Winde kan ʼn referendum uitroep as hy wil

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Ek is agnosties oor, maar nogal simpatiek teenoor, Wes-Kaapse onafhanklikheid. Per geleentheid help ek hul meer vrysinnige formasies met regsake. My primêre bekommernis sal inderdaad altyd die vestiging en handhawing van individuele vryheid wees, eerder as kollektiewe selfbeskikking, wat soms ʼn sekondêre bekommernis kan wees.

Op hierdie tydstip is ek onseker of Wes-Kaapse onafhanklikheid beter of slegter gaan wees vir liberale waardes, in die Wes-Kaap en Suid-Afrika. Waaroor ek wel seker is, is dat die Wes-Kaapse onafhanklikheidsbeweging Suid-Afrika se beste katalisator vir politieke desentralisasie is – wat op sy beurt ʼn noodsaaklike voorwaarde vir veilige vryheid is.

Die Referendum Party wat op 9 November 2023 van stapel gestuur is, is ʼn enkelkwessieparty wat daaraan toegewy is om die Wes-Kaapse provinsiale regering, veral premier Alan Winde, te dwing om ʼn referendum oor die kwessie van Wes-Kaapse onafhanklikheid uit te roep.

Provinsiale desentralisering

ʼn Referendum oor die kwessie van Wes-Kaapse onafhanklikheid kan natuurlik óf ten gunste van onafhanklikheid óf daarteen gaan – en dit is waar die omstredenheid moet lê. Nou is die kontroversie egter gefokus op die kwessie van die hóú van ʼn referendum per se eerder as die kwessies waaroor referendum sou handel, wat nogal belaglik lyk.

Wat duidelik is, is dat daar beduidende politieke desentralisasie moet wees – hetsy in die vorm van afstigting, federalisme of afwenteling – en die Referendum Party het ʼn geleentheid om dit te bevorder. Die spesifieke soort politieke desentralisasie waarna ek hier verwys, is provinsiale inisiatief wanneer dit by provinsiale referenda kom.

Die Referendum Party behoort ondubbelsinnig te wees, onomwonde in wat hy wil hê: hy wil hê die premier van die Wes-Kaap moet ʼn referendum uitroep. Nie die president van Suid-Afrika nie. En die party wil hê dat die referendum nou uitgeroep word – soos die Suid-Afrikaanse Grondwet dit toelaat – eerder as om te wag dat die parlement nuwe, waarskynlik bestaande referendumwetgewing, aanvaar.

Onvoldoende regsadvies

Die benadering van die DA tot politieke desentralisasie bly een van gedwee pleite by die sentrale regering, spesifiek om vrywillig verantwoordelikhede aan die Wes-Kaapse provinsiale regering toe te ken. Dit is ʼn afwenteling-benadering wat die bal in Pretoria se hof plaas, terwyl Suid-Afrika ʼn federasie is waar provinsies oorspronklike grondwetlike gesag het.

Die DA beskou die provinsies ongelukkig onbewustelik as satellietkantore van die sentrale regering eerder as semi-onafhanklike grondwetlike eenhede.

Ek weet – trouens, ek dring daarop aan – dat die DA dit goed bedoel, maar ek weet ook die DA het absoluut haglike regsadvies, wat hy ontvang van prokureurs wat nie in die party se normatiewe houding oor openbare beleid verdiep is nie. Hierdie prokureurs mag nominaal die DA se waardes deel, maar hulle het nie toegelaat dat daardie waardes hul benadering tot die reg beïnvloed nie. Hulle is oor die algemeen in die privaat praktyk en sien die DA as net nog ʼn kliënt.

So, die regsgeleerdes lees die Grondwet en Konstitusionele Hof se uitsprake deur sogenaamde “establishment”-lense. Gevolglik is hul advies aan die DA “dit is wat die wet is”, eerder as om die Grondwet en uitsprake deur liberale lense te lees, en die DA te adviseur “dit is wat jy die wet moet lees om te wees”.

