Verbruikersake: Ombudsman waarsku oor aanlyn rekenaarwinkel

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste waarsku verbruikers om versigtig te wees wanneer hulle aanlyn inkopies doen by PC Link Computers Online Store, wat hoofsaaklik rekenaars, elektriese toestelle en bykomstighede verkoop. Ina Opperman het gaan vasstel waarom verbruikers in hul pasoppens moet wees vir hierdie aanlyn winkel.

Volgens die ombudsman word verbruikers gewaarsku omdat die aantal klagtes oor die handelaar drasties toegeneem het en die handelaar nie met haar kantoor saamwerk om klagtes op te los nie.

Verbruikers kla oor PC Link omdat die goedere, wat hulle bestel en voor betaal het, nie afgelewer word nie en dat die winkel nie beloftes nakom om verbruikers se geld terug te betaal nie.

Die ombudsman het net in April 215 klagtes ontvang oor PC Link Computers en ondersoek tans 134 klagtes, maar moes dié klagtes skrap en hulle na die nasionale verbruikerskommissie verwys omdat die winkel nie wil saamwerk om die klagtes op te los nie.

Lokaasbemarking

Volgens die klagtes en die handelaar se versuim om saam te werk, meen die ombudsman dat dit duidelik is dat PC Link lokaasbemarking gebruik − waar hulle goed weet dat hulle nie beplan om die goedere te lewer nie, al is dit beskikbaar − wat ʼn moontlike oortreding is van artikels 19 en 41 van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Toe die ombudsman aanvanklik klagtes gekry en dit met PC Link opgeneem het, het die handelaar direk met die klaers geskakel, geld terugbetaal en goedere afgelewer wat nog nie afgelewer is nie.

PC Link het egter intussen om die een of ander rede opgehou daarmee en ook opgehou om met die ombudsman saam te werk oor die klagtes.

“Om geld te vat van verbruikers en dan nie die goedere en dienste te verskaf op die datum en tyd waarop ooreengekom is nie, is ʼn moontlike oortreding van artikels 19 en 41 van die wet en ons kan nie staan en niks doen terwyl aanlyn handelaars verbruikers se geld steel nie,” sê Magauta Mphahlele, die ombudsman.

Volgens artikel 19 is verskaffers verantwoordelik daarvoor om goedere en dienste te lewer op die datum en tyd wat afgespreek is, of binne ʼn redelike tyd nadat die transaksie beklink is. Wanneer die verskaffer nie aflewer soos ooreengekom nie of nie reël vir ʼn alternatiewe datum of tyd nie, het die verbruiker die reg om die ooreenkoms te kanselleer sonder ʼn boete en ʼn volle terugbetaling te kry.

Artikel 41

Dit lyk ook vir die ombudsman asof PC Link artikel 41 oortree, wat verskaffers verbied om direk of indirek valse of misleidende inligting te gee of te impliseer oor belangrike aspekte van goedere en dienste, soos dat dit beskikbaar is of afgelewer kan word binne ʼn sekere tydperk.

Mphahlele sê sy doen ʼn beroep op alle aanlyn verskaffers om te verseker hulle voldoen aan die bepalings van die wet, deur te verseker dat:

  • die korrekte pryse aangedui word − waar daar ʼn fout is moet dit aan verbruikers bekend gemaak en reggestel word binne ʼn redelike tydperk, of andersins sal verbruikers daarop geregtig wees om die prys te betaal wat aangedui word
  • ʼn gedetailleerde beskrywing van die goedere gegee word om te keer dat verbruikers goedere bestel wat nie geskik is vir hulle doel nie
  • afleweringstye aangedui word en verbruikers in kennis gestel word indien daar ʼn vertraging sal wees
  • belangrike terme en voorwaardes aangedui word, wat duidelik uitspel hoe terugstuur en terugbetaling werk
  • kontakbesonderhede en waar om te kla aangedui word
  • lokaasbemarking en oorverkope vermy word deur te verseker dat genoeg voorraad beskikbaar is of aan te dui hoeveel voorraad oor is in alle reklame
  • geld van verbruikers nie aanvaar word as daar nie voorraad of die kapasiteit is om die goedere af te lewer op die bepaalde datum en tyd nie
  • dit duidelik gemaak word watter ander kostes die verbruiker moet betaal, soos afleweringskoste en kansellasieboetes
  • daar ʼn stelsel is waarop verbruikers hul aflewerings kan volg.

Verbruikers wat aanlyn koop word aangeraai om te hou by handelaars met ʼn goeie reputasie en veral op die uitkyk te wees vir winskopies wat baie lae pryse vra. Doen ook jou huiswerk voordat jy koop en jou swaarverdiende geld uitgee deur aanlyn te kyk of mense oor die handelaar kla en of hul klagtes opgelos word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frank ·

Proton Solar Distributors van Centurion is nie ver agter nie en pleeg selfs meineed in die hof deur te beweer dat stukkende goedere nie binne 7 dae volgens CPA terugbesorg is nie terwyl hulle modus operandi is om kliente te ignioreer vir die eerste 7 dae en dan eers te reageer, sodat hulle kan “bewys” dat dit na 7 dae was.

Koen ·

Hoop van harte jy het die bewyse. Hulle gaan jou bloots ry.

VaalDonkie ·

Ek sien hulle nogal baie opkom op Google as ek na skaars goed soek. Ek was nog altyd verbaas dat so ‘n onbekende besigheid ALTYD die ding het waarvoor ek soek, maar niemand anders nie. Het altyd gedink dis ‘n bietjie verdag, maar altyd net gereken dis omdat hulle die goed direk uit China invoer en net as ‘n middelman dien.

boerie ·

Step building supplies het dit ook met my gedoen en het na 4 maander eers n terugbetaling gedoen nadat hulle my dagvaarding ontvang het. Vat hulle kleineise hof toe.

Ettienne ·

Om nie goedere te lewer wat die klant voor betaal het nie, is nie ‘n oortreding van die een of ander verbruikerswet nie …dit moet hanteer word onder die strafproseswet, naamlik diefstal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.