Verbruikersake: Kom sê oor aanlyn inkopies

aankope-aanlyn-internet

Argieffoto (Foto: Negative Space/Pexels.com)

Die Mededingingskommissie moedig ondernemings en verbruikers aan om deel te neem aan sy aanlyn markondersoek wat gedurende November virtueel sal plaasvind in die vorm van openbare vergaderings om ondersoek in te stel na hoe die aanlyn ekonomie werk en faktore wat mededinging en deelname verhinder en ook voorstelle aan te hoor oor hoe enige vraagstukke wat geopper word, opgelos kan word. Ina Opperman het gaan kyk hoe die ondersoek gedoen gaan word en hoe verbruikers hul sê kan sê oor aanlyn inkopies.

Sedert die eerste inperking in Maart verlede jaar begin het, het baie meer verbruikers as ooit tevore hulle tot aanlyn inkopies gewend en daarom is dit nou ʼn gulde geleentheid om ondersoek in te stel na hierdie manier van koop wat nou deel van ons lewens geword het.

Die Mededingingskommissie nooi groot en klein aanlyn platforms en kleinhandelaars, ondernemings wat aanlyn kanale gebruik om verbruikers te kontak, sakeorganisasies, waagkapitaalbeleggers wat in die digitale ekonomie belê en verbruikers wat die aanlyn kanale gebruik, om deel te neem aan sy Digitalemarkteondersoek deur die webwerf te besoek.

Die webwerf verduidelik hoe die openbare verhore gaan werk en hoe deelnemers kan deelneem. Daar is ook  ʼn vorm wat jy kan invul en na die ondersoek se e-posadres by [email protected] kan stuur voor die einde van September as jy wil deelneem. Die program vir die openbare vergaderings sal binne die volgende week bekend gemaak word.

Ander maniere vir ondernemings om deel te neem

Indien ondernemings nie die vergaderings virtueel kan bywoon nie, is daar ʼn ander manier om deel te neem. Daar is ʼn meningsopname vir aanlyn ondernemings op die webwerf wat die kommissie sal help om te verstaan hoe hulle die mark ervaar en in besonder:

  • die omvang van die platformafhanklikheid
  • die beperkings wat platforms op hul sake plaas
  • hoe hulle die regverdigheid van algoritmes ervaar
  • platformvoorwaardes
  • platformkommissiegeld
  • die uitwerking van enige onregverdige behandeling op hul sake.

Volgens die kommissie is dit belangrik dat ondernemings deelneem aan die meningsopname om seker te maak hul stemme word gehoor. Belanghebbendes kan geskrewe voorleggings oor kwessies by die e-posadres indien.

Waarom ʼn markondersoek?

Volgens die kommissie het Suid-Afrikaanse verbruikers en ondernemings aanlyn kanale begin gebruik gedurende die pandemie vir:

  • inkopies
  • kosaflewering
  • reisbesprekings en akkommodasie
  • navorsing voordat hulle groot aankope doen soos ʼn huis of ʼn motor
  • om apps af te laai vir omtrent enige aspek van hul digitale lewe.

Die kommissie het besluit om ondersoek in te stel na die mededinging en deelname aan die aanlyn ekonomie vroeër vanjaar in reaksie op die toenemende belangrikheid van die aanlyn ekonomie en mededingingskommer in hierdie markte wat in ander lande waargeneem is, om te verseker dat verbruikers en ondernemings voordeel trek uit mededinging tussen aanlyn platforms en dat klein en voorheenbenadeelde ondernemings ook die geleentheid kry om regverdig aan die aanlyn ekonomie deel te neem.

Eerste fase van ondersoek reeds afgehandel

Volgens die kommissie is die eerste fase, waartydens inligting ingesamel is, reeds afgehandel en die insigte wat bereik is, is vervat in ʼn “Verdere Verklaring van Kwessies”, wat die markdinamika en praktyke wat moontlik mededinging kan verhinder of wat kan lei tot onregverdige behandeling van ondernemings wat gewilde aanlyn platforms gebruik, identifiseer. Hierdie kwessies sluit in:

  • Eie omvattende en toenemende gebruik van geborgde rangordes, die impak daarvan op verbruikerskeuse en hoe maklik dit is om klein of voorheenbenadeelde ondernemings op hierdie platforms te vind.
  • Die rede vir en die impak van hoë kommissie en lysgeld wat klein restaurante, motorhandelaars en kosafleweringsplatforms moet betaal, vergeleke met groter nasionale kettingwinkels op voedselafleweringsplatforms en aanlyn platforms vir motors en eiendomme.
  • Hoe nodig dit is vir ondernemings om afslag of promosies aan te bied op die platforms om sigbaar te wees vir verbruikers en die druk van platforms om dit te doen.
  • Hoe regverdig die voorwaardes van die platforms is, onder andere betalingsvoorwaardes, aanspreeklikheid vir verlies en die sluiting van die platform.
  • Die algemene gebrek aan platforminisiatiewe om die transformasie van die aanlyn ekonomie te ondersteun en die toenemende betrokkenheid van plaaslike ondernemings op internasionale platforms.
  • Die rede vir en die impak van pryspariteitklousules wat afgedwing word op ondernemings in e-handel, aflewering en reis- en akkommodasieplatforms.
  • Die uitwerking van die voorste platforms se groot soekenjinbemarking- en verbruikerspromosies op ontluikende platforms en individuele ondernemings om aanlyn vir verbruikers sigbaar te wees.
  • Prominente handelsname of groot kettingwinkels wat nie ontluikende platforms ondersteun nie en verbruikersaanname en platformgroei.

Die virtuele verhore sal van 2 tot 19 November gehou word en sal na verwagting ʼn openbare gesprek begin oor die voorafwaarnemings en enige optrede of veranderings in sakepraktyke identifiseer wat die groeiende aanlyn ekonomie positief kan verander om die beste resultaat vir verbruikers en die ondernemings wat staatmaak op aanlyn verkope te bewerkstellig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Slang in die gras. Die is niks anders as swart ekonomiese bemagtiging om voor in die ry te kom wanneer mens na iets aanlyn soek. Mens kan ook nie meer op cipc se webwerf sien wie die eienaars van maatskappye is nie. (nuwe privaatheidswette)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.