Kamera, ligte én aksie in Wêreldbeker

Deur Arnold Geerdts

RG Snyman wens Kurt-Lee Arendse geluk met sy drie teen Skotland. (Foto: Twitter/ Rugby World Cup)

Kameras wat die skeidsregter sy kaarte moet help uitdeel, Rassie Erasmus se nou reeds omstrede ligte uit die afrigtersboks en rugbyaksie wat die toonhare laat krul van lekkerkry. Dit én meer het die eerste week van die 2023-Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk afgespeel.

ʼn Verlies vir wêreldrugby

Die naweek het afgeskop met die All Blacks se strompelende insinking teen Frankryk. Dié nederlaag sê miskien veel meer van die driemalige kampioene as wat dit van die Hane sê. Dit kom voor asof afrigter Ian Forster nou finaal sy kleedkamer kwyt is, al het hy vroeër reeds aangedui dat hy ná afloop van die Wêreldbeker-toernooi as afrigter sal uittree. Wêreldrugby is ongetwyfeld armer. Tog kan ons nog nie heeltemal die Kiwi’s afskryf nie en hulle kan nog gedugte teenstanders vir die Bokke later in die toernooi wees.

Paddakoor laat toeskouers rooi sien

Toeskouers is die herrie in oor opnames van kinderkore wat die onderskeie lande se volksliedere sing en voor die afgelope naweek se wedstryde gespeel is. Die opnames het effens onsamehangend geklink en die uitspraak van Nkosi Sikelel’ iAfrika was onder meer krom en skeef. Ander lande het ook reeds gekla. Dít is ʼn wêreldverhoog, nie net vir rugby nie, maar ook vir elke land wat verteenwoordig word en dit is te verstane dat mense ongelukkig is. Die Franse sal sekerlik gal braak as hul nasionale lied op ʼn soortgelyke wyse voor die wêreld uitgevoer sou word.

Die olifant in die kleedkamer

Kom ons spreek nou maar die olifant in die kamer aan: Skeidsregters. Die Skotse losskakel Finn Russell se “geen arm stamp” was myns insiens glad nie wettig of binne die aanvaarde beskrywing nie, en het beslis ʼn geel kaart regverdig.

Die veelbesproke “bunker”-reël is ook die afgelope naweek verskeie kere toegepas, met kameras en ʼn paneel wat skeidsregters op die veld moes help besluit of ʼn oortreding ʼn geel of rooi kaart regverdig. Die aanpassing van Tom Curry van Engeland se geel kaart na ʼn rooi kaart teen Argentinië, het reeds kritiek teenoor dié stelsel uitgelok en ʼn gevoel laat ontstaan dat die reëls nie oral dieselfde toegepas word nie.

Daar sal waarskynlik nog oor die volgende ses weke ʼn hele paar sulke netelige oomblikke kom en skeidsregters sal veel meer attent moet wees daarop om konsekwent te wees. As die wet so sê, dan is dit so. Of dit vir ons is, of teen ons.

Rassie se disko-ligte

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber. (Foto: Twitter/Springbokke)

Rassie Erasmus se ligte is nou maar net weer kenmerkend van mnr. Erasmus se innovering en sy alewige soeke na verbetering vir sy span. Dit het egter reeds die tonge los en afrigter Jacques Nienaber moes Sondag wal gooi dat die ligte geen “taktiese doel” het nie.

Na my mening het die ligte wel reeds iets belangriks reggekry, of dit nou bedoel was of nie: Dit het die ander afrigters laat wonder. Ek is seker ʼn hele paar afrigters lê nou snags wakker en wonder “wat daai mal man van Despatch nou weer in die mou voer”. En dit is presies wat ons wil hê. Laat hulle hulle oor dinge bekommer wat hulle glad nie kan beheer nie!

Ek het egter so ʼn nare gevoel dat Wêreldrugby vir Rassie gaan aanvat hieroor. Ons sal moet wag en sien.

Dokter toe met Etzebeth 

Eben Etzebeth se skouerbesering sal hom nou tien dae van die veld af hou, wat beteken dat hy die kragmeting teen Roemenië volgende Sondag misloop. Dit sal waarskynlik ʼn besliste uitwerking op die Bokke se spel hê. Dié reus is nou maar eenmaal die enjin in die skrum en daar was beslis ʼn effense insinking nadat hy in die 26ste minuut van die veld af gegaan het. Ek dink wel hy behoort weer reg te wees vir ons wedstryd teen Ierland op 23 September.

Dit hoef nie ‘mooi’ te wees nie

Laastens wil ek my graag uitlaat oor kritiek deur rugbyliefhebbers dat die pas afgelope naweek se wedstryde nie juis pragrugby opgelewer het nie, met die uitsondering van die wedstryd tussen Wallis en Fidji. Liewe leser: Hoor my lied. Wêreldbeker-rugby is anders as enige ander vorm van die spel.

Dit hoef nie mooi of skouspelagtig te wees nie; solank daar ʼn wenner en ʼn verloorder is. Net een punt meer as die ander span is genoeg. Daar is nie bonuspunte vir mooi speel nie, vat dus die wenkans en beweeg aan na die volgende week.

Ons verwagtinge behoort daar gesetel te wees: Een oorwinning op ʼn slag.

En ek is seker Rassie sal meer lig op hierdie ou sakie ook kan werp!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

miche ·

Mooi gesê, Daleen.Daai rugbyuniform lyk vir my soos laerskool rugbyklere.

Michael ·

Hulle is nou die “Checkers span” want hulle speel in Checkers se kleure. Daai aaklige klere het die bokke minstens 15 punte gekos-geen springbokspeler kan trots voel in sulke aaklige klere nie

Pieter Johan ·

Doen asseblief iets aan die duisende ondersteuners wat ongelukkig/hartseer/teleurgestel is in die nie – kultuur kleur truie — daar is nog tyd — Ek het verwag Rassie sou hierdie een ten minste teenstaan–
Ondersteuners — help druk deur asseblief.

George ·

Ek wonder of Rassie weet hoe pateties Nienaber lyk as hy alles doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.