Begin hier met  jou persoonlike finansies

geld-spaar-finansies-berekeninge

(Foto: Jarmoluk/Pixabay)

Daar is hierdie ding genaamd die Dunning-Kruger-effek. Ek gaan nou hopeloos oorvereenvoudig, maar basies is dit wanneer mense met min vaardighede in ʼn veld hopeloos hulle vermoëns oorskat.

Dit gaan hand-aan-hand met die sogenaamde kennis-selfvertroue-indeks. Want anders gestel: aanvanklik weet jy min van iets, en pak jy dit met diepe geloof in jouself aan.

Mettertyd besef jy hoe min jy weet, en val jou vertroue in jouself, tot jy meer ervaring opdoen, en weer met selfvertroue die ding in die gesig kyk.

Daar is baie hieroor geskryf (hier en hier byvoorbeeld), en ek dink ons almal se eerste instink gaan wees om jou gunsteling-politikus se verhouding hiermee te bedink.

Ek rakel hierdie op, want al dink ons ons is immuun hierteen, raak dit ons almal. Van ons mans wat op 40 dink ons kan nog vir die Proteas die boulwerk open as die nood druk, na hoe ons ouers dink óns kinders gaan, anders as alle ander kinders voor hulle, van die meet af van groente meer as sjokolade hou.

(Die anderkant hiervan is natuurlik dat hoogs bekwame mense hulleself kan betwyfel, maar dis ʼn gesprek vir ʼn ander dag.)

Nou, dis belangrik om bewus te wees van jou foute, en daaraan te werk. Maar dis ook so dat daar sekere goed is wat jy jouself kan aanleer. Jy hoef nie kontraktereg te leer soos prokureurs nie, maar as jy ʼn besigheid bedryf sal dit sinvol wees om net van die beginsels te snap.

So is dit dan ook met persoonlike finansies. Dit is soms diep kompleks, ja. By wyse van analogie egter: jy kan leer om ʼn spyker in te kap voor jy self die huis bou.

Wat ek daarmee bedoel is: jy kan van die vaardighede self aanleer; of minstens jouself bewapen sodat jy met nuwe oë na goed kyk.

Dit is natuurlik so dat hierdie ʼn wye veld is, en ek net na ʼn spesifieke deel loer, en dat daar baie meer te sê is as in ʼn 1 200-woord rubriek. Jy gaan nie na jy hier gelees het meer weet as jou makelaar of vriend wat by die beleggingshuis as kwantitatiewe analis werk nie. Dis ook oorwoë beginsels, en nie noodwendig op jou spesifieke situasie van toepassing nie.

Maar dis ʼn tree na bemagtiging. En die basies teorie is nie so wesenlik kompleks nie; hoe jy dit toepas kan wel wees.

(Ek wil net byvoeg, dis nie ek wat so oulik is om alles self uit te dink nie. Die konsepte is nogal welbekend; hierdie is maar net my eie blik daarop.)

Beskerm eers

Dis wonderlik om jou huis se kombuis te wil oordoen, en sommer daai binnebraai in te sit.

Maar as jou woning besig is om teen ʼn krans af te skuif weens kleigrond, is dit dalk wys om eers daai te gaan regstel. Jy gaan waarskynlik meer waarde uit jou kombuis kry as jou huis nog nie teen die krans afgeneuk het nie.

Of as ek rugby as voorbeeld kan gebruik, so aan die vooraand van die Wêreldbeker-toernooi: dit help dadels jy druk vier pragdrieë, maar jy staan 10 af omdat jy jou opponente duik soos wat vegetariërs vleis eet – dit is glad nie.

Op persoonlike finansies vlak beteken dit beskerm eers wat jy het. Anders gestel, begin met ʼn testament, sodat wat jy het kan gaan na wie dit moet kry, sou jy sterf.

As jy kan, kry vir jou medies in plek (ons sal volgende maand daaroor praat); met geluk is dit deel van jou werkspakket.

En dan kyk jy na versekering, kort- en langtermyn.

Versekering is natuurlik ʼn wrokaankoop, en ja, daar is polissmouse daarbuite wat aan jou goed gaan verkoop wat jy nie makeer nie. Of maatskappye wat jou gaan probeer oortuig jy kort meer as wat jy doen.

Maar dis grade, eerder as nood. Want soos jy hier sit en lees, en veral as jy jonk is, is jou belangrikste bate wat jy het jou vermoë om ʼn inkomste te genereer. Met ander woorde om te kan werk.

