Advertensies: Só beskerm Verbruikersbeskermingswet jou regte

advertensie-borde-buitelug-advertensiebord

Foto: Paweł Czerwiński/Unsplash.com

Baie verbruikers het al ʼn bloutjie geloop wanneer hulle op ʼn advertensie reageer en die prys is toe nie so laag nie of die produk lyk nie heeltemal soos die een in die advertensie nie, veral noudat baie verbruikers liewer hul inkopies aanlyn doen. ʼn Mens trek maar jou skouers op en probeer om nie weer dieselfde fout te maak nie, maar jy kan ook staatmaak op die Wet op Verbruikersbeskerming om jou regte te verdedig. Ina Opperman verduidelik.

Die Wet op Verbruikersbeskerming en spesifiek deel E en F van die wet beskerm jou regte as verbruiker teen misleidende en oneerlike advertensies. Deel E en F bepaal baie duidelik wat adverteerders en verbruikers se regte is wanneer goedere en dienste bemark word.

Deel E van die wet bepaal wat jou regte is met betrekking tot billike en verantwoordelike bemarking en deel F bepaal wat jou regte is wat betref billikheid en eerlikheid.

Artikel 29

Artikel 29 bepaal die algemene standaarde vir die bemarking van goedere of dienste, asook dat maatskappye, of hulle nou produsente, invoerders, verspreiders, kleinhandelaars of diensverskaffers is, nie hul goedere of dienste op ʼn valse of misleidende manier aan jou mag bemark of jou mislei of bedrieg nie.

Hierdie artikel maak dit duidelik dat maatskappye nie oneerlik mag wees oor die aard, eienskappe, voordele of gebruike van goedere of dienste nie, of hoe en op watter voorwaardes dit verskaf kan word nie.

Die maatskappy mag jou ook nie mislei oor die prys waarteen die goedere verskaf kan word nie. Dit sluit die verhouding van die prys met ʼn vorige prys of ʼn mededinger se prys vir vergelykbare of soortgelyke goedere of dienste in.

Hulle mag jou ook nie mislei daaroor dat die maatskappy ʼn geleentheid borg indien dit nie waar is nie. Maatskappye mag jou ook nie mislei oor enige ander wesenlike aspek van goedere of dienste nie.

Artikel 41

Volgens artikel 41 mag maatskappye nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings maak nie en nie deur hul woorde of gedrag direk of indirek ʼn valse, misleidende of bedrieglike voorstelling oor ʼn wesenlike feit gee nie.

Hulle mag ook nie oordryf, insinueer of dubbelsinnig wees oor ʼn wesenlike feit nie en nalaat om ʼn wesenlike feit bekend te maak indien die versuim op bedrieglikheid neerkom nie. Winkelpersoneel mag ook nie voorgee dat produkte ʼn borgskap, goedkeuring of verbintenis het met iets of iemand as dit nie waar is nie.

Winkels mag ook nie voorgee dat produkte of dienste bestanddele, prestasiekenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte, borgskap of goedkeuring het wat dit nie het nie of van ʼn bepaalde standaard, gehalte, graad, styl of model is as dit nie die geval is nie.

Niemand mag opgeknapte, gebruikte of teruggeneemde produkte as nuut verkoop nie. Maatskappye mag ook nie grond of ander onroerende eiendom bemark met eienskappe wat dit nie het nie of aandui dat dit wettig gebruik kan word vir ʼn doel wat onwettig of onuitvoerbaar is of naby geriewe is wat dit nie het nie, of wat nie beskikbaar of nabygeleë is nie.

Produkte mag ook nie bemark word met misleidende stellings oor die nodige diens-, onderhouds- of herstelgeriewe of onderdele wat geredelik binne of vir ʼn redelike tydperk beskikbaar is nie.

Misleidende stellings oor ʼn diens, onderdeel, vervanging, onderhoud of herstelwerk, spesifieke prysvoordeel of heffing mag ook nie gemaak word nie. Toestelle mag byvoorbeeld nie verkoop word met beloftes van herstelwerk as dit nie die geval is nie.

Verteenwoordigers

Verteenwoordigers of tussengangers (alle verkoopspersoneel) mag nie voorgee dat hulle magtiging het om ʼn ooreenkoms te beding of te sluit as dit nie so is nie. Hulle mag ook nie voorgee dat jou regte of regsremediese verpligtinge nie geraak word nie as dit wel geraak word.

Hierdie mense mag jou ook nie na ʼn demonstrasie of geleentheid uitnooi of met jou kommunikeer as hulle jou mislei oor die doel daarvan nie. Tussengangers mag jou ook nie afslag of geskenke belowe as jy help om klante te werf nie.

Kla hier

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor misleidende advertensies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

melaney ·

Hulle mag jou nie mislei nie. Maar dit gebeur elke dag. Daarna spandeer die koper kosbare tyd (ure, dae, weke), op hul selfone of e-pos om hul geld terug te eis. Ek verkies nog die ou manier van dinge doen. My lugtyd word gespaar en my epos is stil.

Wielspore ·

Ek wys ‘n voorbeeld van misleidende advertensie:
Die opskrif lees, Prices slashed, Xbox 512 GB Digital Console for R6999, dieselfde produk is beskikbaar teen R5580 by ‘n ander handelaar teen gewone prys. Volgens wet as die verkoper sê dat hy sy produk teen afslag (slashed) verkoop is hy veronderstel om aan die verbruiker te kan bewys dat dit wel so is. In SA werk dit nie so, winkels speel met woorde en mislei verbruikers.
Die ander dag het ek navraag op 50% afslag op skokbrekers by ‘n handelaar. Hy verduidelik so, kleinhandel prys, R200, afslag 50%, afslag prys R100. Dan laai hy vervoer koste, pro-rate huur van die perseel (%) van die prys, admin koste. Tel alles bymekaar, gewone prys R1200, 50% afslag prys R1100.
Wat ‘n grap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.