Verbruikersake: Albei wetsontwerpe vir tweepot-aftreestelsel aanvaar

pensioenfondse

(Foto: Westerninvestor.com)

Die parlement het nou albei wetsontwerpe goedgekeur wat nodig is om die tweepot-aftreestelsel op 1 September te implementeer. Die parlement het onlangs ook die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse goedgekeur. Dit was die eerste stap om die pensioenfondsstelsel in Suid-Afrika te verander om lede toegang tot ʼn klein gedeelte van hul aftreespaargeld te gee. Ina Opperman het gaan hoor of alles betyds reg gaan wees.

Die belangrikste deel van die tweepot-aftreestelsel is egter nie dat mense nou toegang tot hul aftreespaargeld sal kry nie, maar dat dit sal verseker dat hulle nie hul pensioene voor aftrede laat uitbetaal nie, aangesien dit hulle sonder voldoende fondse sal laat om gemaklik af te tree.

Die wetsontwerp se doel is om die Wet op Pensioenfondse te wysig om ʼn spaaronttrekkingsvoordeel in te stel en dit sal saam met die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette die tweepot-aftreestelsel daarstel wat op 1 September vanjaar in werking tree om langtermyn-aftreespaargeld te ondersteun, terwyl daar ook buigsaamheid sal wees om lede in finansiële nood te help.

Volgens die nasionale tesourie is aftreefondse dikwels die enigste spaargeld wat fondslede het en ingevolge die huidige stelsel bedank sommige lede om toegang tot hul aftreefondsspaargeld te kry om skuld af te betaal, wat nadelig is vanuit ʼn ekonomiese, finansiële beplannings- en aftreevoorsieningsoogpunt.

Die Nasionale Vergadering het op 20 Februarie die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette goedgekeur. Die president moet nou die wetsontwerpe onderteken om dit in werking te stel.

Pensioenfondse en hul administrateurs het reeds by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) vir reëlwysigings begin aansoek doen en begin om hul stelsels te verander om die tweepot-aftreestelsel te implementeer. Hulle moet ook verseker dat hulle hul lede opvoed oor hoe spaaronttrekkingseise verwerk gaan word.

Michelle Acton, aftreehervormingsbestuurder by Old Mutual, sê die regering beweeg redelik vinnig om die tweepot-aftreestelsel geïmplementeer te kry, waarskynlik danksy die komende verkiesing. “Dit is goed om te sien dat dit vinnig beweeg, want dit sal ʼn massiewe verandering aan die pensioenstelsel in Suid-Afrika wees en ons belyn met ander lande.”

Hoewel lede hoofsaaklik haastig is dat die tweepot-aftreestelsel so gou moontlik geïmplementeer word omdat hulle toegang tot hul fondse wil hê, sê Acton die hoofrede om opgewonde te wees oor die komende implementering is dat dit sal verseker dat mense hul aftreefondse bewaar totdat hulle aftree en nie bedank om toegang tot hul aftreespaargeld te kry nie.

Acton sê volgens Old Mutual se statistieke oefen meer as 90% van aftreefondslede die opsie uit om al hul aftreespaargeld te onttrek wanneer hulle van werk verander in plaas daarvan om die geld na ʼn bewaringsfonds of ʼn nuwe fonds oor te plaas of dit net by die oorspronklike fonds te laat belê.

Hoewel sy sê sy glo dat Old Mutual teen 1 September gereed sal wees en dat die maatskappy reeds sy reëls by die FSCA ingedien het, wys sy daarop dat pensioenfondslede glad nie die tweepot-aftreestelsel verstaan nie en daarom moet daar nog baie werk gedoen word om te verseker dat hulle dit oor die volgende vyf maande doen.

(Foto: Frantisek_Krejci/pixabay)

Wanopvattings oor die tweepot-aftreestelsel

Acton sê lede glo steeds dat hulle toegang tot ʼn derde van hul pensioenfondsspaargeld sal hê, in plaas van slegs 10% wat tot R30 000 beperk is. “Hulle glo ook dat hulle toegang tot die volle bedrag sal hê, maar hulle sal eers belasting op die bedrag sowel as administrasiefooie moet betaal.”

Sy gee ʼn voorbeeld waar iemand die saadkapitaal van R30 000 onttrek, maar uitstaande belastingskuld van R7 000 het. As jy ʼn belastingkoers van 25% het, sal die belasting op die onttrekking R7 500 wees. Dit laat jou met R22 500 en minus die R7 000-belastingskuld, sal jou uitbetaling slegs R15 500 wees.

Lede is ook onder die indruk dat hulle op 1 September ʼn knoppie sal kan druk en onmiddellike toegang tot hul geld sal hê, maar Acton sê dit is nie so eenvoudig nie. “Die tweepot-aftreestelsel sal eers vanaf 1 September van krag wees wanneer ons kan begin om ons stelsels te implementeer en die berekenings te doen. Die wet sê nie dat betalings op 1 September sal plaasvind nie.”

Onthou:

Acton sê daar is drie dinge wat lede moet onthou:

  • Moenie paniekerig raak oor jou huidige pensioenfondsspaargeld soos mense in 2014 en 2015 gedoen het toe lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en veral onderwysers bedank het om hul pensioenbydraes te onttrek nie, omdat hulle verkeerdelik geglo het dat die regering vanaf 1 Maart 2015 nie meer staatsamptenare die opsie van ʼn kontant-enkelbedrag sal toelaat wanneer hulle aftree nie.
  • Uit die waarde van jou fonds op 31 Augustus 2024 sal 10% of R30 000, wat ook al laer is, as saaikapitaal aan die spaarkomponent toegeken word. Dit sal ʼn eenmalige oordrag aan die begin van die tweepot-stelsel wees en sal nie in die volgende jare herhaal word nie.
  • Jy sal nie op 1 September ʼn onttrekking kan maak nie. Dit sal ʼn week of twee neem vir al die stelsels om aanlyn te kom voordat lede toegang tot hul fondse kan kry.

Sy sê lede se gretigheid om toegang tot hul fondse te kry, wys hoe desperaat mense is vir ekstra geld tydens die huidige lewenskostekrisis, maar dit wys ook hul gebrek aan finansiële geletterdheid.

“Mense dink nie aan die toekoms nie en hulle oorskat ook hoeveel geld hulle vir aftrede gespaar het.”

Wat gebeur volgende?

Noudat die twee wetsontwerpe wat nodig is vir die tweepot-aftreestelsel om voort te gaan goedgekeur is, is dit ook belangrik vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) om sy stelsels gereed te kry om die belastingkomponent van die uitbetalings te hanteer, sê Acton. As SAID nie gereed is nie, sal ons nie kan uitbetaal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Regering kan seker nie meer wag om hulle vingers in te delf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.