Kyk dus van die dag wat jy begin werk na inkomstebeskerming (onthou, die meeste dek jou nie teen afleggings nie). Kyk ook of dit nie reeds deel van jou pakket is nie – moenie onnodig goed dupliseer nie. Jou makelaar, wat hopelik al verder op die kennis-selfvertroue-grafiek beweeg het, kan help met wat en waar. Want as jy op 25 jou arms verloor in ʼn kaassny-ongeluk en nooit weer kan werk nie, hou jou onkostes ongelukkig nie op nie.

Kyk ook na dekking vir jou goeters (huis, kar, so aan) – dus korttermynversekering. Maar ook na dekking van jou lyf – lewensdekking, gevreesde siekte, ongeskiktheid en so meer. Veral as jy naasbestaandes het wat jy na wil omsien, of groot skulde soos verbande het om af te los.

(Ons sal in ʼn volgende rubriek meer hieroor gesels.)

Maak dan bymekaar

En dan begin jy spaar. Eers vir ʼn noodfonds, om daai onverwagse uitgawes te dek, soos lekkende geute op jou huis of brandewynvlekke op jou kar (moet asseblief nie drink en bestuur nie), of as jy jou werk verloor.

ʼn Mens sou selfs kon argumenteer, en sterk so, dat ʼn mens eers met ʼn noodfonds moet afskop, alvorens jy na ander goed kyk.

Nietemin, begin met wat jy kan, maar mik aanvanklik vir een maand se uitgawes, dan drie, en dan ses. Stoor dit dalk iewers waar die geld nie blootgestel is aan vreeslike markskommelinge nie, en relatief vinnig bereikbaar is, maar ook darem by inflasie sal bly, of nagenoeg. Dink aan goed soos jou huisverband (as jy ʼn flexi-opsie het), of ʼn geldmarkfonds dalk.

Spaar dan vir aftrede. Hopelik is dit ook deel van jou pakket by die werk, en begin jy sommer van dag een af daarmee. Moenie aan hierdie geld raak nie, as jy dit kan verhoed. Dis mos hoekom jy daai noodfonds opbou wat ons hierbo genoem het.

(Dinge gaan hier nog verander met die komende twee pot-aftreestelsel. Die presiese impak op praktiese vlak is nog nie heeltemal duidelik in alle fasette nie; ook hieroor sal ons in ʼn volgende rubriek praat.)

Hou aan spaar tot jy ophou werk. Toekomstige Jy gaan jou bedank. Die hoeveel en so aan kan jy uittimmer met jou finansiële adviseur.

Na jy voorsiening gemaak het vir aftrede, begin jy belê vir die langtermyn. Hierdie kan effektetrusts of aandele of eiendom of wat ook al wees. Alles het voor- en nadele, en jy moet vind wat vir jou werk. Die detail is buite die bestek van hierdie rubriek.

En dan ploeg jy terug

Ek dink dankbaarheid is ʼn deug. Vergelyking steel vreugde, terwyl dankbaarheid weer help om dit te kweek.

Jy kan dit prakties ook toon, deur by te dra daar waar dit nodig is. Skenk aan die kerk, of die plaaslike biblioteek, of een van die legio organisasies daarbuite wat hulp nodig het. Dit hoef natuurlik nie geld te wees nie, maar dit help ook.

En as jy dan geld skenk, en jy kan 10% terugkry van belasting daarvoor, kan jy daai 10% weer gaan skenk. Dis soos saamgestelde rente vir donasies!

Laaste gedagtes

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Dis ook natuurlik belangrik om voor dit alles te begroot – ek het al baie daaroor geskryf. Kyk wat jou inkomstes is, en probeer jou uitgawes sny. Daar is ook redelik baie en sinvolle duimreëls daarbuite oor hoeveel van jou inkomste jy waarheen moet allokeer – pas dit maar aan vir jou eie situasie.

En dit is ook so dat nie almal dieselfde pad hoef te stap nie. Jou situasie is net dit – joune.

Filter dus hierdie, en enige ander raad, deur jou eie lens. Maar wees ook ontvanklik vir sinvolle insette.

Jou finansiële adviseur het ook ʼn rol te speel. Jy kan natuurlik jouself alles leer, nes ek myself kan leer hoe om self rooibostee te verbou. Maar is dit ʼn goeie aanwending van ons tyd? Ek sal eerder by die supermark ʼn pakkie gaan koop en my tyd bestee waar dit vir my van meer waarde is, soos by my gesin.

En onthou: kennis opsigself is nie wysheid nie, dis maar bloot een bousteen daarvan. ’n Bietjie kennis kan jou maklik in die Dunning-Kruger-effek se gat laat trap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.