Verbruikersake: Op krediet gekoop maar nooit afgelewer nie – hoe nou gemaak?

(Foto: pixabay)

Jy het so ʼn mooi sitkamerstel op krediet gekoop en kan nie wag om dit in jou huis te sien nie. Maar dit word nie afgelewer nie en nou bel die rekeningkantoor van die handelaar en eis dat jy jou eerste paaiement begin betaal. Betaal vir iets wat jy nog nie het nie? Wat is jou regte? Ina Opperman verduidelik.

Verbruikers wat goedere op krediet koop, weet dikwels nie wat hul regte is as dit nie afgelewer word nie. Ons het al almal die storie gehoor: ons kantoor het nie die sitkamerstel aan jou verkoop nie en ons wil asseblief net ons geld kry.

Die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste sê hieroor in ʼn adviesnota dat ʼn mens hier die Nasionale Kredietwet, kontrakreg en die Wet op Verbruikersbeskerming in gedagte moet hou, hoewel die Wet op Verbruikersbeskerming die meeste beskerming bied.

Al is die wet nie van toepassing op die krediettransaksie self nie, is dit wel van toepassing op die goedere en dienste wat jy in terme van die kredietooreenkoms koop. Die Nasionale Kredietwet reguleer die krediettransaksie self.

Volgens artikel 19 van die Wet op Verbruikersbeskerming, tensy dit anders aangedui word, is dit ʼn versweë voorwaarde van elke transaksie om goedere en dienste te koop dat die verskaffer dit moet aflewer op die tyd, datum en plek waarop julle ooreengekom het, binne ʼn redelike tyd na die transaksie gesluit is.

Indien die verskaffer die afleweringsvoorwaardes wil verander, kan jy die aflewering aanvaar, vereis dat die verskaffer hou by die oorspronklike reëlings of die ooreenkoms kanselleer sonder ʼn boete.

Jy kan dus die ooreenkoms kanselleer in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming indien die goedere nie op die ooreengekome tyd op die regte plek afgelewer word nie. Artikel (40)(d) van die wet verbied ook gewetenlose optrede wanneer die verskaffer aandring op betaling.

Die ombudsman sê dit sal beslis onbillik wees om aan te dring dat ʼn verbruiker betaal vir goedere wat nie afgelewer is nie.

Die Nasionale Kredietwet maak nie voorsiening vir enige regte vir verbruikers wat goedere op krediet gekoop het wat nie afgelewer word nie. Indien jy egter ophou betaal, moet die kredietverskaffer jou laat weet indien enige slegte inligting oor jou betalingsgedrag by die kredietburo’s gelys gaan word.

Die kredietverskaffer mag ook nie begin met regstappe voordat jy in kennis gestel is dat jou betalings agterstallig is nie en hy kan dit verwys na ʼn agent wat spesialiseer in die oplossing van klagtes, ʼn verbruikershof of ombudsman met jurisdiksie sodat jy en die verskaffer die probleem kan oplos en besluit hoe jy jou agterstallige betalings op datum kan bring.

Wat kontrakreg sê oor jou regte

Indien die verskaffer goedere aan jou verkoop het op krediet, maar die goedere nie aflewer nie, is dit kontrakbreuk in terme van kontrakreg en jy kan:

  • Eis dat die verskaffer presteer in terme van die kontrak en jou goedere aflewer.
  • Die kontrak onder sekere omstandighede kanselleer.
  • Skadevergoeding eis vir enige verlies wat jy gely het.
  • Eis vir skade en die aflewering of jy kan eis om die ooreenkoms te kanselleer.

Jy kan dus in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming die kredietooreenkoms kanselleer, sonder enige boete en jy kan die goedere, indien dit dan afgelewer word, behandel soos ongevraagde goedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek weet dis nou nie regtig die onderwerp onder bespreking nie, maar koop eerder met jou bank kredietkaart. In die eerste plek is die rente veel laer, en in die tweede plek is dit baie makliker om ‘n kredietkaart betaling terug te trek.

annie ·

… Vra vir Cyril. Hy weet van betaling sonder aflewering… En die koper wat $-miljoene betaal het is doodgelukkig..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.