Die uitvoerende komitee van die Referendum Party. Van links na regs: Jordan Schouw, Phil Craig, Muhammad Yusuf, Donald Brown (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Die DA se prokureurs benader die vrae wat aan hulle gestel word op dieselfde manier as wat ʼn familie- of korporatiewe prokureur die regskwessies waarmee hulle te kampe het, sal benader. Dit is ʼn konserwatiewe, privaatregtelike benadering in ʼn kreatiewe, publiekregtelike konteks.

As ʼn mens se primêre bekommernis is wat die reg is (de lege lata), eerder as wat die reg behoort te wees (de lege ferenda), is daar geen sin vir litigasie en regsontwikkeling van openbare belang nie. Die DA bevind hom op een of ander manier in ʼn uiters konserwatiewe regsposisie. Een waar hy poog om feitlik geen grense te verskuif om regspraak te ontwikkel in ʼn rigting wat meer bevorderlik is vir desentralisasie nie – dit wyl hy homself as Suid-Afrika se voorste federalistiese party beskou.

Die referendum-kwessie

In hierdie geval is dit duidelik dat die Grondwet provinsiale inisiatief in die vooruitsig stel (en dit moet gelees word om te voorsien) wanneer dit by provinsiale referenda kom.

Artikel 127(1)(f) van die Grondwet bepaal ʼn provinsiale premier het die mag om “ʼn referendum in die provinsie in ooreenstemming met nasionale wetgewing” uit te roep. Die “nasionale wetgewing” waarna in hierdie konteks verwys word, is die Wet op Referendums van 1983.

Die Wet op Referendums bemagtig die voormalige kantoor van die Staatspresident om referendums uit te roep en sit uiteen hoe dit gedoen kan word.

Die feit dat dit nie na provinsiale premiers verwys nie, is egter nie beduidend nie. Hoekom? Want ten spyte van sommige onvolmaakthede is Suid-Afrikaanse grondwetlike reg merkwaardig samehangend.

Artikel 3(2)(b) van bylae 6 van die Grondwet bepaal: “Tensy teenstrydig met die konteks of duidelik onvanpas is, moet ʼn verwysing in enige oorblywende ou orde wetgewing na ʼn staatspresident […] vertolk word as ʼn verwysing na die premier van ʼn provinsie kragtens die nuwe Grondwet, indien die administrasie van daardie wetgewing toegeken of toegewys is ingevolge die vorige Grondwet of hierdie bylae aan ʼn provinsiale uitvoerende gesag.”

Op sy beurt bepaal artikel 147(1)(f) van “die vorige Grondwet”, die tussentydse Grondwet van 1993:  “Die premier van ʼn provinsie […] sal bevoeg wees om die volgende bevoegdhede en funksies uit te oefen en te verrig, naamlik om referenda en volksraadplegings ingevolge hierdie Grondwet of ʼn provinsiale wet af te kondig.”

Met ander woorde, die huidige Grondwet maak onomwonde voorsiening daarvoor dat ʼn provinsiale premier ʼn referendum in hul provinsie mag uitroep in ooreenstemming met nasionale wetgewing. Die nasionale wetgewing ter sprake, die Wet op Referendums, is ou-orde-wetgewing wat na die staatspresident verwys, nie na ʼn premier nie. Die Grondwet bepaal dan verder dat indien die tussentydse Grondwet wat aan premiers die bevoegdheid gegee het om ʼn referendum uit te roep – wat dit gedoen het – dan die Referendumswet se verwysing na “die staatspresident” gelees moet word as ʼn verwysing na “die premier”.

Bylae 6 van die Grondwet oorweeg verder nie die howe uitsluitlik wanneer dit aandui hoe ou orde wetgewing “uitgelê moet word” nie. Hierdie skedule is van toepassing op almal wat uitvoering moet gee aan grondwetlike bepalings – wat in hierdie geval provinsiale premiers insluit.

Om nie ʼn te fyn punt daarop te stel nie: artikel 3(2)(b) van bylae 6 stel ʼn vereiste op die premier van die Wes-Kaap, in die persoon van Alan Winde, om die Wet op Referendums te lees as ʼn wet wat hom en sy kantoor die magte gee om ʼn provinsiale referendum uit te roep.

