Brandstofprysverhoging bedreig voedselsekerheid

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Voedselsekerheid is opnuut in die kollig, met huidige weerstoestande – yl reën en hittegolwe – wat reeds die bedreiging van ʼn moontlike opbrengsverlies vir boere inhou. Nog ʼn verhoging in die brandstofpryse kan ʼn swaar finansiële las op Suid-Afrika se boere plaas terwyl talle reeds sukkel om kop bo water te hou.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz), sê weerstoestande in verskeie gebiede, waar beduidende somergrane soos mielies, sonneblomsaad en sojabone in die bestuiwingstadium is, is nie optimaal nie en behoort ideaal gesproke hoër vogvlakke te hê gedurende hierdie stadium om opbrengste te verhoog. Dit beteken daar is ʼn wesenlike kans dat boere minder somergrane gaan produseer as wat verwag is. En dít hou ʼn bedreiging vir die land se voedselproduksie in.

Reënval oor die volgende paar weke gaan ook deurslaggewend wees om ʼn beter landbou-oes te verseker.

Frans Cloete, hoof van die maatskappy Skuldhulp, waarsku dat ʼn skerp styging in brandstofpryse groot kommer wek.

“Stygings in petrolpryse benadeel nie net motoriste wat hul voertuie moet volmaak nie, dit het ʼn vernietigende uitwerking op die land se voedselvoorraad. Ons boere, op wie ons staatmaak vir die kos op ons tafels, word finansieel baie swaar getref deur elke styging in die prys van petrol en diesel.

“Die boerderybedryf maak hoofsaaklik op diesel staat – nie net om hul trekkers en vragmotors te bestuur nie, maar ook hul masjinerie,” sê Cloete.

Dit is die tweede agtereenvolgende maand wat die brandstofprys verhoog word. Motoriste sal van Woensdag R1,21 per liter meer vir petrol moet opdok, terwyl diesel met tussen R1,06 en R1,19 duurder gaan word.

Goeie nuus was ten minste dat die algemene brandstofheffing en die heffing op die Padongelukfonds (POF) vir die derde agtereenvolgende jaar nie verhoog is nie.

(Argieffoto: Verskaf)

Cloete maan egter dat die jongste verhogings opnuut ʼn swaar las op boere en ander rolspelers in die landbousektor plaas, wat “die land moontlik in ʼn voedselsekerheidskrisis sal dompel, wat nie net voorraad sal beïnvloed nie, maar ook onvermydelik die sakke van Suid-Afrika se burgers hard gaan tref”.

“Die brandende vraag is, kan verbruikers nog ʼn petrolprysverhoging oorleef?” sê Cloete.

Die brandstofprys kan ongetwyfeld ʼn uitwerking op die ekonomie – ook inflasie – hê. Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, sê die ekonomie groei reeds nie en verbruikers kry swaar. En veral armes gaan swaar getref word.

Cloete sê verbruikers steier boonop onder die hoogste rentekoerse in meer as ʼn dekade. Dit verhoog skuldvlakke en erodeer besteebare inkomste, terwyl mense se salarisse nie by inflasie kan byhou nie.

“ʼn Ware gevoel van hopeloosheid dring nou deur onder desperate verbruikers wat al hoe dieper in die skuld gly om hul gesinne aan die gang te hou,” waarsku Cloete. “Dit is baie kommerwekkend.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Dis ‘n bangmaak storie. 50% Van ons landbouprodukte word uitgevoer, en ons het nogsteeds genoeg kos. Indien daar dus 50% minder geproduseer word, maar niks uitgevoer word nie, sal ons steeds genoeg kos he!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.