Miljarde se spaargeld lê renteloos en roes

Dr. Thomas Brennan is die stigter en uitvoerende hoof van Franc. (Foto verskaf)

Suid-Afrikaners het nie ʼn goeie reputasie wanneer dit by spaar kom nie. Diegene wat wel wíl spaar of ʼn paar rand wil belê, word deur verskeie struikelblokke in die gesig gestaar: hulle verdien min tot geen rente, hulle kan nie maklik toegang tot hul beleggings kry nie, produkte is ingewikkeld, die minimum beleggingsbedrae is hoog en buitensporige beleggingsfooie is dikwels aan die orde van die dag.

Talle Suid-Afrikaners sê hulle ervaar oorweldigende spanning rakende hul geldsake en klou gevolglik eerder aan hul swaarverdiende sente vas as om oor die menige beleggingshekkies te probeer spring.

Dié geld bly dan in ʼn bankspaarrekening waar dit min tot geen opbrengs lewer nie. Daar word beraam dat meer as R300 miljard niks in lopende rekeninge sit en doen nie en in werklikheid slegs tot die banke se voordeel strek.

Volgens dr. Thomas Brennan, stigter en uitvoerende hoof van Franc, wys dié enorme bedrag geld wat bykans renteloos lê en roes dat ʼn magdom verbruikers nog nie weet hoe om hul geld vir húlle te laat werk nie. “Suid-Afrikaners is egter gretig om te leer, want maniere om te belê en beleggingsprogramme is uiters gewilde Google-soekterme plaaslik. Trouens, Suid-Afrika is op vier na die land waar dié trefwoorde die meeste nagespoor word,” sê Brennan.

Franc is ʼn bekroonde toepassing (“app”) wat Suid-Afrikaners help om te spaar, te belê en meer oor beleggings te leer. “Ondanks die Covid-19-babelaas en die geldgordel wat al stywer span weens stygende petrolpryse, hoër kragtariewe en hemelhoë lewenskoste, klop al meer mense by Franc aan om hulp. Ons het kliëntegroei van meer as 400% oor die afgelope 12 maande gehad.”

“Die meeste mense wat klein bedrae spaar, doen dit om ʼn noodfonds te skep”, sê Brennan. “Dit het die afgelope twee jaar egter duidelik geword dat ʼn noodfonds slegs ʼn blink plan is as jou geld maklik toeganklik is. Die meeste beleggings verhinder spaarders om vinnig hul hande op hul geld te lê. Gevolglik hou hulle dié ‘noodgeld’ in ʼn spaarrekening om maklike en vinnige toegang in die hand te werk.

‘n Skermskoot van die Franc-app.

“Natuurlik wil ʼn mens ook die versoeking uit die weg ruim dat mense hul spaargeld vir nie-noodsaaklikhede gebruik. Daarom het ons onlangs ʼn funksie bekendgestel waarmee gebruikers hul beleggingsdoelwitte vir ʼn sekere tydperk kan vaspen of ‘sluit’. Dit help om spaargeld of -doelwitte op koers te hou. Meer as 50% van ons nuwe gebruikers het hulle beleggingsdoelwitte vasgepen sedert ons dié kenmerk bekendgestel het.”

Brennan meen die vernaamste struikelblokke vir kleinhandelbeleggings in Suid-Afrika sentreer rondom produkkompleksiteit en minimum beleggingsvereistes. “Die feit dat soveel Suid-Afrikaners geen spaargeld of beleggings het nie, het ons geïnspireer om ʼn sakpas- en gebruikersvriendelike toepassing te ontwikkel sodat Jan Alleman ook ʼn voet in die finansiële deur kan kry.

“Verbruikers word dikwels geïntimideer deur die kompleksiteit van beleggingsprodukte. Ons maak sake maklik deur die beleggingskeuses tot net twee fondse te beperk, naamlik die Allan Gray-geldmarkfonds en die Satrix 40 ETF. Franc is juis geskep om beleggings uiters eenvoudig en bekostigbaar te maak en om te verseker dat, binne ʼn paar minute via die toepassing, enigiemand in toonaangewende kontant- en aandelefondse kan belê sonder minimum beleggings en papierwerk. Goedkoop, ongekompliseerd én toeganklik,” sê hy.

Beleggingsprodukte het voorts dikwels minimum beleggingsvereistes en vereis gewoonlik dat kliënte hulle belegging afskop deur ʼn enkelbedrag van tot R50 000 te deponeer. Dit sluit die meerderheid Suid-Afrikaners onmiddellik uit.

“Met Franc kan mense met so min as R10 per maand begin belê – daar is geen minimum bedrae vir beleggings nie. In ʼn wêreld waar daar ʼn toepassing vir alles is, is die Franc-beleggingstoepassing toeganklik vir enigiemand met ʼn foon.

“Binne ʼn paar minute kan jy met enige bedrag geld begin. Die Allan Gray Money Market Fund, wat op die toepassing beskikbaar is, het oor die afgelope 12 maande ʼn opbrengs van meer as 4,5% gelewer. Die Satrix 40 ETF het op sy beurt die afgelope 3 jaar ʼn opbrengs van gemiddeld 12% per jaar gelewer, oftewel 10% per jaar oor die afgelope 5 jaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Renier ·

Met die huidige moeilikheid wat ons in die media sien van beleggings firmas,soos HGG, is meeste mense verstaanbaar skepties oor beleggings as dit nie by n bekende bank is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.