Dit sou heeltemal ongrondwetlik en inkongruent wees met die teks van die Grondwet en die gees van subsidiariteit, wat volgens die Konstitusionele Hof onderliggend is aan die Grondwet, om artikel 127(1)(f) van die Grondwet te lees as provinsiale ondergeskiktheid aan die sentrale regering.

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Ou wetgewing

Al plaas bylae 6, na my mening, ʼn duidelike verpligting op die premier om die inisiatief te neem, is Suid-Afrikaanse burgers geneig om ʼn baie ongesonde beheptheid met die howe te hê – soveel so dat sommige meen tensy daar ʼn Konstitusionele Hof-uitspraak is oor ʼn saak, dit nie neerkom op wet nie.

Dit is natuurlik onsin, maar ʼn aspek van openbare diskoers wat in ag geneem moet word.

Die premier van die Wes-Kaap moet die Grondwet lees dat dit hom toelaat om ʼn referendum uit te roep in ooreenstemming met die ou Referendumwet. Die DA en andere se argument is dat die parlement eers die ou wetgewing moet regmaak en die teks uitdruklik in ooreenstemming bring met wat die Grondwet voorsien – ʼn argument wat ek nou weerlê het.

(Dit lyk vir my, tersyde, duidelik dat die DA hierdie argument verkies – nie omdat hy oortuig is dat dit regswetenskaplik korrek is nie, maar omdat hy bekommerd is oor wat die uitslag van ʼn referendum oor Wes-Kaapse onafhanklikheid sou wees, en hulle weet die nasionale parlement nie binnekort die ou wet sal regstel nie.)

Maar die direkte reaksie op hierdie argument is dit: Omdat die parlement en nasionale wetgewing ondergeskik is aan die Grondwet, kan ʼn versuim deur die parlement, of ʼn versuim van nasionale wetgewing, nie as ʼn argument gebruik word om die grondwetlike imperatief te ignoreer nie. Die premier moet dus uitvoering gee aan wat die Grondwet vereis, eerder as om ag te slaan op die mislukkings van die parlement. In hierdie geval bemagtig die Grondwet premiers om provinsiale referenda uit te roep.

Inlees

Natuurlik as die premier wel ʼn referendum uitroep, sal iemand teen daardie besluit litigeer. Tydens hierdie litigasie moet die premier aanvoer dat die howe die vereistes van die Grondwet in die bestaande wetgewing, die Wet op Referendums, moet inlees. Dit is ʼn normale en volkome toepaslike geregtelike remedie – sogenaamde “inlees” – wat lankal bestaan.

Pligsgetroue howe sal dan bloot die proses volg wat ek hierbo uiteengesit het: hulle sal artikel 127(1)(f) van die Grondwet saam met die ou Referendumwet oorweeg, artikel 3(2)(b) van bylae 6 van die Grondwet toepas, wat hulle weer sal verwys na artikel 147(1)(f) van die tussentydse Grondwet. Dit lewer net een uitkoms: die premier mag op eie inisiatief ʼn referendum uitroep. Hy kan besluit om dit nie te doen nie, maar dit is grootliks ʼn politieke eerder as ʼn wetlike nie.

Die Referendum Party moet dit voorstaan en op grond daarvan hul verkiesingsveldtog bedryf dat provinsiale regerings, spesifiek die Wes-Kaap, eienaarskap neem van die oorvloedige gesag wat aan hulle verleen is in die federale Suid-Afrikaanse Grondwet. Dit eerder as om die neiging voort te sit om hoed in die hand na Pretoria te gaan, na ʼn duidelike kwaadwillige regering vir toestemming. Hierdie gesag kan uiteindelik na afstigting lei, of dalk nie, maar dit sal beslis meer desentralisasie oplewer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Martin van Staden

Martin van Staden is beleidshoof van die Vryemarkstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

annie ·

Hierdie droom is nie op realiteit gegrondves nie. Buiten dat die DA soos die ANC, ‘n party is met eie belang eerste, is die hele idee totaal onuitvoerbaar om talle redes. Die Referendum Party probeer al klaar om maar soos die res van die land voor te gaan. Wat sal anders wees buiten ander leierskap. Die ANC sal ook nooit die status quo laat verander nie. Die Kaap dra juis die kroon van die land. Die plakkers sal ook opgekommandeer word. Daar sal niks bly staan nie. Drastiese veranderinge kom en groot skokke.

