Help! Ek moet na my (skoon)ouers omsien

(Foto: Pixabay)

Ons het laas maand gekyk na aftredevoorsiening vir jouself. Ongelukkig, in ʼn komplekse samelewing soos ons s’n, is oplossings ook kompleks.

As voorbeeld: Ek verpes muskiete omtrent soveel soos sommige politici. Maar as die zoemertjies môre sou verdwyn? Wel, ek gaan minder nagte wakker skrik en soos AD Keet net bloedkolle op die mure laat, en vir seker sal heelwat minder mense weens malaria sterf.

Die plantewêreld sal egter ook ʼn bestuiwingsagent verloor, minstens op die korttermyn.

Kyk, op balans sal die wêreld waarskynlik beter af wees, nes Suid-Afrika sonder kaders, of jy met genoeg aftreegeld, maar dis nie net so eenvoudig nie. Daar sal newe-effekte ook intree.

So is dit ook met ander probleme, soos die genoemde aftrede. Een van die sake wat dit kan vertroebel, is jou eie ouers of jou skoonouers. Soos in verlede maand se rubriek genoem, het ons werklik ʼn aftredeprobleem in hierdie land (en eintlik oral in die wêreld).

Daar word nie verniet van die toebroodjie-generasie gepraat nie – diegene wat na hulself, hul kinders en hul ouers moet omsien.

Net eers: Aftrede is ʼn relatiewe nuwe konsep in die groter konteks van die mensdom. Dit kom met goed en sleg. Jy kan dalk nou ʼn bietjie ontspan na jou jare se werk, maar daar is moontlik ook ʼn verlies aan identiteit en doel, en daar is heelwat navorsing wat dui op ʼn beduidende hoeveelheid afgetredenes wat in depressie verval hieroor.

En nie alle mense gaan kan, of moet aftree nie. Dit is ook so dat dit vir baie nie ʼn keuse is nie: die werk dwing dit af, of jou gesondheid laat jou nie toe nie.

Boonop leef mense algaande langer.

Nou goed, jy is dalk 40 en kan nog ʼn plan maak, gedeeltelik, vir jouself, maar hoe gemaak met jou (skoon)ouers as hulle waarlik in die knyp is? Hier is ʼn paar wenke om die beste te maak van wat jy het.

Onthou: hierdie is bondig, en nie-spesifiek. Jou situasie is net dit: joune. Gesels met ʼn kundige.

Praat

Ek is van mening dat ʼn wesenlike persentasie van die wêreld se probleme aan powere kommunikasie te wyte is. Daar is natuurlik ander dinge ter sprake, en ek maak dit nie af nie.

En: Dit is so dat die geskrewe woord nie perfek is nie, en baie kommunikasie gebeur via liggaamstaal en infleksie – iets wat ek vermoed tot baie bekgevegte lei, want ʼn mens kan nie dié goed sien via sosiale media of teksboodskappe nie.

Maar ons is ook nie altyd goed met praat oor wat ons begeertes, behoeftes en dies meer is nie. En ek sluit myself hierby in! As daar egter uitdagings is met ouers en/ of skoonouers, sou ek voorstel begin met duidelike kommunikasie.

ʼn Mens kan slegs ʼn probleem oplos as jy weet wat die omvang daarvan is. Natuurlik kan daar dinge uitspring, en soms bou ʼn mens die vliegtuig soos jy hom die wolke in stuur.

Maar in hierdie geval is dit tot alle partye se voordeel om vas te stel presies hoe groot die probleem is. En hier moet eerlik gepraat word, sonder lang tone en dun velle.

Byvoorbeeld: Is daar skulde uitstaande? Hoeveel spaargeld is daar, indien enige? Waar is dit? Is dit moontlik om aan te hou werk, sou dit nodig wees?

Dit kom ook uit twee kante. Jou ouers bly steeds mense met behoeftes, en hierdie is waarskynlik net so min vir hulle maklik as vir jou. Onthou ook dat die magsdinamiek totaal verskuif, wat ook ʼn invloed het.

Dit gaan waarskynlik ongemaklik wees. Dis dalk sinvol om ʼn arbiter betrokke te kry, soos ʼn finansiële adviseur.

Kry jou sibbe betrokke

Daar is probleme wat jy alleen moet oplos, maar ander probleme kan saam opgelos word. As jy broers en/ of susters het, sou ek hulle beslis betrek. Dis immers hulle ouers ook.

Dit is ook so dat verhoudings verskil. Dalk kom jou broer en jou pa oor die weg soos David Warner en Faf du Plessis, en gaan dit moeilik wees. Of dalk kom hulle oor die weg soos David Warner en skuurpapier, en gaan dit maklik wees.

