ʼn Toebroodjiegenerasie: hoe om te beplan wanneer jy na almal moet omsien

Foto ter illustrasie. (Foto: Askar Abayev/Pexels)

Ons herbesoek laasmaand se tema: Hoe gemaak as jy na jou (skoon)ouers, en jouself, en jou kinders moet omsien? Uit die hoeveelheid terugvoer wat ons gekry het laas keer, sowel as die wydte van die onderwerp, het ons besluit om weer vandeesmaand te kyk aftreevoorsiening.

Dis nou spesifiek as jy na jou ouers én jouself moet omsien, en dalk ook jou kinders. Die toebroodjiegenerasie, soos hierdie mense bekendstaan, is ʼn werklikheid.

Daar is baie faktore wat hiertoe bydrae, van die tegniese (wat ons grootliks in hierdie ruimte vermy), tot die praktiese – mense spaar te min, en leef bo-op dit veel langer.

Daar is diegene wat meen natuurlik moet jy na jou ouers omsien, hulle het dan jou doeke omgeruil, hoe is dit ʼn probleem? Ander kla weer dat hulle die geleentheid ontneem word om hulle kinders op te hef.

En dit is so dat tye moeilik is (is dit nie maar altyd nie?).

Ons kan derms ryg hieroor, en dit is nodig om as samelewing te kyk wat ons kan doen om dit in die toekoms te vermy. Ons kan beslis werk aan ʼn sterker maatskaplike vangnet, en om mense te bemagtig om vroeg al die regte besluite te neem.

Maar ons moet ook oplossings vind vir die nou, die situasie voorhande.

Hier is dus nog ʼn paar wenke, om die beste te maak van wat jy het.

Ek gaan ook nie ʼn posisie inneem nie, maar net hierdie noem: jou tyd met jou mense op hierdie aarde is beperk, en eendag is iemand nie meer daar nie. Dan gaan jy terugkyk en jouself in die oë moet kyk oor die besluite wat geneem is. Die Groot Boek sê immers “eer jou vader en jou moeder”. En die een ding wat nie geld kos nie? Liefde.

Dit is ook so dat verhoudings, finansies en veral hulle infleksiepunt kompleks is. En daarom, onthou, en merk hierdie sommer in gekleurde pen: hierdie is bondig, en oorsigtelik. Jou situasie is uniek aan jou. Gesels met iemand.

Oorweeg ʼn polis

Ons het laas breedweg oor opsies gesels – stel ʼn begroting op, sny terug, oorweeg die opsies vir verblyf, vind uit watter spaargeld daar is, so aan.

Daar is wel nog een, en nie almal is te vinde hiervoor nie. Sommige beskou dit as sinies, maar uit ʼn regsoogpunt het ʼn kind ʼn versekerbare belang in hulle ouers se lewe. Versekerbare belang beteken dat jy iemand ander se lewe kan verseker. Dink byvoorbeeld gades oor en weer, of besigheidsvennote.

Jy kan nie sommer net iemand lukraak gaan verseker nie vir redes wat ek dink die meeste van ons sommer in ons gewete aanvoel. Dit sou ʼn bietjie wees soos die Proteas wat teen hulleself wed in ʼn wedstryd.

Vir ons doeleindes: In wese beteken dit dat jy ʼn lewenspolis op jou ouers se naam kan uitneem. Sou hulle sterf, betaal die gelde aan jou uit.

Nou, natuurlik is hier baie betrokke, waarvan een van die grootste goed emosie is. Ek is nie hier om vir jou te vertel wat vir jou en jou mense reg of verkeerd is nie – ek stippel bloot moontlikhede uit.

Ek gaan hierdie bitter eenvoudig hou: daar is losweg vier partye by hierdie tipe lewenspolis, of dan ʼn risikopolis (dis nou benewens die versekeraar). Dis m.a.w. ʼn polis wat uitbetaal sou iemand tot sterwe kom, en het (meestal) nie geldwaarde nie.

Dis soos die geel sambreel, maar vir ʼn lewe. Dink die blou of groen maatskappy. Die vier partye is die versekerde lewe, die begunstigde, die premiebetaler en die planhouer.