Kokkie ·

“Onuitvoerbaar om talle redes”. Dit is darem lekker maklike stelling om te maak as ‘n mens nie bereid is om die redes te meld nie. “ Die ANC sal ook nooit nie die status quo laat verander nie”. So jy sal nie eens probeer om die ANC se juk af te skud nie. “Plakkers”,
“ drastiese veranderinge”, “groot skokke”. Dit klink amper soos Cele of Mbalula aan die woord.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit gaan ook oor meer as wat mense wil hê. Die huidige SA het misluk en veranderings sal plaasvind, of ons daarvan hou of nie. En die ANC loop tans in internasionale mynvelde wat die proses gaan versnel. Ons moet net voorberei vir D- dag. Selfs binnelanders moet planne maak. Geen politieke party sal dan kan help nie.

OW ·

Hierdie lyk na ‘n baie ingewikkelde proses,as ek so na die skrywe kyk.Ek dink dit is net ‘n kwessie van tyd voordat die ou referendum wet vervang gaan word.Die ANC regering sal afstigting van die Wes Kaap beveg op alle fronte.Mnr Winde het dit duidelik gestel dat hy nie belangstel in ‘n referendum nie.

Frank ·

Die olifant in die kamer is nie ‘n referendum nie, maar waaroor gestem word. Help nie veel dat Wes Kaap stem vir onafhanklikheid maar finansieel en op ander gebiede afhanklik is van die sentrale regering nie want belasting word nasionaal en nie provisiaal ingevorder nie en die nasionale regering gaan baie definitief so min as moonlik indien enige na die Wes Kaap toewys

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Wes-Kaap dra 14% by tot die nasionale BBP. Dis die derde meeste van al die provinsies, maar ons gaan KZN binne twee jaar verbysteek vir die tweede plek. Ons huisves net 11% van die bevolking, maar 15% van al die belastingbetalers. Ons dra 16% by tot die nasionale fiscus. Dis die tweede meeste. In ruil ontvang ons skaars 10% terug van regeringsfondse wat aan provinsies toegewys word. Ons kan beter doen op ons eie.

Kokkie ·

Jy is dus tevrede om maar vir altyd die ANC se melkkoeitjie te wees terwyl hulle die land net nog verder in sy peetjie in regeer. Kan jy dan nie sien hoe dit tans op elke terrein van ons landshuishouding gaan nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien KZN en Noord-Kaap begin aandring op afstigting gaan die poppe dans. Die ANC sal die proses nie kan stop nie, nie eers met geweld nie. Moet ook nie die agendas van wêreldmagte vergeet nie. Indië, China, Rusland, Amerika, Brittanje, Duitsland en Frankryk Saudue Arabië

Republikein in die Wes Kaap ·

…en Frankryk het iets te wen. Selfs Saudi Arabië.

houopkruip ·

Droom voort Martin.
Die NP het ook in die 80’s en 90’s gedroom oor utopia.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die NP het in 1966 ophou droom van utopia. Hulle het toe begin voorberei vir oorgawe.

annie ·

Suid-Afika is krities op die seeroete. Ander provinsies sal nie wil kan afstig nie. Hierdie idee was van die begin af onmoontlik maar hou is die aandag daarop gevestig. Daar is talle redes waarom bloed sak vloei voor dit sal gebeur. Mense moet aan die gevolge dink van h

