet, maar nie in die weergawe wat uiteindelik aanvaar is nie. Dit bemoeilik daarom enige eise vir die behoud van of bevordering van enige taal in die land.

Dankie aan Leopold vir ‘n puik uiteensetting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.