6 maniere om die gasvryheidsbedryf te help

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Terwyl die meeste mense tuis bly om hulself veilig te hou teen Covid-19, ly die gasvryheidsbedryf dramaties onder die nuwe omstandighede. Reis vir ontspanningsdoeleindes is pas weer toegelaat, maar die gasvryheidsbedryf is steeds nie seker of hy heel aan die ander kant van die pandemie gaan uitkom nie.

Maroela Media het vroeër berig van restaurante wat oor die hele land betoog het onder die 1 Million Seats On The Streets-veldtog wat die regering maan om regulasies te verlig wat die bedryf lamlê.

“Dit is geen geheim dat baie ondernemings in die gasvryheidsbedryf massiewe werksverliese en selfs sluitings te wagte kan wees nie,” sê Shaun Lamont, die besturende direkteur van First Group Hotel and Resorts.

“En terwyl dit wonderlik is om die strate in te vaar in protes, sal dit alles verniet wees as ons nie ons mede-Suid-Afrikaners in hul tyd van nood uithelp nie.”

Lamont sê selfs die kleinste gebare kan potensieel help om jou gunsteling-wegbreekplek of geliefde restaurant te red.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, het Donderdag aangekondig dat reis vir ontspanningsdoeleindes weer toegelaat sal word onder die nuwe vlak 3 van afsondering, maar om tussen provinsies te reis is steeds verbode. Die aandklokreël is ook geskuif van 21:00 tot 22:00 sodat restaurante langer oop kan bly.

Hoewel regulasies verslap is, is dit steeds in Suid-Afrikaners se hande om dié bedryf te help. Hier is ses maklike maniere waarop jy die gasvryheidsbedryf kan bystaan.

Bespreek nou en reis later

As jy kan, maak gebruik van die goeie spesiale aanbiedings wat baie restaurante en hotelle tans verskaf. Bespreek solank jou reise vir 2021 teen ʼn beter prys maar ʼn later datum.

Verken jou provinsie

Dit is die gulde geleentheid om jou plaaslike omgewing te verken! Bespreek ʼn gastehuis vir ʼn naweek en ontspan behoorlik. Hotelle, gastehuise en restaurante tref ekstra voorsorg om seker te maak hul gaste is veilig, so daar behoort nie rede tot kommer te wees nie.

Jy hoef nie oor te slaap nie

Selfs al wil jy nie vir ʼn hele naweek weggaan nie, maak gebruik van ʼn dagbesoekerspas. Of dit nou ʼn gholfbaan, ʼn spa of wildplaas is, besoek hulle vir ʼn heerlike dag uit die huis uit.

Sosiale media

Moenie jou ondersteuning op sosiale media onderskat nie. “Like”, volg en deel ondernemings se plasings. Dit kos jou niks behalwe tyd nie. En wanneer jy terugdink aan lekker vakansies voor isolasie, gaan sommer op die onderneming se blad wat dit moontlik gemaak het, en laat ʼn positiewe resensie.

Wees geduldig en vrygewig

As jy dit kan bekostig, probeer om nie te veel te onderhandel oor pryse nie. Die toerismebedryf gaan reeds deur diep waters en elke ekstra sent tel. Wees ook vriendelik en geduldig wanneer prosesse langer vat as gewoonlik. Onthou, die meeste ondernemings skaal tans aan personeel af weens die pandemie en finansiële spanning.

Koop ʼn geskenkbewys

Dink buite die boks met jou geskenke – só gee jy nie net ʼn unieke geskenk nie, maar jy doen ook ʼn goeie daad vir ʼn onderneming. Koop vir vriende of familie ʼn aand se oornagverblyf, ʼn maaltyd-geskenkbewys of ʼn spa-koepon.

Geskenkbewyse kan gewoonlik oor ʼn tydperk van minstens ʼn jaar gebruik word, so daar is geen rede om dit nie te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karin ·

Ongelukkig bly ons in Gauteng, beslis nie die provinsie bekend vir sy aantreklikhede of vakansie bestemmings nie. Ons is nie almal hotel en B&B blyers nie. Om ‘n week in Kruger te kamp kan nie vergelyk word met byvoorbeeld Rietvlei reservaat nie.

Anoniem ·

Ek is seker ou cyril en kie is moeg gedink aan idees hoe hulle die nasie verder kan fnuik. Ek dink hulle het ‘n vakansie nodig. Is daar mense wat graag ‘n bydrae wil lewer? Ek hoor SpaceX se nuwe ‘Starship’ is baie luuks. Ek is seker die anc spul sal ons ewig dankbaar wees as ons vir hulle ‘n one-way kaartjie koop. Ons sal selfs verniet vir hulle ‘koebaai’ waai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.