Kokkie ·

“Talle redes” soos die voor 1983 bangmaakstories van ‘n burgeroorlog, dit terwyl die oorlog van plaasmoorde al jare duur en duisende boere en hulle gesinne se lewens geeïs het. Los die talle rede en bangmaakstories, Annie. Jy is duidelik lam van vrees soos voor 1983.

annie ·

Suid-Afika is krities op die seeroete. Ander provinsies sal nie wil kan afstig nie. Hierdie idee was van die begin af onmoontlik maar nou is die aandag daarop gevestig. Daar is talle redes waarom bloed sal vloei voor dit sal gebeur. Mense moet aan die gevolge dink van hul voorstelle veral in Afrika. Die regering raak verbitterd teen diegene wat hul teëstaan en die DA-leiers raak arrogant noudat die ANC baie negstiewe reaksies ontlok wat erge optrede mag en sal toon. Swart partye is van ‘n ander stoffasie. Mag is krag!

Kokkie ·

Nee wat, Annie. Jy is duidelik tevrede om onder die korrupte en vernietigende “mag en krag” van die ANC voort te gaan. Dis ons plig om vir ons kleinkinders en hulle kinders ‘n beter bedeling te vestig.

Marthinus W ·

Wat van dinge soos papier, meel, suiker, olie, stroop, grondboontjiebotter, mielies, yster, verrykte uraan [vir Koeberg], ammunisie [vir die bobbejane], ens. Sal die Wes-Kaap dit alles invoer van die RSA? Teen dieselfde prys, of gaan daar n invoertarief wees? Gaan die Vloot tevrede wees om Simonstad te verloor?

Manie ·

In en uitvoere sal weerskante toe werk. Die Wes-Kaap kan op sy beurt weer hops, wyn vir die dorstiges, koring vir broodmeel, vis, vrugte en groente uitvoer. Toerisme in ‘n veilige land wat geen nonsens sal duld nie sal groot inkomste verseker.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ons is nie hulpeloos nie.Ons het koring, canola, hawermout, vrugte, droë bone, vis, groente, suiwel, rooivleis, wyn en lusern. Suiker en mielies kan ingevoer word van baie lande, tariefvry. Staal kan ingevoer word. Mittal se staalwerke aan die Weskus is onaktief omdat produksie nie winsgewend is nie. Ons het bosbouplantasies, maar wie wil nou pulp vevaardig. Bedrywe reeds hier sluit in tekstiel, voedsel,verbruiksgoedere, brandstof en drank. Toerisme, ICT, finansies, versekering, rolprente is ook reeds gevestig. Ons ekonomie sal oop wees vir internasionale handel. Ons sal beleggers lok met laer korporatiewe belasting as in SA. Geen Denel en ander staatskorporasies. SA se ekonomie is uitgedien en vasgevang in die 20ste eeu. Koeberg sal waarskynlik gesluit word. Hier is hernubare krag opsies, insluitend invoer van sonkrag van die Noord-Kaap. Die SA Vloot kan Simonstad steeds benut. Ons sal die vlootbasis onderhou en geld maak totdat die laaste skip sink. Ditto vir Ysterplaat, Langebaanweg en die Militêre Akademie.

houopkruip ·

Martin, droom voort, soos die NP se lagwekkende drome in die 80’s en 90’s.

Republikein in die Wes Kaap ·

Marthinus, dan is ons ook ‘n logistieke hub in die streek met ‘n hawe wat opgegradeer, besit en behoorlik bestuur kan word deur die privaatsektor, sonder raswette. Ons is reeds ‘n sentrum vir konferensies en internasionale sport. Ons vier universiteite kan gedeeltelik geprivatiseer word om die las op die staat te verlig. Akademia en ander private instansies kan ook hier belê. Ook private mediese-, ingenieurs- en regsskole kan gevestig word. Stadio en IIE is reeds hier. Navorsingsinstansies soos die Duitse Max Planck kan hier gevestig word vir hoë vlak navorsing, insluitend PhD studies en post-doktorale navorsing. ‘n Nuwe Technikon kan wel gevestig word om tegnoloë in verskeie rigtings op te lei, terwyl tegniese – en landboukolleges verder uitgebou kan word. Die SANDF se Militêre Akademie kan ook omskep word om eerder onderwysers, verpleegsters en maatskaplike werkers op te lei. Migrante sal steeds instroom, maar ons sal werkers benodig. By aanvaarding van WK burgerskap sal hul SA burgerskap onmiddelik opgeskort moet word. ‘n Professionele polisiemag sal misdaad en bende aktiwiteite binne ‘n jaar uitroei. Mense met werk, vaste inkomste verdien en huise besit wil nie uitgelewer wees aan misdadigers nie. Ons sal ook ‘n weermag vestig, met die Israelse weermag as model. Een jaar diensplig sal ingestel word vir jong mans en vrouens. Só sal jong mense rigting kry in die lewe.