ʼn Mens sou seker kon argumenteer dat nes ouers in hulle kinders se grootworddae ʼn morele verantwoordelikheid teenoor hulle telge het, het kinders in hulle ouers se oudworddae ook so ʼn plig.

Jy en jou sibbe kan saamspan om die las op almal te verlig, maar ook vir hierdie gaan punt 1 hierbo – kommunikasie – geld. Dit help nie Pieter-Jan gee geld vir Ma en Pa se medies, maar Sara-Johanna wil net blikkies bone vir die spens skenk nie.

Dit is egter ook so dat ʼn mens mekaar se begrotings ook in ag moet neem, en elkeen se situasie. ʼn Mens is seker maar net ʼn mens deur ander mense, of hoe?

Kry die staat betrokke

Ons sien dalk nie altyd ons belastinggeld in werking nie, veral nie tussen slaggate en korrupsie nie. Tog betaal ons almal dit – selfs jou kinders, want hulle betaal tog BTW op hulle Kit-Kat.

Die punt is: moenie skaam wees om Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA)-gelde te gaan eis nie. Jou (skoon)ouers het waarskynlik jare lank bygedra, en kan nou vrugte gaan pluk hiervan, sou hulle kwalifiseer.

Dit is nie baie nie, tans sowat R2 000 p.m., maar dis beter as R0 p.m. Daar is ʼn string vereistes en as jy te veel inkomste het kwalifiseer jy nie, maar vergewis jou van die sake hier.

Trots gaan nie jou rekeninge betaal nie; maar harde kontant wel.

Waar bly jy?

Dis makliker om planne te maak vir kos voorsien of vervoer uitsorteer, maar waar gaan jou (skoon)ouers bly?

As daar ʼn dak oor iemand se kop is, maak dit baie laste ligter.

Ek is baie lief vir my familie, maar hier teen dag agt wat ons almal saam is, is almal se nerwe al oop en maak die kleinste goedjies mense die josie in.

So is dit ook as julle mense by julle kom bly, behalwe sonder die afleiding van vakansie, soos draairoomyse, Juanita du Plessis se musiek en braaivleis vir middagete.

As hierdie jou situasie is, is daar vrae: Waar gaan hulle bly? Indien dit by jou is, waar? Wat beteken dit vir goed soos kos? Of as julle met vakansie is? Deel hulle die huis met jou, of het jy ʼn woonstel vir ʼn mate van privaatheid vir beide?

Reëls sal hier beide kante toe moet geld.

Begroot

Ek klink seker soos ʼn plaat wat vashaak, of soos jou man se beloftes dat hy wel die portrette gaan hang, maar dis nog meer belangrik as jy weet die geld gaan lol. Of nie weet hoe lank dit gaan hou nie.

Dit raak dan juis belangriker om te sorg dat elke sent twee keer omdraai, en sommer dubbel so hard werk. Hierdie is natuurlik net moontlik as julle punt 1 volg, want dis waar dit begin.

Enkele ander gedagtes

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

ʼn Mens kan eintlik ʼn boek hieroor skryf, want daar is so baie dinge om in ag te neem: as jou ouers op hulle eie bly, is hulle meer kwesbaar vir misdaad? Hoe gemaak as iemand versorging nodig het? Hoe lank kan jou (skoon)ouers nog bestuur, of na ʼn huis omsien, terwyl ons hierby is?

Eensaamheid is ook ʼn goed nagevorsde probleem vir die ouer garde, want ten spyte van goed soos WhatsApp en ChapGPT en Facebook wat aan ons die virtuele wil verkoop, het ons menslike kontak nodig.

En waarskynlik vir jou, die kind, die enkel belangrikste ding: hoe gaan jy verhoed dat jou kinders eendag in dieselfde bootjie sit?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miskruier ·

Ek het n huurder wat skielik geen sent oor het nie. Het gereël vir Sassa, sy is al bejaard. Geen familie in die land nie. Geen vriende. Geen kerkverband. Wat maak mens??

Alida ·

As jy sê geen familie in die land nie, het sy dalk familie in die buiteland wat kan help? Indien wel, dit is dikwels vir hulle heel bekostigbaar om met dollars of euros ‘n paar rande by te dra.

Roek ·

Die “sibbe” word ongeluklkig so opgesteek teen oor mekaar totdat alles tot nuut gaan , ongelukkig word liefde teen geld en aansien opgeweeg en is die ours soms ook baie neidig wat die saak vereger !

Roebs ·

Ek kyk a 4 jaar na my moeder, dit gaan rof want dis huur alles word duurder mens sukkel om kop bo water te hou.

Lukas ·

Maar wat daarvan as jy as afgetredene dalk na jou kinders se welstand moet omsien?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.