Die versekerde lewe is die persoon wie, reggeraai, se lewe verseker word. As hulle sterf in ons voorbeeld, betaal geld uit. Die begunstigde is aan wie hierdie gelde uitbetaal word. Die premiebetaler betaal die premie. En die planhouer besit die polis, en kan veranderings daaraan aanbring.

Hierdie vier partye hoef nie dieselfde mens te wees nie.

Jy kan dus as planhouer ʼn polis uitneem op jou ouers, wat uitbetaal sou hulle tot sterwe kom.

Etlike punte egter hier. Net oor die wet iets toelaat in beginsel, beteken nie maatskappye se besigheidsreëls sal nie. Dink so daaraan: Jy het dalk die reg om teen 120 km per uur op die N1 te ry, maar as dit spitsverkeer is, is jou bande aan bande gelê.

Versekeringsmaatskappye het hulle eie reëls – sommige laat net versekering van individue toe tot op sekere ouderdomme, sê nou maar 70 of 80. Dis ook heelwat duurder hoe ouer jy raak, vir voor die hand liggende redes.

Dis verder so, op oorwig van waarskynlikheid, dat ouer mense kondisies kan hê wat hulle premies duurder kan maak (sê nou maar effense hoër bloeddruk). Of selfs hulle heeltemal onversekerbaar kan maak – dit is as die versekeraar nie dink die risiko is vir hulle die premie werd nie.

Maar: Op balans moet jy (gewoonlik) etlike dekades jou premie betaal voor jy meer betaal as wat die polis gaan uitbetaal.

En, weereens statisties gesproke, is ʼn lewenspolis ʼn redelike veilige “belegging”, in dat die dood vir ons almal kom. Jy het ʼn 1:1 kans om dood te gaan.

Seker soos wat ons ʼn 1:1 kans het dat Eskom nooit heeltemal gaan herstel nie, of dat WP-ondersteuners hulle sal verlekker in die Bulle se kleitrap.

Die versekeraars het wel ook ander reëls: sommige laat in sekere gevalle nie toe dat ander mense as die versekerde lewe die planhouer is, tensy daar finansiële bewyse is nie.

Ook hier is daar paaie om: jy (en dalk jou sibbe) kan dalk die premie betaal, en julle is die begunstigdes. Onthou net dat wie ook al die planhouer is, te enige tyd die begunstigdes kan verander, sonder enigeen se toestemming.

Ek wil net ook hier noem dat geld nie die gat in ʼn hart kan vul nie. Ja, daar is ʼn finansiële juk om te dra in hierdie geval. En ja, dit gaan baie van die amperse angs rondom iemand se afsterwe wegneem, of minstens die geldelike sy. Maar geld is nie ʼn pleister vir ʼn hart nie.

En dan, soos laas genoem, in hierdie geval is kommunikasie uiters belangrik. Almal gaan op dieselfde bladsy moet wees.

Wat as ek na my (klein)kinders moet omsien?

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Hierdie is ook ʼn realiteit vir heelwat mense. In die geval van volwasse kinders wat kan werk, is dit hopelik tydelik ruspose.

Waar dinge meer kompleks raak is wanneer mense nie kan werk nie (weens ongeskiktheid), of as minderjarige kleinkinders betrokke is.

Ek sou weer hier terugverwys na my vorige rubriek, want baie van dieselfde beginsels geld: kry staatsgelde waar en soos jy kan (ons almal betaal immers belasting); kry ander mense betrokke; beplan en begroot; kommunikeer.

Ook: as jy die party is wat na hulle welsyn moet omsien, op die duur en veral in minderjarige en ongeskikte persone se geval, is dit beslis sinvol om jou eie lewe te verseker, sodat daar geld is om na jou dood na hulle om te sien.

Hierdie geld gaan jy deur betroubare mense moet laat bestuur – versekeraars kan gewoonlik met ʼn trustdiens help; so ook prokureurs.

Maar asseblief, gaan sien iemand wat jou kan help. As ʼn mens te na aan ʼn situasie is, is dit soms moeilik om nugter te dink. Sometimes you can’t see the wood for the trees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mallie ·

Ek is 63 jaar oud en ten gunste daarvan om n polis op my naam uit te neem vir my kinders vir die dag as ek nie meer hier is nie. Dit is meer as regverdig. Hulle verdien dit want ek wou hulle he en hulle het nie gevra om hier te wees nie, dit maak die lewe en omstandighede net soveel makliker vir hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.