Manie ·

Ek stem saam, verpligte diensplig is noodsaaklik en kan op vele terreine anders as militêr toegepas word.

Marthinus W ·

Ek neem aan julle sal jul eie geldeenheid kry, soos Orania. Hoeveel amptelike tale? Hoekom vra jy “wie wil nou [papier] pulp vervaardig”? Gedrukte boeke is ekologies vriendeliker as e-boeke.

Koen ·

Waar kom julle daaraan dat die Wes Kaap veilig is. Julle droom soos die NP en sy volgelinge destyds gedroom het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Koen, in die 1970s en ’80s is al oproepe gemaak vir afsondelike Afrikaner tuislande vir ‘n vreedsame SA. Die NP ondersteuners het dit afgeskiet en afstigters dromers, verkramptes en regses genoem. Nou hoor ons weer dieselfde anti-afstigting retoriek. Al wat die anti-afstigers nou doen is om De Klerk se nalatenskap in stand te probeer hou. Dit gaan nie gebeur nie.

OW ·

Stem Koen.Baie lekker om die kommentare te lees,en dit is goed om somtyds te fantaseer,maar die praktyk is heeltemal iets anders.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis lankal nie meer ‘n fantasie nie. SA het misluk. Gaan lees Harvard ekonome se jongste verslag. SA sink nou vinnig en kan nie gestop word nie. Geld vloei uit die land. Miljadêrs ook. Die JSE bloei leeg. Die ANC kan nie meer nie. Die DA gaan nie die verkiesing wen nie. Moet ons maar ons maar ons lot aanvaar. Landswyd word planne gemaak vir alternatiewe modelle. Om net te terug te sit en wag is roekeloos.

Republikein in die Wes Kaap ·

Marthinus, ons sal ons eie eendheid kry, met ons eie federale bank. Maar ons kan ook Argentinië se nuwe president se planne oorweeg. Kantonne sal self besluit oor sake soos taalbeleide. Dis soos dit werk in ‘n federasie. Drukwerk vereis hout. Pulp en papier is nie lonend nie.

Marthinus W ·

Milei wil die peso vervang met die Amerikaanse dollar. Sal julle daardie roete volg? [Ek baklei nie, ek vra, om te verstaan.]

Jack ·

Daar verloor die DA nou baie baie stemme.Nie so slim van Winde nie.Hy moes van beter geweet het.

Republikein in die Wes Kaap ·

Marthinus, monetêre besluite sal verantwoordelik gedoen word sonder om paniek, verwarring en verarming te veroorsaak. Ons het wel die kundigheid om dit te doen. ‘n Nuwe geldeenheid sal waarskynlik wegspring deur 1 tot 1 met die ZAR gekoppel word. Dit sal stabiliteit verseker, insluitend geld en kapitaalmarkte, prysstabiliteit en dus ook rentekoerse. Die Eurozone se ervaring sal as verwysing dien. En nou ook Milei se planne. Die sleutel is ons ekonomie wat moet groei. Sonder raswette sou ons BBP reeds vyf keer groter gewees het as nou. Groei en kapitaalvloei sal dàarna tot ‘n groot mate die rigting van die wisselkoers bepaal. Wisselkoers is immers jou land se aandeleprys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.